Skip to content
Memorandum

Afrikaans HL Grade 12 IEB Paper 1 2019 Memo

IEB Grade 12 Afrikaans HL Paper 1 memorandum from the 2019, 16 pages. Read online or get the free PDF download, question paper linked when available.

Publisher: IEB

Subject: Afrikaans HLGrade 12201916 pages
Download

Loading document…

Loading document…

Document textSearch extracted text and jump to a page.
Downloaded from hlayiso.com NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT-EKSAMEN NOVEMBER 2019 AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I NASIENRIGLYNE Tyd: 3 uur 100 punte Hierdie nasienriglyne word voorberei vir gebruik deur eksaminatore en hulpeksaminatore. Daar word van alle nasieners vereis om 'n standaardiserings- vergadering by te woon om te verseker dat die nasienriglyne konsekwent vertolk en toegepas word tydens die nasien van kandidate se skrifte. Die IEB sal geen gesprek aanknoop of korrespondensie voer oor enige nasienriglyne nie. Daar word toegegee dat verskillende menings rondom sake van beklemtoning of detail in sodanige riglyne mag voorkom. Dit is ook voor die hand liggend dat, sonder die voordeel van bywoning van 'n standaardiserings- vergadering, daar verskillende vertolkings mag wees oor die toepassing van die nasienriglyne. IEB Copyright © 2019 BLAAI ASSEBLIEF OM
Downloaded from hlayiso.com NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – NASIENRIGLYNE Bladsy 2 van 16 AFDELING A BEGRIP, TAAL EN STYL VRAAG 1 BEGRIP, TAAL EN STYL 1.1 Hy voel baie sterk oor die saak. Hy voel dat hy 'n oortuigende argument kan voer om sy stelling te bewys. Hy gee nie om vir die gevoelens van vier-by- vierders nie. Die skokkende stelling/argument betrek lesers omdat hulle beslis daarop sal reageer – selfs heftig. [Die kandidaat moet TWEE gepaste, onderskeibare redes aanbied.] 1.2 In par. 2 vrywaar hy hom teen seksisme: Hy voeg die woorde "en vrou" tussen hakies by om te wys dat vroue ook voertuie in Afrika kan besit. OF In par. 7 vrywaar hy hom teen rassisme: Hy plaas die woorde "of dit nou Piet Retief of Shaka was" tussen hakies om aan te dui dat sy verwysing na "voorvaders" nie slegs een bevolkingsgroep insluit nie. [Indien kandidate nie die terme seksisme en rassisme gebruik nie, maar goeie omskrywings hiervan verskaf, is dit ook die punte werd.] 1.3 Par. 3 het 'n inleidende en verduidelikende funksie wat die inhoud van par. 4 voorberei. Par. 3 eindig met 'n dubbelpunt, wat in hierdie geval aandui dat Meyer sy argument in par. 4 gaan stel. 1.4 Metingskaal vir 3 punte Verwagte inhoud: Die aktiwiteite is stil, rustige, binnenshuise aktiwiteite, geskik vir kinders wat sensitief of broos is, nie kinders wat van die buitelewe hou nie. Die ironie wat hierdeur bewerkstellig word, is dat die kinders na hierdie aktiwiteite toe aangery word met 'n voertuig wat eintlik geskik is vir avontuurlike vakansiereise deur die wildernis. Hier word dit ingespan vir voorstedelike vervoer deur die kinders se ma – hoewel dit ook as diep seksisties gesien kan word, berus sy argument in hierdie paragraaf daarop dat die voertuig heeltemal te groot, sterk en gespesialiseerd is vir die doel waarvoor dit gebruik word. 'n Ma / vrou bestuur die ongebreidelde macho voertuig. 1.5 Meyer gee aan sy opponente 'n stem, asof hy toelaat dat hulle standpunt ook gehoor word. / Hy verwoord lesers se teenargument. / Hy loop lesers se teenargument vooruit. / Deur die gebruik van die retoriese vraag maak hy eintlik 'n stelling wat hy as teenargument gee. ['n Bloot generiese antwoord is nie goed genoeg nie. Een punt vir die bespreking van die aanhalingstekens; een punt vir die bespreking van die vraagsinvorm.] 1.6 Gemaklik, warm, gerieflik, versorgd, gepamperlang, ens. 1.7 Die Donker Kontinent is Afrika; die humor lê in die feit dat die donkerte (die moeilikheidsgraad) van die kontinent verwyder word deur die sofistikasie van 'n viertrekvoertuig en die gepaardgaande geriewe wat deesdae beskikbaar is. / Die avontuur word as "semi-gevaarlik" beskryf. / Vier-by- vierders dink hulle pak 'n groot avontuur aan – volgens Meyer se argument maak die viertrekvoertuig alles heeltemal te maklik en gerieflik: die reis deur Afrika is een van gerief, nie van ontbering en swaarkry nie. 1.8 Hy stapel die aspekte op wat sy argument ondersteun: die manier waarop 'n viertrekvoertuig gebou is, maak dit hopeloos te maklik om deur die wildernis te ry. / Sy gebruik van enumerasie laat die leser dink dat hy sy argument oorweldigend/deeglik bewys. IEB Copyright © 2019 BLAAI ASSEBLIEF OM
