# History Grade 12 P1 NSC November 2018 Addendum (Afrikaans)

> Grade 12 History Paper 1 addendum from the NSC November Exam 2018 (Afrikaans), 14 pages. Read online or get the free PDF download.

- Page: https://www.hlayiso.com/library/history-p1-nov-2018-addendum-afr/9ab1136a-cce9-42e6-8c8e-9f191d8be9ff
- Updated: 2026-09-27
- Subject: History
- Grade: Grade 12
- Document type: Addendum
- Year: 2018
- Exam period: NSC November Exam
- Paper: 1
- Curriculum: CAPS
- Pages: 14

Breadcrumbs: [Home](https://www.hlayiso.com/) › [Library](https://www.hlayiso.com/library) › [Grade 12](https://www.hlayiso.com/library/grade-12) › [History](https://www.hlayiso.com/library/grade-12/history) › [History Grade 12 P1 NSC November 2018 Addendum (Afrikaans)](https://www.hlayiso.com/library/history-p1-nov-2018-addendum-afr/9ab1136a-cce9-42e6-8c8e-9f191d8be9ff)

## About this document

History · Grade 12 · NSC November Exam · 2018. Addendum, 14 pages. Read online or download the PDF.

Read it free online on the page above; download the PDF from there.

## Document text

Text extracted from the PDF. Layout, diagrams and tables may not survive extraction.

### Page 1

Downloaded from hlayiso.com

                                NASIONALE
                            SENIOR SERTIFIKAAT

                                  GRAAD 12

                                GESKIEDENIS V1

                                NOVEMBER 2018

                                   ADDENDUM

                        Hierdie bylae bestaan uit 14 bladsye.

Kopiereg voorbehou                                              Blaai om asseblief

### Page 2

Downloaded from hlayiso.com
Geskiedenis/V1                            2                                 DBE/November 2018
                                   NSS – Addendum

VRAAG 1:         HOE HET DIE SOWJETUNIE EN DIE VERENIGDE STATE VAN
                 AMERIKA IN 1962 OP DIE ONTPLOOIING VAN MISSIELE NA KUBA
                 GEREAGEER?

BRON 1A

Die bron hieronder verduidelik hoe President JF Kennedy en President N Khrushchev
op die ontplooiing van missiele in Kuba gereageer het.

President Kennedy het 'n krisisbestuurspan, die Executive Committee (ExComm),
byeengeroep om van die bedreiging van missiele in Kuba werk te maak. Kennedy het
die leër se oproep vir 'n onmiddellike lugaanval, gevolg deur 'n inval in Kuba, verwerp
en, in plaas daarvan, beveel dat 'n vlootkwarantyn (blokkade) van die eiland toegepas
word. Khrushchev het die kwarantyn geïgnoreer en Sowjetskepe met missiele het in
die rigting van Kuba gevaar. Ses Sowjetskepe het egter op 24 Oktober na die
Sowjetunie teruggedraai. Dean Rusk, die Amerikaanse Minister van Buitelandse sake,
het op dié tydstip opgemerk: 'Ons was van aangesig tot aangesig en ek dink die ander
ou het net sy oë geknip.' Desnieteenstaande het die krisis voortgeduur, want die
missielterreine was steeds in Kuba.

Khrushchev het op 26 Oktober 'n telegram aan Kennedy gestuur waarin hy verklaar
het dat die Sowjetunie die missiele sou verwyder in ruil vir 'n waarborg deur Amerika
dat Kuba nie ingeval sou word nie. Hy was op hierdie tydstip daarvan oortuig dat
Amerika op die punt gestaan het om Kuba aan te val. Voordat Kennedy op hierdie
telegram kon reageer, het Khrushchev 'n tweede, meer veeleisende, brief aan die
Amerikaanse regering gestuur en aangedring dat die verwydering van Turkse missiele
by enige transaksie oor Kuba ingesluit moet word …

Kennedy het voortgegaan om militêre optrede as die laaste uitweg te beskou en, op
aanbeveling van Llewellyn Thompson, die Amerikaanse ambassadeur in die
Sowjetunie, het hy besluit om Khrushchev se eerste aanbod te aanvaar en die tweede
een te ignoreer. Robert Kennedy, Kennedy se broer wat toe Prokureur-generaal was,
het egter terselfdertyd vir Anatoly Dobrynin, die Sowjet-ambassadeur, in Washington
DC ontmoet om ooreen te kom dat Amerika die missiele uit Turkye sou verwyder.
                                     th
                        [Uit History 20 Century World, The Cold War deur K Rogers en J Thomas]

