Downloaded from hlayiso.com
NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – ADDENDUM Bladsy i van xi
TEKS 1
Red die groente
Deur Chris Chameleon
1 'n Mens moet probeer om groener te wees. En nou praat ek nie
van meer gereeld jouself oorlewer aan jaloesie of te hard aan 'n
sigaret trek nie.
2 Ek bedoel 'n mens moet jou bes doen om in harmonie met die
natuur te lewe – loop asof jou voet met elke tree die aarde soen Chris Chameleon.
en laat net spore agter. Foto geneem deur:
3 Toe ek in 1987 in standerd 8 (nou graad 10) was, was ek in 'n Jaco Bothma.
stadium so 'n onhebbelike kind dat ek na die skoolsielkundige
toe gestuur is. Hy was so 'n saai, bebrilde omie wat daar agter sy lessenaar vir my beduie
het dat ek in die stoel oorkant sy lessenaar moet sit. Dit was 'n sielkundige poets, want die
stoel was daardie soort waarvan die spons ruim meegee om jou dan sowat 20 cm laer as
wat jy gereken het tot ruste te bring. Ek moes omtrent my rug regop hou om hom net-net
bo die lessenaar raak te sien. Met dié dat ek goed op my plek gesit is, vra hy droogweg
wat my probleem is. Ek besef toe dat ek nie die vaagste benul het wat my probleem is nie
en blaker toe maar "ontbossing van die Amasone" uit.
4 Nou moet ek net noem: in daardie jare was die natuur nog nie heeltemal die gekoesterde
vriend en beskermde ruimte wat ons hom vandag uitmaak nie. Nee, die natuur was toe
nog 'n brutale monster wat getem en oorheers moes word, waarvan daar so baie is dat 'n
mens maar na hartelus kan plunder vir menslike gewin. Of so iets. Nietemin, hy het my
lank en stip aangekyk, opgestaan, verby my gestap, die deur oopgemaak en vir my arme,
diep bekommerde, aan-'n-snesie-vroetelende moeder in die ontvangslokaal gesê:
"Mevrou, die kind makeer niks nie. Gee hom so af en toe 'n bietjie aandag."
5 Nou ja, sedertdien bemoei ek my toegewyd met hierdie probleem. In 1994 het ek skuins
voor middernag by 'n Nuwejaarskonsert vyfduisend mense toegespreek oor ontbossing.
En om 'n bietjie oemf aan die praatjie te verleen het ek, terwyl ek die praatjie oor die
onbesonne afkap van bome lewer, my hare met 'n materiaalskêr tot groot vermaak van
die gepeupel afgesny.
6 Uiteindelik is daar tussen 1987 en 2015 'n totaal van sowat 40 miljoen hektaar van die
Amasone vernietig en ek het vir 'n maand of twee met 'n kapsel gesit wat my lewenslange
status as randfiguur bevestig het. Ek kan dus – ongeag my beste bedoelings – aanneem
dat daardie poging nie geslaag het nie.
7 Die ongemaklike gevolge van my aktivisme ontmoedig my egter nie en ek is en bly maar
een van daardie mense wat tuis die toilet met badwater spoel, die meeste van die huis se
elektrisiteit met behulp van my goeie vriend, Son, opwek en in my agterplaas groente
kweek.
8 Ek trek egter die streep by braaivleis. Moet net nie vir my sê ek mag nie braai nie. Want …
e … want … ek wil nie groente doodmaak nie.
[Aangepas uit: <www.maroelamedia.co.za>, 29 Januarie 2017,
<http://maroelamedia.co.za/debat/rubrieke/chris-braai-eerder-as-om-groente-dood-te-maak/>]
IEB Copyright © 2017 BLAAI ASSEBLIEF OM
Skip to contentAddendum 











