Downloaded from hlayiso.com
NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – ADDENDUM Bladsy i van x
TEKS 1
Daar's 'n sissie in elke 4x4
Deon Meyer
1 Vier-by-vierders is almal sissies.
2 Ek hoor al die magtige dreuning van verontwaardiging wat oor die veld aangesweef kom:
Hoe durf 'n mens so 'n gruwelike, veralgemenende stelling maak en dit nogal oor 'n saak
waarmee jy nie in Afrika sukkel nie – 'n man (of vrou) se ryding?
3 Maar voor jy uit pure woede jou dubbelkajuit-turbodiesel-dubbelbonokas-GT-gestreepte
boendoebrekertjie se ratte krap (hemele behoede), luister eers na die argument:
4 Die meeste 4x4-eienaars kom nie eens naby 'n grondpad nie. Die simbole van
ongebreidelde macho word ingespan as ma se têksie in 'n voorstedelike gespook om die
spruite betyds by die Origami-lesse of die kindersielkundige te bring.
5 "Maar wat van dié mense wat wel die nie-meer-so-ongerepte natuur met hul rygoed
aandurf?" kan 'n mens die teenargument hoor.
6 Dan vra ek: Hoe moeilik kan dit wees om die veld in te vaar, snoesig in die kajuit van jou
hipertegnologie-ryding van R300 000 en dikwels meer, die lugversorger fluisterend op
hoog en die 12 volt-yskassie wat agterop die bier koud hou?
7 Ek meen, ons voorvaders (of dit nou Piet Retief of Shaka was) sal in hul graf omdraai as
hulle weet waarmee ons die Donker Kontinent se vlaktes deesdae oorsteek – én dit as 'n
semi-gevaarlike avontuur beskou.
8 Traksiebeheer en ABS-remme, permanente vierwielaandrywing en ewenaarslotte,
brandstofsuipende V8-enjins en surround sound CD-spelers, grondvryhoogtes soos
wolkekrabbers en buitebande wat lyk of jy met hulle koring kan maal ... Waar op dees
aarde is die uitdaging?
9 Is die sand 'n bietjie los? Druk hierdie knoppie en woerts-warts is jy deur. In die modder
weggesink? Moenie kommer nie, jy bind net dié kabeltjie om daai boom, knip skakelaar
nommer vier en jy's weer op pad ...
10 Dis nie meer 'n bakkie nie, dis 'n CRV. En dan is daar nog 'n duisternis bybehore wat
onontbeerlik is vir die pioniersgees van die een en twintigste eeu. Waarvan die Sleepwa
(met 'n hoofletter) prioriteit nommer een is: Maak dié deurtjie oop en draai dáárdie
slingertjie en voor jou ontpop 'n kombuis waarop die Master Chef-wenner maar te bly sal
wees om 'n potjie te laat prut.
11 Om nie eens te praat van die vyfster-tent met flappies en toutjies, paneeltjies en
muskietwerende venstertjies wat bo-op die dak soos 'n vlinder uit 'n kokon ontvou nie.
Alles daarop ingestel om die beskawing, gemak en weelde net so na die bos toe te
verplaas.
12 Waar is al die tawwe tienies heen?
IEB Copyright © 2019 BLAAI ASSEBLIEF OM
Skip to contentAddendum 