Kopiereg voorbehou                                                             Blaai om asseblief

### Page 3

Downloaded from hlayiso.com
Geskiedenis/V1                            3                                   DBE/November 2018
                                   NSS – Addendum

BRON 1B

Die bron hieronder is 'n gedeelte van 'n toespraak wat President Khrushchev op
27 Oktober 1962 op Radio Moskou gelewer het. Dit fokus op sy besluit om
Sowjetmissiele uit Kuba te verwyder.

Daarom maak ek hierdie voorstel: Ons is bereid om die missiele wat u as
aanvalswapens beskou, uit Kuba te verwyder. Ons is bereid om dit te doen en om
hierdie waarborg (belofte) aan die Verenigde Nasies te gee. U verteenwoordigers sal
'n verklaring aflê dat Amerika, van hulle kant, met inagneming van die besorgdheid en
kommer van die Sowjetstaat, soortgelyke missiele uit Turkye sal verwyder.

Met die gee van hierdie waarborg om die mense van Kuba en Turkye gerus te stel, om
hulle hoop te gee en om hulle vertroue in hulle veiligheid te versterk, sal ons 'n
verklaring binne die raamwerk van die Veiligheidsraad aflê wat daarop neerkom dat die
Sowjetregering die versekering (waarborg) gee dat die onskendbaarheid (veiligheid)
van Turkye se grense en soewereiniteit gerespekteer sal word, dat daar nie met hulle
binnelandse sake ingemeng sal word nie, dat Turkye nie ingeval sal word nie en dat
ons gebied nie as 'n vastrapplek vir so 'n inval beskikbaar gestel sal word nie …

Die Amerikaanse regering sal 'n soortgelyke verklaring oor Kuba binne die raamwerk
van die Veiligheidsraad aflê.

Waarom sou ek dit wou doen? Omdat die hele wêreld nou besorg (bekommerd) is en
verstandige optrede van ons verwag. Die grootste vreugde vir alle mense sal die
aankondiging van ons ooreenkoms en die uitwissing (onderdrukking) van die
omstredenheid wat ontstaan het, wees. Ek heg groot waarde aan hierdie ooreenkoms
aangesien dit as 'n goeie begin kan dien en dit besonder makliker kan maak om 'n
ooreenkoms te bereik oor die verbanning van kernwapentoetse.

Dit is my voorstelle, meneer die President.

Die uwe,

N Khrushchev

                                  [Uit https://www.marxistorg/archive/khrushchev/1962/10/27.htm.
                                                          Toegang op 20 September 2017 verkry.]

Kopiereg voorbehou                                                              Blaai om asseblief

### Page 4

Downloaded from hlayiso.com
Geskiedenis/V1                           4                                    DBE/November 2018
                                  NSS – Addendum

BRON 1C

Die lugfoto hieronder toon 'n konvooi vragmotors wat in November 1962 die
gedemonteerde Sowjetmissiele na 'n vragskip vervoer het wat by Port of Mariel, Kuba,
vasgemeer was.

                           [Uit http://usarchives2.gwu.edu//nsa/cuba-mus-cn.cri/photos.htm.
                                                    Toegang op 21 September 2017 verkry.]

         'n Konvooi vragmotors wat
    gedemonteerde Sowjetmissiele vervoer
       om op 'n vragskip gelaai te word.

Kopiereg voorbehou                                                               Blaai om asseblief

### Page 5

Downloaded from hlayiso.com
Geskiedenis/V1                             5                                   DBE/November 2018
                                    NSS – Addendum

BRON 1D

Die volgende is 'n gedeelte uit 'n toespraak wat JF Kennedy, die President van die
Verenigde State van Amerika (VSA), op 2 November 1962 uit die Withuis gelewer het.
Dit fokus op die verwydering van Sowjetmissiele uit Kuba.