View all
Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 1 2017 Addendum
IEB Grade 12 Afrikaans HL Paper 1 addendum from the 2017, 11 pages. Read online or get the free PDF download.
Publisher: IEB
Afrikaans HL · Grade 12 · 2017. Addendum, 11 pages. Read online or download the PDF.
- Subject
- Afrikaans HL
- Grade
- Grade 12
- Document type
- Addendum
- Year
- 2017
- Paper
- 1
- Publisher
- IEB
- Curriculum
- IEB
- Pages
- 11
- File size
- 1.2 MB
Loading document…
Loading document…
1 of 11
Document textSearch extracted text and jump to a page.
Downloaded from hlayiso.com
NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – ADDENDUM Bladsy ii van xi
TEKS 2
Versugting na 'n lekkerleesboek in Afrikaans
Gerhard van Huyssteen
1 Dis mos hoe vakansie ruik: Die beskimmelde houtreuk van bedompige gras,
koolstowwerige ink op vanieljeagtige papier as jy 'n dorpsbiblioteekboek oopkraak en
diep deur jou neus inasem. Die onmiskenbare reuk van die boek.
2 Maar dis die veranderende tegnologiese eeu, mense! Ons lees op tablette en slimfone. As
jy 'n retrohipster is, sal dit jou nog vergewe word as jy met 'n regte-egte, outydse Kindle-
masjien rondloop.
3 Want die ware boekliefhebber is nie tevrede om net tien boeke met hom/haar saam te
sleep nie. Nee, die ganske letterwêreld moet tydens my vakansie tot my beskikking wees.
4 En as 'n boek nie in Amazon se Kindle-winkel beskikbaar is nie, wel, dan is dit waarskynlik
nie die moeite werd om gelees te word nie. Reg?
5 Ek is by die see. Dit reën en die wind waai … Arme Hoekom, my poedelkind, lyk op Baby in
Dirty Dancing. En toe hy poegaai van bal-op-strand-jaag langs my neerval, haal ek my
werk- en leestablet uit. 'n Afrikaanse lekkerleesroman móét gekoop word.
6 Dis twee dae later. Geen sukses nie. Ek is op soek na leesstof wat aan die volgende kriteria
moet voldoen:
7 Dit mag nie Hoge Letterkunde wees nie. Ek is gewoon te platkoppig om Afrikaanse
literêre werke wat hoog deur akademici aangeslaan word, onder die knie te kry.
Hou verby met misdaadromans. Dié genre blom in die Kindle-winkel, maar persoonlik
het ek vir eers genoeg gehad van al wat 'n speurder is wat alkoholisties, oorgewig en
ongesond met "demone uit sy/haar verlede" wroeg. (Boonop, as ek oor moord,
boewery en korrupsie wil lees, swiep ek deur my Netwerk 24-app, dankie. Ons land is
fiktiewer as fiksie.)
Ook liefdesromans waarin die karakters met spoke uit hulle verlede spook, kan maar
vir eers links lê.
En les bes, dit moet humoristies wees.
8 Hoekom het ons nie eietydse hardoplag-romans nie? Neem ons onsself te ernstig op?
Moet ons altyd wroeg? Waarom is ons boekrakke so swáár gelaai?
9 "Help!" skreeu ek en 'n blonde menseredder kom aangedraf.
10 In kort, dit moet ontspannende ontvlugtingslektuur wees. Weg met al die wroegromans!
11 Ek sug, staan op en gaan stap knorrig saam met Hoekom langs die see. In treurige,
gietende reën.
[Aangepas uit: Beeld (Saterdag), 17 Desember 2016]
IEB Copyright © 2017
Downloaded from hlayiso.com
NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – ADDENDUM Bladsy iii van xi
TEKS 3
Giere vir 2017
#1 - Die meer-as-een-hoed-sindroom
Glansmense spartel soms om kop bo water te hou. Dit maak dat hulle buite hul
kundigheidsveld beweeg en werksgeleenthede skep om hulself te onderhou. Sangers Jak