Downloaded from hlayiso.com NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – NASIENRIGLYNE Bladsy 3 van 16 1.9 Eerstens: die lys van probleemsituasies wat maklik opgelos kan word, is onvolledig. Tweedens: die reis/storie gaan voort nadat die probleem opgelos is. ['n Generiese antwoord oor die betekenis van 'n ellips (bv. "Dit laat die leser nadink.") is NIE goed genoeg nie.] 1.10 In par. 11 beskryf Meyer die tent wat bo-op 'n viertrekvoertuig geplaas kan word. Dit vou oop "soos 'n vlinder uit 'n kokon" – met ander woorde, iets wat fyn en delikaat is en op daardie oomblik maklik vernietig kan word. Die verkleinwoorde vroeër in die paragraaf (daar is vier daarvan) laat die tent ook klein en delikaat klink, nie na 'n sterk, duursame tent waarmee 'n mens in die wildernis behoort te kampeer nie. [Een punt vir die sinvolle verduideliking van die vergelyking; een punt vir die verband met die verkleinwoorde.] 1.11 Albei paragrawe bevat slegs een sin. Al twee hierdie sinne vat Meyer se basiese gevoel oor viertrekvoertuie saam: Net sissies gebruik hulle. Tawwe tienies sal nie in een gesien word nie. 1.12 Dit is sy hele argument: 'n viertrekvoertuig sluit jou af van 'n outentieke ervaring van die natuur waardeur jy ry. 'n Motorfiets maak dit vir jou onmoontlik om dit mis te loop. Dit beklemtoon die skrywer se voorkeur. Dit beklemtoon die kontras tussen gemak en ervaring. [Óf twee duidelik onderskeibare stellings, óf een ryk en deeglik uitgebreide stelling wat konteks en kontras deeglik verwoord.] 1.13 Veilig; sonder enige beserings of ongelukke. 1.14 Hy verwys terug na die titel en/of die openingsin van sy stuk. [Kandidate hoef slegs een van die twee te noem: titel of openingsin.] IEB Copyright © 2019 BLAAI ASSEBLIEF OM
Downloaded from hlayiso.com NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – NASIENRIGLYNE Bladsy 4 van 16 VRAAG 2 BEGRIP, TAAL EN STYL Lees die webbladteks oor Michael Ende se roman Momo (Teks 2 in die Addendum) en beantwoord die volgende vrae: 2.1 Die horlosies / die sirkels wat gesigte van analoë horlosies voorstel / die horlosiewysers. 2.2 Sy word beskryf as 'n "verflenterde weeskind" wat "brandarm" is. As kind, en veral as vroulike kind, het sy dus 'n baie lae status in die gemeenskap en sal sekerlik nie die kennis, of die kontakte of ondersteuning of deursettingsvermoë hê om hulle misdaad te probeer verhoed nie. [Kandidate moet beslis meer doen as net aanhaal uit die teks. Hulle moet werklik verduidelik.] 2.3 Ruk op: die menere se aankoms in die stad word vergelyk met die inval van soldate. Hulle aankoms is dus negatief en vernietigend, 'n indruk wat in die volgende sin ondersteun word wanneer hulle as "tyddiewe" beskryf word. Die leser kan bedreig voel. Beteuel: Momo beheer die misdadigers soos wat 'n mens 'n perd sal beheer. Die werkwoord suggereer dat Momo hulle misdaad stopsit. Die leser kan trots voel, of verlig. 2.4 Sy het al dikwels in die verlede met sprokies vanoor die hele wêreld gewerk. Ende se boek word spesifiek as 'n "sprokiesroman" beskryf; daarom is sy 'n bevoegde vertaler vir die projek. 2.5 Alle mense behoort die storie van Momo te ken en te lees; dit behoort van die mees basiese kennis te wees waaroor mense beskik en wat hul optrede en lewe beïnvloed. 