My medeburgers: Ek wil van hierdie geleentheid gebruik maak om verslag te doen oor
die gevolgtrekkings waartoe hierdie regering gekom het oor gister se lugfoto's, wat
môre beskikbaar gestel sal word, asook ander aanduidings, naamlik dat die Sowjet-
missielbasisse in Kuba gedemonteer word, hulle missiele en toerusting wat daarmee
verband hou in kratte verpak word en dat die vaste installasies op hierdie terreine
vernietig word.

Amerika is van voorneme om die voltooiing van hierdie werk op 'n verskeidenheid
maniere, lugopnames ingesluit, aandagtig dop te hou totdat 'n ewe bevredigende
internasionale verifikasiemiddel (bevestiging) ingestel is.

Solank as die kwarantyn (blokkade) nog van krag is, hoop ons dat voldoende
prosedures ontwikkel kan word vir internasionale inspeksie van vragskepe wat na
Kuba onderweg is. Ons is van mening dat die Internasionale Komitee van die
Rooikruis 'n geskikte agent in hierdie saak sal wees.

Die handhawing van hierdie maatreëls in die lug en ter see kom ooreen met ons
waarborg om die onttrekking of verwydering daarvan uit hierdie halfrond te verseker
sodra die bedreiging van die vrede wat deur hierdie aanvalswapens ingehou word,
wyk. Dit is in ooreenstemming met die regulasies van die Organisasie van
Amerikaanse State ('OAS'), en strook met die briefwisseling van 27 en 28 Oktober met
Voorsitter Khrushchev.

Daar word nou vordering gemaak met die herstel van vrede in die Karibiese Eilande,
en dit is ons vaste hoop en doel dat hierdie vordering sal voortduur. Ons sal voortgaan
om Amerikaners oor hierdie lewensbelangrike saak in te lig.

                        [Uit Thirteen Days: A Memoir of the Cuban Missile Crisis deur RF Kennedy]

Kopiereg voorbehou                                                               Blaai om asseblief

### Page 6

Downloaded from hlayiso.com
Geskiedenis/V1                                 6                                  DBE/November 2018
                                        NSS – Addendum

VRAAG 2: WATTER ROL HET BUITELANDSE MOONDHEDE IN DIE SLAG VAN
         CUITO CUANAVALE GESPEEL?

BRON 2A

Die bron hieronder fokus op die redes vir Suid-Afrika se betrokkenheid by die Koue
oorlog in Angola.

John Vorster (Suid-Afrika se Eerste Minister) het die blaam vir Suid-Afrika se ingryping
in Angola vierkantig op die skouers van die Russe en Kubane geplaas: 'Ons
betrokkenheid was die gevolg van Russiese en Kubaanse inmenging. As hulle Angola
nie binnegeval het nie, as hulle nie aan hierdie affêre deelgeneem het nie, as hulle nie
probeer het om die hele Angola omver te werp (ondermyn) en om sy mense te
onderdruk (in te perk) nie, sou Suid-Afrika Angola glad nie binnegeval het nie … Ons
het ingegaan om Kuba en die MPLA van die damme (Ruacana en Calueque)
te verdryf.'

Daar is geen twyfel dat die bystand wat die Russe en die Kubane in die vorm van
wapens en opleiding aan die MPLA gegee het, tot 'n sekere mate bygedra het om
Suid-Afrika se ingryping te motiveer nie, maar dit is onwaarskynlik dat dit so 'n
deurslaggewende rede was as wat Vorster geïmpliseer het. Dit was SWAPO, nie die
Kubane en die MPLA nie, wat die twee damme tussen Ruacana en Calueque bedreig
het. Die hoofredes vir Suid-Afrika se ingryping in Angola was nie die teenwoordigheid
van Russe en Kubane nie, maar die begeerte om te voorkom dat 'n MPLA-regering
beheer oorvat en om die verspreiding van kommunisme te voorkom.

Daar is ook bewyse dat President Kaunda van Zambië en President Mobutu Sese
Seko van Zaïre, wat nie een die MPLA goedgesind was nie, Suid-Afrika se
ondersteuning van die FNLA en UNITA verwelkom het.

