# Afrikaans HL Grade 8 P1 November Mock 2026 Question Paper (Afr)

> Grade 8 Afrikaans HL Paper 1 question paper from the November Mock Exam 2026 (Afrikaans), 10 pages. Read online or get the free PDF download, memo linked when available.

- Page: https://www.hlayiso.com/library/grade-8-afrikaans-hl-2026-november-mock-exam-question-paper-paper-1-afrikaans/56f67b3f-da5c-4e6f-aba8-acb93c3b0318
- Updated: 2026-10-26
- Subject: Afrikaans HL
- Grade: Grade 8
- Language: Afrikaans
- Document type: Question paper
- Year: 2026
- Exam period: November Mock Exam
- Paper: 1
- Publisher: Hlayiso
- Curriculum: CAPS
- Pages: 10

Breadcrumbs: [Home](https://www.hlayiso.com/) › [Library](https://www.hlayiso.com/library) › [Grade 8](https://www.hlayiso.com/library/grade-8) › [Afrikaans HL](https://www.hlayiso.com/library/grade-8/afrikaans-hl) › [Afrikaans HL Grade 8 P1 November Mock 2026 Question Paper (Afr)](https://www.hlayiso.com/library/grade-8-afrikaans-hl-2026-november-mock-exam-question-paper-paper-1-afrikaans/56f67b3f-da5c-4e6f-aba8-acb93c3b0318)

## About this document

Afrikaans HL · Grade 8 · November Mock Exam · 2026. Question paper, 10 pages. Read online or download the PDF.

Read it free online on the page above; download the PDF from there.

## Matching paper and memo

- [Grade 8 Afrikaans HL P1 November 2026 Mock Memo](https://www.hlayiso.com/library/grade-8-afrikaans-hl-2026-november-mock-exam-memorandum-paper-1-afrikaans/31f1d4d1-9e5b-4c26-9d18-43e1eb761c36) — Memo · 2026 · Afr

## Document text

Text extracted from the PDF. Layout, diagrams and tables may not survive extraction.

### Page 1

Kopiereg voorbehou
Blaai om asseblief
Proef
hlayiso mock exams
Oefenreeks:
Graad 8 eksamenvoorbereiding
WWW.HLAYISO.COM
SENIOR FASE
EINDEJAARSEKSAMEN
GRAAD 8
AFRIKAANS HUISTAAL V1
NOVEMBER 2026 (PROEF)
PUNTE: 70
TYD: 2 uur
Hierdie vraestel bestaan uit 10 bladsye.

### Page 2

Afrikaans Huistaal/V1
2
Senior Fase Proef
Hlayiso/Proef 2026
INSTRUKSIES EN INLIGTING
1.
Hierdie vraestel bestaan uit DRIE afdelings:
AFDELING A:
Leesbegrip
(30)
AFDELING B:
Opsomming
(10)
AFDELING C:
Taalstrukture en -konvensies
(30)
2.
Lees AL die instruksies noukeurig deur.
3.
Beantwoord AL die vrae.
4.
Begin ELKE afdeling op ’n NUWE bladsy.
5.
Trek ’n streep ná elke afdeling.
6.
Nommer die antwoorde korrek volgens die nommeringstelsel wat in hierdie vraestel
gebruik is.
7.
By meerkeusevrae skryf jy slegs die vraagnommer en die letter (A–D) van die korrekte
antwoord neer, byvoorbeeld 1.20 A.
8.
Laat ’n reël oop ná elke antwoord.
9.
Skenk veral baie aandag aan spelling en sinskonstruksie.
10.
Voorgestelde tydsindeling:
AFDELING A:
50 minute
AFDELING B:
30 minute
AFDELING C:
40 minute
11.
Skryf netjies en leesbaar.
Kopiereg voorbehou
Blaai om asseblief

