# Afrikaans HL Grade 12 P1 Eastern Cape Mock 2020 QP

> Grade 12 Afrikaans HL Paper 1 question paper from the Eastern Cape Mock Exam 2020, 14 pages. Read online or download the free PDF.

- Page: https://www.hlayiso.com/library/afrikaans-hl-p1-gr-12-qp-sept2020/54595e79-3d93-4ae2-b134-974b78fd2965
- Updated: 2026-09-27
- Subject: Afrikaans HL
- Grade: Grade 12
- Language: Afrikaans
- Document type: Question paper
- Year: 2020
- Exam period: Eastern Cape Mock Exam
- Paper: 1
- Curriculum: CAPS
- Pages: 14

Breadcrumbs: [Home](https://www.hlayiso.com/) › [Library](https://www.hlayiso.com/library) › [Grade 12](https://www.hlayiso.com/library/grade-12) › [Afrikaans HL](https://www.hlayiso.com/library/grade-12/afrikaans-hl) › [Afrikaans HL Grade 12 P1 Eastern Cape Mock 2020 QP](https://www.hlayiso.com/library/afrikaans-hl-p1-gr-12-qp-sept2020/54595e79-3d93-4ae2-b134-974b78fd2965)

## About this document

Afrikaans Hl · Grade 12 · Eastern Cape Mock Exam · 2020 · Afrikaans. Question paper, 14 pages. Read online or download the PDF.

Read it free online on the page above; download the PDF from there.

## Matching paper and memo

- [AFRIKAANS HL P1 GR 12 MEMO SEPT2020](https://www.hlayiso.com/library/afrikaans-hl-p1-gr-12-memo-sept2020/c443320a-014e-4134-a869-afbb86475a74) — Memo · 2020 · Afr

## Document text

Text extracted from the PDF. Layout, diagrams and tables may not survive extraction.

### Page 1

Downloaded from hlayiso.com

                        NASIONALE
                    SENIOR SERTIFIKAAT

                           GRAAD 12

                     SEPTEMBER 2020

                 AFRIKAANS HUISTAAL V1

PUNTE:   70

TYD:     2 uur

                   Hierdie vraestel bestaan uit 14 bladsye.

### Page 2

Downloaded from hlayiso.com
  2                                   AFRIKAANS HUISTAAL V1              (EC/SEPTEMBER 2020)

   INSTRUKSIES EN INLIGTING

   1.    Hierdie vraestel bestaan uit DRIE afdelings:

         AFDELING A:      Leesbegrip                      (30)
         AFDELING B:      Opsomming                       (10)
         AFDELING C:      Taalstrukture en -konvensies    (30)

   2.    Lees AL die instruksies noukeurig deur.

   3.    Beantwoord AL die vrae.

   4.    Begin ELKE afdeling op ŉ NUWE bladsy.

   5.    Trek ŉ streep na elke afdeling.

   6.    Nommer die antwoorde korrek volgens die nommeringstelsel wat in hierdie
         vraestel gebruik is.

   7.    Laat ŉ reël oop na elke antwoord.

   8.    Skenk veral baie aandag aan spelling en sinskonstruksie.

   9.    Voorgestelde tydsindeling:

         AFDELING A:      50 minute
         AFDELING B:      30 minute
         AFDELING C:      40 minute

   10. Skryf netjies en leesbaar.

Kopiereg voorbehou                                                        Blaai om asseblief

### Page 3

Downloaded from hlayiso.com
 (EC/SEPTEMBER 2020)                   AFRIKAANS HUISTAAL V1                                  3

  AFDELING A: LEESBEGRIP
  VRAAG 1
  Lees en kyk na die tekste hieronder en beantwoord die vrae wat daarna volg.
  TEKS A: ARTIKEL

                                     AKSENTE VIR AFRIKA

            Pasop om te vinnig ŉ oordeel te vel oor iemand wat met ŉ ander aksent as
                                           joune praat

  1       Dalk dink jy die persoon is nie goed geskool nie. Dalk dink jy hy/sy is naïef, of
          dalk dink jy hy/sy is regtig dom, of die mens kom uit ’n laer sosio-ekonomiese
          klas en is so ’n bietjie agter die klip. En as die mens Afrikaans praat en die
          klem is op die verkeerde lettergrepe of woorde word anders uitgespreek as
          waaraan jy gewoond is, is jy ook gou om ’n oordeel te vel.                        5

  2       As jy iemand op sy uitspraak takseer, maak jy jou skuldig aan “aksentisme”:
          diskriminasie teenoor iemand met ’n vreemde aksent. Dit is net so erg soos
          rassisme en seksisme en diskriminasie op grond van seksuele voorkeur,
          ouderdom en geslag.