2.6 Die woord "gif" in die naam suggereer iets negatiefs en afbrekends; iemand wat "gif" bydra tot 'n bespreking, sal bes moontlik nie opbouend wees nie. / Dit klink of iemand met daardie naam 'n moeilikheidmaker sal wees. 2.7 2.7.1 Deur die bywoord "kastig" te gebruik; deur die aanhalingstekens by "gemoderniseer" aan te wend. [Halfpunt elk] 2.7.2 Haar vertaling is kastig [deur iemand] "gemoderniseer". [Die plasing van die bywoord moet korrek wees as die frase "deur iemand" ingesluit word, asook die verledetydsvorm "is" – nie "was" nie. "Deur iemand" is egter nie essensieel nie. Die aanhalingstekens by "gemoderniseer" behoort behou te word, maar as dit weggelaat is, sal dit nie gepenaliseer word nie.] 2.7.3 Bedrywend: beklemtoon die onbekende persoon wat die vertaling gemoderniseer het. Dit versterk die idee dat die skrywer gefrustreerd is met die gemors wat die persoon gemaak het. Lydend: die vertaling word vooropgestel, wat die vertaler laat klink na die slagoffer van die onbekende persoon se swak werk. IEB Copyright © 2019 BLAAI ASSEBLIEF OM
Downloaded from hlayiso.com NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – NASIENRIGLYNE Bladsy 5 van 16 2.8 Metingskaal vir 3 punte Verwagte inhoud: Ondersteuning van CHW: die roman as 'n tipe sprokie klink vir die kandidaat interessant; die kandidaat hou self van sprokies of enige soort verhaal en stel belang in die tema van tyd wat gesteel word. Die suggestie dat alle mense daarby kan baat vind as hulle hierdie storie ken, maak die belang daarvan sterker. Selfs Gifappeltjie se intense negatiwiteit sal nie die kandidaat daarvan weerhou om die storie te lees nie. Ondersteuning van Gifappeltjie: Die swak taalgebruik in die weergawe wat gepubliseer word, kan lesers pla en die teks moeilik maak om te lees. Die kommentator is intens negatief en voel dus baie sterk oor die saak. As 'n kandidaat ook nie juis in lees as sodanig of in stories van hierdie aard belangstel nie, sal Gifappeltjie se kommentaar 'n verdere rede wees om die boek te vermy, selfs al voel CHW so sterk ten gunste van die verhaal. IEB Copyright © 2019 BLAAI ASSEBLIEF OM
Downloaded from hlayiso.com NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – NASIENRIGLYNE Bladsy 6 van 16 VRAAG 3 TEKSVERWERKING Nasieninstruksies Sien globaal na. Gee krediet vir bondige en koherente sinne wat in die kandidaat se eie woorde uitgedruk word. Bepaal eers in watter van die vyf bande die geskepte teks val, aan die hand van die beskrywings hieronder, en besluit dan (na aanleiding van die detail van die kandidaat se teks) op watter vlak in die band die spesifieke teks lê. Uitstekend Goed Gemiddeld Ondergemiddeld Baie swak 10 8 6½ 5 3 9 7½ 6 4½ 2 8½ 7 5½ 4 1 Nota: in die onderstaande vlakbeskrywings beteken "teks" die verwerkte teks wat kandidate moet skep (hulle antwoorde op Vraag 3), en "gegewe teks" beteken die teks wat aan kandidate voorsien word om te verwerk (die teks in die Addendum tot die vraestel). Uitstekend: Kandidate wat 'n baie goeie teks skep, een wat aan al die instruksies voldoen, demonstreer dat hulle suksesvol relevante inligting uit die gegewe teks kan selekteer. Kandidate sal die inligting kundig sintetiseer om in die nuwe konteks te pas en te voldoen aan die spesifieke vereistes van die teksverwerkingstaak. Die register sal konsekwent gepas wees, en die teks sal op eie bene kan staan as 'n suksesvolle, geïntegreerde teks. Uitdrukking sal uitstekend wees en 'n bemeestering van die taalgebruik demonstreer. Vol en koherente sinne sal gebruik word, wat lei tot 'n goed gevormde, stilisties superieure teks. 'n Teks in hierdie kategorie wat die woordperk oorskry, kan 'n maksimum van 9 punte ontvang. Goed: Kandidate wat 'n goeie teks skep, sal daartoe in staat wees om te onderskei watter aspekte van die gegewe teks relevant is, en sal die gekose aspekte kan sintetiseer en oordra in hul eie woorde. Die teks sal voldoen aan die meeste van die vereistes soos gespesifiseer in die instruksies. Kandidate sal die gepaste register gebruik en dit sal deur die hele teks volgehou word. Die uitdrukking in sulke tekste sal helderheid demonstreer wat nie teenwoordig is in die gemiddelde teks nie. Vol en koherente sinne sal gebruik word en sal deur die hele teks volgehou word. 