NASIONALE
SENIOR SERTIFIKAAT
GRAAD 12
SEPTEMBER 2016
AFRIKAANS HUISTAAL V2
PUNTE: 80
TYD: 2½ uur
Hierdie vraestel bestaan uit 27 bladsye.
Skip to contentAll 2016 papers 





View all





Afrikaans HL Grade 12 P2 Eastern Cape Mock 2016 QP
Grade 12 Afrikaans HL Paper 2 question paper from the Eastern Cape Mock Exam 2016, 28 pages. Read online or download the free PDF.
Afrikaans Hl · Grade 12 · Eastern Cape Mock Exam · 2016. Question paper, 28 pages. Read online or download the PDF.
- Subject
- Afrikaans HL
- Grade
- Grade 12
- Document type
- Question paper
- Year
- 2016
- Exam period
- Eastern Cape Mock Exam
- Paper
- 2
- Curriculum
- CAPS
- Pages
- 28
- File size
- 861.3 KB
Free to read online, no sign-up needed
Loading document…
Loading document…
1 of 28
This exam
Eastern Cape Mock Exam 2016
- Paper 1Question paperMemo
- Paper 2Question paperMemo
- Paper 3Question paperMemo
Questions in this paper
- Question 2Letterkunde (Literature / Set Works)10 marks
- Question 3Letterkunde (Literature / Set Works)10 marks
- Question 4Letterkunde (Literature / Set Works)10 marks
- Question 5Letterkunde (Literature / Set Works)10 marks
- Question 7Letterkunde (Literature / Set Works)25 marks
- Question 9Letterkunde (Literature / Set Works)25 marks
Document textSearch extracted text and jump to a page.
2 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2016)
INSTRUKSIES EN INLIGTING
1. Lees die volgende instruksies noukeurig deur voordat jy die vraestel
beantwoord.
2. Moenie probeer om die hele vraestel deur te lees nie. Raadpleeg die
inhoudsopgawe op bladsy 4 en merk die vraagnommers van die
letterkundetekste wat jy bestudeer het. Lees daarna die vrae oor die
tekste wat jy gedoen het en kies die soort vraag wat jy wil doen. Neem
die voorskrifte by elke vraag in ag.
3. Die vraestel bestaan uit DRIE afdelings:
AFDELING A: Gedigte (30)
AFDELING B: Roman (25)
AFDELING C: Drama (25)
4. Beantwoord VYF vrae in totaal: DRIE uit AFDELING A, EEN uit
AFDELING B en EEN uit AFDELING C.
AFDELING A: GEDIGTE
Gesiene gedigte – Beantwoord TWEE vrae.
Ongesiene gedig – VERPLIGTE vraag
AFDELING B: ROMAN
Beantwoord EEN vraag.
AFDELING C: DRAMA
Beantwoord EEN vraag.
5. KEUSE VAN VRAE BY AFDELING B (ROMAN) EN AFDELING C
(DRAMA)
Beantwoord SLEGS die vrae oor die roman en drama wat jy
bestudeer het.
Beantwoord EEN LITERÊRE OPSTEL en EEN KONTEKSTUELE
VRAAG. As jy die literêre opstel in AFDELING B beantwoord, moet jy
die kontekstuele vraag in AFDELING C beantwoord. As jy die
kontekstuele vraag in AFDELING B beantwoord, moet jy die literêre
opstel in AFDELING C beantwoord. Gebruik die kontrolelys om jou
te help.
6. LENGTE VAN ANTWOORDE
Die lengte van die literêre opstel vir die gedig is 250–300 woorde.
Die lengte van die literêre opstel vir die roman en drama is
onderskeidelik 400–450 woorde.
Die lengte van die antwoorde van die kontekstuele vrae word bepaal
deur die puntetoekenning van elke vraag. Beantwoord jou vrae
bondig en relevant.
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
(EC/SEPTEMBER 2016) AFRIKAANS HUISTAAL V2 3
7. Volg die opdragte aan die begin van elke afdeling noukeurig.
8. Nommer die antwoorde korrek volgens die nommeringstelsel wat in
hierdie vraestel gebruik is.
9. Beantwoord ELKE afdeling op ’n NUWE bladsy.
10. Voorgestelde tydsindeling:
AFDELING A: ongeveer 40 minute
AFDELING B: ongeveer 55 minute
AFDELING C: ongeveer 55 minute
11. Skryf netjies en leesbaar.
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
4 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2016)
INHOUDSOPGAWE
Hierdie bladsy sal jou help met die keuse van vrae sonder dat dit nodig is om die hele
vraestel deur te lees.
AFDELING A: GEDIGTE
Voorgeskrewe gedigte: Beantwoord ENIGE TWEE vrae.
VRAAGNOMMER VRAAG PUNTE BLADSY
1. Vroegherfs Literêre opstel 10 6
2. Een sprong vir ... Kontekstuele vraag 10 7
3. Die huis luister Kontekstuele vraag 10 8
4. Last grave at Dimbaza Kontekstuele vraag 10 9
EN
Ongesiene gedig: VERPLIGTEND
5. Om groot te word Kontekstuele vraag 10 10
AFDELING B: ROMAN
Beantwoord EEN vraag.*
6. Die kwart-voor-sewe-lelie Literêre opstel 25 11
7. Die kwart-voor-sewe-lelie Kontekstuele vraag 25 11
8. Manaka Plek van die Horings Literêre opstel 25 14
9. Manaka Plek van die Horings Kontekstuele vraag 25 15
10. Vatmaar Literêre opstel 25 17
11. Vatmaar Kontekstuele vraag 25 17
AFDELING C: DRAMA
Beantwoord EEN vraag.*
12. Krismis van Map Jacobs Literêre opstel 25 20
13. Krismis van Map Jacobs Kontekstuele vraag 25 20
14. Mis Literêre opstel 25 23
15. Mis Kontekstuele vraag 25 24
*LET WEL: Beantwoord EEN LITERȆRE OPSTEL en EEN KONTEKSTUELE
VRAAG uit AFDELING B en AFDELING C onderskeidelik.
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
(EC/SEPTEMBER 2016) AFRIKAANS HUISTAAL V2 5
KONTROLELYS
Gebruik die kontrolelys hieronder om te kontroleer of jy al die vereiste vrae
beantwoord het.