de Priester en Amor Vittone skryf en sing byvoorbeeld al jare lank hul eie liedjies, tree as
seremoniemeesters op én bied ook TV-programme aan! Dit is nie uniek nie – ál meer
glansmense doen dit.
Twee is boonop beter as een en kreatiewe siele gaan al hoe meer saamspan. Oorsee
gebeur dit lankal. (Dink aan leefstyl-ghoeroe Martha Stewart en kletsrymer Snoop Dogg
wat saam 'n kookprogram op TV opgetower het.) Dit gaan oor vertroue en mense met
dieselfde kreatiewe visie. Bobby en Karlien van Jaarsveld gaan juis nou saam met
gesinslede die water in 'n splinternuwe werklikheidsprogram toets.
#2 - Die industriële gier
Die mensdom brei uit en spasie, veral in stede, is 'n nagmerrie. Dít terwyl ou
nywerheidstrukture dikwels leeg staan. Die oplossing: rig dié geboue as wooneenhede in.
Die industriële neiging het soos 'n veldbrand versprei met die vinnige pas van
verstedeliking. Uitbreiding van tradisionele woonbuurte word al hoe skaarser en ou
bousels soos fabrieke of pakhuise word herontwikkel tot wooneenhede. Die hele tendens
van woon waar jy werk, word moontlik – daarom raak die ruimte multifunksioneel. Om
jou bio-afbreekbare pantoffels te dra en te onthou die aarde is broos, is die in-ding met
hierdie leefstyl.
Ook kenmerkend hiervan is dekorasies soos onafgewerkte beton, loodgieterspype en
elektriese kabels wat sigbaar is, swart staalraamvensters, van dak tot vloer, en
staalraamdeure. Meubels met reguit, skoon lyne en 'n minimalistiese voorkoms is
maatjies hiervoor.
#3 - Virtuele werklikheid
Met die gewildheid van draagbare tegnologie gaan die vraag na virtuele elemente in ons
daaglikse lewe ontplof.
In China "loop" mense alreeds deur die huise wat hulle wil koop in die eiendomsagent se
kantoor – selfs al is die eiendom oorsee. En dis glad nie laf nie om daarna uit te sien om 'n
motor te toetsbestuur, in die voorste ry van 'n spoggeleentheid te sit, of in 'n nuwe winkel
rond te loop sonder om 'n voet te versit. Sit net jou VR-toestel op, en een, twee, drie - jy's
daar!
Boonop raak 'n beursie onnodig. Op die internet gaan jy wild aan die koop, verkoop en
skuiwery van geld. Nou kan nόg meer op jou slimfoon deur middel van toepassings
gedoen word. Binnekort gaan jy nét met jou slimfoon winkel toe gaan …
[Aangepas uit: Sarie, Januarie 2017]
IEB Copyright © 2017 BLAAI ASSEBLIEF OM
Downloaded from hlayiso.com
NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – ADDENDUM Bladsy iv van xi
TEKS 4
'n Student skryf aan sy meisie
Watter nut het ironie in eensaamheid?
IWAN TOERGENJEF
Ek stuur vir jou dié briefie
al is ons ding nou oor.
Ek dag: jy is tog menslik
en wil dalk van my hoor?
Ek woon hier op 'n plasie – 5
Karoo so ver jy kyk –
'n trein kom deur die leegte
en neem dan weer die wyk.
Distansie bring besinning
en mag ek sê: ook visie? 10
Ek glimlag oor jou selfsug;
jou passie vir 'n rusie.
Osmose tussen mense
is moontlik, maar beperk:
emosie kan ooreis word 15
as dit van één kant werk.
Die oom sal netnou trug wees
met meel en Vrydagpos
(en ek sal glo moet hand gee
met aflaai van die kos). 20
Jy word vir my weer naamloos:
verlange onbegrens;
en só is liefde sinvol –
nie ingekort tot méns.
Die tante gaan nou kamp toe, 25
roep "Kiep-kiep" teen die wind;
sal sweerlik weer kom aanklop:
"Nog niks gehoor nie, kind?"
Ag, dêmmit, ek verlang jong,
kom haal my, asseblief! 30