'n Teks in hierdie kategorie wat die woordperk oorskry, kan 'n maksimum van 7 punte ontvang. Gemiddeld: Kandidate wat 'n gemiddelde teks skep, sal 'n vermoë demonstreer om te onderskei watter aspekte van die gegewe teks relevant is, en sal hierdie aspekte meestal in hul eie woorde kan stel. Die teks mag dalk nie voldoen aan die belangrikste vereistes soos gespesifiseer in die instruksies nie. Daar mag voorbeelde wees van direkte aanhaling of insinkings wat foutiewe seleksie, die verkeerde klem, of probleme met sintetisering vertoon. Die register sal meestal gepas wees vir die taak, al kan kleiner insinkings voorkom. Uitdrukking sal bloot vaardig wees en daar mag gebreke wees in die konstruksie van vol sinne. 'n Teks in hierdie kategorie wat die woordperk oorskry, kan 'n maksimum van 5½ punte ontvang. Ondergemiddeld: Kandidate wat 'n ondergemiddelde teks skep, sal meestal 'n vermoë demonstreer om relevante aspekte van die gegewe teks te onderskei, maar mag dit dalk nie effektief in hul eie woorde kan stel nie. In sommige gevalle sal groot dele van die IEB Copyright © 2019 BLAAI ASSEBLIEF OM
Downloaded from hlayiso.com NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – NASIENRIGLYNE Bladsy 7 van 16 oorspronklike teks direk gebruik word. Dit is moontlik dat die register nie gepas sal wees nie of dat die teks nie aan die vereistes van die taak sal voldoen nie. Uitdrukking is bes moontlik gebrekkig, maar sal nie begrip inperk nie. 'n Teks in hierdie kategorie wat die woordperk oorskry, kan 'n maksimum van 4 punte ontvang. Baie swak: Kandidate wat baie swak tekste skep, sal 'n uiters beperkte begrip van die gegewe teks demonstreer. Dit sal blyk uit die onvermoë om gepaste dele uit die gegewe tekste te selekteer om te gebruik in die finale teks, of deur uitgebreide knip en plak uit die gegewe tekste. Register sal onvanpas wees. Uitdrukking is bes moontlik power en belemmer begrip. Nadat jy die punt bepaal het volgens die beskrywings en metingskaal hierbo, hou die volgende instruksies in gedagte: • Hou op lees vanaf 10 woorde oor die woordperk. • Trek 1 punt af indien geen woordtal aangedui word nie, of as 'n onverskoonbaar onakkurate woordtal aangedui is. 2019-opdrag: Die geskepte teks moet drie paragrawe uit 'n informele brief / e-pos aan vriende wees. Dit moet in die eerste paragraaf 'n motivering aanbied waarom die skrywer die groep vriende se plastiekspoor wil verklein, in die tweede paragraaf planne om anders te koop aanbied, en in die derde paragraaf planne aanbied waarvolgens hulle met hul plastiekafval kan werk. GEEN opskrif word vereis nie. Elke kandidaat mag EEN Engelse woord in die teks gebruik – moet dit nie penaliseer nie. Sleng, SMS- en WhatsApp-taal moet wel gepenaliseer word. Die volgende feite kom in die teks voor: Paragraaf een: motivering: • Plastiek veroorsaak baie besoedeling. • Die aarde moet bewaar word en almal moet daartoe bydra. • Enkelgebruikplastiek moet verminder word. • Veral plastiekstrooitjies word gesien as iets wat verwoestende skade aanrig in die oseane. Paragraaf twee: koop anders • Koop herbruikbare strooitjies van glas of metaal (koper of vlekvrye staal), of papierstrooitjies. • Koop koffiekapsules wat hervul kan word. • Koop 'n herbruikbare koffiebeker om koffie op straat te koop. • Gebruik materiaal bedek met byewas in plek van kleefplastiek en foelie. • Gebruik waterbottels van glas of metaal. • Koop by winkels wat hul plastiekspoor probeer verklein. • Koop papiersakke vir inkopies. • Koop sakkies wat in die kompos geplaas kan word. • Moenie plastieksakke by winkels koop nie. • Moenie water in plastiekbottels koop nie. Paragraaf drie: afval • Sorteer afval om herwinning te vergemaklik. • Gebruik afsonderlike houers om dit makliker in die huis te maak. • Dit sal binnekort in sekere dele van die land verpligtend wees. IEB Copyright © 2019 BLAAI ASSEBLIEF OM