AFDELING VRAAG- GETAL VRAE MERK
NOMMER BEANTWOORD ( )
A: Gedigte 1–4 2
(Voorgeskrewe gedigte)
A: Gedigte 5 1
(Ongesiene gedig)
B: Roman 6–11 1
(Literêre opstel of kontekstuele vraag)
C: Drama 12–15 1
(Literêre opstel of kontekstuele vraag)
LET WEL: Beantwoord EEN LITERȆRE OPSTEL en EEN KONTEKSTUELE VRAAG
uit AFDELING B en AFDELING C onderskeidelik.
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
6 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2016)
AFDELING A: GEDIGTE
VOORGESKREWE GEDIGTE
Beantwoord ENIGE TWEE vrae.
VRAAG 1: LITERÊRE OPSTEL
Lees die onderstaande gedig en beantwoord dan die vraag wat volg.
Vroegherfs – N.P. van Wyk Louw
1 Die jaar word ryp in goue akkerblare,
2 in wingerd wat verbruin, en witter lug
3 wat daglank van die nuwe wind en klare
4 son deurspoel word; elke blom word vrug,
5 tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
6 so stilweg in die rook-vaal bos en laan,
7 dat die takke van die lang populiere al
8 teen elke ligte môre witter staan.
9 O Heer, laat hierdie dae heilig word:
10 laat alles val wat pronk en sieraad was
11 of enkel jeug, en vér was van pyn;
12 laat ryp word, Heer, laat U wind waai, laat stort
13 my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
14 en nakend uit my teerder jeug verskyn.
[Uit: Vier gebede by jaartye in die Boland, 1937]
Drie prosesse in die natuur word in die oktaaf van hierdie gedig beskryf en dan word
dit in die sestet op die mens van toepassing gemaak.
Bespreek hierdie stelling in ʼn opstel van 250–300 woorde. [10]
OF
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
(EC/SEPTEMBER 2016) AFRIKAANS HUISTAAL V2 7
VRAAG 2: KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die onderstaande gedig en beantwoord dan die vrae wat volg.
Een sprong vir ... – Joan Hambidge
1 Jy wil weet
2 waarom herstel ek nie –
3 want jy het my die maan,
4 sterre en uitspansel beloof.
5 Jy stuur my na die maan
6 en á la Neil Armstrong beweeg
7 ek in die lugdrukvrye atmosfeer,
8 karteer die kraters, die stil verwoesting
9 wat jy saai, plant ʼn vlaggie van rekapitulasie
10 (dis verby, dis verby, dis ...) op die silw’rige planeet.
11 Danksy die verbinding tussen my en die lugskip van glas
12 genaamd poësie, keer ek weer terug na die aarde,
13 wys my foto’s vir diegene wat wil sien,
14 neem stukkies maankors saam
15 en weet ná maande
16 die maan is hiér.
17 Jy wil weet
18 waarom vergeet ek nie –
19 omdat ek weet die maan
20 is beslis nie van kaas.
[Uit: Kriptenomie, 1989]
2.1 Waarna verwys die titel van die gedig? (1)
2.2 Gee die funksies van die ellips in die titel en die aandagstreep in versreël 2. (2)
2.3 Wat is die effek daarvan as die spreker selfs die uitspansel beloof is? Gee
redes hoekom die spreker juis na só ʼn belofte nie kan herstel nie. (2)
2.4 Wat is die funksie van die herhaling in die parentese in versreël 10? (1)
2.5 Hoe word ʼn hegte eenheid in die gedig bewerkstellig? (1)
2.6 Wat sê die spreker eintlik met haar antwoord in die slotstrofe? Noem TWEE
verbande wat jy glo tussen die bundeltitel en die spreker se besef in hierdie
gedig gelê kan word. (3)
[10]
OF
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
8 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2016)
VRAAG 3: KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die onderstaande gedig en beantwoord dan die vrae wat volg.
Die huis luister – Daniel Hugo
1 my kamers is hol soos ʼn binne-oor
2 ek hoor hoe die bewoners roesemoes
3 liefde maak, verwyt, mekaar vertroos, skoor
4 soek met die goor hede, nooit tevrede
5 aanhou kibbel oor kon en sou en moes
6 luister, ek bewaar julle verlede
7 my fondamente kraak onder die las
8 my plafonne raak voos van die eggo’s
9 te veel vloeke laat my pleisterwerk bars
10 jare se trane laat my rame roes
11 so word ons saam verweer deur dit wat was
12 my dakplate en julle gebede
13 fluister en knal al hoe harder om hulp
14 ongehoord in elke nag se oorskulp
[Uit: Dooiemansdeur, 1991]
3.1 Wat is die rede vir die gebruik van personifikasie in die titel van die gedig?
Gee ʼn rede waarom luister hier beter as byvoorbeeld hoor is. (2)
3.2 Wat beteken kibbel in versreël 5? (1)
3.3 Waarom is die gebruik van die polisindeton in strofe 1 effektief? (1)
3.4 Wat is die funksie van die o-,v- en r-alliterasie in strofe 2? (1)
3.5 Gee die figuurlike betekenis van knal in versreël 13 en verklaar hoe dit
aansluit by die spreker se aanklag op die moderne huisgesin. (2)
3.6 Tot watter slotsom kom die spreker in versreël 13–14? Gee ook die twee
betekenismoontlikhede vir ongehoord in die laaste versreël van die gedig. (3)
[10]
OF
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
(EC/SEPTEMBER 2016) AFRIKAANS HUISTAAL V2 9
VRAAG 4: KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die onderstaande gedig en beantwoord dan die vrae wat volg.
“last grave at dimbaza” – Fanie Olivier
1 beauty douglas was born
2 op ʼn wintersnag so all forlorn
3 omring deur die sterre se liggies
4 en koerante kaal klip
5 en nuuskierige hande
6 en tien ander gesiggies
7 a ʼn dogter oplaas ʼn dogter
8 om beeste te kry om die wêreld
9 te wei a dis lekker
10 om ʼn vader te is te is
11 die ma het ʼn briefie geskryf
12 aan haar man op die myne
13 om te sê van die kind en te vra van die geld
14 want dit was sy kind die dogter
15 was syne om te sê: o my man
16 o my man ek het beeste gebaar
17 op ʼn wintersnag so all forlorn
18 met die sterre soos goud en die mielies klaar
19 beauty douglas your daughter was born
20 sy hart het oopgeskiet tussen lae klip
21 opgeskiet boontoe en oopgevou
22 in ʼn laatnagbrief: my vrou
23 my vrou sê aan beauty douglas
24 haar pa het haar lief.
