# History Grade 12 P1 November 2024 NSC Addendum (Afrikaans)

> Grade 12 History Paper 1 addendum from the November 2024 NSC (Afrikaans), 14 pages. Read online or get the free PDF download.

- Page: https://www.hlayiso.com/library/history-p1-nov-2024-addendum-afr/7801ffc1-23e8-4dca-a540-0b0a792b8c0f
- Updated: 2026-09-27
- Subject: History
- Grade: Grade 12
- Document type: Addendum
- Year: 2024
- Exam period: November 2024 NSC
- Paper: 1
- Curriculum: CAPS
- Pages: 14

Breadcrumbs: [Home](https://www.hlayiso.com/) › [Library](https://www.hlayiso.com/library) › [Grade 12](https://www.hlayiso.com/library/grade-12) › [History](https://www.hlayiso.com/library/grade-12/history) › [History Grade 12 P1 November 2024 NSC Addendum (Afrikaans)](https://www.hlayiso.com/library/history-p1-nov-2024-addendum-afr/7801ffc1-23e8-4dca-a540-0b0a792b8c0f)

## About this document

History · Grade 12 · November 2024 NSC · 2024. Addendum, 14 pages. Read online or download the PDF.

Read it free online on the page above; download the PDF from there.

## Document text

Text extracted from the PDF. Layout, diagrams and tables may not survive extraction.

### Page 1

Vertroulik

                               GRAAD 12

                               NASIONALE
                           SENIOR SERTIFIKAAT

                                 GRAAD 12

                               GESKIEDENIS V1

                               NOVEMBER 2024

                                  ADDENDUM

                     Hierdie addendum bestaan uit 14 bladsye.

Kopiereg voorbehou                                              Blaai om asseblief

### Page 2

Geskiedenis/V1                               2                                 DBE/November 2024
                                  NSS  Addendum Vertroulik

VRAAG 1: HOE IS DIE LEWENS VAN BERLYNERS IN 1961 DEUR DIE
         OPRIGTING VAN DIE BERLYNSE MUUR GEAFFEKTEER?

BRON 1A

Die bron hieronder is geneem uit 'n artikel 'Berlin Local Life' wat op 31 Maart 2015 deur
D Rhodes in die Travel Guide geskryf is. Dit verduidelik waarom die Berlynse Muur in
Augustus 1961 opgerig is.

Oprigting van die Berlynse Muur het vroegoggend op Sondag 13 Augustus 1961
begin. Dit was 'n desperate poging – 'n doelgerigte (effektiewe) stap deur die Duitse
Demokratiese Republiek (DDR) – om te keer dat Oos-Berlyners uit die Sowjet-
beheerde Oos-Duitse staat na die Weste van die stad ontsnap, wat toe deur die
Amerikaners, Britte en Franse beset is.

Berlyn se unieke situasie as 'n stad in die middel van die Sowjet-besettingsone van
Duitsland, waarvan die helfte deur Westerse magte beheer is, het dit 'n fokuspunt vir
spanning tussen die Geallieerdes en die Sowjette gemaak waar botsende ideologieë
langs mekaar toegepas is.

Soos wat meer en meer mense in die Sowjet-beheerde Ooste egter deur kommunisme
en die toenemende onderdrukkende ekonomiese en politieke omstandighede
ontnugter (teleurgestel) is, het 'n groeiende aantal begin om oor te loop (weg te loop)
na die Weste. Daar is beraam dat teen 1961 ongeveer 1 500 mense per dag na die
Weste gevlug het, wat beide die geloofwaardigheid en, nog belangriker, die
arbeidsmag van die DDR, skade berokken het. Gerugte oor 'n muur het spoedig begin
versprei en dit was nie lank daarna wat daardie gerugte 'n konkrete realiteit geword
het nie.

Gedurende 'n meesterlik beplande operasie, wat net 24 uur geneem het, is die strate
van Berlyn opgebreek, versperrings met plaveistene is opgerig, tenks is by kritieke
plekke en duikweë ontplooi en plaaslike spoorwegdienste is onderbreek, sodat die
Weste van Berlyn binne een dag heeltemal van die Ooste afgesluit is. Vanaf daardie
selfde dag is inwoners van Oos-Berlyn en die DDR nie meer toegelaat om die Weste
van die stad binne te gaan nie – die 60 000 wat pendelaars (reisigers) was, ingesluit.