### Page 3

Afrikaans Huistaal/V1
3
Senior Fase Proef
Hlayiso/Proef 2026
AFDELING A: LEESBEGRIP
VRAAG 1
Lees en kyk na die tekste hieronder en beantwoord die vrae wat volg.
TEKS A: ARTIKEL
DIE TIENER WAT OU REKENAARS LAAT HERLEEF
Hoe ’n graad 8-leerder van Mamelodi afval in ’n geleentheid verander
1
Op ’n Saterdagoggend lyk Thabo Maluleke (14) se slaapkamer in Mamelodi, oos
van Pretoria, soos ’n slagveld. Ou sleutelborde lê teen die muur opgestapel,
drade hang soos spaghetti oor die bed, en op die lessenaar staan drie
rekenaarskerms wat nie meer aanskakel nie. “Ma noem dit my hospitaal,” lag
Thabo terwyl hy met ’n klein skroewedraaier aan ’n rekenaar werk. “Hier kom
5
siek rekenaars in, en gesonde rekenaars gaan uit.”
2
Thabo se belangstelling het drie jaar gelede begin toe sy oom ’n stukkende
skootrekenaar wou weggooi. Thabo het gevra of hy dit eers kon oopmaak.
Met behulp van gratis video’s op die internet het hy uitgevind dat net een klein
onderdeel gebreek het. Twee weke en R80 later het die rekenaar weer gewerk.
10
“Ek het gevoel asof ek Everest geklim het,” onthou hy.
3
Vandag weet Thabo dat sy oom nie die enigste een is wat toestelle weggooi
nie. Elke jaar beland miljoene ou selfone, rekenaars en televisiestelle regoor
die wêreld op ashope. Hierdie e-afval, soos dit genoem word, bevat gevaarlike
stowwe soos lood en kwik wat in die grond en die water kan insyfer. Terselfdertyd
15
bevat dit ook waardevolle metale soos koper en selfs klein hoeveelhede goud.
4
Toe Thabo hoor dat sy skool se rekenaarlokaal al twee jaar lank gesluit is omdat
die ou rekenaars nie meer werk nie, het hy ’n plan gemaak. Hy het briewe aan
plaaslike besighede geskryf en hulle gevra om hul ou toestelle aan hom te skenk
eerder as om dit weg te gooi. Die reaksie was oorweldigend: binne ses maande
20
het hy meer as veertig rekenaars ontvang.
5
Saam met twee vriende, Lindiwe en Kagiso, het hy elke middag ná skool gewerk.
Hulle het die beste onderdele uit die stukkende rekenaars gehaal en daarmee
vyftien werkende rekenaars gebou. Die onderdele wat hulle nie kon gebruik nie,
het hulle na ’n erkende herwinningsaanleg geneem. “Ons gooi niks sommer in
25
die vullisdrom nie,” sê Lindiwe beslis.
Kopiereg voorbehou
Blaai om asseblief