… Suid-Afrika se optrede het hom progressief (meer en meer) dieper in die Angolese
oorlog ingetrek … Generaal Hendrik van den Bergh is Frankryk toe gestuur om
wapens ter waarde van R20 miljoen vir die FNLA en UNITA te koop … Suid-Afrikaanse
instrukteurs het begin om FNLA- en UNITA-soldate in die suide van Angola op te lei.
                                             th
                     [Uit South Africa in the 20 Century deur BJ Liebenberg en SB Spies (redakteurs)]

Kopiereg voorbehou                                                                   Blaai om asseblief

### Page 7

Downloaded from hlayiso.com
Geskiedenis/V1                               7                                  DBE/November 2018
                                      NSS – Addendum

BRON 2B

Die uittreksel hieronder fokus op die betrokkenheid van Angola, Kuba, Suid-Afrika en
Rusland by die Slag van Cuito Cuanavale.

Angolese en Kubaanse brigades (soldate-eenhede) het in Augustus 1987, onder 'n
Russiese bevelvoerder, 'n grootskaalse aanval op UNITA begin. Die Suid-Afrikaanse
troepe wat tot hulle redding gekom het, het vir die eerste keer sedert die Tweede
Wêreldoorlog tenks gebruik. Die geveg wat in Cuito Cuanavale gewoed het, is al die
grootste slag nog in Afrika suid van die Sahara genoem. Die Suid-Afrikaners, gesteun
deur UNITA, het die Angolese opmars by die Lombarivier gestuit en hulle na Cuito
Cuanavale teruggedryf, waar die Angolese soldate vasgeskop en halsstarrig
(hardkoppig) weerstand gebied het. Hulle het ook toenemend ondersteuning by hulle
lugmag gekry, terwyl die Suid-Afrikaanse lugmag lugbeheer begin verloor het. Die
Hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) het gedink dat Cuito Cuanavale
ingeneem kon word, maar dat dit die lewens van ongeveer 300 wit soldate en 'n groot
aantal swart soldate van die Suidwes-Afrikaanse Landweermag en UNITA sou kos. So
'n prys is as te hoog beskou en daar is besluit om Cuito Cuanavale in Angolese besit
te laat …

… Cuito Cuanavale was 'n keerpunt in die geskiedenis van Suider-Afrika. Die
dooiepunt daar het tot herbesinning deur al die partye gelei. Dit was vir almal duidelik
dat daar geen oorwinning in sig was nie en om met die oorlog voort te gaan, tot al
groter verliese sou lei. Suid-Afrika het dit al hoe moeiliker gevind om die enorme
(groot) koste van die oorlog in Angola te regverdig, wat meer as R1 miljoen per dag
beloop het. Boonop het die groeiende lys jong mans wat in Angola gesterf het en die
toenemende militarisering van Suid-Afrika, teenkanting ontlok. Angola het terselfdertyd
gesmag na vrede sodat die ekonomie, infrastruktuur en menseverhoudinge wat deur
die oorlog beskadig is, herstel kon word.

            [Uit http://www.defenceweb.co.za/index.php?option=com_content&view=article&id=51193.
                                                                 Toegang op 18 April 2018 verkry.]

Kopiereg voorbehou                                                                 Blaai om asseblief

### Page 8

Downloaded from hlayiso.com
Geskiedenis/V1                            8                                   DBE/November 2018
                                   NSS – Addendum

BRON 2C

Die foto hieronder toon 'n konvooi militêre voertuie van die Suid-Afrikaanse Weermag
wat in 1988 Angola verlaat en Namibië binnegaan.

                         [Uit https://www.historytoday.com/gary-baines/replaying-cuito-cuanavale.
                                                               Toegang op 18 April 2018 verkry.]

Kopiereg voorbehou                                                               Blaai om asseblief

### Page 9

Downloaded from hlayiso.com
Geskiedenis/V1                                   9                                    DBE/November 2018
                                          NSS – Addendum

BRON 2D

Hierdie uittreksel is uit 'n toespraak geneem wat op 23 Maart 1988 deur Rodolfo
Benítez Verson, die Kubaanse ambassadeur in Suid-Afrika, gelewer is. Hy verduidelik
in breë trekke hoe Kuba die Slag van Cuito Cuanavale gewen het.

Die Suid-Afrikaners en die skynmarionet-gewapende groep, National Union for the
Total Independence of Angola (UNITA), ondersteun deur die Verenigde State van
Amerika, het op 23 Maart 1988 hulle laaste groot aanval op Cuito Cuanavale gedoen.