                                             [Uit 'Berlin Local Life', Travel Guide deur D Rhodes]

Kopiereg voorbehou                                                                Blaai om asseblief

### Page 3

Geskiedenis/V1                              3                                   DBE/November 2024
                                 NSS  Addendum Vertroulik

BRON 1B

Die bron hieronder is geneem uit 'n boek met die titel The Great Power Conflict
After 1945 deur P Fisher wat 'n historikus was. Dit sit die beskrywings uiteen van
polisiesersant, Hans Peters, en hotelwerker, Ursula Heinemann, wat ooggetuies was
van die gebeure wat op 13 Augustus 1961 in Berlyn plaasgevind het.        Nov

Hans Peters was op grensdiens in die Franse Sektor van Wes-Berlyn. Ses vragmotors
met brandende hoofligte het om 2.20 vm. met 'n geraas na hom toe aangery gekom.
Hulle het tagtig jaart [1 jaart = 0,914 meter] van hom af gestop. Die straat was binne
oomblikke vol gewapende soldate wat masjiengewere opgestel het wat op die Franse
Sektor gerig was. Twee wagte wat rolle doringdraad gedra het, het nadergekom. By
die onsigbare grenslyn tussen die Sowjet en die Franse Sektore het die troepe die
straat afgesper (geblokkeer). In die huise het niemand geroer (beweeg) nie.

Ursula Heinemann het om 4.45 vm. in haar Oos-Berlynse woonstel vir nog 'n
werksdag by die Plaza Hotel in Wes-Berlyn wakker geword. Sy het na die nabygeleë
stasie gestap en na die kaartjietoonbank gegaan. 'Nein! Nein! [Nee! Nee!] Vat jou
pfennigs (geld) terug! Alle ritte na Berlyn is verby.' Ursula het op daardie oomblik
gesien dat vyf gewapende Oos-Duitse vervoerpolisiemanne na haar toe op pad was.
Sy het omgedraai en na haar woonstel teruggehardloop. 'Hulle het die grens gesluit!'
Die trapportaal en gange van die woonstelle was baie vinnig vol mense wat geskree
en gehuil het. Sy het besluit dat sy na die Weste moes oorloop. Maar hoe? Sy het
naby die Amerikaanse Sektor deur 'n boord (plantasie) gesluip en die
doringdraadgrens bereik. Ursula het op haar maag vorentoe gekruip. Sy het gevoel
hoe skeur die doringdraad haar vel. Sy het uiteindelik 'n grenspos bereik. 'n Oomblik
later was sy in Wes-Berlyn.

Oos-Duitse polisie en soldate het teen vroegoogend die stad in twee gesny (verdeel).
Die afbakeningsoperasie het voortgegaan. Slegs 'n paar kruispunte (grensposte) het
oopgebly, beskerm deur tenks, pantsermotors en waterkanonne. Party mense was
nogtans vasberade om hulle lewens te waag om van Oos na Wes oor te loop.

                                        [Uit The Great Power Conflict After 1945 deur P Fisher]

Kopiereg voorbehou                                                                Blaai om asseblief

### Page 4

Geskiedenis/V1                                4                              DBE/November 2024
                                   NSS  Addendum Vertroulik

BRON 1C

Die uittreksel hieronder is uit 'n koerantartikel met die titel 'Revealed: Tragic Victims of
the Berlin Wall', deur T Paterson vir die Britse The Independent-koerant wat op
12 Augustus 2006 verskyn het. Dit vestig die aandag op die Oos-Berlyners se reaksie
op die oprigting van die Berlynse Muur.

Siegfried Noffke was 'n 22-jarige wat van sy gesin geskei is deur 'n belangrike, tragiese
(hartseer) gebeurtenis wat die wêreld verstom het. Noffke, 'n Oos-Berlyner, het daardie
aand by familie in kapitalistiese Wes-Berlyn gekuier. Soos honderde ander het hy die
oggend van 13 Augustus na 'n kruispunt (grenspos) na Oos-Berlyn teruggekeer, maar
gevind dat dit deur grenspolisie met masjiengewere afgesper (geblok) is. Sy enigste
kans vir kontak met sy vrou en dogter, wat in Oos-Berlyn was, was om oor die
doringdraadskeiding vir hulle te waai.