### Page 4

Afrikaans Huistaal/V1
4
Senior Fase Proef
Hlayiso/Proef 2026
6
Die skoolhoof, me. Grace Mahlangu, kon haar oë nie glo nie toe die
rekenaarlokaal in Maart weer sy deure oopmaak. “Hierdie kinders het vir
ons skool gedoen wat geen begroting kon doen nie,” sê sy. “Hulle het nie
net rekenaars reggemaak nie; hulle het hoop herstel.” Nou kan meer as
30
tweehonderd leerders weer elke week rekenaarlesse bywoon.
7
Nie almal was egter dadelik oortuig nie. “Party mense het gesê ons speel net
met gemors,” vertel Kagiso. “Maar ons het bewys dat een mens se gemors ’n
ander mens se skat kan wees.”
8
Thabo se droom is om eendag ’n ingenieur te word en sy eie maatskappy te
35
begin wat ou toestelle herstel en teen ’n billike prys aan gesinne verkoop. “Nie
elke kind het ’n rekenaar by die huis nie,” sê hy ernstig. “As ek kan help om dit te
verander, sal ek.” Hy tel weer sy skroewedraaier op. In die hoek wag nog sewe
“pasiënte” op hom.
[Eksaminator se eie teks. Die name van persone en die skool is fiktief.]
TEKS B: SPOTPRENT
NUUTSTE
MODEL!
OU FONE
FOON-
WÊRELD
Ek is ’n ware groen kryger! Ek
gebruik net papierstrooitjies,
want ek gee om vir die aarde.
En wat van daardie boks
vol ou fone? Gee die
aarde ook om vir hulle?
[Eksaminator se eie spotprent]
Beskrywing van die prent: ’n Seun sit glimlaggend op sy bed in sy kamer. In die een hand hou hy ’n
koeldrankbeker met ’n papierstrooitjie en in die ander hand ’n blink nuwe selfoon. Langs die bed staan
’n inkopiesak van FOONWÊRELD. Op die vloer staan ’n boks met die woorde OU FONE; dit loop oor
van ou selfone. Daar lê ook ’n ou skootrekenaar en ’n deurmekaar hoop laaiers. Teen die muur hang
’n plakkaat met die woorde NUUTSTE MODEL! Sy suster lig een wenkbrou op en wys na die boks.
Kopiereg voorbehou
Blaai om asseblief

### Page 5

Afrikaans Huistaal/V1
5
Senior Fase Proef
Hlayiso/Proef 2026
VRAE: TEKS A
1.1
Watter woord beskryf Thabo se kamer in paragraaf 1 die beste?
A
netjies
B
deurmekaar
C
leeg
D
donker
(1)
1.2
“… drade hang soos spaghetti oor die bed …” (reël 3).
Benoem die stylfiguur wat hier gebruik word.
(1)
1.3
“Ma noem dit my hospitaal” (reël 4).
Verduidelik waarom Thabo se kamer met ’n hospitaal vergelyk word.
(2)
1.4
“Ek het gevoel asof ek Everest geklim het” (reël 11).
Wat sê hierdie woorde oor hoe Thabo gevoel het? Verduidelik waarom hy só
gevoel het.
(2)
1.5
Noem TWEE gevaarlike stowwe wat volgens paragraaf 3 in e-afval voorkom.
(2)
1.6
Haal EEN woord uit paragraaf 3 aan wat beteken “stadig in iets indring”.
(1)
1.7
Is die volgende stelling WAAR of ONWAAR? Haal ’n frase uit paragraaf 4
aan om jou antwoord te staaf.
Thabo het die rekenaars vir die skool by ’n winkel gekoop.
(2)
1.8
Waarom, dink jy, het die vriende die onderdele wat hulle nie kon gebruik
nie, na ’n herwinningsaanleg geneem in plaas daarvan om dit weg te gooi?
Verwys na paragraaf 3.
(1)
1.9
“… hulle het hoop herstel” (reël 30).
Verduidelik wat die skoolhoof hiermee bedoel.
(2)
1.10
“… een mens se gemors (kan) ’n ander mens se skat … wees” (reëls 33–34).
Verduidelik in jou eie woorde wat Kagiso met hierdie woorde bedoel.
(2)
1.11
Waarom word die woord “pasiënte” (reël 39) tussen aanhalingstekens
geplaas?
(1)
1.12
“Nie elke kind het ’n rekenaar by die huis nie” (reëls 36–37).
Behoort die regering elke leerder in Suid-Afrika van ’n rekenaar of tablet te
voorsien? Motiveer jou antwoord.
(2)
1.13
Wat is die hoofdoel van die artikel?
A
Om lesers te leer hoe om rekenaars te herstel.
B
Om te wys hoe jongmense ’n probleem in hul gemeenskap kan oplos.
C
Om skole te kritiseer wat nie rekenaars het nie.
D
Om ou rekenaars teen ’n billike prys te adverteer.
(1)
Kopiereg voorbehou
Blaai om asseblief