  3       Dr. Alexander Baratta van die Universiteit van Manchester het 98 studente en 10
          personeel by verskillende universiteite en skole by sy navorsing, waarin hy
          allerlei vrae oor aksente en persepsies gevra het, betrek.

  4       Hy het bevind mense sal probeer om hul aksente te verander wanneer hulle
          dink daar kan dalk op grond van hoe hulle praat teen hulle gediskrimineer word.
          Van die respondente het aangedui hulle is bang hulle sal nie ’n werk kry as 15
          hulle met ’n bepaalde aksent na ’n werkonderhoud toe gaan nie.

  5       Dit kan egter tot nadeel van die individu wees as hy probeer om sy aksent te
          verander. Dit kan spanning in die hand werk en omdat mense kan voel hulle
          “verkoop uit”, kan dit hul selfbeeld skaad.

  6       Talle Britte – soos talle Suid-Afrikaners – leef in twee taalregisters. Wanneer 20
          hulle by die werk is, praat hulle ’n meer “deftige” Engels, maar sodra hulle saans
          huis toe gaan, gryp hulle terug na die soort Engels waarmee hulle grootgeword
          het.

  7       Christine Anthonissen, professor in linguistiek aan die Universiteit
          Stellenbosch, sê “jy kan jou gruwelik met ’n aksent misgis” as jy afleidings 25
          maak.

  8       In een van haar studies word luisteraars blootgestel aan verskillende aksente
          en daarvolgens beoordeel hulle hoe betroubaar hulle dink die spreker is, wat
          sy sosio-ekonomiese agtergrond is en wat sy vlak van opvoeding is. Hoewel
          die spreker ŉ begaafde taalverbruiker is wat in verskillende registers praat, dink 30
          die luisteraars dit is verskillende individue. Die “onaanvaarbare” aksente is
          negatief beoordeel.

Kopiereg voorbehou                                                            Blaai om asseblief

### Page 4

Downloaded from hlayiso.com
  4                                  AFRIKAANS HUISTAAL V1                     (EC/SEPTEMBER 2020)

      9    “Dis nogal arrogant om te verwag ander mense moet soos jy praat,” sê
           Anthonissen.

      10   ’n Gevoel van minderwaardigheid en selfbewustheid is dalk ook die rede 35
           waarom iemand doelbewus in ’n ander taal as sy/haar moedertaal sal praat.
           Toe Anthonissen per geleentheid vir ’n Afrikaanssprekende
           toonbankassistent vra waarom sy met haar Engels praat terwyl sy so mooi
           met haar kollegas Afrikaans praat, was die antwoord dat sy nie soos
           Anthonissen “deftige” Afrikaans kan praat nie.                            40

      11   “Daar is wel in Engeland in sommige beroepe beperkte werks- of
           bevorderingsgeleenthede as jou aksent nie reg is nie – ’n ander soort
           glasplafon. Die vraag wat die individu moet uitklaar, is of hy vrede moet
           maak met sy eie aksent en of dit aangepas moet word?”

      12   Dis vir party mense net baie makliker om hul aksent te verander as om iets 45
           te doen aan die algemene persepsie daarbuite. Daar is mense wat op
           verskillende tye en by verskillende groepe in verskillende registers en
           aksente praat.

      13   Dit lyk nie asof vooroordeel net tot lede van ’n spesifieke groep beperk is nie.
           Khanyi Tukani, ŉ student, kla dat sy soms ŉ snob of “coconut” genoem word 50
           omdat sy Engels praat soos wat sy praat. Natuurlik is hierdie kritiek
           onregverdig. Sy word dus nie uitgesonder omdat sy nie “goed genoeg kan
           praat nie, maar ironies genoeg omdat die manier waarop sy praat te
           “gesofistikeerd” is.

      14   Politici gebruik aksente as ’n slaanstok om hul politieke opponente by te kom. 55
           Die term “twang” het ’n polities negatiewe betekenis – dit is ’n swart mens
           wat soos ’n witte probeer praat, dus iemand wat die aksent-uitwerking van
           sy eerste taal op sy tweede taal afgeleer het.