25 hy’t sy brief gepos met sy viersentseël
26 ʼn lugposbrief aan beauty douglas
27 om te sê hy’t haar lief
28 die adres was mnxesha
29 oor kingwilliamstown kaap
30 saans as hy sy moegheid streel
31 het hy gedroom van sy meisiekind
32 en op ʼn sonskynmiddag twee maande later
33 het ʼn brief uit mnxesha hom teruggevind:
34 “beauty douglas was born
35 she died”
[Uit: Skimmellig, 1978]
4.1 Waar presies is Dimbaza geleë en watter rol het die Britte gespeel om dié
klein dorpie bekend te maak? (2)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
10 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2016)
4.2 Haal DRIE voorbeelde van intertekstualiteit uit die gedig aan. (3)
4.3 Verklaar die figuurlike betekenis van versreël 16. (1)
4.4 Benoem en verklaar die beeldspraak in reël 20–21. (2)
4.5 Hoekom is die digter so spesifiek in die gegewe rondom die seël in versreël
25? (1)
4.6 Verklaar hoe die gebroke rym die stemming van hierdie gedig ondersteun. (1)
[10]
EN
ONGESIENE GEDIG (VERPLIGTEND)
Beantwoord VRAAG 5.
VRAAG 5: KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die onderstaande gedig en beantwoord dan die vrae wat volg.
Om groot te word – Maryke Heyns
1 Om groot te word
2 is so tussenin.
3 Grootmensdinge is nog ver,
4 kinderdinge word min.
5 Kom ons lag weer vrolik
6 vir die maan se vet, geel gesig.
7 Kom ons bring die trane
8 oor ʼn dooie voëltjie terug.
9 Kom ons eet weer slap-tjips
10 en lek ons vingers af.
11 Kom ons word weer kinders.
12 Kom ons word weer laf!
13 Nou huil ons in ʼn kussing
14 en wonder waarom.
15 Nou raak ons verlief
16 en dink die wêreld glimlag krom.
17 Nou’s ons so tussenin, vals noot,
18 want: ons word groot.
[Uit: Poort, 1974]
5.1 Hoe versterk die titel van die gedig die idee dat grootword ʼn proses is? (1)
5.2 Wat word ʼn vierreëlige strofe (strofe 1) genoem? (1)
5.3 Motiveer waarom die tipografiese plasing van die woord tussenin in versreël
2 funksioneel is. (1)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
(EC/SEPTEMBER 2016) AFRIKAANS HUISTAAL V2 11
5.4 Benoem die beeldspraak in versreël 6 en verklaar die betekenis van vet,
geel gesig. (2)
5.5 Benoem die opdragwoord in strofe 2 en gee ʼn rede hoekom die spreker
hierdie opdragte uitdeel. (2)
5.6 Waarom word die tiener met ʼn vals noot vergelyk? Gee redes waarom jy
saamstem of verskil van dié beskrywing. (3)
[10]
TOTAAL AFDELING B: 30
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
12 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2016)
AFDELING B: ROMAN
Beantwoord EEN vraag.
VRAAG 6: OPSTELVRAAG
DIE KWART-VOOR-SEWE-LELIE – Eleanor Baker
Die ruimtes in hierdie roman dra soms positief en soms negatief by tot Iris se begeerte
om te blom.
Bespreek hierdie stelling in ʼn opstel van 400–450 woorde deur te evalueer hoe haar
ouerhuis, die tuin van haar ouerhuis, Frankryk en New York, Vermont en ook haar
werkruimte haar lewensbegeerte om te blom ondersteun. [25]
OF
VRAAG 7: KONTEKSTUELE VRAAG
DIE KWART-VOOR-SEWE-LELIE – Eleanor Baker
Lees die onderstaande uittreksels en beantwoord dan die vrae wat volg.
TEKS A
1 “Jy’s terug. Het ek lank geslaap?”
2 Ek het na my horlosie geloer. “Omtrent ʼn uur. Sal ek vir jou vars tee
3 maak?”
4 Hy het regop gesit en die deken soos ʼn mantel oor sy skouers getrek. Die
5 satynagtige stof en die goue kleur het dit nogal koninklik laat lyk. “Koffie,
6 asseblief.” Hy het na sy sigarette gesoek en een aangesteek.
7 “Hoekom wou jy vroeër tee hê en nou koffie?”
8 “Ek het nie van daardie man gehou nie.” Hy het regop geskuif sodat hy
9 met sy rug teen die muur kon sit. Ek kon sien hy word wakker, ordentlik
10 wakker. “Het jy lekker geëet?”
11 “Ja.”
12 “En met niemand gesels nie?”
13 Ek het stilgebly.
14 “Iris. Vertel die waarheid.”
15 “Die man het eerste met my gepraat. Wat kon ek doen?”
16 “En wat wou hy hê? Het hy ook aangebied om jou beroemd te maak?”
17 “Nee. Hy’t my vuurhoutjies gevat omdat hy dit versamel en toe het hy
18 geloop.”
19 Ek het op my eie bed gaan sit ná ek sy koffie vir hom gegee het. Hy het sy
20 hand uitgehou na my.
21 “Kom sit hier langs my,” het hy genooi.
22 “Liewers nie.”
23 “Hoekom nie?”
24 “Jy weet wat sal gebeur.”
25 Hy het geglimlag en ek moes my inhou of ek het oorgeduik in sy arms in.
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
(EC/SEPTEMBER 2016) AFRIKAANS HUISTAAL V2 13
26 “Nou ja?” het hy gesê.
27 “Ek dink ons moet mekaar net eers weer leer ken,” het ek preuts gesê, wel
28 wetende dat ek nie lank sal uithou nie. Maar op daardie oomblik het die
29 telefoon gelui...
