You're offline
Skip to content
Addendum

History P1 Nov 2013 Addendum Afr_hlayiso.com_.pdf

Subject: HistoryGrade 12201318 pages
Download

Loading document…

Loading document…

Document textSearch extracted text and jump to a page.
Downloaded from hlayiso.com GRAAD 12 NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT GRAAD 12 GESKIEDENIS V1 NOVEMBER 2013 ADDENDUM Hierdie addendum bestaan uit 18 bladsye. Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com Geskiedenis/V1 2 DBE/November 2013 NSS – Addendum VRAAG 1: HOE HET DIE OPSPOOR VAN SOWJETMISSIELE IN KUBA DEUR DIE VERENIGDE STATE VAN AMERIKA (VSA) GEDURENDE DIE 1960's DIE KOUE OORLOG-SPANNING VERERGER? BRON 1A Die bron hieronder bestaan uit 'n visuele en 'n geskrewe bron. Dit fokus op die ontplooiing van Sowjetmissiele in Kuba. Visuele Bron: Op 14 Oktober 1962 gaan majoor Heyser op 'n geheime sending om foto's van verdagte militêre terreine in Wes-Kuba te neem. Die beelde op die foto's is as middelafstand- ballistiese missiele geïdentifiseer. (Die byskrifte op die foto hieronder is deur die Amerikaanse Intelligensiediens bygevoeg.) MISSIELLANSEERDER KABEL MISSIELSKUILTENT OPGESPOORDE VRAGVOERTUIE OKSIDEERDERTENK- SLEEPWAENS BRANDSTOFTENKSLEEPWAENS [Uit: The Cuban Missile Crisis – To The Brink Of War deur P Byrne] Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com Geskiedenis/V1 3 DBE/November 2013 NSS – Addendum Geskrewe Bron: Die volgende bron bevat inligting oor die besprekings wat gehou is na die ontdekking van middelafstandmissiele in Kuba. Dinsdag 16 Oktober 1962, 11:50 Die Amerikaanse Spioenasiediens (CIA) se hooffoto-ontleder het oor die president se skouer gekyk. Arthur Lundahl het 'n wysstok in sy hand gehad, gereed om 'n geheim te openbaar wat die wêreld tot op die rand van 'n kernoorlog sou bring. Die geheim was opgesluit in drie swart-en-wit-foto's wat op inligtingsborde geplak is en in 'n groot swart tas weggesteek is. Die foto's is direk van bo af geneem, klaarblyklik vanaf 'n aansienlike afstand met die hulp van 'n baie sterk zoemlens. Bolangs beskou het die dowwe beelde van velde en woude langs kronkelende plattelandse paaie onskadelik, amper landelik, gelyk. In een van die velde was daar buisagtige voorwerpe en in 'n ander een ovaalvormige wit kolle netjies in 'n ry langs mekaar … Om die president te help om die betekenis van die foto's te verstaan, het Lundahl dit gemerk met pyltjies wat na die kolle en vlekke wys met byskrifte soos 'MISSIELLANSEERTOERUSTING', 'MISSIELSLEEPWAENS' en 'TENT-AREAS' … Vir die ander mans in die vertrek het Kennedy onnatuurlik kalm gelyk en het hy na die bewyse van die valsheid (oneerlikheid) van die Kremlin geluister. In die geheim, terwyl hulle volgehou het dat hulle nooit so iets sou oorweeg nie, het die Sowjetleiers grond- tot-grond-kernmissiele in Kuba geïnstalleer, minder as 'n honderd myl van die Amerikaanse kus af ... Lundahl het die inligtingsborde uit sy tas gehaal en dit op die tafel neergesit. Hy het met sy wysstok die president se aandag gevestig op 'n missielsleepwa langs 'n missiellanseerder wat met 'n seil toegegooi was. Nog sewe missielsleepwaens was in 'n nabygeleë veld geparkeer. 'Hoe weet jy dis 'n middelafstand- ballistiese missiel?' het die president gevra. Sy stem was kortaf en gespanne, 'n aanduiding van kokende woede agter die kalmte. 'Die lengte, meneer.' 'Die wat? Die lengte?' 