View all
Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 1 2019 Addendum
IEB Grade 12 Afrikaans HL Paper 1 addendum from the 2019, 10 pages. Read online or get the free PDF download.
Publisher: IEB
Afrikaans HL · Grade 12 · 2019. Addendum, 10 pages. Read online or download the PDF.
- Subject
- Afrikaans HL
- Grade
- Grade 12
- Document type
- Addendum
- Year
- 2019
- Paper
- 1
- Publisher
- IEB
- Curriculum
- IEB
- Pages
- 10
- File size
- 618.0 KB
Loading document…
Loading document…
1 of 10
Document textSearch extracted text and jump to a page.
Downloaded from hlayiso.com
NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – ADDENDUM Bladsy ii van x
13 Miskien is dit omdat ek en my vrou motorfietsmense is dat ek die viertrek-ding nie kan
verstaan nie. Want ons proe nog die stof; ons ruik nog die fynbos. Om op twee wiele deur
'n drif se water te beur verg vaardigheid en konsentrasie, om 'n klipperige helling oor te
steek vra fokus en dikwels 'n sterk skeut adrenalien.
14 Daar's nie plek vir fênsie tente en kombuise op wiele nie. As dit warm is, sweet jy. As dit
koud is, ry jy bibberend voort en as dit reën, voel jy dit met al jou sintuie. En wanneer jy
jou bestemming heelhuids bereik, is daar 'n diepe gevoel van genoegdoening, 'n opregte
waardering vir die afwesige luukses van die lewe.
15 En, les bes, 'n sekerheid dat al die vier-by-viers wat jy op die pad verbygesteek het, vol
sissies is.
[Verwerk uit: Meyer, Deon. 2009. Daar's 'n sissie in elke 4x4. In: Wiese, Tobie (samesteller). 2009. Die bike-
boek: die vryheid, die vreugde, die vrees. Kaapstad: Tafelberg.]
IEB Copyright © 2019
Downloaded from hlayiso.com
NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – ADDENDUM Bladsy iii van x
TEKS 2
Inligting oor Momo op Protea Boekhuis se webblad
MOMO – Michael Ende
AGTERGROND EN OPSOMMING
1. Momo is 'n klassieke sprokiesroman oor die towerkrag van tyd.
2. Momo, 'n verflenterde weeskind, woon aan die rand van 'n groot stad. Sy is brandarm,
maar sy het 'n buitengewone gawe: sy luister werklik na ander en gee vir hulle tyd.
Eendag ruk gruwelike grys menere met loodgrys aktetasse en sigare in die groot stad op
en begin mense se kosbare tyd steel. Momo is die enigste een wat die donker mag van
die tyddiewe kan beteuel.
DIE OUTEUR
3. Michael Ende (1929–1995) is een van die bekendste en veelsydigste Duitse skrywers.
Naas kinder- en jeugboeke skryf hy prenteboeke, boeke vir volwassenes, teaterstukke en
gedigte. Baie van sy boeke is verfilm en vir radio of televisie verwerk.
DIE VERTALER
4. Helene de Villiers is 'n vertaler en kenner van kinderverhale, spesifiek sprokies, wat
stories vanoor die hele wêreld in Afrikaans oorvertel het.
Kommentaar van lesers op die webblad
5. CHW: Momo is een van daardie stories wat in alle mense se moederborde
ingeprogrammeer moet word. Dankie tog Afrikaanse lesers kan dit weer lees!
6. Gifappeltjie: Dis g'n Helene de Villiers se oorspronklike, sjarmante vertaling nie! Iemand
het haar vertaling kastig "gemoderniseer". Ga! Ou foute is net so behou, nuwes is
ingeskryf en ouderwetse woorde soos "opgestawel" is nie verander nie! Wat 'n gemors!
[Verwerk uit: Momo. 2018. Aanlyn beskikbaar by: <http://www.proteaboekhuis.com/wp/2018/12/04/momo/>
Datum van toegang: 12 Februarie 2018.]
IEB Copyright © 2019 BLAAI ASSEBLIEF OM
Downloaded from hlayiso.com
NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – ADDENDUM Bladsy iv van x
TEKS 3
DIS NUUT EN NOU
deur Anélle Tewson
Die oorlog teen enkelgebruikplastiek het begin. Doen só jou deel om die aarde en sy bewoners te
bewaar.
Herbruikbare strooitjies
Plastiekstrooitjies is een van die grootste sondaars wat die wêreld besoedel. Koop liewer 'n
herbruikbare weergawe. Daar is hope waaruit jy kan kies. Koop pakkies papier- of
bamboesstrooitjies (laasgenoemde met skoonmakers om hergebruik moontlik te maak), of
besluit op 'n glas-, koper- of vlekvryestaalstrooitjie. Vir hierdie soort strooitjies is daar ook
borseltjies te koop.
Het jy geweet? Meer as 1 miljard strooitjies word elke dag wêreldwyd gebruik en weggegooi. Die