7.1 In watter spesifieke ruimte bevind Iris haar in hierdie gedeelte? (1)
7.2 Watter karaktertrek van Iris kom in reël 4–5 na vore? Van watter hulp en
waarde is hierdie karaktertrek vir haar deur die loop van die roman? (2)
7.3 Wie is die man na wie Peter in reël 8 verwys? Skryf Iris se lewensfilosofie neer
en motiveer hoe dié man se optrede hierdie lewensfilosofie ondersteun. (3)
7.4 Waarom is die verteller in reël 13 funksioneel? (1)
7.5 Watter gevoel word deur Peter se dialoog in reël 16 weergegee? Gee ’n
regverdigbare rede hoekom Peter so met Iris sou kon praat. (2)
7.6 Is Iris se opmerking in reël 27 dat sy en Peter mekaar nie meer goed ken nie,
geregverdig? Motiveer jou antwoord. Gee ook bewyse uit die roman dat Iris
en Peter se verhouding tot dusver baie oppervlakkig was. (3)
7.7 Wat beteken deus ex machina? Verklaar hoekom die lui van die telefoon in
reël 28–29 as ’n deus ex machina tussen Peter en Iris beskou kan word. (2)
7.8 Die telefoongesprek wat na hierdie gedeelte volg, het oor die aflewering van ’n
kabelgram gehandel. Wat was die inhoud van hierdie kabelgram? (1)
EN
TEKS B
1 Ek het maar gaan slaap. Toe ek die lig afskakel, het ek die Engel op die
2 vensterbank sien sit, sy gesig na die tuin gedraai.
3 “Jy het weer drooggemaak,” het ek verwyt. “Waar was jy toe jy ’n oog oor
4 die man moes hou?”
5 “Dis sy lewe.”
6 “Jy kan maklik praat. Jy is vry van aardse drange. Sover ek weet.”
7 Hy het waardig geswyg.
8 “En ons is swak. Ek wens ek was jy, verby hierdie aardse geploeter.”
9 “Jy sal ook eendag soos ek word.”
10 “Dink jy so?” Dit was ’n fassinerende gedagte. Sou ek ook op mense se
11 vensterbanke rondsit en advies aanbied of weier? Sou ek ook saam met my
12 toegewysde persoon in vliegtuie vlieg, in vreemde wêreldstede rondloop
13 sonder om eers my roksoom vuil te maak? “Maar jy is nie altyd by my nie,” het
14 ek hom herinner. “Ek hoop ten minste nie so nie. Dit sou pervers wees as jy
15 altyd op my vensterbank na my sit en loer.” ʼn Ander gedagte het my getref.
16 “Dink jy ek blom dalk eers ná ek dood is? Gaan my bloeityd eers kom as ek my
17 sigbaarheid verloor het?”
18 “Party mense blom ongesiens,” het hy gesê. “So onverwags dat niemand dit
19 eers opmerk nie.”
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
14 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2016)
20 “Soos Ma se lelie.”
21 “Iets in dier voege, ja.”
22 Net Polder Twee het opgetree soos hy moes. Sy lewe het jaar na jaar
23 onveranderd voortgegaan. Hy het nie skielik kleintjies gekry of ʼn dramatiese
24 persoonlikheidsverandering ondergaan nie.
7.9 Watter soort konflik kom in reël 3–4 voor en wie is die man na wie Iris
verwys? (2)
7.10 Herlees reël 13 van Teks A.
Watter ooreenkoms is daar tussen Iris se handeling in Teks A en dié van die
Engel in Teks B? (1)
7.11 Reël 16–21 raak die hooftema van hierdie roman aan. Dink jy die tema van
die roman is universeel-geldend? Motiveer jou antwoord. Watter belangrike
lesse het jy uit hierdie roman geleer? (3)
7.12 Reël 22–24 raak die aspek van verandering aan. Noem die ironiese
wending wat Iris, haar ma en haar twee susters se karakters in hierdie roman
neem. (4)
[25]
OF
VRAAG 8: OPSTELVRAAG
MANAKA PLEK VAN DIE HORINGS – Pieter Pieterse
Die verhouding tussen die mens en die natuur is ʼn belangrike aspek wat deurgaans
in hierdie roman uitgelig word.
Bespreek hierdie stelling in ʼn opstel van 400–450 woorde deur Baas se respek vir
die natuur en sy liefde vir sy honde onder die soeklig te neem. [25]
OF
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
(EC/SEPTEMBER 2016) AFRIKAANS HUISTAAL V2 15
VRAAG 9: KONTEKSTUELE VRAAG
MANAKA PLEK VAN DIE HORINGS – Pieter Pieterse
Lees die onderstaande uittreksels en beantwoord dan die vrae wat volg.
TEKS A
1 Laatmiddag kry Baas die bougainvilleabos waarvan Mark gepraat het,
2 veertig kilometer van Sioma af teen die hang van die ysterkliprant. Dis ʼn dik
3 stomp. Daar is geen teken van lewe in die uitgedroogde takke nie. Langs die
4 verwronge stam hang ʼn stuk sinkplaat met die woorde Manaka Evangelical
5 Mission netjies daarop geverf.
6 Hy vleg tussen groot rotsblokke in die ongebruikte paadjie teen die bult af,
7 rivier se kant toe. Op ʼn gelykte, net onderkant die eerste skuinste, staan enkele
8 witgekalkte steengeboutjies tussen yl kanniedoodbome, ʼn knoppiesdoring en ʼn
9 sukkelende jong worsboompie. Die harde rantjiesveld is besaai met ronde
10 ysterklippe. Party van die geboue se dakbalke het geknak en die sinkplate het
11 meegegee. Net een van die deure lyk nog bruikbaar. Die vensterrame staan
12 sonder ruite.
13 Op die volgende plato verander die plantegroei dramaties. Tropiese
14 rankplante slaan in die diep sandgrond hulle arms om jakkalsbessiebome,
15 kierieklapper, waterhoutbessie, geelmelkhout, knoppiesdoring en ʼn groot
16 wildevy.
17 Op die rand van die gelykte, net duskant die laaste skuinste na die water
18 toe, groei die grootste worsboom wat Baas ooit gesien het. Onder die boom
19 staan vier rye verrotte houtbankies op ingeplante paalstellasies.
20 ʼn Swartriethaan skarrel vir skuiling tussen die riete deur. In die beskutting
21 van die worsboom slaan Baas die Land Rover se agterklap oop. ʼn Swerm
22 kleurvolle papegaaiduiwe skrik uit die wildevyboom weg. Die twee honde spring
23 af en hardloop met kromgetrekte rûe heen en weer tussen die plantegroei deur.