'Die lengte daarvan, ja.' [Uit: One Minute To Midnight – Kennedy, Khrushchev and Castro on the Brink of Nuclear War deur M Dobbs] Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com Geskiedenis/V1 4 DBE/November 2013 NSS – Addendum BRON 1B Die bron hieronder is 'n telegram (geskrewe boodskap) wat op 27 Oktober 1962 deur Anatoly Dobrynin van die Sowjetunie aan die USSR se Ministerie van Buitelandse Sake gestuur is. Dobrynin-kabelgram (-telegram) aan die USSR se Ministerie van Buitelandse sake, 27 Oktober 1962 HOOGS GEHEIM Maak van kopieë verbode Kopie No.1 GEHEIME (GEKODEERDE) TELEGRAM Laat vanaand het R Kennedy my genooi om hom te kom sien. Ons het alleen gepraat. Die Kubaanse krisis is besig om vinnig te versleg, het R Kennedy begin. Ons het nou net 'n verslag ontvang dat 'n ongewapende Amerikaanse vliegtuig afgeskiet is terwyl dit 'n verkenningsvlug oor Kuba uitgevoer het. Die leër dring daarop aan dat die president sulke vliegtuie bewapen en dat vuur met vuur beantwoord moet word. Die regering van die VSA sal dit moet doen. 'Ek wil die huidige kommerwekkende situasie uiteensit soos die president dit beskou,' het R Kennedy beklemtoon. 'Hy wil hê dat NS Khrushchev dit moet weet. Dit is die kern (fokus) van die huidige situasie.' 'As gevolg van die vliegtuig wat afgeskiet is, is daar nou sterk druk op die president om bevel te gee om met vuur te reageer as daar op die Amerikaanse verkenningsvliegtuie wat oor Kuba vlieg, geskiet word. Die VSA kan nie hierdie vlugte staak nie, want dit is die enigste manier waarop ons vinnig inligting oor die stand van die konstruksie van missielbasisse in Kuba kan kry, wat ons glo 'n baie ernstige bedreiging vir ons nasionale veiligheid inhou. Maar as ons begin terugskiet, sal daar gou 'n kettingreaksie ontstaan wat baie moeilik gaan wees om te keer. Dit geld ook vir die kern van die missielbasisse in Kuba. Die regering van die VSA is vasbeslote om ontslae te raak van daardie basisse, om selfs tot die uiterste te gaan om hulle te bombardeer, want, ek herhaal, hulle hou 'n groot bedreiging vir die veiligheid van die VSA in. Maar in reaksie op die bombardering van hierdie basisse, en omdat Sowjetspesialiste daaronder gaan ly, sal die Sowjetregering ongetwyfeld op dieselfde wyse iewers in Europa reageer. 'n Regte oorlog sal begin, waarin miljoene Amerikaners en Russe sal sterf.' 'En wat van Turkye?' het ek vir R Kennedy gevra. 'As dit die enigste struikelblok is om die regulasie (wet) wat ek vroeër genoem het, uit te voer, dan sien die president nie enige onoorkombare probleme in die oplossing van hierdie saak nie,' het R Kennedy geantwoord. 'Die grootste hindernis vir die president is die openbare bespreking oor die kwessie van Turkye ... President Kennedy is egter gereed om ook 'n ooreenkoms met NS Khrushchev oor hierdie kwessie aan te gaan. Ek dink ons het 4–5 maande nodig om die basisse uit Turkye te onttrek,' het R Kennedy gesê. Uit: We All Lost the Cold War deur RN Lebow en JG Stein] Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com Geskiedenis/V1 5 DBE/November 2013 NSS – Addendum BRON 1C Hierdie spotprent deur E Valtman het op 30 Oktober 1962 in The Hartford Times verskyn. Die opskrif in Afrikaans lui: 'DIT MAAK MY SEERDER AS WAT DIT JOU SEERMAAK!' 