Hy het besluit dat sy enigste kans was om sy gesin na die Weste te smokkel. Hy het by
'n groep aangesluit wat begin het om 'n tonnel van Wes-Berlyn se Sebastian Strasse,
in die vervalle distrik van Kreuzberg, te grawe met die doel om onder die Muur in
Oos-Berlyn se Heinrich Heine Strasse, 'n afstand van ongeveer 200 jaart, deur te
breek.

Die tonnelgrawers het die oggend van 28 Junie 1962 byna hulle doelwit bereik. Minder
as 'n jaart se grond het hulle van 'n kelder in 'n huis in die Oos-Berlynse straat geskei.
Maar toe Noffke en sy span deurbreek, is hulle deur Oos-Berlyn se berugte Stasi
geheime polisie ingewag. Noffke, een van die eerstes uit, is onmiddellik met 'n
masjiengeweer doodgeskiet. Sy kollegas is in hegtenis geneem en het weens
'anti-regeringsprovokasie' (uitdaag van die regering) tereggestaan. Jurgen Henning,
'n Stasi-mol (spioen), het al aan die begin, sonder die wete van die tonnelgrawers, by
die groep aangesluit en die Oos-Berlynse owerhede ten volle oor hulle aktiwiteite
ingelig. Noffke se vrou is in Oos-Berlyn weens 'anti-Kommunistiese sameswering
(sameswering teen kommunisme)' tronk toe gestuur.

                                                [Uit The Independent-koerant, 12 Augustus 2006]

Kopiereg voorbehou                                                              Blaai om asseblief

### Page 5

Geskiedenis/V1                                   5                                DBE/November 2024
                                      NSS  Addendum Vertroulik

BRON 1D

Die spotprent hieronder, deur J Hook, het op 29 Augustus 1961 in The Mercury-
koerant in Australië verskyn. Dit beeld Oos-Berlynse soldate uit wat probeer om na die
Westerse Sektor van Berlyn oor te loop.

                     [From https://www.geoffhook.com/archive/get_archive.cgi?image=1961/08/jeff290861
                                                                          Accessed on 10 March 2024.]

 'Die manne is besig om al hoe meer senuagtig ('jumpy'') te raak soos wat die Berlynse
 Krisis verdiep, Kameraad …'
                      [Uit https://www.geoffhook.com/archive/get_archive.cgi?image=1961/08/jeff290861
                                                                    Toegang op 10 Maart 2024 verkry.]

                                                         DIE MUUR IS OPGERIG
                                                            DEUR DIE WARE
                                                        KOMMUNISTIESE BLOK
                  AANDAG!                              VIR DIE BESKERMING VAN
                  WESTERSE                              DIE GOEIE KOMMUNISTE
                   SEKTOR-
                 OORLOPERS
                   WELKOM

Kopiereg voorbehou                                                                   Blaai om asseblief

### Page 6

Geskiedenis/V1                               6                                  DBE/November 2024
                                  NSS  Addendum Vertroulik

VRAAG 2:         HOE HET DIE NEDERLAAG VAN DIE SUID-AFRIKAANSE
                 WEERMAG (SAW) BY DIE SLAG VAN CUITO CUANAVALE
                 IN ANGOLA IN DIE LAAT 1980's TOT VREEDSAME
                 ONDERHANDELINGE IN SUIDELIKE AFRIKA GELEI?

BRON 2A

Die bron hieronder is 'n uittreksel uit die boek, The Mission: A Life for Freedom in South
Africa, deur D Goldberg, 'n wit anti-apartheid-aktivis. Dit verduidelik hoe Kuba en sy
bondgenote daarin geslaag het om die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) uit
Cuito Cuanavale, in Oos-Angola, te verdryf.

1987 was 'n keerpunt in suidelike Afrika. Die finale konfrontasie het by Cuito Cuanavale
in Oos-Angola plaasgevind tussen Kubaanse en Angolese militêre magte wat
gesamentlik die Suid-Afrikaanse magte en Savimbi se National Union for the Total
Independence of Angola (UNITA) gekonfronteer het. Dit was die grootste geveg op die
Afrika-kontinent sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog. Die Suid-Afrikaanse
weermag, wat met die steun van die Amerikaners opgeruk het, moes terugtrek.