24 Hulle is oorweldig deur die misterie van die omgewing. Lady kom eerste na
25 Baas toe terug.
9.1 Wie is Mark na wie daar in reël 1 verwys word? Gee bewyse uit die verhaal dat
hierdie man ʼn belangrike rol in Baas se lewe speel. (3)
9.2 Waarna verwys die bougainvillea (reël 1)-motief? Beskryf die progressie wat
deur die loop van die roman in hierdie motief/beeld opgemerk word. (3)
9.3 Die kursiefgedrukte woorde in reël 4–5 lei die belangrike godsdiens-tema in die
verhaal in. Gee ʼn rede waarom hierdie tema aanvanklik vir Baas problematies
is. Gee ook TWEE bewyse dat sy koms na Manaka bydra tot konflik oor
hierdie tema en sê hoe hierdie konflik uiteindelik opgelos word. (4)
9.4 Benoem die beeldspraak in reël 14. (1)
9.5 Watter soort verteller is in hierdie teks aan die woord? (1)
9.6 Gee redes hoekom Baas in hierdie verhaal as ʼn buitestaander bestempel kan
word. (3)
EN
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
16 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2016)
TEKS B
1 Baas laat oom Scholtzie voor hom in die voetpaadjie loop. Iewers van
2 die kamp se kant af hoor hulle ouma Essie lawaai.
3 “Ek het nog nie met die ander gepraat nie, maar ons sal seker vroemôre
4 ʼn diensie hou. Dit sal vir my ʼn groot voorreg wees as jy ook wil kom aansit
5 by die tafel van die Here.”
6 Baas antwoord nie.
7 Oom Scholtzie gaan staan. Hy kyk nie om nie. “Wat sê jy, Baas?”
8 “Ek moet na die khuta toe gaan.”
9 “Die stamkapteins begin nie vroeg nie. Hulle het vir Grieseltjie ook
10 ontbied.”
11 “Dan sal ek maar daar wees, oom.”
12 “Dankie, Baas.” Oom Scholtzie begin weer loop.
13 Ouma Essie se stortvloed woorde word hewiger. Hulle kry haar onder
14 die wildevyboom waar sy met swaaiende arms en stampende kierie in
15 Sizoli op meneer Chisupo skel. Grace probeer haar van die man af
16 wegdruk. Meneer Johnnie staan op ʼn veilige afstand.
17 Meneer Chisupo staar ouma Essie woordeloos aan. Eindelik lig hy sy
18 hand en wys vir haar vinger. Sy klap sy hand weg en wys vir hom ook
19 vinger. Hy bly staan, hoe sy hom ook al onder die boom uit probeer
20 verwilder. Hy hardloop eers toe Longwane op hom afsluip, haar kop laag,
21 die nekhare orent. Longwane skiet tjankend van pyn verby en keer hom
22 voor, terug na Baas toe. Baas gryp die hond.
23 “Zwa! Zwa!” skreeu ouma Essie meneer Chisupo agterna, soos ʼn mens
24 vir ʼn hond skreeu as jy hom wegjaag.
25 Baas dra Longwane terug afdak toe.
9.7 Waarom sal Lady (Teks A) Baas nader aan die hart lê as Longwane
(Teks B)? (1)
9.8 Watter belangrike rol vervul Lady en Brindle onderskeidelik in Baas se
lewe? (2)
9.9 Herlees reël 13.
Hoe beskryf Ouma Essie haarself in die roman en waarvan raak haar
karakter op dieperliggende vlak verteenwoordigend? (2)
9.10 Benoem die soort konflik in reël 13–16 en gee ʼn rede vir dié konflik. (2)
9.11 Wat is die rol van die verteller in reël 21–22? (1)
9.12 Hoe voel die Lozi-mense oor Chisupo en watter fatale daad pleeg hy? (2)
[25]
OF
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
(EC/SEPTEMBER 2016) AFRIKAANS HUISTAAL V2 17
VRAAG 10: OPSTELVRAAG
VATMAAR – AHM Scholtz
Ma Khumalo en Oupa Lewies leef liefde oor die grense heen uit. In teenstelling staan
Tommy Lewies en Mevrou Bosman.
Bespreek hierdie stelling in ’n opstel van 400–450 woorde. [25]
OF
VRAAG 11: KONTEKSTUELE VRAAG
VATMAAR – AHM Scholtz
Lees die uittreksels hieronder en beantwoord dan die vrae wat volg.
TEKS A
1 Tant Wonnie is na die magistraat se kantoor geneem.
2 Oh yes, het hy gesê. Please sit.
3 Hy het die stoel vir haar uitgetrek. Toe het hy agter sy lessenaar gaan sit
4 en ʼn trousertifikaat-boek uitgehaal. Maiden name? het hy gevra.
5 Yvonne Schmidt.
6 Born?
7 Rehoboth.
8 Date?
9 Onbekend.
10 Husband?
11 Heinrich Müller.
12 Born?
13 Windhoek.
14 Date?
15 Onbekend.
16 Hy het die sertifikaat onderteken – Steven Collins, Magistrate – en dit
17 gestempel. Tant Wonnie het haar kruisie getrek.
18 Veels geluk, het hy geglimlag, Mevrou Müller – en sy hand vir haar
19 uitgehou. Nadat hy haar die vel papier gegee het, het hy na haar gekyk om te
20 sien of daar regtig ʼn traan was. En daar was dit weer, net die een druppel.
21 Sy het haar kop laat sak sodat die traan nie oor haar wang moet rol nie.
22 So very feminine, het hy gedink. Hy het haar hand opgetel en dit gesoen.
23 Die aanklaer wat by die deur gewag het, het gesê: Diékant toe, Antie. Sal
24 ek voor loop?
25 Asseblief, het Tant Wonnie gesê.
26 In sy kantoor het hy gesê: Sit asseblief – en na die stoel gewys. Uit die laai
27 van sy lessenaar het hy ʼn “good for”-boek gehaal en geskryf: One only ladies
28 dress, One only pair of ladies shoes en die blaadjie uitgeskeur. Op die
29 volgende bladsy het hy geskryf: 10/-worth of groceries. Toe sê hy: Ek het
30 klaar die domanie se vrou opgebel. Sy sal enige oomblik hier wees.