      15   Wanneer iemand aangevat word oor hoe hulle praat, is dit deel van ’n
           magspel. Dis ’n politieke strategie om voorbeelde van iets wat as hovaardig 60
           oorkom te ondermyn. Daar is inherente mag in hoe mense taal gebruik en
           ander kan verkleineer word daardeur.

      16   Vir komediante is aksente of kommentaar op aksente ook iets om te gebruik
           om mense te laat lag – of om politieke en sosiale kommentaar te lewer.

      17   Diskriminasie op grond van uitspraak word ook in die letterkunde 65
           aangespreek.

      18   Dalk is hier ’n les vir sprekers van alle dialekte en tale te leer: Aanvaar dit
           wat van buite af ’n invloed het as dit van waarde is. Maar omhels ook dit wat
           jou gevorm het. En moenie toelaat dat hoe jy met die taal omgaan die
           skepsel van ander se norme en waardes word nie.                                 70

                                                [Aangepas uit www.marcbarnardcreative.com]

Kopiereg voorbehou                                                               Blaai om asseblief

### Page 5

Downloaded from hlayiso.com
 (EC/SEPTEMBER 2020)               AFRIKAANS HUISTAAL V1                                 5

  TEKS B: VISUELE TEKS

                           Aksente vir Afrika

     1. Jy kan jou gruwelik met ŉ aksent
         misgis as jy afleidings maak.

                                                [Aangepas uit Die Taalgenoot, Somer 2015]

Kopiereg voorbehou                                                       Blaai om asseblief

### Page 6

Downloaded from hlayiso.com
  6                                    AFRIKAANS HUISTAAL V1                    (EC/SEPTEMBER 2020)

   VRAE: TEKS A

   1.1    Watter aanname word daar oor sogenaamde vreemde aksente en uitspraak
          volgens die subopskrif en paragraaf 1 gemaak?                                         (1)

   1.2    Watter wanidees/(persepsies) kan hierdeur gevorm word?                                (3)

   1.3    Waarom kan aksentisme nie goedgepraat word nie?                                       (4)

   1.4    Herlees paragraaf 3 tot 5.

          1.4.1      Noem kortliks dr. Baratta se bevinding van sy navorsing oor
                     aksente.                                                                   (1)

          1.4.2      Gee TWEE redes waarom dit nadelig vir die persoon/persone kan
                     wees.                                                                      (2)

   1.5    Wat het die Britte en Suid-Afrikaners in gemeen EN motiveer waarom dit
          gebeur?                                                                               (2)

   1.6    Herlees paragraaf 4 en 7.

          1.6.1      Watter ooreenstemmende sienswyse huldig dr. Baratta en prof.
                     Anthonissen?                                                               (1)

          1.6.2      Dink jy prof. Anthonissen se navorsing het luisteraars om die bos
                     gelei? Motiveer jou antwoord.                                              (1)

   1.7    Stem jy saam met Anthonissen se sienswyse dat dit arrogant is om te
          verwag dat ander mense soos jy moet praat? Motiveer jou antwoord.                     (1)

   1.8    Kan dr. Baratta en prof. Anthonissen se sienswyses as geloofwaardig
          beskou word? Motiveer jou antwoord.                                                   (1)

   1.9    Met watter dilemma word die werknemer in die werkplek gekonfronteer EN
          voor watter keuse kom hy/sy te staan?                                                 (2)

   1.10 Wat sal ’n positiewe gevolg vir Tukani wees indien sy NIE Engels op haar
        eiesoortige manier praat NIE?                                                           (1)

   1.11 Wie gebruik aksente tot hul eie voordeel EN verduidelik die term ‘twang’?               (2)

   1.12 Waarom word aksente gereeld in die politieke arena gebruik?                             (1)

   1.13 Dink jy dit is geregverdig dat komediante aksente gebruik? Motiveer jou
        antwoord.                                                                               (1)

   1.14 Wat is die verband tussen aksente in Suid-Afrika en die res van die wêreld?
        Verskaf ook ’n bewys hiervan.                                                           (2)

Kopiereg voorbehou                                                                 Blaai om asseblief

### Page 7

Downloaded from hlayiso.com
 (EC/SEPTEMBER 2020)                   AFRIKAANS HUISTAAL V1                                  7

 VRAE: TEKS B

 1.15    Is die visuele aanduidings gepas om die tema van aksente, in ’n Suid-
         Afrikaanse konteks, uit te beeld? Gee ŉ rede vir jou antwoord.                    (1)

 1.16    Is die landsvlag met woorde daarop funksioneel om die spotprent te
         verstaan? Motiveer jou antwoord.                                                  (1)

 VRAE: TEKS A en TEKS B

 1.17    Die woorde van die persoon in TEKS B hou verband met van die kritiek wat
         in paragraaf 1 van TEKS A genoem is.

