Vertroulik
SENIORSERTIFIKAAT-EKSAMEN/
NASIONALE SENIORSERTIFIKAAT-EKSAMEN
AFRIKAANS HUISTAAL V2
MEI/JUNIE 2024
PUNTE: 80
TYD: 2½ uur
Hierdie vraestel bestaan uit 29 bladsye.
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
You're offline
Skip to contentQuestion paper 

_watermark--eec489ed-a1ac-4f53-9aa0-65544d9ee23e/v1-6626f2dffb06bf128248/card.webp)









View all
Afrikaans HL P2 May June 2024
Afrikaans Hl · Grade 12 · NSC June Exam · 2024 · Afrikaans. Question paper, 29 pages. Read online or download the PDF.
- Subject
- Afrikaans Hl
- Grade
- Grade 12
- Language
- Afrikaans
- Document type
- Question paper
- Year
- 2024
- Exam period
- NSC June Exam
- Paper
- 2
- Pages
- 29
- File size
- 564.1 KB
Loading document…
Loading document…
1 of 29
Document textSearch extracted text and jump to a page.
Afrikaans Huistaal/V2 2 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
INSTRUKSIES EN INLIGTING
1. Lees die volgende instruksies noukeurig deur voordat jy die vraestel beantwoord.
2. Moenie probeer om die hele vraestel deur te lees nie. Raadpleeg die
inhoudsopgawe op bladsy 4 en merk die vraagnommers van die letterkundetekste
wat jy bestudeer het. Lees daarna die vrae oor die tekste wat jy gedoen het en
kies die soort vraag wat jy wil beantwoord.
3. Die vraestel bestaan uit DRIE afdelings:
AFDELING A: Gedigte (30)
AFDELING B: Roman (25)
AFDELING C: Drama (25)
4. Beantwoord VYF vrae in totaal: DRIE in AFDELING A, EEN in AFDELING B en
EEN in AFDELING C.
AFDELING A: GEDIGTE
Gesiene gedigte – Beantwoord TWEE vrae.
Ongesiene gedig – Beantwoord die VERPLIGTE vraag.
AFDELING B: ROMAN
Beantwoord EEN vraag.
AFDELING C: DRAMA
Beantwoord EEN vraag.
5. KEUSE VAN VRAE BY AFDELING B (ROMAN) EN AFDELING C (DRAMA)
Beantwoord SLEGS die vrae oor die roman en drama wat jy bestudeer het.
Beantwoord EEN OPSTELVRAAG en EEN KONTEKSTUELE VRAAG. As jy
die opstelvraag in AFDELING B beantwoord, moet jy die kontekstuele vraag
in AFDELING C beantwoord. As jy die kontekstuele vraag in AFDELING B
beantwoord, moet jy die opstelvraag in AFDELING C beantwoord. Gebruik die
kontrolelys op bladsy 5 om jou te help.
6. LENGTE VAN ANTWOORDE
Die lengte van die opstel vir die gedig is 250 tot 300 woorde.
Die lengte van die opstel vir die roman en drama is 400 tot 450 woorde elk.
Die lengte van die antwoorde van die kontekstuele vrae word deur die
puntetoekenning van elke vraag bepaal. Beantwoord jou vrae bondig en
relevant.
7. Volg die opdragte aan die begin van elke afdeling noukeurig.
8. Nommer die antwoorde korrek volgens die nommeringstelsel wat in hierdie
vraestel gebruik is.
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 3 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
9. Beantwoord ELKE afdeling op 'n NUWE bladsy.
10. Voorgestelde tydsindeling:
AFDELING A: ongeveer 40 minute
AFDELING B: ongeveer 55 minute
AFDELING C: ongeveer 55 minute
11. Skryf netjies en leesbaar.
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 4 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
INHOUDSOPGAWE
AFDELING A: GEDIGTE
Voorgeskrewe gedigte: Beantwoord ENIGE TWEE vrae.
VRAAGNOMMER VRAAG PUNTE BLADSY
1. "Maaltyd" Opstelvraag 10 6
2. "Briefie aan Madiba" Kontekstuele vraag 10 7
3. "Tsunami" Kontekstuele vraag 10 9
4. "dienaar van die nagereg" Kontekstuele vraag 10 10
EN
Ongesiene gedig: Verpligtend
5. "Middestedeling" Kontekstuele vraag 10 11
AFDELING B: ROMAN
Beantwoord EEN vraag.*
6. Onderwêreld Opstelvraag 25 12
7. Onderwêreld Kontekstuele vraag 25 12
8. Manaka Plek van die Horings Opstelvraag 25 15
9. Manaka Plek van die Horings Kontekstuele vraag 25 15
10. Vatmaar Opstelvraag 25 18
11. Vatmaar Kontekstuele vraag 25 18
12. Die kwart-voor-sewe-lelie Opstelvraag 25 21
13. Die kwart-voor-sewe-lelie Kontekstuele vraag 25 21
AFDELING C: DRAMA
Beantwoord EEN vraag.*
14. Krismis van Map Jacobs Opstelvraag 25 24
15. Krismis van Map Jacobs Kontekstuele vraag 25 24
16. Mis Opstelvraag 25 27
17. Mis Kontekstuele vraag 25 27 2024
*LET WEL: Beantwoord EEN OPSTELVRAAG en EEN KONTEKSTUELE VRAAG
in AFDELING B en AFDELING C onderskeidelik.