Two Oceans Aquarium se #strawsuck-veldtog maak mense bewus van die verwoestende skade
wat strooitjies in die wêreld se oseane aanrig.
Ander maklike idees vir jou eie lewe
• Hervul die kapsules van jou koffiemasjien met varsgemaalde koffie.
• Koop 'n herbruikbare koffiebeker van natuurlike, volhoubare bamboesvesel en gebruik dit as
jy koffie op straat koop.
• Vervang kleefplastiek en foelie deur lappies wat met byewas bedek is.
• Gebruik 'n waterbottel van glas of metaal.
En wat van die winkels?
Groot maatskappye begin die druk voel om hul plastiekspore uit te wis en baie winkels begin
plastieksakkies en strooitjies uitfaseer. Food Lover's Market gebruik papierstrooitjies en gee dit
net as mense daarvoor vra. Daarby word plastieksakke met papiersakke vervang. Pick n Pay het
sakkies bekendgestel wat as kompos gebruik kan word. Woolworths mik om geen plastieksakke
te gee nie, en om alle verpakkingsmateriaal herbruikbaar of herwinbaar te maak.
Hotelle ook
Inzolo Lodge het onderneem om die aantal plastiekbottels wat gebruik word, aansienlik te
verminder. Elke gas kry sy eie waterbottel om daar te gebruik en saam te neem huis toe. Hulle
deel nie meer plastiekbottels op wildritte uit nie. Die verbruik van plastiekbottels het sodoende
met sowat 75% afgeneem.
Weggooigoed
Sekere groot metro's in ons land sal die skeiding van vullis vanaf 1 Julie 2019 vir alle huishoudings
verpligtend maak. Die plan is 'n poging om besoedeling hok te slaan en die omgewing te
beskerm. Koop mooi vullisblikke van verskillende kleure om dit vir jou gesin makliker te maak om
vullis te sorteer.
[Verwerk uit: Tewson, Anélle. 2018. Dis nuut en nou. In: rooi rose, Oktober 2018:10-11]
IEB Copyright © 2019
Downloaded from hlayiso.com
NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – ADDENDUM Bladsy v van x
TEKS 4
'n brief van hulle vakansie
vir oubaas:
Noudat ek uitgeswel van lyf is kan ek treur 1
oor die eelte van my vader, die lugoë van my ma,
die skamel offerandes van hulle gebede as hulle my
op die knieë van hul Gij Here God lê;
noudat ek agter 'n baard kou kan ek huil 5
as hulle snags my naam fluister met die ruite
donker knippende oë in die wind, oor die visolie
vir my griep, die ingelegde perskes (albertas) op die rak
In sy sestigste jaar swem my pa in Stilbaai se see
en stap myle ver oor die sand met sy reguit bene 10
in 'n kortbroek en speel krieket op die duine
en eet alikruikels in die Sea View-losieshuis
want hys 'n bokser dokter boer
'n kaptein en 'n held 'n indoena tussen grysaards –
En as die reën soos 'n gesluierde bruid oor die see kom 15
word die lieflinghond (Trixie) lam;
drie dae veg die veearts en buig dan die knie
en hulle dra die lyk terug na Kafferskuilsrivier
die plaas van hulle jong liefde en plant die saad
'n soenoffer in die diep grond se skoot 20
want nou is hulle minnaars
stil bome in die najaar met die wind
strelende drome in die takke
onder komete leeftye lang wêrelde
My ooms sterf soos kapok in die son 25
hartaanval beroerte kanker en tering
en my pa word stiller en meer verskriklik
van dop tot dop
Hier waar die harde winters en nat somers
my lyf ongenaakbaar skil, treur ek oor 30
die soet hart van my moeder
my pa se stil en bitter krag
– Breyten Breytenbach
[uit: Die ysterkoei moet sweet (1964)]
[Bron: Brink, André P. 2008. Groot verseboek deel twee. Kaapstad: Tafelberg]
IEB Copyright © 2019 BLAAI ASSEBLIEF OM
Downloaded from hlayiso.com
NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – ADDENDUM Bladsy vi van x
TEKS 5
Die kind wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga
Die kind is nie dood nie 1
die kind lig sy vuiste teen sy moeder
wat Afrika skreeu skreeu die geur
van vryheid en heide
in die lokasies van die omsingelde hart 5
Die kind lig sy vuiste teen sy vader
in die optog van die generasies
wat Afrika skreeu skreeu die geur
van geregtigheid en bloed
in die strate van sy gewapende trots 10
Die kind is nie dood nie
nóg by Langa nóg by Nyanga
nóg by Orlando nóg by Sharpeville
nóg by die polisiestasie in Philippi
waar hy lê met 'n koeël deur sy kop 15
Die kind is die skaduwee van die soldate
op wag met gewere sarasene en knuppels