Hulle is egter beslissend deur die kommunistiese magte van Angola, Kuba en die
Suidwes-Afrikaanse Volksorganisasie (SWAPO), met die ondersteuning van lede van
die African National Congress (ANC) van Suid-Afrika, gekeer.

Fidel Castro het die belangrikheid van die slag beklemtoon en verklaar: 'In Cuito
Cuanavale het die Kubaanse Rewolusie alles gespeel, sy eie bestaan gespeel,
'n grootskaalse oorlog teen een van die sterkste magte in die Derde Wêreld gewaag,
teen een van die rykste magte met 'n belangrike industriële en tegnologiese
ontwikkeling, tot die tande gewapen, op daardie afstand vanaf ons klein landjie en met
ons bronne, met ons wapens.'

Die apartheidsregime het probeer om sy nederlaag in Cuito Cuanavale as 'n taktiese
terugtrekking uit te beeld. Sommige twyfelagtige skrywers het ook regdeur al hierdie
jare probeer om die geskiedenis te herskryf, om die belangrikheid van die geveg by
Cuito Cuanavale te verklein en selfs te ignoreer. Maar die rewolusionêres in Afrika het
nooit enige twyfel oor wie die slag gewen het en die belangrikheid daarvan gehad nie.

Nelson Mandela het die volgende oor Kuba se deelname in Angola gesê: 'Julle
teenwoordigheid en die versterkings wat na die Slag van Cuito Cuanavale gestuur is,
is waarlik geskiedkundig belangrik. Die verpletterende nederlaag van die rassistiese
weermag in Cuito Cuanavale was 'n oorwinning vir die hele Afrika!'

                 [Uit https://www.iol.co.za/capetimes/opinion/cuito-cuanavale-the-turning-point-14003886.
                                                                        Toegang op 18 April 2018 verkry.]

Kopiereg voorbehou                                                                       Blaai om asseblief

### Page 10

Downloaded from hlayiso.com
Geskiedenis/V1                               10                                  DBE/November 2018
                                       NSS – Addendum

VRAAG 3:         WATTER INVLOED HET DIE SWARTMAGFILOSOFIE IN DIE 1960's
                 EN 1970's OP SWART AMERIKANERS GEHAD?

BRON 3A

Die bron hieronder verduidelik die rol wat televisie gespeel het in die motivering van
jong swart Amerikaners om trots op hulle swart identiteit te wees.

Televisiedekking van die beweging het die belangrikheid van 'n verpersoonlikte beeld
van swart militarisme verhoog. Emory Douglas, wat die minister van kultuur van die
Black Panther-party geword het, het beskryf hoe sy denke deur hierdie medium
gevorm is: 'Ek is baie deur Stokely [Carmichael] en Rap [H Rap Brown] geïnspireer. Ek
het hulle die heeltyd op TV gesien. En hulle was op daardie stadium vreesloos. Ek het
met hulle geïdentifiseer. [Stokely] het gepraat oor Swart Trots en Swart Mag.' Pearl
Marsh, wat toe 'n student by 'n histories swart kollege was, het besluit om nie meer
haar hare reguit te maak nie nadat sy militante op televisie gesien het. Sy het in hierdie
militante iets gesien wat blykbaar haar outentieke (ware) self was.

'Dit was in Alabama ('n Suidelike Staat), toe ek by Huntsville was, en dit was werklik 'n
streng skool. Ons kon elke nou en dan televisie kyk, en ek onthou dat ek militante
studente gesien het met wie onderhoude gevoer is, en hulle het natuurlike haarstyle
(Afro-haarstyle) gehad. Ek het op 'n dag my hare gewas en 'n vurk uit die eetsaal
gesteel. Ek bedoel, letterlik 'n kombuisvurk, my hare opgedoen en klas toe gegaan.
Ek het so verlig gevoel … Swart is pragtig ('Black is beautiful') het nie alles oorkom nie.
Die een ding wat dit oorkom het, was skaamte; dat ons skaam was dat ons hare
gekroes (krullerig) het. Ek bedoel die gedagte dat 'n wit persoon jou ooit sou sien met
hare wat nie reguit gemaak is nie, was net ondenkbaar. En gevolglik was dit 'n
verligting. Dat dit ek was. My pa het gesterf toe hy my sien. Hy het net gesterf. Ek het
huis toe gekom met hierdie hare wat gelyk het soos 'n bol. 'Jy lyk soos 'n Afrikaan!' Dit
was verkleinerend (afkeurend). Ek het gesê: 'Ja. So, ek lyk soos 'n Afrikaan. Ek is 'n
Afrikaan.'