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 5 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
KONTROLELYS
Gebruik die kontrolelys hieronder om te kontroleer of jy die korrekte getal vrae
beantwoord het.
AFDELING VRAAG- GETAL VRAE MERK
NOMMER BEANTWOORD ()
A: Gedigte 1–4 2
(Voorgeskrewe gedigte)
A: Gedigte 5 1
(Ongesiene gedig)
B: Roman 6–13 1
(Opstel of kontekstueel)
C: Drama 14–17 1
(Opstel of kontekstueel)
LET WEL: Beantwoord EEN OPSTELVRAAG en EEN KONTEKSTUELE VRAAG in
AFDELING B en AFDELING C onderskeidelik.
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 6 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
AFDELING A: GEDIGTE
VOORGESKREWE GEDIGTE
Beantwoord ENIGE TWEE vrae.
VRAAG 1: OPSTELVRAAG
Lees die gedig hieronder en beantwoord die vraag wat volg.
Maaltyd – PJ Philander
1 Ou moeder met haar hoepelrokkie
2 en stywe kappie, staan hande gevou
3 in die vorm van 'n koperklokkie
4 vir smôrens, smiddags en vir nou.
5 Die blou bord en die skoon servet,
6 die helder bril, die Bybel oop,
7 en teen die hoë muur haar groot portret
8 hou my aan haar steeds vasgeknoop.
9 En op die gladde, blink buffet,
10 glimmend in die skerp lig van die lamp,
11 skyn sy nou in die seëngebed,
12 leef sy nou in die wasige damp.
13 Sy was eers goud, heel later silwer,
14 nou's sy koper waar sy staan,
15 maar met elke lui dan skilfer
16 af ... die grasgroenspaan.
[Bron: Uurglas,1955]
In die gedig dra die titel, beeldspraak en stylfigure effektief daartoe by om herinneringe
aan die oorlede moeder te laat voortleef.
Bespreek hierdie stelling in 'n opstel van 250 tot 300 woorde. [10]
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 7 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
VRAAG 2: KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die gedig hieronder en beantwoord die vrae wat volg.
Briefie aan Madiba – Sandra O'Kelly
1 Liewe Madiba, ek skryf dié vir jou.
2 Ek weet jy kry briefies soos my een aan jou.
3 Ons het nooit ontmoet nie, maar voordat jy groet.
4 Wil ek jou iets vra, dis iets wat ek moet.
5 Gee my jou boeie, ek wil dit dra.
6 Die merke op jou hande, jou vrese jou vrae.
7 Ek sal dit oppas, dit altyd bewaar.
8 Eendag met liefde aan my kinders oordra.
9 Liewe Madiba, jy sal van my hou.
10 Ek's lief vir my land en sy mense en sou
11 so graag wil kom kuier en net met jou praat.
12 Oor ditjies en datjies en goed uit my hart.
13 Gee my jou drome, ek wil dit sien.
14 Die prys so betaal om ander te dien.
15 Ek sal dit koester die wêreld sal weet.
16 Jou voorbeeld en liefde sal ons nooit vergeet.
17 Gee my jou ambag, ek wil dit leer.
18 Hoe 'n leier en koning sy mense kan eer.
19 Ek sal dit beoefen, ek sal dit ken.
20 Dis teerheid en liefde wat ander kan wen.
21 Gee my jou drome, ek wil dit sien.
22 Die prys so betaal om ander te dien.
23 Ek sal dit koester, die wêreld sal weet.
24 Jou voorbeeld en liefde sal ons nooit vergeet.
25 Liewe Madiba, ek skryf dié vir jou.
26 Ek weet daar's baie briefies soos my een aan jou.
27 Ons het nooit ontmoet nie, maar voordat jy groet.
28 Wil ek jou iets vra, dis iets wat ek moet.
[Bron: Verse in my inboks, 2017]
2.1 Wat word 'n strofe met vier versreëls genoem? (1)
2.2 Waarom is die aanspreekvorm in hierdie brief ongewoon? (1)
2.3 Waarop dui die woorde "die merke op jou hande" in versreël 6? (1)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 8 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
2.4 Verwys na versreëls 9 tot 16.
2.4.1 Benoem die halfrym in versreël 12. (1)
2.4.2 In watter opsig is daar 'n ooreenkoms EN 'n verskil tussen die
spreker en Madiba? (2)
2.5 Haal 'n versreël uit versreëls 17 tot 20 aan wat bewys dat die president
nederig was. (1)
2.6 Benoem die rymsoort in versreëls 21 tot 24. Evalueer die geslaagdheid van
hierdie rymsoort. Motiveer jou antwoord. (2)
2.7 Dink jy die eufemisme in versreël 27 word effektief gebruik? Motiveer jou
antwoord. (1)
[10]
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 9 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
VRAAG 3: KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die gedig hieronder en beantwoord die vrae wat volg.