'THIS HURTS ME MORE THAN IT HURTS YOU!' Castro Missiele Khrushchev [Uit: The Editorial Cartoons of Edmund, 1961–1991 deur S Valtman & E Valtman] Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com Geskiedenis/V1 6 DBE/November 2013 NSS – Addendum VRAAG 2: HOE SUKSESVOL WAS NYERERE SE BELEID VAN AFRIKA- SOSIALISME IN TANZANIË GEDURENDE DIE 1960's? BRON 2A Die volgende kommentaar deur Nyerere fokus op Tanzanië se beleid van sosialisme en selfstandigheid in 1967. … Dit is veral belangrik dat ons nou die verband tussen vryheid, ontwikkeling en dissipline verstaan, want ons nasionale beleid om sosialistiese dorpe regdeur die platteland te stig, is daarvan afhanklik. Ons het lankal geweet dat ontwikkeling op die platteland moes voortgaan en dat dit aktiwiteite sou vereis waar die mense sou moes saamwerk … Toe ons in die verlede probeer het om landelike ontwikkeling te bevorder, het ons soms groot bedrae geld spandeer om 'n nedersetting te vestig en dit met moderne toerusting en maatskaplike dienste toe te rus, sowel as om idees oor goeie bestuursvaardighede (regering) te gee … Te dikwels het ons mense oorreed (gedwing) om na nuwe nedersettings te gaan deur hulle te belowe dat hulle daar gou ryk kon word of dat die regering dienste en toerusting sou verskaf wat hulle nie in die dorpe of op hulle tradisionele plase sou ontvang nie. In baie min gevalle was daar enige ideologie betrokke; ons het gedink en gepraat in terme van baie verhoogde produksie en van dinge wat aan setlaars verskaf sou word. Die feit dat mense nie in ujamaa-dorpies ingedwing kan word nie, en ook nie aangesê kan word hoe om hulle te bestuur nie, beteken nie dat die regering en TANU (Tanzania African National Union) net moet terugsit en hoop dat mense geïnspireer sal word om dit op hulle eie te vorm nie. Onderwys en leierskap is nodig om ujamaa-dorpies te vestig en om hulle te help om suksesvol te wees. Dit is die dinge wat TANU moet voorsien. … Die Arusha-verklaring en die stappe oor openbare eienaarskap wat ons verlede week gedoen het, het almal te doen gehad met die versekering dat ons sosialisme in ons land kan bou. Die nasionalisering en die beherende belang wat ons in baie firmas oorgeneem het, was 'n noodsaaklike deel van ons vasberadenheid om ons samelewing op so 'n wyse te organiseer dat ons pogings al ons mense bevoordeel en dat daar geen uitbuiting van een mens deur 'n ander een is nie. [Uit: Freedom and Development deur J Nyerere] Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com Geskiedenis/V1 7 DBE/November 2013 NSS – Addendum BRON 2B Die bron hieronder bestaan uit 'n geskrewe en 'n visuele bron. Dit fokus op Nyerere se beleid van plattelandse ontwikkeling. Geskrewe Bron: Die volgende is 'n verslag deur G Mwakikagile, 'n verslaggewer vir die Tanzaniese Daily News (datum onbekend). Dit fokus op Nyerere se persoonlikheid. Ek onthou Nyerere goed. Hy was alombekend as Mwalimu en het deur sy voorbeeld gelei; sy nederigheid is geëwenaar deur sy verbintenis tot die welsyn van die armstes van die armes, tog sonder om die regte van ander te ignoreer. En hy het almal gevra om opofferings te maak vir ons gesamentlike welstand. Soos hy dit gestel het: 'Dit kan gedoen word. Doen jou deel.' Sy toewyding en identifisering met die massas en sy passie vir regverdigheid was duidelik regdeur sy termyn as die nasie se leier. Toe hy president geword het, het hy saam met hulle in die dorpies gewerk en gebly, in hulle hutte geslaap en hulle kos geëet. Hy het dae en weke saam met hulle in landelike gebiede oral in die land deurgebring