Downloaded from hlayiso.com NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – NASIENRIGLYNE Bladsy 8 van 16 Belangrik: 'n kandidaat hoef nie AL hierdie feite te gebruik nie, maar behoort die inhoud tot hierdie feite te beperk. Voorbeeldantwoord: Plastiek besoedel ons planeet ernstig en veroorsaak groot skade aan die natuur. Ons moet regtig ons plastiekspoor tydens ons vakansie verklein. Dis eintlik maklik: ons koop herbruikbare strooitjies met skoonmaakborseltjies. Waterbottels van glas of metaal en herbruikbare koffiebekers vir wegneemkoffie sal ons gebruik van enkelgebruikplastiek verminder. Foelie en kleefplastiek kan vervang word met byewasbedekte lappies. Ons ondersteun winkels wat plastiekgebruik verminder deur papiersakke, en selfs sakkies wat kompos kan word, te gebruik. In verskillende houers kan ons afval sorteer wat herwinning vergemaklik. Met min moeite kan ons 'n awesome-rowende bydrae lewer om die planeet te beskerm! (97 woorde) IEB Copyright © 2019 BLAAI ASSEBLIEF OM
Downloaded from hlayiso.com NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – NASIENRIGLYNE Bladsy 9 van 16 AFDELING B POËSIE VRAAG 4 VOORBEREIDE GEDIG: VERPLIGTE VRAAG 4.1 Die spreker impliseer dat hy self volwasse is, en dat hy nou eers verstaan wat sy ouers vir hom as hulle kind probeer doen het, enersyds deur hulle gebede, andersyds deur hulle versorging (medisyne en kos). / Hy impliseer 'n emosionele reaksie op sy ouers. / Hy impliseer 'n kontras tussen sy wêreldbeskouing en dié van sy ouers (veral in terme van hul godsdiens). 4.2 Metingskaal vir 3 punte Verwagte inhoud: 'n Mens kan dink dat die dood van 'n troeteldier traumaties is, veral as die vakansie onderbreek word om die dier se liggaam terug te neem plaas toe om begrawe te word. Hierdie verhaal word egter gelaai met verwysings na die ouers se liefdesverhouding. Dit begin reeds met die reën, 'n vrugbaarheidselement, wat vergelyk word met 'n "gesluierde bruid". Die plaas is waar die ouers as jonggetroudes gewoon het, en waar die spreker bes moontlik verwek is. Die teruggaan plaas toe herinner hulle aan hierdie tydperk en daarom is die hond se dood nie eenvoudig tragies nie. [Beoordeel kandidate se antwoorde op eie meriete – gee krediet aan eie mening.] 4.3 Terwyl sy pa op sestigjarige ouderdom nog fris, sterk en fisies aktief is, sterf sy ooms aan 'n oorweldigende verskeidenheid oorsake. / Die pa dokter mense of maak hulle gesond, terwyl die ooms mediese bystand nodig het. 4.4 Metingskaal vir 3 punte Verwagte inhoud: In die eerste strofe verwys hy formeel na "my vader". In die slotstrofe praat hy van "my pa". Dit is bes moontlik omdat hy deur loop van die gedig nagedink het oor sy pa en aan die slot 'n nouer verband met sy pa voel as aan die begin. [Beoordeel kandidate se antwoorde op eie meriete – gee krediet aan eie mening.] 4.5 Metingskaal vir 3 punte Verwagte inhoud: Dit is bekend dat Breytenbach se ouers "Oubaas" (in die subtitel) en "Ounooi" (in 'n ander gedig) genoem is. Die spesifieke verwysings na die stranddorp Stilbaai en die plaas Kafferskuilsrivier versterk die outobiografiese elemente in die gedig. Die verhouding tussen enige persoon en sy/haar ouers is 'n saak wat almal in 'n stadium bedink – in hierdie opsig is die gedig dus universeel. [Beoordeel kandidate se antwoorde op eie meriete – gee krediet aan eie mening.] IEB Copyright © 2019 BLAAI ASSEBLIEF OM
Downloaded from hlayiso.com NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – NASIENRIGLYNE Bladsy 10 van 16 VRAAG 5 KEUSEVRAAG 5.1 Alle kinders kom in 'n mate in opstand teen hulle ouers – dit is deel van volwassewording en die ontwikkeling van onafhanklikheid. Hierdie kind kom daarby in opstand teen 'n onregverdige politieke bestel. Sy ouers voel dalk magteloos om die stelsel te verander; daarom sien hy hulle dalk as deel van die onregverdigheid en kom ook teen hulle in opstand. Die kind sien die ouers as swakkelinge omdat hulle nie teen ongeregtigheid optree nie. 5.2 Metingskaal vir 2 punte Verwagte inhoud: Alle kinders kom in opstand teen stelsels wat hulle nie verstaan of waardeer nie; hulle verset hulle teen onreg en probeer die wêreld 'n beter plek maak. Deur die geskiedenis en oor die hele aarde is dit meestal die kinders of jong mense (veral studente) wat in opstand kom teen die regering van die dag. [Beoordeel kandidate se antwoorde op eie meriete.] 