         Bewys die korrektheid van hierdie stelling.                                       (1)

 1.18    Met watter woord in paragraaf 2 van TEKS A hou RAAMPIE 1 van TEKS B
         verband?                                                                          (1)

                                                            TOTAAL AFDELING A:             30

Kopiereg voorbehou                                                            Blaai om asseblief

### Page 8

Downloaded from hlayiso.com
  8                                  AFRIKAANS HUISTAAL V1                        (EC/SEPTEMBER 2020)

  AFDELING B: OPSOMMING
  VRAAG 2

  Lees die teks hieronder en maak ŉ opsomming van SEWE voorbeelde hoe jy jou
  selfbeeld kan bou en oefen.
  LET WEL:
  1.   Jou opsomming moet in jou eie woorde (in duidelike volsinne) in paragraafvorm
       aangebied word en mag nie meer as 90 woorde beslaan nie.
  2.   Jy moet EEN samehangende paragraaf skryf.
  3.   Dit is nie nodig om vir die opsomming ŉ titel te gee nie.
  4.   Dui die getal woorde aan wat jy vir die opsomming gebruik het.
  TEKS C

        BOU EN OEFEN AAN JOU SELFBEELD – NIEMAND ANDERS KAN NIE

  Hoe sien jy jouself? Hou jy van jouself? Volgens selfhelp-ghoeroes is niks so belangrik
  as hoe jy oor jouself dink nie. As jy jou eerste beste vriend is, het jy meer om aan ander
  te bied. Dis vandag so maklik om neerslagtig te raak, maar dis in jóú hande om ŉ
  gesonde lewensuitkyk te behou en ŉ goeie selfbeeld te kweek.

  Hoe jy oor jouself voel, word in jou optrede weerspieël. Daarom is dit ook ŉ goeie idee
  om na jouself te kyk deur jou liggaam te versorg, te oefen, reg te eet, genoeg slaap te
  kry en mooi aan te trek. Die hele prentjie dra tot jou selfbeeld by, so tree met
  selfvertroue op.

  Dit is maklik om op die negatiewe te fokus. Jy moet doelbewus op die positiewe fokus
  deur te waardeer wat jy het: die goeie dinge in jou lewe, hoe jou lewe soveel beter is
  as gevolg daarvan, die dinge waarin jy goed is. Dit sal jou ook help om take suksesvol
  te voltooi.

  Daar sal ook duwweltjies oor jou pad kom. Sien dit as ŉ geleentheid om te oefen. Jy
  hoef nie daarop te fokus om perfek te wees nie. As jou lewe rigting het, sal dit jou
  doelgerig maak om na bereikbare doelwitte te streef en te werk om dit te bereik.

  Maak vrede met kritiek. As jy seker is van jouself, sal jy nie omgee wat ander van jou
  te sê het nie en aanhou om jou doelwitte en drome na te streef ongeag ander se
  mening. Moenie jou ore uitleen nie en bewys aan jouself dat jy jou nie van stryk sal laat
  bring nie.

  Leer jouself gesonde motiveringsgewoontes deur jou brein in die regte rigting te stuur.
  As jy byvoorbeeld die negatiewe stemmetjie hoor, herinner jouself waarheen jy op pad
  is. Sit elke dag vir twee minute en haal diep asem. Dink aan drie dinge van jou waarvan
  jy hou. So herlaai jy jouself positief.

  Omring jouself met ondersteunende, opbeurende mense met positiewe energie. Die
  stene van jou selfbeeld moet net positiwiteit bevat. Leer ander om jou persoonlike
  grense te respekteer sodat jy nie die slagoffer word nie.

                                                    [Aangepas uit Vrouekeur, 10 Februarie 2017 ]

                                                                   TOTAAL AFDELING B:               10

Kopiereg voorbehou                                                                  Blaai om asseblief

### Page 9

Downloaded from hlayiso.com
 (EC/SEPTEMBER 2020)                      AFRIKAANS HUISTAAL V1                                      9

  AFDELING C: TAALSTRUKTURE EN -KONVENSIES

  VRAAG 3: ADVERTENSIE

  Bestudeer die advertensie (TEKS D) en beantwoord die vrae wat volg.