31 Toe haal hy drie halfkrone uit die kissie gemerk Patty Cash.
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
18 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2016)
11.1 Waarom is Tant Wonnie in die magistraatskantoor? (1)
11.2 Benoem die soort verteller in reël 1 en noem watter rol die verteller in hierdie
reël vervul. (2)
11.3 In reël 11 word na Tant Wonnie se man verwys. Noem sy herkoms, beroep,
en karaktereienskappe soos dit in die verhaal na vore kom. (4)
11.4 Reël 17 raak ʼn belangrike sosiale kwessie in hierdie verhaal aan. Noem die
kwessie en gee voorbeelde elders in die verhaal waar hierdie kwessie
duidelik na vore kom. (3)
11.5 Herlees reël 18–19.
Watter karaktertrek van die magistraat kom hier na vore? Is die magistraat
se optrede anders as die soort behandeling waaraan Tant Wonnie gewoond
is? Motiveer jou antwoord. (2)
11.6 Verklaar wat die “good for”-boek is waarna in reël 27 verwys word. (1)
11.7 In reël 29–30 lees ons die dominee se vrou is op pad. Noem die bydraes wat
sy tot die intrige in die gedeelte net ná hierdie teks lewer. (2)
EN
TEKS B
1 Die mense het gesê Tant Wonnie het nooit gesterf nie. Sy het net bed toe
2 gegaan en haar aardse slaap en liggaam vir ons agtergelos. Sy is nou in die
3 Liefde wat die mens se verstand te bowe gaan.
4 By die roudiens het Domanie Frans Kiewiet gesê: Tant Wonnie het gesterf
5 soos net dié sterf wat hulle se tyd op aarde gebruik het sonder om dit te
6 mors. Haar einde het sonder ʼn siekbed gekom. Sy het ʼn vol lewe gehad.
7 Onse Tante het haar Here geken.
8 Toe hulle na die begrafnis met die paaitjie terugstap huis toe, met die
9 baba wat oor Suzan se skouer kyk na Kenny wat agter loop, sê Heinrich sy
10 eerste woorde: Ma-Ma, Pa-Pa. Ma-Ma, Pa-Pa – asof niks gebeur het nie.
11 Voordat hulle by die huis in is, kyk klein Heinrich nog ʼn keer glimlaggend oor
12 Suzan se skouer na Kenny en sê: Pa-Pa. Toe pluk hy aan Suzan se vlegsel
13 en lag en sê: Ma-Ma. Kenny het hom gevat en op die grond neergesit en toe
14 sy arms om Suzan geslaan, wat dieselfde gedoen het sonder dat sy dit besef
15 het.
16 Kenny kyk in haar gesig asof hy haar vir die eerste keer rêrig sien.
17 Haar rustige, gedagtelose oë laat sy hart vinniger klop. Sy maak haar mond
18 oop en hy soen die oop mond. ʼn Elektriese kontak wat hulle harte verseël het
19 op ʼn manier wat ʼn aardse trouseremonie nooit kon doen nie. Die maagd en
20 die man het stil gebly staan. Die tyd het weggeraak.
11.8 Wat is die oorheersende stemming in reël 1–7? (1)
11.9 Watter ooreenkoms is daar tussen die karakters se houding jeens Tant
Wonnie in Teks A en Teks B? (1)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
(EC/SEPTEMBER 2016) AFRIKAANS HUISTAAL V2 19
11.10 Watter karaktereienskappe van Tant Wonnie lei jy af uit die woorde in
reël 6–7? (2)
11.11 Watter mylpaal in Heinrich se kort lewe word in hierdie gedeelte aangeraak
en hoe dra dit tot Suzan en Kenny se optrede en karakteropenbaring by? (3)
11.12 In hierdie teks lees ons oor die verlies van Tant Wonnie. Sy is egter die
karakter in die roman wat die meeste verliese gely het. Motiveer waarom jy
met hierdie stelling saamstem deur na voorbeelde in roman te verwys. (3)
[25]
TOTAAL AFDELING B: 25
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
20 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2016)
AFDELING C: DRAMA
Beantwoord EEN vraag.
VRAAG 12: OPSTELVRAAG
KRISMIS VAN MAP JACOBS – Adam Small
Dit is nodig vir karakters in ʼn drama om te verander en as mens te groei, ten einde die
intrige interessant te hou.
Evalueer hierdie stelling in ʼn opstel van 400–450 woorde deur die verandering wat in
Antie Grootmeisie, Cavernelis en Cyril en Richie se karakters plaasgevind het – al dan
nie – te ondersoek. [25]
OF
VRAAG 13: KONTEKSTUELE VRAAG
KRISMIS VAN MAP JACOBS – Adam Small
Lees die uittreksels hieronder en beantwoord dan die vrae wat volg.
TEKS A
1 CYRIL: (sagter) So ’n ...
2 RICHIE: Ja, sil sweer sy ma het geboorte gegee aan hom in ’n
3 rooi track suit!
4 La Guma is nou by hulle.
5 LA GUMA: Hey, Richie! Cyril! Hoe gaan ’it? ... Julle all right?
6 RICHIE: (teësinnig) Ja ...
7 CYRIL: (onvriendelik) ’Is okay, man!
8 LA GUMA: Ek wil ... nou nie criticise nie, maar ... Kerrim ... julle
9 speel so baie kerrim ... What a waste ... I mean, of time
10 ... and talent ...
11 TOMMY: (selfs hy vererg hom) Man, mind jou eie biesagheit!
12 LA GUMA: Nei, ek mien maar maar ... Julle wiet, world events are
13 overtaking us ... and events here in South Africa ... en,
14 hél, julle speel kerrim ...
15 CYRIL: So, world events are like overtaking us? Omlat ons
16 kerrim speel? Man, ek sê vi’ jou, kerrim sal nog al die
17 blêdie world events overtake, waarvan jy praat!
18 RICHIE: Ja, mind your own business, man ...
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
(EC/SEPTEMBER 2016) AFRIKAANS HUISTAAL V2 21
19 LA GUMA: ... Ek sê weer ... speel kerrim ... while julle julle moet
20 prepare ...
21 RICHIE: (rol sy oë) ... For de coming of de Lord! – seker ...
22 CYRIL: Nei, man, for de revolution, like! Revolution moet Jan
23 Tysbly se karrentjie!
24 TOMMY: (op sy manier) Kerrim is king, mister La Guma!
25 CYRIL EN RICHIE: Cheers! Sê vir hom, Tommy!
26 LA GUMA: Dis die trouble moet julle ... so-called coloureds ... Julle
27 maak jokes oor die situation ... instead of ...