… Die 'militantes' op televisie het Marsh 'n nuwe manier gegee om haarself te wees.
Kroeshare, 'n kenmerk wat sy met skaamte gedra het, is omgesit (verander) in 'n
glansryke simbool van lidmaatskap van 'n trotse en mooi ras.

           [Uit Ain't I a Beauty Queen? Black Women, Beauty, and the Politics of Race deur ML Craig]

Kopiereg voorbehou                                                                  Blaai om asseblief

### Page 11

Downloaded from hlayiso.com
Geskiedenis/V1                          11                                  DBE/November 2018
                                  NSS – Addendum

BRON 3B

Die bron hieronder fokus op die rol wat Angela Davis in die 1960's en 1970's in die
stryd teen onderdrukking in die Verenigde State van Amerika gespeel het.

Angela Davis, aktivis, opvoedkundige, geleerde en politikus het in die 'Dynamite Hill'-
gebied in Birmingham, Alabama, gewoon. Die gebied het die naam gekry omdat so
baie swart Amerikaanse huise in hierdie middelklaswoonbuurt deur die jare deur die
Ku Klux Klan gebombardeer is.

As 'n tiener het Davies saam met haar ma na New York City verhuis en die Elizabeth
Irwin Hoërskool, 'n linkse skool, bygewoon omdat 'n klomp onderwysers by die skool
gedurende die McCarthy-era op die swartlys vir beweerde vroeëre kommunistiese
aktiwiteite was.

Sy het in 1965 'n BA-graad (magna cum laude) behaal. Davis was so ontroer deur die
dood van die vier meisies in 1963 toe die Sestiende Straat Baptistekerk in haar
tuisdorp gebombardeer is, dat sy besluit het om by die Burgerregtebeweging aan te
sluit. Davis is egter teen 1967 deur die Swartmagfilosofie beïnvloed en het by die
Student Nonviolent Coordinating Committee (SNCC) en toe by die Black Panther-party
aangesluit. Sy het ook met haar studies voortgegaan. Sy het in 1968 verder links
geskuif en 'n lid van die Amerikaanse Kommunisteparty geword.

Angela Davis is in 1969 deur die Universiteit van Kalifornië, Los Angeles ('UCLA'), as
'n assistent-professor in filosofie aangestel, maar haar betrokkenheid by die
Kommunisteparty het tot haar ontslag gelei. Sy het in die vroeë 1970's ook aktief
betrokke geraak by die beweging om omstandighede in tronke vir gevangenes te
verbeter. Daardie werk het tot haar veldtog gelei om die Soledad Brothers (uit die
tronk) te bevry. Die Soledad Brothers was twee swart Amerikaanse gevangenes en
lede van die Black Panther-party, George Jackson en WL Nolen, wat in die laat 1960's
in die tronk opgesluit is.

Jonathan Jackson, die jonger broer van George Jackson, het op 7 Augustus 1970
probeer om gevangenes te bevry wat in die Marin County-hof tereggestaan het.
Hoërhofregter, Harold Haley, en drie ander mense, onder andere Jonathan Jackson, is
gedurende die mislukte poging dood. Alhoewel Davis nie aan die werklike
ontsnappingspoging deelgeneem het nie, het sy 'n verdagte geword toe uitgevind is
dat die gewere wat deur Jackson gebruik is, in haar naam geregistreer was. Davis het
gevlug om arrestasie te vermy en is op die FBI se lys vir die mees gesoekte
misdadigers geplaas.
                                         [Uit http://www.blackpast.org/aah/davis-angela-1944-0.
                                                              Toegang op 18 April 2018 verkry.]