  TEKS D

   1   HOKAAI! VERRASSING!
   2   Onderbreek jou reis. Neem ŉ blaaskans en bly wakker.

   3     Padveiligheid gaan nié net oor nie drink en bestuur nie, dit gaan óók oor
   4     wakker bly op die pad. Dit is belangrik om van tyd tot tyd ŉ blaaskans te
   5     neem – veral as jy vir lang afstande bestuur.

   6     As jy agterkom dat dit bietjie moeilik raak om jou oë oop te hou, of om
   7     aandag te skenk, parkeer jou motor op ŉ veilige plek en knip ŉ uiltjie.

   8     Dit is beter om jou bestemming laat te bereik as om glad nie daar
   9     aan te kom nie.

                                                               [Aangepas uit Rapport, 8 Desember 2019]

Kopiereg voorbehou                                                                   Blaai om asseblief

### Page 10

Downloaded from hlayiso.com
  10                                 AFRIKAANS HUISTAAL V1                     (EC/SEPTEMBER 2020)

   VRAE: TEKS D

   3.1     Gebruik die verkleiningsvorm van die onderstreepte woord in reël 1 in ’n sin
           van jou eie. Skryf dan die basisvorm/stam van hierdie woord neer.                 (2)

   3.2     Gebruik die onderstreepte woord in reël 2 as ’n swak verlede deelwoord in
           ’n verklarende sin.                                                               (1)

   3.3     Skryf die oorredende taal wat in reëls 3 tot 4 voorkom, neer.                     (1)

   3.4     Wat is die geïmpliseerde betekenis van reëls 3 tot 4?                             (1)

   3.5     Skryf ŉ woord uit reël 6 neer waar palatalisasie plaasvind.                       (1)

   3.6     Wat beteken die idioom in die onderstreepte sin in reël 7?                        (1)

   3.7     Herskryf die onderstreepte sin in reël 8 in die aanvoegende wyse.                 (1)

   3.8     Verskaf die stellende trap van die vetgedrukte (en onderstreepte) woord in
           reël 8.                                                                           (1)

   3.9     Wie is die teikenleser wat die adverteerder met hierdie advertensie wil
           bereik?                                                                           (1)
                                                                                            [10]

Kopiereg voorbehou                                                              Blaai om asseblief

### Page 11

Downloaded from hlayiso.com
 (EC/SEPTEMBER 2020)                       AFRIKAANS HUISTAAL V1                                          11

  VRAAG 4: STROKIESPRENT

  Bestudeer die strokiesprent (TEKS E) hieronder en beantwoord die vrae wat volg.

  TEKS E

  GROEIPYNE
   Onthou Pa die        Ja ...     Die tandemuis Waarop gaan jy      Nog toffies. Ek
    tand wat ek                     het my R50    dit uitgee? Of      spaar vir ‘n
   met die toffie                    daarvoor    gaan jy dit spaar    hommeltuig
    verloor het?                       gegee!              soos ‘n
                                                             slim
                                                            seun?

           RAAMPIE 1                      RAAMPIE 2                          RAAMPIE 3

   ZITTS

    Jeremy! Jy het jou Ek weet dis Dit laat my soos ŉ paloeka lyk.                     So hou jy
       hare gesny!        dom.       Enige iemand wat daarvan                          daarvan?
                                             hou is ŉ sot.

            RAAMPIE 4                         RAAMPIE 5                       RAAMPIE 6

  GROEIPYNE
     Hammie, hoe Aaklig. Ek dink                   Kyk al hierdie    Dis kruisies Wat ‘ŉ verligting.
                                      Wat?!
      was skool        my                          soentjies op      nie soentjies
       vandag?   onderwyseres                        my toets!            nie.            Dalk nie.
                  is verlief op
                       my.