En straf my tot ek seer kry –
maar bêre net dié brief.
Want dit bevat gedagtes
wat ons twee moet bespreek:
as alles goed gaan, liefste, 35
dan sien ons oor 'n week?
[Hennie Aucamp, Teen latenstyd, 1987]
IEB Copyright © 2017
Downloaded from hlayiso.com
NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – ADDENDUM Bladsy v van xi
TEKS 5
Gebed om die gebeente
Heer, waar U noordewind die droë dissel rol 1
en oor die skurwe brakland jaag van Afrika, 2
…
laat my ook ná die swerf oor vlaktes heen nou rus 5
en glo my kind is dood, al hoor ek die berigte 6
om my krys: … 7
…
lê hy tog êrens dood; maar, Heer, dan die gebeente, 12
wys my, gee my die drag gebeente van my skoot 13
dat ek nie opgejaag deur hierdie land bly swerf 14
en soek, maar eindelik rus en weet hy het deur lood 15
onder twee mudsak ongebluste kalk gesterf. 16
…
Hy moes drie dode sterf, maar hy wat drie maal sterf 49
die sterf nie meer; … 50
hy leef in hierdie land nou ewig en altyd! 53
Maar soveel beendre lê onder die roosmaryn …ⁱ 54
Seën, Here, ál die bleek gebeente van die stryd – 55
ek ken as moeder ná 'n halwe eeu van pyn: 56
een land vol skedels en gebeente, een groot graf 57
waaroor U noordewind die droë dissel waai 58
en spruit en krans vul met die afloskrete van 59
die aasvoëls, van die wildehonde en die kraai 60
– dat ons as een groot nasie in dié gramadoelas 61
met elke stukkie sinkplaat en met elke wiel, 62
en wit en bruin en swart foelie agter skoon glas 63
ewig U sonlig vang en na mekaar toe spieël. 64
[D.J. Opperman, Engel uit die klip, 1950]
ⁱHierdie ellips (…) verskyn as stylfiguur soos deur die skrywer gebruik.
Al die ander ellipse dui op die weggelate gedeeltes uit die oorspronklike, langer gedig.
IEB Copyright © 2017 BLAAI ASSEBLIEF OM
Downloaded from hlayiso.com
NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – ADDENDUM Bladsy vi van xi
TEKS 6
Gebed om leiding
Die leser wat hierin 'n aanval lees op enige
spesifieke gemeente begryp die strekking van die gedig nie.
Heer, U weet dat ek gelukkig is hier 1
in die gemeente Stellenbosch-Sentraal, 2
want veel seëninge ontvang ek op my werk: 3
deur my huisbesoek op geselekteerde testamente 4
is gemeentlike fondse reeds met duisende versterk. 5
U weet hoe die lidmate vir ons sorg: 6
die vrieskaste bult buitentoe, oorvol 7
is ons kelder van die goeie dade – 8
ons drink rooiwyn wat sewe jaar gerus het 9
saam met die vet braaivleis van genade. 10
U weet die kinders moet universiteit toe 11
en die koshuise is duur en vol en waar 12
is daar 'n pastorie met sewe huurstudente? 13
Net op Stellenbosch is so 'n kans vir dié goue gans 14
toelaatbaar volgens kerklike reglemente. 15
…
Ag, en die akademiese omgaan en verkeer 31
met al die professore, hoe kan ek dit ontbeer – 32
ék wat so graag delf in die duisterhede, 33
so lank gewag het op 'n kweekskoolstem 34
in antwoord op my broederse gebede. 35
Nou kom U met dié beroep 36
na die sendinggemeente op Merweville ...ⁱ 37
vir mý, gereelde voorsitter van die Ring! 38
Alle grappies op 'n stokkie, Meester, 39
is U ernstig met die ding? 40
[M.M. Walters, Saturae, 1979]
ⁱHierdie ellips (…) verskyn as stylfiguur soos deur die skrywer gebruik.
Die ander ellips dui op die weggelate gedeeltes uit die oorspronklike, langer gedig.
IEB Copyright © 2017
Downloaded from hlayiso.com
NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – ADDENDUM Bladsy vii van xi
TEKS 7
Ek het 'n huisie aan die Rand
Ek het 'n huisie aan die Rand. Dis nag. 1
Ek het my huisie tweemanhoog ommuur;
'n draad gespan; 'n kopbeen sê: Bly weg!
Dit is 'n fort waar ek my saans verskans.
Daarbuite hoor ek mense hardloop, skote knal, 5
deure klap, rubberbande snerp op teer.
Dan stilte. Daarbuite hoor ek ruite val
(of is dit binne waar diefwering makeer?).
Ek het 'n huisie aan die Rand. Dis nag.
My huis, my paradys, bly lekker onversteur. 10
Kyk hoe blink die koppe aan my draad:
Tot hier dring niemand, maar niemand deur.
Ek het 'n huisie aan die Rand. Dis nag.
Die alarm by die Trellidor hou knipoog wag. 14
[Pirow Bekker, Stillerlewe, 2002]
WOORDVERKLARINGS:
*Rand (titel, reël 1, reël 9, reël 13) – afkorting vir Witwatersrand: Johannesburg en omstreke
*fort (reël 4) – versterkte militêre bouwerk; vesting; skans
*Trellidor (reël 14) – bekende handelsnaam van sekuriteitsdeure en -hekke
IEB Copyright © 2017 BLAAI ASSEBLIEF OM
Downloaded from hlayiso.com
NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – ADDENDUM Bladsy viii van xi
TEKSTE VIR VRAAG 8
A
Rachel Weisz VOOR digitale Rachel Weisz NA digitale
redigering redigering soos wat sy in L'Oréal
se velprodukadvertensie verskyn
het.
[Bron: <https://www.theguardian.com/media/2012/feb/01/loreal-advert-rachel-weisz-banned>]
IEB Copyright © 2017
Downloaded from hlayiso.com
NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – ADDENDUM Bladsy ix van xi
B
Oorspronklike
bewoording: Die perfekte "lyf"
Gewysigde bewoording:
'n "Lyf" vir elke lyf
Twee van die twiets wat op Twitter oor bogenoemde advertensie verskyn het.
[Inligting vertaal en aangepas uit: <www.sarie.com>]
IEB Copyright © 2017 BLAAI ASSEBLIEF OM
Downloaded from hlayiso.com
NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – ADDENDUM Bladsy x van xi
C
[Bron: <www.truthinadvertising.org>]
IEB Copyright © 2017
Downloaded from hlayiso.com
NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – ADDENDUM Bladsy xi van xi
TEKS 9
[Bron: Die Burger, 6 Januarie 2017]
IEB Copyright © 2017
Study this subject
Revise the topics in this paper, then practise them question by question.
Recommended for this subject
More papers and memos for this grade and subject.

AddendumIEB
Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 1 2019 Addendum

AddendumIEB
Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 1 2018 Addendum

Question paperIEB
Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 1 2019 Question Paper

MemorandumIEB
Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 1 2019 Memo

Question paperIEB
Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 2 2019 Question Paper

MemorandumIEB
Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 2 2019 Memo
Related documents

Question paperIEB
Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 1 2017 Question Paper

MemorandumIEB
Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 1 2017 Memo

Question paperIEB
Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 2 2017 Question Paper

MemorandumIEB
Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 2 2017 Memo

Question paperIEB
Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 1 2018 Question Paper

MemorandumIEB