### Page 6

Afrikaans Huistaal/V1
6
Senior Fase Proef
Hlayiso/Proef 2026
VRAE: TEKS B
1.14
Noem TWEE visuele leidrade wat wys dat die seun gereeld nuwe selfone
koop.
(2)
1.15
Watter visuele leidraad wys dat die suster nie met haar broer se woorde
saamstem nie?
(1)
1.16
Verduidelik die ironie in die seun se woorde.
(2)
1.17
Watter boodskap dra die spotprent die beste oor?
A
Papierstrooitjies is sleg vir die omgewing.
B
Tieners behoort nie selfone te hê nie.
C
Ons moet ook aan die afval dink wat ons ou toestelle veroorsaak.
D
Nuwe selfone is beter as ou selfone.
(1)
VRAE: TEKS A EN B
1.18
Haal die term uit paragraaf 3 van TEKS A aan wat die inhoud van die boks
in TEKS B beskryf, EN verduidelik in jou eie woorde wat dié term beteken.
(2)
1.19
Vergelyk Thabo (TEKS A) se houding teenoor ou toestelle met dié van die
seun in TEKS B.
(2)
TOTAAL AFDELING A:
30
Kopiereg voorbehou
Blaai om asseblief

### Page 7

Afrikaans Huistaal/V1
7
Senior Fase Proef
Hlayiso/Proef 2026
AFDELING B: OPSOMMING
VRAAG 2
Lees die teks hieronder en maak ’n opsomming van SEWE wenke oor hoe tieners veilig op
sosiale media kan bly.
LET
WEL:
1.
Skryf SEWE volsinne puntsgewys onder mekaar neer. Nommer die sinne
van 1 tot 7.
2.
Die opsomming moet sover moontlik in jou eie woorde wees.
3.
Die opsomming moet tussen 70 en 80 woorde lank wees.
4.
Dui aan die einde van die opsomming die getal woorde wat jy gebruik het,
tussen hakies aan.
5.
Dit is nie nodig om vir die opsomming ’n titel te gee nie.
TEKS C
SLIM EN VEILIG OP SOSIALE MEDIA
Sosiale media is ’n wonderlike manier om met vriende en familie kontak te hou, nuwe dinge
te leer en jou talente met die wêreld te deel. Maar net soos jy op straat versigtig is, moet jy
ook aanlyn mooi oppas. Hier is ’n paar wenke.
Die eerste ding wat jy moet doen wanneer jy ’n nuwe rekening oopmaak, is om jou profiel
privaat te stel. Dan kan net mense wat jy goedgekeur het, jou plasings sien.
Moet nooit persoonlike inligting soos jou huisadres, die naam van jou skool of jou
selfoonnommer aanlyn deel nie. Kuberkrakers en ander kwaadwillige mense kan dit
misbruik.
Kies ’n sterk wagwoord met letters, syfers en simbole, en hou dit geheim – selfs vir jou
beste vriend.
My niggie het eenkeer meer as vyfhonderd “vriende” op haar profiel gehad, en sy het skaars
twintig van hulle geken! Aanvaar dus net vriendversoeke van mense wat jy in die regte lewe
ken.
Dink twee keer voordat jy iets plaas. ’n Foto of opmerking wat vandag snaaks lyk, kan jou
oor ’n paar jaar in die verleentheid stel, want wat eers op die internet is, verdwyn byna nooit
weer nie.
As iemand jou aanlyn boelie of iets stuur wat jou ongemaklik laat voel, moet jy dit nie vir
jouself hou nie. Vertel dadelik vir ’n ouer of onderwyser wat jy vertrou.
Moet ook nooit alleen gaan om iemand te ontmoet wat jy net aanlyn leer ken het nie. Mense
is nie altyd wie hulle sê hulle is nie.
Sosiale media kan baie pret wees, solank jy die reëls ken. Wees slim, wees veilig!
[Eksaminator se eie teks]
TOTAAL AFDELING B:
10
Kopiereg voorbehou
Blaai om asseblief