Die Kubaanse bydrae was enorm en hulle moes ná hulle hulp in die stryd vir die
erkenning van Angola se soewereiniteit, al hulle magte ná die Suid-Afrikaanse weermag
se nederlaag by Cuito Cuanavale onttrek. Die Sowjetunie se bydrae was ook enorm.
Die bou van die radar(verklikker)-netwerk en die gevegsvliegtuigbeskerming wat Angola
lugoormag teen Suid-Afrika gebied het, was krities. Op 'n sielkundige vlak was dit in
suidelike Afrika belangrik dat wit Suid-Afrikaners deur koeëls doodgemaak kon word wat
deur swart Afrikane en swart Kubane afgevuur is. Om wit te wees, het nie apartheid se
soldate koeëlvas gemaak nie.

In 1988, een maand voor die einde van Ronald Reagan se presidentskap, is die
driesydige verdrag (Driesydige Verdrag), wat Namibië se onafhanklikheid verseker het,
deur Angola, Kuba en Suid-Afrika in New York onderteken. Die verdrag het voorsien vir
die onttrekking van alle Kubaanse militêre personeel binne 30 maande. Die linkse,
ANC-goedgesinde regering in Angola het aan bewind gebly en ons saak is gewen.

                               [Uit The Mission: A Life for Freedom in South Africa deur D Goldberg]

Kopiereg voorbehou                                                                 Blaai om asseblief

### Page 7

Geskiedenis/V1                               7                               DBE/November 2024
                                  NSS  Addendum Vertroulik

BRON 2B

Die bron hieronder is 'n uittreksel uit Fidel Castro se biografie, My Life – Fidel Castro,
deur I Ramonet. Dit verduidelik hoe die Sowjetunie Kubaanse troepe ondersteun het
om die ondersteuning wat Amerika aan Suid-Afrika gedurende die Slag van Cuito
Cuanavale gegee het, teen te staan.

Die regering van die Verenigde State van Amerika het 'n geheime plan
geïmplementeer om die wettige belange van die Angolese te vermorsel en
'n skynmarionetregering ('puppet government') daar te stel. 'n Sleutelpunt was 'n
Amerikaanse alliansie met Suid-Afrika om sekere organisasies wat deur die Portugese
koloniale regime geskep is, op te lei en toe te rus om Angola se onafhanklikheid te
dwarsboom en dit in 'n kondominium (huis) vir Mobutu, die diktator van die Kongo en
Suid-Afrikaanse fascisme en apartheid te verander. 'n Suid-Afrika wie se troepe
Washington nie gehuiwer het om te gebruik om Angola binne te val nie.

Terwyl hulle in Angola was, het die Amerikaners reëlings getref om verskeie
atoombomme, soortgelyk aan dié wat in Hirosjima en Nagasaki gebruik is, na
Suid-Afrika oor te plaas. Ons het aangeneem en voorsorgmaatreëls getref dat die
Suid-Afrikaners 'n kernwapen op ons troepe in Cuito Cuanavale sou laat val.

… Alhoewel die Sowjetunie nie geraadpleeg is oor Kuba se besluit om troepe na Cuito
Cuanavale te stuur nie, het hulle later besluit om wapens vir die skep van die Angolese
weermag te verskaf, en hulle het deur die hele oorlog positief gereageer op sekere van
ons versoeke vir militêre materiaal. Daar het geen moontlikheid van 'n suksesvolle
uitkoms in Angola bestaan sonder die politieke en logistieke ondersteuning van die
Sowjetunie teen die magsaggressie van Suid-Afrika uit die suide en Mobutu uit die
noorde nie.

Die oorweldigende oorwinning by Cuito Cuanavale en veral die verpletterende
(vernederende) opmars deur die magtige front van Kubaanse troepe in suidwes-
Angola het 'n einde gemaak aan buitelandse militêre aggressie teen daardie land. Die
vyand moes hulle gewone arrogante geboelie sluk en om die onderhandelingstafel
gaan sit.

                                                     [Uit My Life – Fidel Castro deur I Ramonet]

Kopiereg voorbehou                                                              Blaai om asseblief

### Page 8

Geskiedenis/V1                              8                               DBE/November 2024
                                 NSS  Addendum Vertroulik

BRON 2C

Die foto hieronder is op 22 Desember 1988 deur die Verenigde Nasies se fotograaf,
J Isaac, geneem. Dit toon die verteenwoordigers van Suid-Afrika, die Verenigde
Nasies, die Verenigde State van Amerika, Angola en Kuba wat die Driesydige Verdrag
onderteken.