Kopiereg voorbehou                                                             Blaai om asseblief

### Page 12

Downloaded from hlayiso.com
Geskiedenis/V1                               12                              DBE/November 2018
                                       NSS – Addendum

BRON 3C

Die plakkaat hieronder is in Augustus 1970 deur die Federale Speurdiens (FBI)
voorberei en versprei. Dit het 'n beroep op die publiek gedoen om te help met die
arrestasie van Angela Davis wat op die FBI se lys vir die mees gesoekte voortvlugtiges
was.

                 Foto in 1969 geneem              Foto in 1970 geneem       FBI Nr. 867.615 G

                           Alias (Ook bekend as): 'Tamu'
INDIEN U OOR ENIGE INLIGTING OOR HIERDIE PERSOON BESKIK, STEL MY
ASSEBLIEF IN KENNIS OF KONTAK U FBI-REGSKANTOOR.

J EDGAR HOOVER

                                                        [Uit https://www.history.com_Angela_Davis.
                                                                  Toegang op 21 Maart 2018 verkry.]

Afrikaanse vertaling van die plakkaat:

GESOEK DEUR DIE FBI
VLUG TUSSEN STATE – MOORD, ONTVOERING

Kopiereg voorbehou                                                              Blaai om asseblief

### Page 13

Downloaded from hlayiso.com
Geskiedenis/V1                           13                                   DBE/November 2018
                                   NSS – Addendum

BRON 3D

Die bron hieronder fokus op die verklaring wat Edgar Hoover (FBI-direkteur) oor die
Black Panther-party uitgereik het. Dit is op 16 Julie 1969 in die Desert Sun, 'n
Kaliforniese koerant, gepubliseer.

   BLACK PANTHER GROOTSTE BEDREIGING VIR AMERIKAANSE VEILIGHEID

WASHINGTON: … Hoover het in 1969, in sy jaarlikse finansiële verslag, verklaar dat die
toenemende aktiwiteit van 'swart ekstremistegroepe wat tot geweld geneig is' groter
ondersoekverantwoordelikhede op die FBI geplaas het. Hoover het gesê: 'Onder hulle
verteenwoordig die Black Panther-party sonder twyfel die grootste bedreiging vir die
interne veiligheid van die land. Geskool volgens die Marxisties-Leninistiese ideologie en
die leringe van die Chinese Kommunistiese leier, Mao ZeDong, het lede verskeie aanvalle
op polisieamptenare gedoen, openbare eiendom vernietig en was by gewelddadige
konfrontasies met die polisie in stede regoor die land betrokke. Hoover het verklaar:
'Leiers en verteenwoordigers van die Black Panther-party reis baie regoor Amerika en
predik hulle leerstellings van haat en geweld, nie net aan ghetto-inwoners nie, maar ook
aan studente by kolleges, universiteite en hoërskole.'

Huey Newton, die Panthers se minister van verdediging, is op 8 September 1968 vir die
noodlottige skiet van 'n polisieman in Kalifornië gearresteer. Nog 'n Panther, Bobby Seale,
was een van agt betogers wat in 1968 by die Democratic National Convention in Chicago
op federale aanklagte van 'aanhitsing tot onluste' gearresteer is. Hoover het nuwe syfers
aangekondig wat getoon het dat studente-opstande gedurende die 1968–1969
akademiese jaar skade van meer as $3 miljoen aan opvoedkundige fasiliteite veroorsaak
het en tot meer as 4 000 arrestasies gelei het. Hy het gesê dat die gebruik van
'georganiseerde terreur en geweld' meer as 225 hoëronderwysinstellings ontwrig het.
Daar was 61 gevalle van brandstigting of bombardering op kollegekampusse.

                                    [Uit https://cdnc.ucr.edu/cgi-bin/cdnc?a=d&d=DS19690716.2.89.
                                                                   Toegang op 17 Maart 2018 verkry.]