terwyl hy saam met hulle gewerk het. Hy het so goed met die kleinboere gemeng dat 'n mens nie eens geweet het wie die leier in die groep was nie, wat nog om hom as president van 'n land te identifiseer as jy nie geweet het hoe hy lyk nie. Ek weet dit, want ek het as 'n nuusverslaggewer in Tanzanië gewerk. Geen ander Afrikaleier het soos hy gelewe en soveel op die platteland gewerk soos hy nie. Hy het ure lank landerye skoongemaak en geploeg saam met gewone kleinboere. Hy was een van hulle en hulle het gesê: 'Hy is een van ons.' Nie 'n afsydige, arrogante leier en intellektueel wat gevoel het dat dit benede hom was om sy hande soos die arm, ongeletterde kleinboere vuil te maak nie. Ek weet ook hoe nederig hy was uit dit wat ek jare vantevore gesien het, selfs voordat ek 'n nasionale nuusverslaggewer geword het, eers by die Standard, daarna by die Ministerie van Inligting en Uitsaaiwese as 'n inligtingsbeampte en toe by die Daily News. [Uit: Life Under Nyerere deur G Mwakikagile] Blaai asseblief om vir die Visuele Bron. Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com Geskiedenis/V1 8 DBE/November 2013 NSS – Addendum Visuele Bron: Hierdie foto toon Nyerere wat 'n plaas in Tanzanië besoek (datum onbekend). Julius Nyerere [Bron: http://www.soko-tanzania.com/ujamaa_villages.html. Toegang verkry op 12 Oktober 2012] Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com Geskiedenis/V1 9 DBE/November 2013 NSS – Addendum BRON 2C Hierdie bron fokus op die mislukking van die beleid van ujamaa. Nyerere het tien jaar na sy aftrede gesê dat hy dinge anders sou gedoen het as hy die horlosie kon terugdraai. Maar hy het steeds onwrikbaar in sosialisme bly glo. Soos hy dit in 'n onderhoud gestel het: 'Ek sou steeds die Arusha-verklaring geskryf het. Ek glo daarin. Dit is reg.' ... Maar selfs sulke vrywillige kollektiewe nedersettings sou waarskynlik nie katalitiese (reaktiewe) verandering in die ekonomiese transformasie van Tanzanië meegebring het nie, want hulle hoofattraksie sou maatskaplike dienste – skole en klinieke – gewees het wat deur die regering verskaf is, en nie wins nie. Die gevolg was ekonomiese mislukking, wat Tanzanië dalk dekades kan neem om te oorkom. Nietemin, met groot prestasies in gesondheid en onderwys, en die verskaffing van maatskaplike gelykheid, was Tanzanië se ekonomie nie 'n algehele mislukking nie. Toe Tanzanië sosialisme aangeneem het, het hy feitlik stilgestaan in terme van ekonomiese ontwikkeling, op pad na nêrens. Net tien jaar nadat die meeste nywerhede genasionaliseer is en amper die helfte van die hele land se bevolking na ujamaa- dorpies verhuis het, het die helfte van die 330 staatsbeheerde ondernemings bankrot gespeel, landbouproduksie het dramaties gedaal, die ekonomie was stagnant en baie mense het skaars genoeg gehad om te eet. James Adams, die Wêreldbank se direkteur vir Tanzanië, onthou toe hy in die vroeë 1980's vanaf Kenia hiernatoe gery het: 'Winkels was leeg, medisyne onverkrygbaar en voorrade so skaars dat hy ekstra kanne petrol in sy motor saamgery het. Op 'n stadium het die Wêreldbank meer lenings per capita aan Tanzanië gegee as aan enige ander nasie. Maar teen die middel-1980's, het dit gedreig om die kraan toe te draai, tensy hervorming plaasvind.' [Uit: Life in Tanzania Today and Since The Sixties deur J Ndembwike] Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com Geskiedenis/V1 10 