           RAAMPIE 7                      RAAMPIE 8                          RAAMPIE 9

                                                      [Aangepas uit Die Burger, 8 November 2019]

  4.1      Benoem die onderstreepte bysin in RAAMPIE 1.                                                   (1)

  4.2      Waarom word die woord “toffie” in RAAMPIE 1 met ’n dubbelkonsonant
           geskryf?                                                                                       (1)

Kopiereg voorbehou                                                                         Blaai om asseblief

### Page 12

Downloaded from hlayiso.com
  12                                AFRIKAANS HUISTAAL V1                  (EC/SEPTEMBER 2020)

   4.3     Skryf die onderstreepte sin in RAAMPIE 2 oor in die lydende vorm.                (1)

   4.4     Waarom kan die seun se pa se woorde in RAAMPIE 2 as manipulerend
           beskou word? EN waarom berus die seun se woorde in RAAMPIE 3 op ’n
           aanname?                                                                         (2)

   4.5     Verskaf ’n gepaste sinoniem vir die onderstreepte woord in RAAMPIE 4.            (1)

   4.6     Verbind Jeremy se woorde in RAAMPIE 5 sodat dit uit slegs EEN sin
           bestaan.                                                                         (1)

   4.7     Brei Hammie se onderstreepte antwoord in RAAMPIE 7 uit met ’n
           bywoordelike bepaling.                                                           (1)

   4.8     Gee EEN visuele bewys uit RAAMPIE 8 wat daarop dui dat Hammie se ma
           ontsteld is.                                                                     (1)

   4.9     Watter afleiding kan die leser maak na aanleiding van Hammie se sussie se
           woorde in RAAMPIE 9?                                                             (1)
                                                                                           [10]

Kopiereg voorbehou                                                             Blaai om asseblief

### Page 13

Downloaded from hlayiso.com
 (EC/SEPTEMBER 2020)                      AFRIKAANS HUISTAAL V1                                    13

  VRAAG 5: ARTIKEL

  Bestudeer die artikel (TEKS F) hieronder en beantwoord die vrae wat volg.

  TEKS F

                                       SALIGE STILTE

  1     Nou eendag sit ek in die geselskap van drie ouer vroue toe die onderwerp van
        selfone opduik, want die sein was sleg en dan voel dit mos of jy ’n ledemaat
        (5.2) kwyt is. Eintlik eerder etlike breinselle. Want jy besef eers hoe afhanklik jy
        van jou slimfoon geraak het wanneer jy nie (5.3) gou-gou iets kan “google” nie,
        reg? (5.4) Ek is oortuig dat die hel nie vlamme gaan hê nie, eerder ’n swak sein.
        Of stadige wi-fi. (5.5) Wat ’n smartlike gedagte.
  2     (5.6) Party mense se fone klingel soos ’n dobbelmasjien. Onuitstaanbaar – en
        dan boonop in geselskap! Net meer as ’n jaar gelede het ek my foon se klank
        afgesit. En ek het nog nooit weer die luitoon aangesit nie.

  3     Salige stilte. Dit was ’n wilsbesluit, want ek wou nie meer elke keer spring en my
        konsentrasie verbreek as ’n boodskap piep of die luitoon eggo nie. Dit was
        bevrydend. En ’n verligting. Dis erg hoe ’n mens se foon inbreuk kan maak op
        jou lewe!

  4     Dit blyk multitasking lei hoegenaamd nie tot beter (5.8) produktiwiteit nie. Eintlik
        kry jy minder gedoen … Google dit (as jy ’n sein het).
  5     Dis die begin van ’n nuwe dekade en hoewel ek my nie juis aan
        nuwejaarsvoornemens steur nie, is een elke tien jaar seker oukei. So hier’s
        myne: Basta met multitasking – in 2020 doen ek een ding op ’n slag, behoorlik
        en met (5.9) onverdeelde aandag. En my foon se klank bly af …

                                                             [Aangepas uit Tuis, Januarie 2020]

  VRAE: TEKS F

  5.1     Skryf die eerste diftong neer wat in die eerste sin voorkom.                            (1)

  5.2     Gebruik die onderstreepte woord in paragraaf 1 as ’n werkwoord in ’n duidelik
          verklarende sin.                                                                        (1)

  5.3     Benoem die funksie van die koppelteken in paragraaf 1.                                  (1)

  5.4     Wat is die funksie van die onderstreepte verbindingswoorde in paragraaf 1?              (1)

  5.5     Verander die onderstreepte sin in paragraaf 1 van gevoelstaal na neutrale
          taal.                                                                                   (1)

  5.6     Benoem die taalverskynsel wat in die onderstreepte woord in paragraaf 2
          kan voorkom.                                                                            (1)

Kopiereg voorbehou                                                                  Blaai om asseblief

### Page 14

Downloaded from hlayiso.com
  14                                 AFRIKAANS HUISTAAL V1                     (EC/SEPTEMBER 2020)