5.3 Metingskaal vir 3 punte Verwagte inhoud: Jonker se gedig lê klem op die politieke ontwikkeling van die kontinent, wat dikwels met geweld en lewensverlies gepaard gaan. Die verset teen koloniale bestuur en ander onderdrukkende stelsels, soos apartheid, lei dikwels tot onrus. Die sondes van die vaders bly by ons. De Jager se spreker identifiseer homself as 'n Boer wat nie 'n alternatief het nie: hy moet in Afrika wees, oorleef en bly. Die spreker wórd Afrika – hy is dus 'n onlosmaaklike deel van die landskap. [Beoordeel kandidate se antwoorde op eie meriete – gee krediet aan eie mening.] OF IEB Copyright © 2019 BLAAI ASSEBLIEF OM
Downloaded from hlayiso.com NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – NASIENRIGLYNE Bladsy 11 van 16 VRAAG 6 KEUSEVRAAG 6.1 Selfs al identifiseer die spreker homself as 'n Boer, met ander woorde as 'n lid van 'n bepaalde groep mense, is sy taak sterk ingestel op individuele aktiwiteite. Dit lyk asof hy alleen boer op sy plaas, asof hy nie eers werkers het wat hom help nie. Wanneer hy na "ons" verwys, praat hy van die kultuur (koffie soos net "ons" dit kan maak) en die groepsperspektief op Afrika "soos net ons hom ken". Hierna verwys hy slegs na sy eie fisiese werk, asook sy eie toekoms: dit lyk nie asof hy veel verwag van die groep in terme van ondersteuning nie, ook nie wat die toekoms betref nie. Hy is totaal uitgelewer aan homself. 6.2 Metingskaal vir 2 punte Verwagte inhoud: boere moet vandag nog steeds baie hard werk om suksesvol te wees. Benewens die werk om die natuur te tem is daar ook sosiale druk en kwessies soos grondonteiening. Die spreker se siening dat daar nie vir hom 'n alternatief is as om in Afrika te bly nie is dus steeds relevant: as die boer se grond weggeneem sou word, wat bly hier vir hom oor? [Beoordeel kandidate se antwoorde op eie meriete.] 6.3 Metingskaal vir 3 punte Verwagte inhoud: Jonker se gedig lê klem op die politieke ontwikkeling van die kontinent, wat dikwels met geweld en lewensverlies gepaard gaan. Die verset teen koloniale bestuur en ander onderdrukkende stelsels, soos apartheid, lei dikwels tot onrus. Die sondes van die vaders bly by ons. De Jager se spreker identifiseer homself as 'n Boer wat nie 'n alternatief het nie: hy moet in Afrika wees, oorleef en bly. Die spreker wórd Afrika – hy is dus 'n onlosmaaklike deel van die landskap. [Beoordeel kandidate se antwoorde op eie meriete – gee krediet aan eie mening.] IEB Copyright © 2019 BLAAI ASSEBLIEF OM
Downloaded from hlayiso.com NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – NASIENRIGLYNE Bladsy 12 van 16 VRAAG 7 ONVOORBEREIDE GEDIG – VERPLIGTE VRAAG Lees die gedig "Toe jy kind was" deur N. P. van Wyk Louw (Teks 7 in die Addendum) en beantwoord die volgende vrae: 7.1 'n Kind is optimisties oor die lewe en die toekoms. Hy/sy verwag dat hy/sy in die lewe sal presteer. [Enige TWEE relevante redes wat Louw se stelling verhelder, mag bepunt word.] 7.2 Eie antwoorde Moontlikhede: Stem saam, omdat die versreël seksisties voorkom en die vraag oproep of meisies dan nie ook groot en goeie dinge van hulle lewens kan verwag nie. / Stem nie saam nie – volg hier die kandidaat se redenasie. 'n Alternatief sou wees om die woord "seun" met "kind" te vervang. 7.3 Die eenvoud waarmee die kind geredeneer het, verdwyn nie heeltemal nie./ Eenvoud word gekompliseer soos dit teenoor verskillende teenpole gestel word. 7.4 Metingskaal vir 3 punte Verwagte inhoud: Die beelde druk die abstrakte argument wat die spreker voer, op konkrete wyse uit. Die teer kan die eenvoud van die kind uitbeeld – 'n geteerde straat maak beweging maklik en bedek baie dele van die natuurlike oppervlak waaroor 'n mens moeilik kan beweeg. Daarteenoor kan die sampioene die insigte wat 'n volwassene verwerf, uitbeeld. Hierdie insigte druk deur die swak plekke in die kinderlike eenvoud en druk op