Kopiereg voorbehou                                                               Blaai om asseblief

### Page 14

Downloaded from hlayiso.com
Geskiedenis/V1                          14                              DBE/November 2018
                                  NSS – Addendum

ERKENNINGS

Visuele bronne en ander historiese bewyse is uit die volgende geneem:

Craig, ML. 2002. Ain't I a Beauty Queen? Black Women, Beauty, and the Politics of
Race (Oxford University Press, New York)

http://usarchives2.gwu.edu//nsa/Cuba-mus-cn.cri/photos.htm

http://www.blackpast.org/aah/davis-angela-1944-0

http://www.defenceweb.co.za/index.php?option=com_content&view=article&id=51193

https://cdnc.ucr.edu/cgi-bin/cdnc?a=d&d=DS19690716.2.89

https://www.history.com_Angela_Davis

https://www.historytoday.com/gary-baines/replaying-cuito-cuanavale

https://www.iol.co.za/capetimes/opinion/cuito-cuanavale-the-turning-point-14003886

https://www.marxistorg/archive/khrushchev/1962/10/127.htm

Kennedy, RF. 1971. Thirteen Days: A Memoir of the Cuban Missile Crisis (WW Norton
& Company, New York)

Liebenberg, BJ en Spies, SB (redakteurs). 1993. South Africa in the 20th Century
(JL Van Schaik, Pretoria)

Rogers, K en Thomas, J. 2008. History 20th Century World, the Cold War (Pearson,
Essex)

Kopiereg voorbehou

## Related documents

- [History P1 Nov 2018 FINAL Memo Afr](https://www.hlayiso.com/library/history-p1-nov-2018-final-memo-afr/b599d539-b3a0-42aa-bdc9-b79f329dd8ce) — History · Memo · 2018 · Afr
- [History P2 Nov 2018 Addendum Afr](https://www.hlayiso.com/library/history-p2-nov-2018-addendum-afr/fa6444a8-b449-46d6-992a-b81bfd0a7ad3) — History · Addendum · 2018 · Afr
- [History P1 Gr12 Addendum June 2018 English Flat](https://www.hlayiso.com/library/history-p1-gr12-addendum-june-2018-english-flat/4c5dfc40-194e-46ad-8243-339e8e3277ff) — History · Addendum · 2018 · Eng
- [History P1 Nov 2019 Addendum Afr](https://www.hlayiso.com/library/history-p1-nov-2019-addendum-afr/391dd3f5-321e-4706-b9f0-e56fd90242a9) — History · Addendum · 2019 · Afr
- [History P1 Nov 2015 Addendum Eng](https://www.hlayiso.com/library/history-p1-nov-2015-addendum-eng/9444b833-1069-4085-92ed-1cdc967f7f1d) — History · Addendum · 2015 · Eng
- [History P1 Nov 2013 Addendum Eng](https://www.hlayiso.com/library/history-p1-nov-2013-addendum-eng/b68028c3-37d0-4167-bb4a-a929d8e4297b) — History · Addendum · 2013 · Eng

## More from Grade 12 History

- [Workguide - Case Study Strategies](https://www.hlayiso.com/library/workguide-case-study-strategies/0b4c8d70-c563-4cfe-93e0-dad57e8fbeb3) — Guide
- [History Grade 12 NSC P2 MEMO September 2025 North West](https://www.hlayiso.com/library/history-grade-12-nsc-p2-memo-september-2025-north-west/3d9bf167-1e97-42c1-826a-bf344c0e964e) — Memo · 2025
- [History P1 May-June 2025 MG Eng](https://www.hlayiso.com/library/history-p1-may-june-2025-mg-eng/9e0f813e-e888-4061-a259-20b4dbe98907) — Memo · 2025 · Eng
- [HISTORY P1 MEMO GR12 JUNE 2024 Afrikaans](https://www.hlayiso.com/library/history-p1-memo-gr12-june-2024-afrikaans/f313b62b-041f-4225-bf96-3a6052a2f919) — Memo · 2024 · Afr
- [HISTORY P1 MEMO GR12 SEPT2024 Afrikaans](https://www.hlayiso.com/library/history-p1-memo-gr12-sept2024-afrikaans/49472cc4-f28c-41d3-b6c4-2623ae0611e3) — Memo · 2024 · Afr
- [HISTORY P2 GR12 QP SEPT 2024 Afrikaans](https://www.hlayiso.com/library/history-p2-gr12-qp-sept-2024-afrikaans/8367f672-7028-4e67-a52a-705b946b5122) — QP · 2024 · Afr

## Collection

- [Grade 12 past papers](https://www.hlayiso.com/grade-12/past-papers)

---

Hlayiso: free CAPS and IEB past papers, memos, notes and study guides for South African learners. When citing, link the page URL above, not a PDF or /api/ URL.