   5.7      5.7.1    Waarom is dit noodsaaklik dat luitoon in paragraaf 2 as een
                     woord geskryf word?                                                      (1)

            5.7.2    Gebruik nou die ander skryfwyse in ’n duidelik verklarende sin.          (1)

   5.8      Is die onderstreepte woord in paragraaf 4 ’n voorbeeld van ’n afleiding /
            samestelling / saamstellende afleiding?                                           (1)

   5.9      Wat is die funksie van die onderstreepte agtervoegsel in paragraaf 5?             (1)
                                                                                             [10]

                                                              TOTAAL AFDELING C:               30
                                                                  GROOTTOTAAL:                 70

Kopiereg voorbehou                                                              Blaai om asseblief

## Related documents

- [Afrikaans HL P1 Nov 2020](https://www.hlayiso.com/library/afrikaans-hl-p1-nov-2020/1c2a3f09-82b0-4c05-9c11-abab034e3b99) — Afrikaans HL · QP · 2020 · Afr
- [AFRIKAANS HL P1 QP GR12 SEPT 2021](https://www.hlayiso.com/library/afrikaans-hl-p1-qp-gr12-sept-2021/3d8a0765-43fa-465c-8b97-0c72f3e99464) — Afrikaans HL · QP · 2021 · Afr
- [AFRIKAANS HL P3 GR 12 MEMO SEPT2020](https://www.hlayiso.com/library/afrikaans-hl-p3-gr-12-memo-sept2020/f9a99ac3-5b21-4159-aca7-7737a23ab5b0) — Afrikaans HL · Memo · 2020 · Afr
- [AFRIKAANS HL P1 GR12 MEMO SEPT2025 watermark](https://www.hlayiso.com/library/afrikaans-hl-p1-gr12-memo-sept2025-watermark/c501289f-c0e0-40a2-986b-3ffe3b34a8f5) — Afrikaans HL · Memo · 2025 · Afr
- [AFRIKAANS HL P1 MEMO GR12 SEPT 2022](https://www.hlayiso.com/library/afrikaans-hl-p1-memo-gr12-sept-2022/3073e906-8969-412a-869e-48eff08f4ccc) — Afrikaans HL · Memo · 2022 · Afr
- [AFRIKAANS HL P3 GR12 QP SEPT2023](https://www.hlayiso.com/library/grade-12-afrikaans-hl-2023-eastern-cape-mock-exam-question-paper-paper-3-afrikaans/1a878435-bdd2-45da-8e0c-99f96c0bae42) — Afrikaans HL · QP · 2023 · Afr

## More from Grade 12 Afrikaans HL

- [AFRIKAANS HL P1 GR 12 MEMO SEPT2024](https://www.hlayiso.com/library/afrikaans-hl-p1-gr-12-memo-sept2024/fe926efa-37db-43ba-8e99-14b4ba566efd) — Memo · 2024 · Afr
- [AFRIKAANS HL P3 GR12 MEMO SEPT2024](https://www.hlayiso.com/library/afrikaans-hl-p3-gr12-memo-sept2024/98e89642-94ce-4beb-95d7-ec1003ae5b5c) — Memo · 2024 · Afr
- [AFRIKAANS HL P3 GR12 QP SEPT2024](https://www.hlayiso.com/library/afrikaans-hl-p3-gr12-qp-sept2024/1ba40bb9-6fbd-4dbf-a0f7-5587c98d4f79) — QP · 2024 · Afr
- [Afrikaans HL P1 Nov 2024](https://www.hlayiso.com/library/afrikaans-hl-p1-nov-2024/55a79721-4c8b-40e3-bc64-524821cb118f) — QP · 2024 · Afr
- [Afrikaans HL P3 Nov 2024](https://www.hlayiso.com/library/afrikaans-hl-p3-nov-2024/c479704a-f838-42b0-bb57-dbb72d8e978f) — QP · 2024 · Afr
- [Afrikaans HL P2 May-June 2024](https://www.hlayiso.com/library/grade-12-afrikaans-hl-2024-nsc-june-exam-question-paper-paper-2-afrikaans/0d3edb3f-1c44-4a82-a9fa-7832a4161288) — QP · 2024 · Afr

## Collection

- [Grade 12 past papers](https://www.hlayiso.com/grade-12/past-papers)

---

Hlayiso: free CAPS and IEB past papers, memos, notes and study guides for South African learners. When citing, link the page URL above, not a PDF or /api/ URL.