DBE/November 2013 NSS – Addendum VRAAG 3: WATTER ROL HET DIE VERSKILLENDE BURGERLIKE PROTESAKSIES IN DIE 1960's IN DIE TEWEEGBRING VERANDERING IN DIE VERENIGDE STATE VAN AMERIKA (VSA) GESPEEL? BRON 3A Die uittreksel hieronder fokus op die stigting van die Burgerregtebeweging (datum onbekend). Na sporadiese pogings om die sukses wat deur die Montgomery Improvement Association (Verbeteringsvereniging) in 1955–56 behaal is, te herhaal, het 'n tweede groot gebeurtenis vroeg in 1960 in Greensboro plaasgevind. Vier eerstejaarstudente van die Noord-Carolina Landbou- en Tegniese Kollege het by 'n gesegregeerde middagete-toonbank gaan sit en geweier om te loop voordat hulle bedien is. Hulle het die geweldlose taktiek en filosofie wat deur Martin Luther King Jr. bepleit is en voorheen deur 'n organisasie wat toe nog onbekend was, die Congress of Racial Equality (CORE) beoefen is, aangeneem. Hulle daaglikse terugkeer na die gesegregeerde middagete-toonbank het, ten spyte van toenemende vyandige behandeling, die ondersteuning van ander swart en 'n paar wit studente regoor die Suide sowel as volwasse leiers gelok en hulle optrede is in honderde stede nagevolg. Betogings uit simpatie het deur die hele land voorgekom. Die beweging het van krag tot krag gegaan. Die Diep Suide van die VSA het met massiewe weerstand gereageer. Burgerregte- werkers en swart burgers is gearresteer, geslaan, in tronke gegooi, hulle werk ontneem, geïntimideer en doodgemaak. Die federale regering is uiteindelik gedwing om ongehoorde stappe te doen om swart Amerikaners te beskerm en hulle regte te waarborg ... Die gevolg was dat belangrike hofbeslissings gemaak is, belangrike federale wetgewing aangeneem is, openbare geriewe, soos vervoer en wagkamers, gedesegregeer is en swart burgers beter toegang tot stembusse gekry het. [Uit: Civil Rights: The 1960s Freedom Struggle deur RL Blumberg] Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com Geskiedenis/V1 11 DBE/November 2013 NSS – Addendum BRON 3B Die bron hieronder bestaan uit 'n geskrewe en 'n visuele bron. Geskrewe Bron: Hierdie bron skets die ondervindinge van die Vryheidsryers. Op 4 Mei 1961 het 'n groep swartes en wittes op 'n goed geadverteerde toer gegaan om 'n bevel van die Hooggeregshof wat segregasie by busterminusse onwettig verklaar het, te toets. Baie van hulle het aan die hernude Congress of Racial Equality (CORE) behoort, wat integrasiewette gedurende die 1940's getoets het. Hulle het hulself Vryheidsryers genoem. Op Moedersdag, tien dae nadat hulle met hulle reis begin het, het die eerste bus met Vryheidsryers in die terminus by Anniston, Alabama, ingery. 'n Bende wit mans het hulle met pype, knuppels, bakstene en messe ingewag. Die busbestuurder het vinnig weggery, maar die bende het die bus weer buite die stad ingehaal. Hulle het die vensters stukkend geslaan en 'n brandbom in die bus ingegooi. Toe die bus begin brand, het die ryers uitgespring, reg in die hande van die bende, en is wreed geslaan. Toe die tweede busvrag met Vryheidsryers in Anniston kom, het agt wit mans in die bus geklim en die insittendes van voor tot agter geslaan. Walter Bergman is die ernstigste beseer; hy is op die vloer neergegooi en geskop tot hy bewusteloos was. Hy het 'n beroerte gekry as gevolg van die geslaan en was vir die res van sy lewe aan 'n rolstoel gekluister. [Uit: The Civil Rights Movement And The Legacy of Martin Luther King Jr deur G Puckrein] Blaai asseblief om vir die Visuele Bron. Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com Geskiedenis/V1 12 DBE/November 2013 NSS – Addendum Visuele Bron: 'n Foto wat Vryheidsryers met plakkate binne-in 'n Greyhound-bus in Washington, DC toon. Geneem op 4 Mei 1961. NEEM DIE WIELE VAN ONS DRING AAN STANDPUNT IN VRYHEID IS AAN DAT DIE MET DIE DIE ROL! LANDSWETTE LANDSWETTE GEVOLG WORD VRYHEID NOU DWING BEËINDIG GRONDWET AF SEGREGASIE 13de, 14de; 15de [Bron: http://www.siena.edu/pages/179.asp?item=252127. Toegang verkry op 24 Januarie 2013] Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com Geskiedenis/V1 13 DBE/November 2013 NSS – Addendum BRON 3C Die bron hieronder bestaan uit 'n visuele en 'n geskrewe bron. Visuele Bron: 'n Plakkaat om die Amerikaanse publiek in te lig oor die optog na Washington op 28 Augustus 1963. Hierdie bron is vertaal en oorgetik ter wille van duidelikheid. Mathew Ahmann Joachim Prinz Eugene Carson Blake A Philip Randolph James Farmer Walter Reuther Martin Luther King Jr. Roy Wilkens John Lewis Whitney Young Doen 'n beroep op jou om die volgende mee te maak OPTOG na WASHINGTONWOENSDAG 28 AUGUSTUS 1963 Ons Dring Aan Op: - Betekenisvolle Burgerregtewetgewing - Ordentlike Behuising - Massiewe Federale Werksprogram - Stemreg - Volle en Regverdige Indiensneming - Voldoende Geïntegreerde Onderwys VIR BUSBESPREKINGS BEL: BROOKLYN – UL 7-9200 of HY 3-1671 BRONX – FA 4-5819 of DA 3-8060 MANHATTAN – MO 6-0401 Nasionale Kantoor OPTOG NA WASHINGTON VIR WERK EN VRYHEID 170 West 130 Straat . New York 27, N.Y. . F1 8-1900 Cleveland Robinson Bayard Rustin Voorsitter, Administratiewe Komitee …….. Adjunkdirekteur [Uit: Civil Rights March On Washington deur S Ross] Blaai asseblief om vir die Geskrewe Bron. Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com Geskiedenis/V1 14 DBE/November 2013 NSS – Addendum Geskrewe bron: Hierdie bron skets die optog na Washington waar Martin Luther King jr. sy 'Ek het 'n Droom'-toespraak gelewer het. Die optog na Washington, 'n hoogtepunt van die beweging, het die grootste getal mense ooit na die Kongresgebou gelok – omtrent 'n kwartmiljoen. Daar word geskat dat 20 tot 30 persent van hulle wit was; baie veelrassige groepe uit die noorde het dit meegemaak. Die optog op 28 Augustus 1963 was 'n vreedsame betoging, 'n saamtrek – miskien 'n verlengstuk van die duisende volgepakte massavergaderings wat in swart kerke regoor Amerika en veral in die Suide plaasgevind het. Burgerregteleiers het gevoel dat die gebeure van 1963 'n betekenisvolle hoogtepunt nodig gehad het. Die veteraan A Philip Randolph het nou 'n optog voorgestel wat werklik sou plaasvind. 'n Hoofdoelwit was om vir die Kongres te wys dat die openbare mening desegregasie en stemreg voorgestaan het en dat 'n aansienlike getal wittes hierdie doelwitte sterk ondersteun het. Eenheid en welwillendheid het op daardie dag geheers, ten minste op die oppervlak, terwyl wit en swart vermaaklikheidskunstenaars opgetree en 'n reeks leiers die skare toegespreek het. Die program was lank, maar die laaste spreker, Martin Luther King Jr., het 'n inspirerende slottoespraak gelewer, wat alle vorige toesprake oortref het. King het na die regering se hoofstad gemarsjeer en sy nou beroemde, 'Ek het 'n Droom'-toespraak gelewer, waarin hy 'n oproep gedoen het vir die gelyke behandeling van alle Amerikaners. As gevolg van die