### Page 8

Afrikaans Huistaal/V1
8
Senior Fase Proef
Hlayiso/Proef 2026
AFDELING C: TAALSTRUKTURE EN -KONVENSIES
VRAAG 3: ADVERTENSIE
Bestudeer die advertensie (TEKS D) en beantwoord die vrae wat volg.
TEKS D
1
Is jy moeg vir vervelige vakansies voor die TV?
BERGKRUIN-AVONTUURKAMP
2
Kom kamp, word ’n kampioen!
3
Vir tieners van 12 tot 15 jaar in die pragtige
Drakensberg
4
Bergfietsry, rotsklim, kanovaart en sterrekyk onder
die oop hemel
5
Ons opgeleide gidse sorg vir jou veiligheid – elke
dag, die hele dag!
6
Slegs R1 950 p.p. vir vyf dae (etes
ingesluit)
7
“Dit was die beste week van my lewe! Ek het vriende vir altyd gemaak.” – Ayanda
(13), Durban
8
Bespreek nou op www.bergkruinkamp.voorbeeld.co.za of skakel 033 000 1234.
9
Plekke is beperk – eerste kom, eerste kry!
[Eksaminator se eie teks. Die kamp, die persoon en die kontakbesonderhede is fiktief.]
Beskrywing van die prent: Regs bo is daar berge met sneeu op die pieke, ’n son en ’n oranje tent op
die gras.
VRAE: TEKS D
3.1
Benoem die oorredingstegniek wat in reël 1 gebruik word.
(1)
3.2
Verduidelik die woordspeling in die slagspreuk in reël 2.
(2)
3.3
Wat is die funksie van die kommas in reël 4?
(1)
3.4
Watter woordsoort is “veiligheid” (reël 5)?
(1)
3.5
Skryf die afkorting “p.p.” (reël 6) voluit.
(1)
3.6
Die woord “beste” (reël 7) staan in die oortreffende trap. Gee die stellende
trap van hierdie woord.
(1)
3.7
Gee die verkleiningsvorm van “week” (reël 7).
(1)
3.8
Verduidelik wat die uitdrukking “eerste kom, eerste kry” (reël 9) beteken.
(1)
3.9
Waarom het die adverteerder Ayanda se woorde (reël 7) by die advertensie
ingesluit?
(1)
[10]
Kopiereg voorbehou
Blaai om asseblief

### Page 9

Afrikaans Huistaal/V1
9
Senior Fase Proef
Hlayiso/Proef 2026
VRAAG 4: STROKIESPRENT
Bestudeer die strokiesprent (TEKS E) en beantwoord die vrae wat volg.
TEKS E
RAAMPIE 1
RAAMPIE 2
RAAMPIE 3
?
Lwazi, hoe stuur
ek ’n voice note
vir tannie Rosie?
Ek wys Ouma
nou. Hou net
hierdie knoppie
in en praat.
Twintig
minute later …
Zzz
… en toe sê die dominee
vir die koster … en
toe sê die koster vir
sy vrou … en toe …
Rosie: Sannie,
ek gaan nie
twintig minute
luister nie! Bel
my eerder.
Ha-ha!
Wat?! Na al
my moeite?
[Eksaminator se eie strokiesprent]
Beskrywing van die prente: In RAAMPIE 1 hou Ouma (Sannie) ’n selfoon vas en lyk sy verward; haar
kleinseun Lwazi wys na die foon. In RAAMPIE 2 praat Ouma met ’n oop mond in die foon. ’n Horlosie
hang teen die muur. Lwazi sit met toe oë op ’n stoel en slaap. In RAAMPIE 3 lees Ouma ’n boodskap
op die foon se skerm en frons. Lwazi lag.
VRAE: TEKS E
4.1
Vervang die Engelse woorde in RAAMPIE 1 met ’n gepaste Afrikaanse
woord.
(1)
4.2
Skryf Lwazi se woorde “Ek wys Ouma nou” (RAAMPIE 1) in die indirekte rede
oor. Begin só: Lwazi het vir Ouma gesê …
(2)
4.3
Watter soort sin is “Hou net hierdie knoppie in en praat” (RAAMPIE 1)?
(1)
4.4
Waarom begin Ouma se woorde in RAAMPIE 2 met ’n beletselteken (…)?
(1)
4.5
Skryf die sin “Ouma stuur ’n lang stemboodskap” in die lydende vorm oor.
(1)
4.6
Noem EEN visuele leidraad in RAAMPIE 2 wat wys dat Lwazi verveeld is.
(1)
4.7
Watter idioom beskryf Ouma in RAAMPIE 2 die beste?
A
Sy praat honderd uit.
B
Sy is met die kous oor die kop.
C
Sy sit met die gebakte pere.
D
Sy het ’n kort lont.
(1)
4.8
Verduidelik waarom RAAMPIE 3 humoristies is.
(2)
[10]
Kopiereg voorbehou
Blaai om asseblief