Sittend, van links na regs is: Minister van Verdediging, Generaal Magnus Malan
(Suid-Afrika); Minister van Buitelandse Sake, Roelof Frederik Botha (Suid-Afrika); die
Sekretaris-generaal van die VN, Javier Perez De Cuellar; Minister van Buitelandse
Sake ('Secretary of State'), George Shultz (Amerika); Minister van Buitelandse Sake,
Alfonso Van Dunem (Angola); Generaal Antonio dos Santos Franca (Angola); Minister
van Buitelandse Sake van Kuba, Isidoro Malmierca Peoli; en Generaal Abelardo
Colomé Ibarra (Kuba).

                            [Uit https://www.google.com/imegres?q=tripatite%20accord%201988.
                                                             Toegang op 10 Maart 2024 verkry.]

Kopiereg voorbehou                                                             Blaai om asseblief

### Page 9

Geskiedenis/V1                               9                            DBE/November 2024
                                  NSS  Addendum Vertroulik

BRON 2D

Die uittreksel hieronder is uit 'n toespraak wat Nelson Mandela op 26 Julie 1991 by
'n byeenkoms in Matanzas, Kuba, gelewer het. Dit fokus op hoe die nederlaag van die
Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) by Cuito Cuanavale die magsbalans in die streek van
suidelike Afrika verander het.

Ek was in die tronk toe ek die eerste keer gehoor het van die massiewe hulp (steun) wat
die Kubaanse internasionalistiese magte aan die mense van Angola verskaf het, op só
'n skaal dat 'n mens gehuiwer het om te glo, toe die Angolese (MPLA) in 1975
gesamentlik deur Suid-Afrika aangeval is, het die Amerikaanse Intelligensiediens ('CIA')
die National Liberation Front of Angola (FNLA), die huursoldate (guerrillas), die National
Union for the Total Independence of Angola (UNITA) en Zaïrese troepe gefinansier.

Ons het geweet dat die Kubaanse magte kort nadat die 1975-inval afgeweer is, gewillig
was om te onttrek, maar die voortgaande aggressie van die Suid-Afrikaanse regering
het dit onmoontlik gemaak. Julle teenwoordigheid en die versterking deur julle magte by
die Slag van Cuito Cuanavale was waarlik van groot historiese belang. Dit is welbekend
dat die regering se reaksie op ons wettige demokratiese eise was om, onder meer, ons
Ieierskap van verraad aan te kla …

Ons het talle Westerse regerings vir hulp genader toe ons wou wapens opneem, maar
ons kon nooit iemand behalwe die mees junior ministers spreek nie. Met ons besoek
aan Kuba is ons deur die mees senior beamptes ontvang en hulle het onmiddellik wat
ons ook al wou hê en nodig gehad het, aangebied. Dit was ons vroegste ondervinding
van Kubaanse internasionalisme. Die beslissende nederlaag by Cuito Cuanavale het die
magsbalans in die streek verander en die kapasiteit van die Suid-Afrikaanse regime om
hulle bure te destabiliseer, verklein. Hierdie kombinasie, saam met ons mense se stryd
in die land, was deurslaggewend om die Suid-Afrikaanse regering te laat besef dat hulle
sou moes praat.

                                 [Uit How Far We Slaves Have Come deur N Mandela en F Castro]

Kopiereg voorbehou                                                           Blaai om asseblief

### Page 10

Geskiedenis/V1                              10                                DBE/November 2024
                                  NSS  Addendum Vertroulik

VRAAG 3:         WAAROM   HET   BURGERREGTE-OPTOGGANGERS      IN DIE
                 VERENIGDE STATE VAN AMERIKA (VSA) DIE OPMARS NA
                 WASHINGTON OP 28 AUGUSTUS 1963 GEORGANISEER?

BRON 3A

Die uittreksel hieronder is uit 'n oudio-opname, Tape 108/843, deur die hoofde van die
tien Burgerregtebewegingsorganisasies. Dit lê klem op die belangrikheid van die
opmars en die aandrang op dissipline deur die optoggangers gedurende die Opmars
na Washington vir Werk en Vryheid op 28 Augustus 1963.