optog en die toespraak het die burgers van die nasie toenemende druk op die administrasie van president John F Kennedy geplaas wat hom aangemoedig het om druk op die Kongres te plaas om burgerregtewette goed te keur en op nasionale vlak te aanvaar. [Uit: Civil Rights March On Washington deur S Ross] Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com Geskiedenis/V1 15 DBE/November 2013 NSS – Addendum VRAAG 4: WAT WAS DIE ROL EN DIE IMPAK VAN DIE SWARTBEWUSSYNSBEWEGING IN DIE 1970's ONDER DIE LEIERSKAP VAN STEVE BIKO? BRON 4A Hierdie bron bestaan uit twee uittreksels. Uittreksel 1: Die volgende skets Steve Biko se definisie van Swart Bewussyn. Dit is geneem uit 'n referaat wat deur Steve Biko by 'n SASO-leierskaps- konferensie van 5 tot 8 Desember 1971 in Pietermaritzburg gelewer is. Enige man wat 'n wit man 'Baas' noem, enige man wat in die polisiemag of Veiligheidsmag dien, is ipso facto (gevolglik) 'n nieblanke. Swart mense – ware swart mense – is diegene wat dit kan regkry om hulle koppe uitdagend hoog te hou eerder as om hulle siele vrywillig aan die wit man oor te gee. Kortliks omskryf is Swart Bewussyn dus in wese die besef by die swart man dat dit nodig is om met sy broers saam te staan oor die oorsaak van hulle beweging – die swartheid van hulle vel – en om as 'n groep saam te werk om so ontslae te raak van die boeie wat hulle in ewigdurende knegskap (onderdrukking) vasgeknel hou. [Uit: I Write What I Like deur S Biko] Uittreksel 2: Die volgende is 'n uittreksel uit 'n onderhoud (datum onbekend) tussen Biko en 'n Amerikaanse sakeman. Hierdie onderhoud vind voor Biko se laaste aanhouding en dood plaas. Dit is eers op 7 Januarie 1978 in The New Republic-koerant geplaas omdat die apartheidsregering 'n mediaverbod oor Biko se dood afgedwing het. Jy is óf lewendig en trots, óf jy is dood, en as jy dood is, kan jy in elk geval nie omgee nie. En die manier waarop jy sterf, kan op sigself politiekery wees ... So, as jy die persoonlike vrees vir die dood kan oorkom, wat 'n hoogs irrasionele ding is, weet jy, dan is jy op pad. My gesindheid is, ek gaan hulle nie toelaat om hulle program getrou uit te voer nie. As hulle my vyf keer wil slaan, dan kan hulle dit net doen op voorwaarde dat ek hulle toelaat om my vyf keer te slaan. Dus het ek vir hulle gesê: 'Luister, as julle ouens dit op julle manier wil doen, moet julle my hande boei en my voete aanmekaar vasbind, sodat ek nie kan reageer nie. As julle my toelaat om te reageer, gaan ek beslis reageer. En ek is bevrees julle sal my dalk moet doodmaak in die proses, selfs al is dit nie julle bedoeling nie'. [Uit: I Write What I Like deur S Biko] Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com Geskiedenis/V1 16 DBE/November 2013 NSS – Addendum BRON 4B Hierdie bron skets die inhegtenisneming van en daaropvolgende moord op Steve Biko op 12 September 1977. Steve Bantu Biko was 'n invloedryke leier, maar die ellendige dood wat hy gesterf het, het die gebrek aan morele waardes in die hart van die staat geopenbaar. Biko, wat die polisie 'n jaar lank ontduik het, was in middel-Augustus op pad na Kaapstad – om pamflette wat 'swartes opsteek om opstande te veroorsaak' te versprei, het die polisie gesê – toe hy by 'n padblokkade buite Grahamstad in hegtenis geneem en kragtens artikel 6 van die Wet op Terrorisme, wat onbepaalde aanhouding toegelaat het, toegesluit is. Hy is die volgende dag