natuurlike wyse na die oppervlak deur. Dit kom dus letterlik aan die lig. Die uitsonderlike kandidaat sal ook die "breuk ... wat jy is" (versreël 14) interpreteer: die "swak" plekke in die teer is juis daardie dinge waaroor jy begin nadink. Dit gee jou die kans om meer volwasse insigte te verkry en word dus die plekke waar hierdie meer volwasse idees deur die eenvoud van onskuldige denke druk. Die twee beelde maak 'n mens ook bewus van die kontras tussen die mensgemaakte eenvoud en die natuurlike kompleksiteit van die lewe. [Kandidate se antwoorde moet op eie meriete beoordeel word om seker te maak dat alternatiewe interpretasies ook krediet ontvang.] 7.5 Eie antwoorde Ja: die wêreld wat die mens geskep het, bevat kontrasterende en botsende sienings wat die lewe kompliseer. Dit is deel van die kind se volwassewording om hierdie kompleksiteit te besef en te aanvaar. Nee: die slotreël bevat 'n simplistiese siening wat nie die argument van die gedig oortuigend saamvat nie. Dit is net so kinderlik/kinderagtig as die kinderdenke wat in die eerste vier versreëls aangedui word. IEB Copyright © 2019 BLAAI ASSEBLIEF OM
Downloaded from hlayiso.com NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – NASIENRIGLYNE Bladsy 13 van 16 AFDELING C VISUELE GELETTERDHEID EN KRITIESE TAALBEWUSTHEID VRAAG 8 ADVERTENSIE 8.1 Die oneindigheidsimbool impliseer/suggereer 'n avontuurlike lewenstyl wat tot in ewigheid duur. / Die son impliseer/suggereer die buitelug of buitelewe. / Die lyne kan ook aandui dat die avonture jou op ver paaie sal lei / op lang reise sal neem. [Enige twee betekenisse] 8.2 Eie keuse, met oortuigende motivering [Kandidaat kies slegs EEN.] Foto 1: Gesellige groep vriende – ek hou van mense / ek hou daarvan om sosiaal te verkeer. Foto 2: Sportiewe persoon – 'n gesonde leefstyl is vir my belangrik. Foto 3: Familievaste persoon – ek stel familiebande hoog op prys. 8.3 Eie antwoorde Die vloeiende lyne van die logo suggereer beweging en reise. Die blokformaat ook orde, eenvoud en stabiliteit. 8.4 8.4.1 "inter-aktiewe" – onnodige koppelteken: geen klinkeropeenhoping of ander redes waarom 'n koppelteken gebruik behoort te word nie. (Die woordehoort "interaktiewe" te wees.) 8.4.2 "buiteleweentoesiaste" – koppelteken is nodig weens die opeenhoping van klinkers (Die woord behoort "buitelewe- entoesiaste" te wees. ) 8.4.3 Fout: "inligting op avontuurbestemmings"; Korreksie: "inligting oor avontuurbestemmings" 8.4.4 Drie moontlike antwoorde kom in die teks voor: Fout: "inligitng"; Korreksie: "inligting". Fout: "avontuur sport"; Korreksie: "avontuursport" Fout: "avontuur bestemmings"; Korreksie: "avontuurbestemmings" IEB Copyright © 2019 BLAAI ASSEBLIEF OM
Downloaded from hlayiso.com NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – NASIENRIGLYNE Bladsy 14 van 16 VRAAG 9 SPOTPRENT 9.1 Die gasheer help sy vrou met die skottelgoed. Die gebruik van die voorskoot om sy klere skoon te hou, sou ook aangevoer kon word, maar dit is gebaseer op die aanname dat die vrou verantwoordelik is vir die wasgoed. 9.2 Hulle lyk ontsteld/geskok/ongelukkig/negatief. Albei se koppe is weggedraai van die skottelgoed na die gaste toe. Albei se oë is gerek. Albei se pupille is aan die onderkant van hul oë geplaas. Die vrou se mond is klein getrek – sy probeer hard om nie verbaal te reageer nie. [Een punt vir die beskrywing/benoeming van die emosie; twee punte vir die gebruik van detail uit die spotprent om die emosie te motiveer.] 9.3 VALS Die een seun sit op die rug van die rusbank en eet – hy sal maklik daar kan afval. Die dogtertjie gooi 'n wynglas rond – die gebreekte glas sal vir haar en al die ander mense in die huis 'n gevaar inhou. Die ander seuntjie jaag teen hoë spoed op die driewiel agter die hond aan – die spoed kan skade en besering tot gevolg hê. Die voorwerpe/speelgoed op die grond kan die kinders beseer. 