Die Opmars na Washington van 28 Augustus is meer as net 'n betoging. Dit is 'n
geesdriftige petisie in lewende lywe van die duisende burgers van beide rasse wat uit
alle dele van ons land teenwoordig sal wees. Dit sal ordelik, maar nie onderdanig
(ondergeskik) wees nie. Dit sal trots, maar nie arrogant (met 'n groot kop) wees nie. Dit
sal geweldloos, maar nie skugter (bang) wees nie. Dit sal verenig wees ten opsigte van
doelwitte en gedrag, maar nie versplinter (verskeurd) in groepe en individuele
mededingers nie. Dit sal uitgesproke, maar nie bakleierig (gewelddadig) wees nie.

Ons, die ondergetekendes, wat die Opmars na Washington beskou as die
bymekaarbring (bymekaarmaak) van die drome, hoop, ambisies, trane en gebede van
miljoene wat vir hierdie dag gelewe het, dring by lede, volgelinge en goedgesindes van
ons verskillende organisasies aan om die Opmars 'n gedissiplineerde en doelgerigte
betoging te maak.

Ons doen 'n beroep op almal, swart en wit, om provokasie (aanhitsing) tot wanorde en
geweld te weerstaan. Ons vra dat hulle sal onthou dat bose mense vasbeslote is om
hierdie Opmars swart te smeer en om die saak van gelykheid in onguns te bring (twyfel
daaroor te laat ontstaan) deur doelbewuste pogings om wanorde te veroorsaak
(begin). Ons dring aan op selfdissipline, sodat niemand in ons geledere (groep), al is
hulle hoe entoesiasties, die oorsaak van wanorde is nie.

Ons dring aan op weerstand teen die pogings van diegene wat, alhoewel hulle nie
vyande van die Opmars is nie, dit dalk wil gebruik om sake te bevorder wat nie primêr
aan burgerregte of die welstand van ons land toegewy is nie. Ons versoek almal wat in
Washington of in die gees tuis aanwesig is om die saak bo alles te stel.

                                     [Uit Meetings: Tape 108/843. Civil Rights, 28 Augustus 1963]

Kopiereg voorbehou                                                               Blaai om asseblief

### Page 11

Geskiedenis/V1                               11                                  DBE/November 2024
                                   NSS  Addendum Vertroulik

BRON 3B

Die bron hieronder is uit die boek, The Civil Rights Movement – An Illustrated History,
deur B Wilkinson. Dit fokus op hoe aktiwiteite op die dag van die Opmars na
Washington verloop het, onder meer die lewer van die 'I Have a Dream'-toespraak
deur Martin Luther King Jr.

Sowat 250 000 burgerregte-aktiviste, wat deur Martin Luther King Jr. gelei is, het op
28 Augustus by die Lincoln Memorial saamgekom om volle burgerregte vir swartes te
eis. 'Werk en vryheid' was die kreet van die protesgangers, wat 50 000 wittes ingesluit
het. Hulle is deur 'n groot groep ondersteuners toegespreek, onder andere arbeidsleier
Walter Reuther, geestelikes van baie gelowe, folksanger Joan Baez en gospelsanger
Mahalia Jackson.

Die onvergeetlike sluitingsrede is deur dr. King gelewer wat die volgende jaar die
Nobelvredesprys sou ontvang. Op aandrang van Mahalia Jackson wat van die podium
(verhoog) uitgeroep het: 'Vertel hulle van jou droom, Martin! Vertel hulle van die
droom!', het hy sy voorbereide teks (toespraak) eenkant toe geskuif en die reuse
(groot) skare tot trane en vervoering (groot blydskap) beweeg met die woorde: 'Ek Het
'n Droom dat hierdie nasie sal opstaan en die ware betekenis van hulle geloof sal
uitleef: "Ons glo dat hierdie waarhede vanselfsprekend is – dat alle mense gelyk
geskep is." … Ek Het 'n Droom dat my vier kindertjies eendag in 'n nasie sal woon
waar hulle nie volgens die kleur van hulle vel nie, maar volgens die inhoud van hulle
karakter beoordeel sal word. Ek Het vandag 'n Droom.' …

'Wanneer ons vryheid laat weerklink, wanneer ons dit van elke dorpie en elke
gehuggie, van elke staat en elke stad laat weerklink, sal ons die dag bespoedig
wanneer al God se kinders, swart mense en wit mense, Jode en nie-Jode, Protestante
en Katolieke, almal kan hande vat en die woorde van die ou Neger geestelike liedjie
sing: 'Uiteindelik vry! Uiteindelik vry! Dank die almagtige God, ons is uiteindelik vry." '

                           [Uit The Civil Rights Movement – An Illustrated History deur B Wilkinson]

Kopiereg voorbehou                                                                  Blaai om asseblief

### Page 12

Geskiedenis/V1                             12                            DBE/November 2024
                                 NSS  Addendum Vertroulik

BRON 3C

Die foto hieronder is uit 'n boek met die titel The Day They Marched, deur
DE Saunders. Dit toon burgerregte-optoggangers met plakkate gedurende die Opmars
na Washington op 28 Augustus 1963.