na Port Elizabeth geneem, waar hy kaal uitgetrek en vir die volgende twee weke in verskillende selle aangehou is. Steeds kaal, maar in voetboeie, is hy op 6 September na die polisiehoofkantoor geneem, waar hy deur vyf veiligheidspolisiebeamptes ondervra is. Op daardie dag, of kort daarna, is hy so hard teen 'n muur gestamp dat hy die breinbesering opgedoen het wat hom uiteindelik sou laat sterf. (Polisie het by die geregtelike ondersoek gesê dat hy sy kop in 'n worsteling gestamp het ...) Biko was nie dadelik dood nie, maar dit was vir sy vervolgers duidelik dat iets baie verkeerd was. Hulle het nie minder nie as drie staatsdokters ingeroep, wat vals diagnoses gemaak het om die ondervraers te beskerm. Toe Biko se toestand ernstig raak en die polisie genoodsaak was om hom hospitaal toe te neem, is hy kaal en bewusteloos agter in 'n polisievangwa gegooi en 1 600 km ver na Pretoria geneem. Daar, op 12 September, het hy 'n 'aaklige en eensame dood op 'n mat op die klipvloer van 'n tronksel gesterf'. [Uit: Apartheid: An Illustrated History deur M Morris] Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com Geskiedenis/V1 17 DBE/November 2013 NSS – Addendum BRON 4C 'n Plakkaat wat op 25 September 1977 deur die Black People's Convention uitgereik is. Dit was 'n huldeblyk aan hulle voormalige leier, Steve Biko. [Uit: Biko, The Quest For A True Humanity deur die Steve Biko Stigting] Afrikaanse vertaling van die plakkaat: BIKO EN SOLIDARITEIT BLACK PEOPLE'S CONVENTION SE HULDEBLYK AAN DIE OORLEDE ERE-PRESIDENT BANTU STEPHEN BIKO Een Azanië: Een Nasie Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com Geskiedenis/V1 18 DBE/November 2013 NSS – Addendum ERKENNINGS Visuele bronne en ander historiese bewyse is uit die volgende bronne geneem: Biko, S. 1996. I Write What I Like – a selection of his writings (Picador Africa: Johannesburg) Blumberg, RL. 1984. Civil Rights: The 1960s Freedom Struggle (Twayne Publishers: Massachusetts) Byrne, P. 2006. The Cuban Missile Crisis – To The Brink Of War (White-Thomson Uitgewery: Minneapolis) Dobbs, M. 2008. One Minute To Midnight - Kennedy, Khrushchev and Castro on The Brink of Nuclear War (Random House: New York) http://www.siena.edu/pages/179.asp?item=252127 http://www.soko-tanzania.com/ujamaa_villages.html. Lebow. RN en Stein, JG. 1994. We All Lost the Cold War (Princeton University Press: Princeton, NJ) Morris, M. 2012. Apartheid: An Illustrated History (Jonathan Ball Publishers: Johannesburg en Kaapstad) Mwakikagile, G. 2006. Life Under Nyerere (New Africa Press, Dar es Salaam, Tanzanië) Ndembwike, J. 2010. Life in Tanzania Today and Since The Sixties (Continental Press: Dar es Salaam, Tanzanië) Nyerere, J. 1973. Freedom and Development (Oxford University Press: Oxford) Puckrein, G. 1993. The Civil Rights Movement and the Legacy of Martin Luther King Jr (Macdonald Uitgewery: Washington) Ross, S. 2001. Civil Rights March on Washington (Oxford University Press: Londen) The Steve Biko Foundation. 2007. Biko, The Quest For A True Humanity (Ontwikkel deur die Apartheidsmuseum) Valtman, S en Valtman, E. 1991. The Editorial Cartoons of Edmund, 1961–1991. (Baltimore) Kopiereg voorbehou

Published documents with matching subject and grade metadata.

Matched using subject, grade, language, document type and exam metadata.

More from Grade 12 History

Explore more published documents in this catalogue.

View all