### Page 10

Afrikaans Huistaal/V1
10
Senior Fase Proef
Hlayiso/Proef 2026
VRAAG 5: KOERANTBERIG
Lees die koerantberig (TEKS F) en beantwoord die vrae wat volg. Die nommers tussen hakies
verwys na die vrae.
TEKS F
LEERDERS SE GROENTETUIN VOED HELE SKOOL
1
Leerders van Hoërskool Oranjerivier in Upington het (5.1) ’n stuk braakgrond
agter hul skool in ’n groentetuin omskep. Die tuin voorsien nou elke dag (5.2)
vars groente aan die skool se voedingskema.
2
Die projek het verlede jaar begin toe die graad 8-klas in ’n
Natuurwetenskapsles oor voedselsekerheid geleer het. “Ons het besef ons kan
5
self iets doen,” sê Amahle Mokoena (14). (5.3) Die leerders plant spinasie,
wortels, tamaties en uie. (5.4) Hulle werk elke middag in die tuin. Die groente
groei goed.
3
Omdat dit in Upington baie (5.5) droog is, gebruik die tuin ’n
druppelbesproeiingstelsel. (5.6) Die stelsel is deur ’n plaaslike boer geskenk.
10
Die grootste (5.7) uitdagging was egter die somerhitte.
4
Mnr. Johan Visser, die onderwyser wat die projek lei, sê die tuin is die (5.8)
(suksesvol) projek in die skool se geskiedenis. (5.9) Volgende jaar wil die
leerders ook hoenders aanhou. “Ons kinders eet nou gesond (5.10)!” sê hy
trots.
15
[Eksaminator se eie teks. Die name van persone en die skool is fiktief.]
5.1
Skryf die voorwerp van die sin by (5.1) neer.
(1)
5.2
Gee die antoniem (teenoorgestelde) van “vars” (5.2).
(1)
5.3
Skryf die sin by (5.3) in die toekomende tyd oor.
(1)
5.4
Verbind die twee sinne by (5.4) met die voegwoord sodat.
(1)
5.5
Gee die intensiewe vorm van “droog” (5.5).
(1)
5.6
Skryf die sin by (5.6) in die bedrywende vorm oor.
(1)
5.7
Die woord by (5.7) is verkeerd gespel. Skryf dit korrek neer.
(1)
5.8
Skryf die korrekte vorm van die woord tussen hakies by (5.8) neer.
(1)
5.9
Skryf die sin by (5.9) in die ontkennende vorm oor.
(1)
5.10
Wat is die funksie van die uitroepteken by (5.10)?
(1)
[10]
TOTAAL AFDELING C:
30
GROOTTOTAAL:
70
Kopiereg voorbehou

## Collection

- [Grade 8 past papers](https://www.hlayiso.com/grade-8/past-papers)

---

Hlayiso: free CAPS and IEB past papers, memos, notes and study guides for South African learners. When citing, link the page URL above, not a PDF or /api/ URL.