                                             [Uit The Day They Marched deur DE Saunders]

                     GEEN VSA-GELD OM
                     JIM CROW TE LAAT                    ONS EIS
                      GROOT WORD NIE                  STEMREG NOU!

                     ONS EIS 'N EINDE AAN
                                                     ONS BETOOG VIR
                      POLISIEWREEDHEID
                                                     WERK VIR ALMAL
                             NOU!
                                                          NOU!

                 ONS BETOOG VIR HOËR
                    MINIMUM LONE-                    ONS BETOOG VIR
                   DEKKING VIR ALLE                  GEÏNTEGREERDE
                    WERKERS NOU!                       SKOLE NOU!

Kopiereg voorbehou                                                          Blaai om asseblief

### Page 13

Geskiedenis/V1                             13                           DBE/November 2024
                                 NSS  Addendum Vertroulik

BRON 3D

Die bron hieronder is 'n persverklaring deur President Kennedy wat op
29 Augustus 1963 in The New York Times verskyn het. Dit maak dit duidelik hoe
beïndruk President Kennedy was met die manier waarop die Opmars na Washington
verloop het.

ONMIDDELLIKE VRYSTELLING                                         28 AUGUSTUS 1963

                Kantoor van die Withuis-perssekretaris
__________________________________________________________________
                            DIE WITHUIS

                      VERKLARING DEUR DIE PRESIDENT

Ons was vandag in Washington die getuies van tienduisende Amerikaners … beide
Neger* en wit … wat hulle reg uitgeoefen het om vreedsaam bymekaar te kom en die
mees wydverspreide aandag moontlik op 'n groot nasionale kwessie te vestig. Wat
vandag anders is, is die verskerpte en wydverspreide openbare bewustheid van die
behoefte daaraan om vorentoe te beweeg om hierdie doelwitte te bereik … doelwitte
wat ouer as hierdie nasie is.

'n Mens kan nie help om beïndruk te wees met die diepe vurigheid (passie) en die stille
waardigheid wat die duisende gekenmerk het wat van regoor die land in die Nasie se
Hoofstad byeengekom het om hulle geloof en vertroue in ons demokratiese
regeringsvorm te toon nie. Die leiers van die organisasie wat die Opmars gesteun het
en almal wat daaraan deelgeneem het, verdien ons waardering vir die gedetailleerde
voorbereidings wat getref is om dit moontlik te maak en vir die ordelike wyse waarop
dit uitgevoer is.

Die Uitvoerende Tak van die Federale Regering sal voortgaan met hulle pogings om
meer werksgeleenthede te bekom en om diskriminasie in indiensnemingspraktyke te
elimineer, twee van die primêre doelwitte van die Opmars. Daarby sal ons pogings om
die verordening (aanneming) van die wetsvoorstelle wat aan die Kongres gemaak is,
gehandhaaf word, nie net ten opsigte van die Civil Rights Bill nie, maar ook voorstelle
om die Manpower Development and Training Program en die Youth Employment Bill
uit te brei en te versterk, wysigings aan die beroepsonderwysprogram, die stigting van
'n werk-studieprogram vir jongmense van hoërskoolouderdom en die verstewiging van
die bepalings van volwasse basiese onderwys.

                                               [Uit The New York Times, 29 Augustus 1963]

* Neger: 'n Neerhalende naam wat in die verlede in die VSA gebruik is om na swart
           Amerikaners te verwys.