9.4 Metingskaal vir 3 punte Verwagte inhoud: Die vrou sit gemaklik met 'n beker/koppie in die een hand en die televisie se afstandbeheerder in die ander. Die man lê op die naat van sy rug op die rusbank, ewe intiem met sy voete oor die vrou se bene, en hy rook in die huis. Sy broek is los ('n aanduiding dat hy te veel geëet het, en dat hy besonder gemaklik in die gashere se huis is) en sy bril lê argeloos op sy maag ('n ekstreme interpretasie hiervan is dat hy nie insig toon in die situasie nie!). Daar staan 'n beker op die vloer langs hom – ook 'n aanduiding dat hy iets te drinke gehad het. Die moontlikheid bestaan dat hy dit as 'n asbak gebruik – geen ander asbak is in sig nie. Die twee is besig om heerlik te ontspan terwyl die gasheer en gasvrou hard werk. Dit is juis wat die gaste nie doen nie: hulle help nie om die effek wat hulle gesin se teenwoordigheid op die huis het, teen te werk nie. Hulle kinders is ook besig met allerlei dinge wat sekerlik nie in 'n huis toegelaat (behoort te) word nie, maar die ouers tree nie dissiplinêr op nie. Daarom is hul gemaksugtigheid baie duidelik en hul optrede is uiters onbedagsaam teenoor die gasheer en gasvrou en hulle gesin. IEB Copyright © 2019 BLAAI ASSEBLIEF OM
Downloaded from hlayiso.com NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – NASIENRIGLYNE Bladsy 15 van 16 9.5 Die gaste se kinders speel heerlik en gemaklik in die nuwe ruimte. Benewens die gevaarlike dinge wat hulle doen wat reeds in 9.3 genoem is, sien 'n mens ook 'n teddiebeer eenkant lê, asook 'n speelgoedmotortjie met al vier sy wiele afgebreek. 'n Speelgoedpyl met 'n suiertjie aan die voorpunt is teen die lampkap vasgeskiet. Hulle vul dus die ruimte met hul destruktiewe spelery. Daarteenoor staan die kind van die huis met oë wyd gerek agter sy ma se been: hy is duidelik baie bang vir hierdie wilde kinders wat sy ruimte binnegedring het (hy is net so bang soos die kat!). Die kinders speel dus nie as 'n groep saam nie; die gasheer en gasvrou se kind sien die kuierkinders as 'n bedreiging. Totaal: 100 punte IEB Copyright © 2019
Downloaded from hlayiso.com NASIONALE SENIOR SERTIFIKAAT: AFRIKAANS HUISTAAL: VRAESTEL I – NASIENRIGLYNE Bladsy 16 van 16 METINGSKAAL Hierdie metingskaal word gebruik om die volgende vrae na te sien: 1.4, 2.8, 4.2, 4.4, 4.5, 5.2, 5.3, 6.2, 6.3, 7.4, 9.4. VLAK EN BESKRYWINGS 3 PUNTE 2 PUNTE Die uitstekende / baie goeie respons • Is volledig / gedetailleerd met spesifieke verwysing na die gegewe teks en opdrag; • Maak insigryke / spesifieke konneksies tussen die opdrag en die teks; 3 2 • Integreer alle elemente, toon 'n duidelike begrip van hoe dele bydra tot 'n groter geheel; • Maak gebruik van gesofistikeerde taalgebruik. Die redelike respons • Maak redelike verwysing na die gegewe teks en die opdrag; • Maak konneksies tussen die opdrag en die teks; 2 2 • Gee 'n bewys / bewyse dat die konteks begryp word; • Toon 'n gedeeltelike begrip van die samehangende geheel; • Maak gebruik van redelik goeie taalgebruik. Die onvolledige respons • Verwys na die teks en / of opdrag in die algemeen; • Is soms onakkuraat en oorvereenvoudig; 1 ½ • Demonstreer konkrete denke en 'n onvolledige begrip van die elemente; • Maak gebruik van swak taalgebruik wat steurend word. Die onvoldoende respons • Verwys glad nie na die teks en / of die opdrag nie; • Beantwoord nie werklik die vraag nie weens 'n gebrek aan begrip; 0 0 • Maak gebruik van ontoereikende taalgebruik; • Of verskaf geen poging om die vraag te beantwoord nie. Die nasiener mag 'n halfpunt meer of minder gee as wat die matriks toelaat om taalgebruik wat beter as die inhoud is, te beloon, of om taalgebruik wat swakker as die inhoud is, te penaliseer. By elke vraag wat hierbo genoem is, verskaf die nasienriglyne tipiese inhoud wat by die vraag verwag kan word. Die nasiener moet egter die kandidaat se aanbod op eie meriete oorweeg en dit nie bloot meet teen die moontlikhede in die nasienriglyne nie. IEB Copyright © 2019 BLAAI ASSEBLIEF OM

Study this subject

Revise the topics in this paper, then practise them question by question.

More papers and memos for this grade and subject.

More from Grade 12 Afrikaans HL

View all