28 CYRIL: Daar gáát hy weer oor die situation ... en oor die so-
29 called coloureds!
13.1 Hoekom kan ons sê La Guma is in hierdie drama ʼn amperse voorbeeld van ʼn
karikatuur? Watter kenmerke omtrent sy karakter dra hiertoe by? (3)
13.2 Watter karaktereienskap van Richie, afgesien van sy sarkasme en
negatiwiteit, kom in reël 2–3 na vore? (1)
13.3 Wat lei ons omtrent Richie en Cyril se houding jeens La Guma in reël 8–9 af? (1)
13.4 Verduidelik wat die kerrim is waarna in reël 8 verwys word en waarvan raak
dit simbolies in hierdie drama? Gee ook ʼn rede waarom hierdie woord
karakteropenbarend kan wees van die twee leeglêers as jy die woord in
konteks van bemoei gebruik. (3)
13.5 Verklaar die gebruik van die ellips in reël 9. (1)
13.6 Wat word die gedeelte tussen hakies in reël 11 in ʼn drama genoem? Wat sê
dié woorde omtrent Tommy se karakter? (2)
13.7 Na watter gebeure in Suid-Afrika verwys La Guma in reël 13? Hoe sluit
hiérdie gebeure asook die implikasie van die woorde in reël 22–23 én die
woorde in reël 26–27 by die hooftema van die drama aan? (4)
EN
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
22 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2016)
TEKS B
1 Die lig verander. Doof uit. Doof in: Blanchie en Map.
2 Blanchie totaal verward en huilend. Op ’n afstand van
3 mekaar.
4 BLANCHIE: (bewend) Dis ... Johnnie ... dis Daddy! Daddy! Jy ... kom
5 ... help. Dis Daddy!! Daddy!! Daddy!! (Sy skreeu.)
6 MAP: (staar) Blanchie ...
7 BLANCHIE: Johnnie! Dis Daddy!!
8 MAP: (Probeer haar kalmeer) Hê, Blanchie ... Lyster nou eers
9 ... Blanchie ...
10 BLANCHIE: (snik, praat dan) Daddy! ... Johnnie ... hy word nooit so
11 nie, hy’t nog ... nooit ... nog ... so ... Johnnie ... gekyk nie
12 ...Toe ... loop hy net ... weg ... net ... loop hy net ...
13 Map sit sy arm om haar, maar asof dit ’n elektriese skok
14 is, ruk sy haar weg.
15 BLANCHIE: Nee!
16 MAP: Okay ... okay ...
17 BLANCHIE: (van haar wysie af): Nie okay nie ... Shuddup!! Dis
Daddy!!
18 MAP:
(skreeu nou) Blanchie! Sal jy stilbly! (Hy gryp haar vas.)
19 BLANCHIE:
Dis Daddy! (Sy worstel in Map se greep.) Los my!
20 MAP:
21 (hard met haar) Sal jy ... sal jy stilbly! ... (Dan sagter.)
Blanchie ... Blanchie ... (Sy verslap in sy arms.) Blanchie
...
22 BLANCHIE:
Johnnie ...
23 MAP:
24 Daar’s ... niks wat ons kan doen nie ... Blanchie ... Dit ...
moet nou ... so gebeur ...
25 BLANCHIE:
26 Daddy ... Ek weet ... ek ... (Dan skielik hard.) Johnnie ...
Wat het ... met ons gebeur ... Wat ... Ek ... is so ... sleg ...
27 MAP:
(sit sy hand op haar mond) Nee! ... Jy’s ... goed ...
28 BLANCHIE:
Jy lieg ... Jy ... lieg, Johnnie ... lieg, lieg, lieg!!!
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
(EC/SEPTEMBER 2016) AFRIKAANS HUISTAAL V2 23
13.8 Watter ooreenkomste toon Teks 1 en Teks 2 ten opsigte van die algehele
atmosfeer wat heers? (2)
13.9 Hoekom noem Blanchie Map in hierdie teks Johnnie? Doen Blanchie die
betekenis van haar naam in hierdie uittreksel gestand? Motiveer jou
antwoord. (2)
13.10 Verduidelik Blanchie se optrede/houding in reël 21 en motiveer die
geregverdigheid daarvan. (2)
13.11 Verklaar die rol van die verteller in reël 23–24. (1)
13.12 Lewer kritiese kommentaar op Blanchie se bekentenis in reël 26 deur te
noem wat met hulle albei gebeur het. Dink jy dit wat met hulle gebeur het,
is genoeg rede om te sê hulle albei is sleg? Motiveer jou antwoord. (3)
[25]
OF
VRAAG 14: OPSTELVRAAG
MIS – Reza de Wet
Transformasie laat die leser/kyker toe om karakters se ware kleure te sien.
Bespreek hierdie stelling in ʼn opstel van 400-450 woorde deur die transformasie
wat in Konstabel, Gertie en Meisie plaasgevind het, te beskryf en te verduidelik
watter dieperliggende bydrae hierdie transformasie tot die intrige van die drama
lewer. [25]
OF
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
24 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2016)
VRAAG 15: KONTEKSTUELE VRAAG
MIS – Reza de Wet
Lees die onderstaande uittreksels en beantwoord dan die vrae wat volg.
TEKS A
1 Die KONSTABEL staan op. MEISIE neem sy arm en lei
2 hom na die emmer. Sy sit sy hand op die handvatsel.
3 MIEM: Dit is gaaf van u, Konstabel.
4 MEISIE en die KONSTABEL beweeg met die slopemmer
5 na die agterdeur. Van die inhoud spat uit.
6 MIEM: Meisie, sê vir die konstabel van die drie trappe op na die
7 kleinhuisie.
8 MEISIE: Ja, Ma. (Maak die deur oop)
9 Die sirkusmusiek kan gehoor word. MEISIE en die
10 KONSTABEL na buite.
11 MIEM: (trap versigtig oor die spatsel, gaan staan by die deur en
12 kyk agterna) En moenie op die flappe trap nie. Hulle word
13 vanjaar so mooi. (Sag aan GERTIE) Die tweetjies kom
14 nogal goed klaar.
15 GERTIE gaan sit op die stoel langs die stoof.
16 MIEM: Dit is baie koud. Vannag kan dit nog ryp. (kort stilte) Die
17 aaklige musiek! As ek net dink ... (gril) glo towenaars en
18 halfkaal mense wat aan toue swaai.