Kopiereg voorbehou                                                         Blaai om asseblief

### Page 14

Geskiedenis/V1                             14                           DBE/November 2024
                                 NSS  Addendum Vertroulik

ERKENNINGS

Visuele bronne en ander historiese bewyse is uit die volgende geneem:

Fisher, P. 1998. The Great Power Conflict After 1945 (Nelson Thornes Publishers,
Gloucestershire)

Goldberg, D. 2010. The Mission: A Life for Freedom in South Africa (STE Publishers,
Suid-Afrika)

https://www.geoffhook.com/archive/get_archive.cgi?image=1961/08/jeff290861

https://www.google.com/imegres?q=tripatite%20accord%201988

The Independent-koerant, 12 Augustus 2006

Mandela, N en Castro, F. 1991. How Far We Slaves Have Come (Kwela Books,
Kaapstad)

Meetings: Tape 108/843. Civil Rights, 28 Augustus 1963

Ramonet, I. 2007. My Life – Fidel Castro (Penguin Books, Londen)

Rhodes, D. 2015. 'Berlin Local Life', Travel Guide (Lonely Planet Publishers, Stad van
Berlyn)

Saunders, DE. 1963. The Day They Marched (Johnson Publishing Company,
New York)

The New York Times, 29 Augustus 1963

Wilkinson, B. 1997. The Civil Rights Movement – An Illustrated History (Crescent
Books, New York)

Kopiereg voorbehou

## Related documents

- [HISTORY P1 MEMO GR12 JUNE 2024 Afrikaans](https://www.hlayiso.com/library/history-p1-memo-gr12-june-2024-afrikaans/f313b62b-041f-4225-bf96-3a6052a2f919) — History · Memo · 2024 · Afr
- [HISTORY P1 MEMO GR12 SEPT2024 Afrikaans](https://www.hlayiso.com/library/history-p1-memo-gr12-sept2024-afrikaans/49472cc4-f28c-41d3-b6c4-2623ae0611e3) — History · Memo · 2024 · Afr
- [Gr 12 History P1 (English) 2024 Question Paper X05](https://www.hlayiso.com/library/gr-12-history-p1-english-2024-question-paper-x05/7b41ec15-3856-4a67-a9db-cedd424e51c5) — History · QP · 2024 · Eng
- [HISTORY P1 GR12 ADDEN SEPT 2022 English](https://www.hlayiso.com/library/history-p1-gr12-adden-sept-2022-english/f45ccdc0-4084-4c3d-b1b8-1a30ab014473) — History · Addendum · 2022 · Eng
- [History P1 May June 2022 Addendum Eng](https://www.hlayiso.com/library/history-p1-may-june-2022-addendum-eng/26551f4a-326d-4c97-be6f-e9e99fb1dd32) — History · Addendum · 2022 · Eng
- [HISTORY P1 GR12 ADDEN SEPT2021 XHOSA D](https://www.hlayiso.com/library/history-p1-gr12-adden-sept2021-xhosa-d/4bbeb586-4f86-452f-89fb-d02e54f4905d) — History · Addendum · 2021

## More from Grade 12 History

- [Workguide - Case Study Strategies](https://www.hlayiso.com/library/workguide-case-study-strategies/0b4c8d70-c563-4cfe-93e0-dad57e8fbeb3) — Guide
- [History Grade 12 NSC P2 MEMO September 2025 North West](https://www.hlayiso.com/library/history-grade-12-nsc-p2-memo-september-2025-north-west/3d9bf167-1e97-42c1-826a-bf344c0e964e) — Memo · 2025
- [History P1 May-June 2025 MG Eng](https://www.hlayiso.com/library/history-p1-may-june-2025-mg-eng/9e0f813e-e888-4061-a259-20b4dbe98907) — Memo · 2025 · Eng
- [HISTORY P2 GR12 QP SEPT 2024 Afrikaans](https://www.hlayiso.com/library/history-p2-gr12-qp-sept-2024-afrikaans/8367f672-7028-4e67-a52a-705b946b5122) — QP · 2024 · Afr
- [Gr 12 History P2 (Afrikaans) June 2024 Question Paper](https://www.hlayiso.com/library/gr-12-history-p2-afrikaans-june-2024-question-paper/b8285d4c-81f2-4d18-a8e1-31feb9e949b5) — QP · 2024 · Afr
- [HISTORY P2 GR12 MEMO JUNE 2023 Afrikaans](https://www.hlayiso.com/library/history-p2-gr12-memo-june-2023-afrikaans/80707e45-fe8b-451f-924d-7d4379d803e2) — Memo · 2023 · Afr

## Collection

- [Grade 12 past papers](https://www.hlayiso.com/grade-12/past-papers)

---

Hlayiso: free CAPS and IEB past papers, memos, notes and study guides for South African learners. When citing, link the page URL above, not a PDF or /api/ URL.