die kind is teenwoordig by alle vergaderings en wetgewings
die kind loer deur die vensters van huise en in die harte van moeders
die kind wat net wou speel in die son by Nyanga is orals 20
die kind wat 'n man geword het trek deur die ganse Afrika
die kind wat 'n reus geword het reis deur die hele wêreld
Sonder 'n pas
– Ingrid Jonker
[uit: Rook en oker (1963)]
Bron: Brink, André P. 2008. Groot verseboek deel twee. Kaapstad: Tafelberg]
IEB Copyright © 2019
Downloaded from hlayiso.com
NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – ADDENDUM Bladsy vii van x
TEKS 6
Ode
Vir Yevgeny Yevtushenko
Ek is 'n Boer 1
en ek het my brood geëet
soms droog
soms met koffie
soos net ons dit maak 5
(vroeg in die môre)
in Afrika
soos net ons hom ken
ek het tougelei
in die land se warm son 10
met sy sonbesies
sy kwêvoëls
sy warm lug
wat eindeloos blink lê
bo die mopanies 15
vroeg in die môre
in hierdie Afrika wat ek liefhet
en ek het saans huis toe gestap
moeg van buk
en kap 20
buk en kap
om land skoon te maak
en die son gaan rooi onder agter die Ysterberge
en vroegskemer klink alle geluide
harder intiemer nader 25
en die eerste vure brand al
alle skemeraande is weemoedig
in Afrika.
My hande is hard
so hard soos masjinerie 30
niks maak my meer bevrees nie
selfs my eie angs maak my nie meer bevrees nie
want ek is so hard soos Afrika
so onvoorspelbaar soos Afrika
so meedoënloos soos Afrika 35
my Afrika
van waar ek nêrens het om heen te gaan nie
en ek lag vir my vyande
omdat ek weet
omdat ek moet. 40
– Johan de Jager
[uit: Haggadâ vir 'n wit Afrikaan (1974)]
[Bron: Brink, André P. 2008. Groot verseboek deel twee. Kaapstad: Tafelberg]
IEB Copyright © 2019 BLAAI ASSEBLIEF OM
Downloaded from hlayiso.com
NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – ADDENDUM Bladsy viii van x
TEKS 7
XIII
Toe jy kind was, het jy gedink: 1
daar sal groot dinge kom uit my,
groot dinge, grotes en goeies –
soos 'n seun moet dink, natuurlik.
En: die groot is gesplits, én die goeie, 5
nou:
en in plaas van net groot en net goed,
het daar verskriklikheid en eenvoud
en boosheid en eenvoud
en eenvoud en nederigheid 10
– gesprikkelde sampioene,
deur die teer, uit die teer van die straat,
keiserlik rooi en wit
by die breuk uit wat jy is, kom peul.
Die aarde is nie eenvoudig. 15
– N.P. van Wyk Louw
[uit: Tristia, 1962]
[Bron: Louw, N.P. van Wyk. 1981. Versamelde gedigte.
Kaapstad: Tafelberg / Human & Rousseau.]
IEB Copyright © 2019
Downloaded from hlayiso.com
NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – ADDENDUM Bladsy ix van x
TEKS 8
IEB Copyright © 2019 BLAAI ASSEBLIEF OM
Downloaded from hlayiso.com
NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – ADDENDUM Bladsy x van x
TEKS 9
[Bron: Mouton, Fred. 2018. Vakansiegaste [spotprent]. Aanlyn beskikbaar by:
<https://www.netwerk24.com/Stemme/Spotprente/die-burger-spotprent-27-desember-2018-20181226>.
Datum van toegang: 17 Januarie 2019.]
IEB Copyright © 2019
Study this subject
Revise the topics in this paper, then practise them question by question.
Recommended for this subject
More papers and memos for this grade and subject.

AddendumIEB
Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 1 2018 Addendum

AddendumIEB
Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 1 2017 Addendum

Question paperIEB
Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 1 2019 Question Paper

MemorandumIEB
Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 1 2019 Memo

Question paperIEB
Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 2 2019 Question Paper

MemorandumIEB
Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 2 2019 Memo
Related documents

Question paperIEB
Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 1 2018 Question Paper

MemorandumIEB
Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 1 2018 Memo

Question paperIEB
Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 1 2017 Question Paper

MemorandumIEB
Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 1 2017 Memo

Question paperIEB
Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 2 2018 Question Paper

MemorandumIEB