19 GERTIE: En die spul was nog vanmôre deur die strate ook.
20 MIEM: En het jy gekyk?
21 GERTIE: Wat anders kon ek doen? En wou net die straat oorsteek
22 toe kom hulle verby.
23 MIEM: Dit was seker ʼn spektakel!
24 GERTIE: Daar was perde met pluime en vrouens met baie min klere
25 aan op die perde. Daar was narre wat hard op vals
26 trompette gespeel het en ʼn klein dwergie met ’n wit gesig
...
27 MIEM:
28 Hou tog op. Ek wil nie verder hoor nie. (Sy sug en skud
haar kop. Sy kyk weer uit. Stilte.)
29 GERTIE:
Waar bly hulle?
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
(EC/SEPTEMBER 2016) AFRIKAANS HUISTAAL V2 25
15.1 Gee ʼn rede vir Meisie se handeling in reël 1–2. (1)
15.2 Noem in hoe ʼn mate die slopemmer in die drama relevant is. (1)
15.3 Is Miem se woorde in reël 3 gepas? Motiveer jou antwoord. (2)
15.4 Herlees reël 6–7.
Gee redes hoekom Meisie nie in hierdie drama op haar doopnaam
aangespreek word nie. (2)
15.5 Noem kortliks die aanvanklike rol wat sirkusmusiek (reël 9) in die intrige
van die drama speel. Noem ook watter simboliese waarde die
sirkusmusiek aan die einde van die drama verkry. Motiveer waarom die
gebruik van dié soort musiek gepas is om by die fantasie-motief in hierdie
drama aan te sluit. (3)
15.6 Watter DRIE karaktertrekke van Miem kom in reël 12–14 na vore? Noem
ook die karaktertrek van Meisie wat in reël 8 duidelik blyk. (4)
15.7 Verklaar die betekenis van spektakel in reël 23. (1)
15.8 Haal ʼn woord tussen reël 24–28 aan wat met die konstabel verband hou. (1)
EN
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
26 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2016)
TEKS B
1 GERTIE: (maak keel skoon. Stilte.) Die kerkklokke het darem nog nie
2 gelui nie. Dit beteken dat daar niks gebeur het nie. Ek is seker
3 almal sal môre verlig wees as die onheil afgewend is. En dit
4 sou alles te wyte wees aan al die gewillige en dapper
5 geregsdienaars. (Giggellaggies) Soos u. (kort stilte) Wat van ʼn
6 koppie koffie, Konstabel?
7 KONSTABEL: Nee, baie dankie. Ek het heeltemal genoeg gehad.
8 GERTIE: Iets om te eet?
9 KONSTABEL: Nee, dankie, Juffrou.
10 Kort stilte.
11 GERTIE: Konstabel, ek wil graag iets vra. Ek hoop nie u gee om nie.
12 KONSTABEL: Vra maar gerus, Juffrou.
13 GERTIE: As dit te ... persoonlik is, sal ek heeltemal verstaan.
14 KONSTABEL: Wat is dit wat u wil weet?
15 GERTIE: Wel ... u het gesê alle dames lyk vir u dieselfde sedert u ...
16 ongeluk. Óf na u ma óf na u tante.
17 KONSTABEL: Tant Hannie.
18 GERTIE: Dis reg, ja. (Maak keel skoon) Nou wat ek graag wil weet, is ...
19 na wie ek lyk.
20 KONSTABEL: Tant Hannie. Sonder twyfel.
21 GERTIE: En hoe maak u nou weer u keuse? Ek bedoel tussen u
22 moeder en tant Hannie, as ek haar so mag noem?
23 KONSTABEL: Sekerlik, Juffrou. Dit is die stem. Dit hang alles van die stem
24 af.
25 GERTIE: Werklik? Hoe interessant. (kort stilte) Sal u my asseblief tog so
26 ietsie van hierdie tant Hannie vertel?
27 KONSTABEL: Sy was veral bekend vir haar hare. Lang, goue, golwende
28 hare.
29 GERTIE: (raak aan haar yl haartjies) Merkwaardig! Dit is presies hoe my
30 hare lyk!
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
(EC/SEPTEMBER 2016) AFRIKAANS HUISTAAL V2 27
15.9 Herlees reël 3.
Wat is die presiese datum waarop die gesprek in hierdie teks afspeel en
hoekom sal die mense moontlik die volgende dag verlig wees? (2)
15.10 Gee funksies van die toneelaanwysings in reël 5. (2)
15.11 Wie is Gertie? Noem ʼn karaktertrek van Gertie wat deur middel van die
dialoog in hierdie reëls na vore kom en sê hoe haar algehele optrede in
Teks B van haar optrede in Teks A verskil. (3)
15.12 Hoe manipuleer Konstabel vir Gertie in die gedeelte net na hierdie teks?
Gee TWEE redes hoekom hierdie manipulasie deur Konstabel binne
konteks van die drama onaanvaarbaar is. (3)
[25]
TOTAAL AFDELING C: 25
GROOTTOTAAL: 80
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Study this subject
Recommended for this subject

Memorandum
Afrikaans HL Grade 12 Paper 2 Eastern Cape Mock 2016 Memo

Question paper
Afrikaans HL Grade 12 P1 Eastern Cape Mock 2016 QP

Question paper
Afrikaans HL Grade 12 P3 Eastern Cape Mock 2016 QP

Question paper
Afrikaans HL Grade 12 P2 NSC November 2016 Question Paper

Question paper
Afrikaans HL Grade 12 P2 Eastern Cape Mock 2019 QP

Question paper
Afrikaans HL Grade 12 P2 Eastern Cape Mock 2018 QP
More from Grade 12 Afrikaans HL

Memorandum
Afrikaans HL Grade 12 Paper 1 Eastern Cape Mock 2025 Memo

Memorandum
Afrikaans HL Grade 12 Paper 1 Eastern Cape Prelim 2024 Memo

Memorandum
Afrikaans HL Grade 12 Paper 3 Eastern Cape Prelim 2024 Memo

Question paper
Afrikaans HL Grade 12 P3 Eastern Cape Prelim 2024 QP

Question paper
Afrikaans HL Grade 12 P1 November 2024 NSC Question Paper

Question paper