Tsunami – Kobus de Wet
11 Maart 2011
1 toe die aarde se kors in twee skeur
2 het eoniese kragte die oseaan gelig
3 en woedend maar dodelik sekuur
4 het die watermonster met volle mag
5 op weerlose wesens afgestuur …
6 vergeefs is vervaard geskarrel
7 om voor die sissende serpent
8 van verwoesting te ontkom
9 want duisendtalle het soos oggendmis
10 in hul geliefde nippon
11 onder die water en puin
12 verdwyn
13 weke lank het die monster se ingewande
14 nog van oordadigheid gerammel
15 toe traag maar tevrede
16 na die dieptes teruggetrek
[Bron: Verse in my inboks, 2017]
3.1 Waarna verwys die subtitel EN wat is die funksie daarvan? (2)
3.2 Waarom is die gebruik van die woord "skeur" (versreël 1) geslaagd binne die
konteks van die gedig? Skryf EEN woord uit versreël 3 neer wat hierdie
gedagte versterk. (2)
3.3 Skryf TWEE opeenvolgende woorde uit versreël 4 en 5 neer wat 'n kontras
met "watermonster" vorm EN dui aan met watter halfrym dié woorde
beklemtoon word. (2)
3.4 Wat is die funksie van die beletselteken/ellips in versreël 5? (1)
3.5 Die tipografiese inkeping in versreël 12 is effektief.
Stem jy saam met hierdie stelling? Motiveer jou antwoord deur na die inhoud
van versreëls 8 tot 12 te verwys. (1)
3.6 Die aanvangswoord van versreël 1 en versreël 15 is "toe". Verduidelik die
progressie in hierdie herhaling. (1)
3.7 Verklaar die afwesigheid van hoofletters binne die konteks van die gedig. (1)
[10]
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 10 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
VRAAG 4: KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die gedig hieronder en beantwoord die vrae wat volg.
dienaar van die nagereg – Patrick Petersen
1 wanneer ek, pie djy pie, dink aan u pa-pappa-pappie
2 sien ek
3 u langarm in 'n jas reënerige kakie op 'n groen raleigh
4 vir presies wees; 'n teen-koue-kakiekombers dik om u
5 lyf gespan; wasem wat soos spookasem uit u mond hang;
6 op kantoor besig met die administrasie
7 van wit mag; en buite brand die blou lig blouer teen
8 die totale aanslag van links en swartwees; tussen twee tot tien
9 elf tot sewe vyf tot een en tien tot ses.
10 wanneer ek aan u werk dink pappa-piet
11 sien ek
12 'n hart wat vuiste maak; haat wat opgroei en 'n
13 grootman raak; die maan wat snags u beatstap
14 tel; die wind altyd weer die wind op wolseley
15 wat die dood in sy knope opgaar; blink geelkoperknope –
16 waarin die volksnag lawenis soek; lexingtons
17 en way side twak; die apostoliese hawe – 'n kloekbaai
18 wat haar skuitjies bymekaar hou.
19 en eenkant langs die tafel voor die stoof sit slaap
20 my skaduwee en ek. wag vir die kedoes medi
21 husse met lang-lang ore. wag vir tjoklit en humbugs.
22 wag vir die dienaar van die nagereg. wag vir één dag.
[Bron: amandla ngawethu, 1985]
4.1 Wie is die spreker in die gedig? (1)
4.2 Watter stylfiguur kom in "u langarm in 'n jas" (versreël 3) voor? Verduidelik die
figuurlike betekenis van "langarm". (2)
4.3 Benoem die beeldspraak in versreël 5 EN sê wat die spreker met dié beeld
bedoel. (2)
4.4 In watter opsig kan die pa se werk (versreëls 6 tot 8) as ironies beskou word? (1)
4.5 Wat, dink jy, is die oorsaak van die "haat wat opgroei" (versreël 12)? (1)
4.6 Evalueer die gebruik van die tipografiese wit wat in versreëls 20 tot 22
voorkom. Motiveer jou antwoord. (1)
4.7 Dui die funksie van die herhaling in versreëls 20 tot 22 aan EN verduidelik
waarna "één dag" verwys. (2)
[10]
EN
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 11 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
VRAAG 5: KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die gedig hieronder en beantwoord die vrae wat volg.
Middestedeling – Adriaan Coetser
1 Sondag word stadig wakker en
2 begin vroeg baai in die nawinterson.
3 Skielik skel 'n alarm fel
4 met verkeerslui wat snel na punt L.
5 Winkeldeure open en verkondig
6 vandag se afslagpryse op karton.
7 Nagklubs vee die vorige aand se rinkink
8 op die sypaadjie uit:
9 vol van buite – van binne leeg.
10 Ek soek af in Sewende Laan en hoor luid
11 hoe vermoeide selfone sms'e wyd en syd verkondig;
12 kruis die park waar Saterdag se baie liters vuil
13 die groen verskuil.
14 Moeë verkeersligte staar vir my aandag.
15 Ek voel die stad begin beweeg.
16 Net: op die hoek van Smal- en Breëweg
17 staan die ou kerkgebou
18 (dood-)stil.
[Bron: Ongepubliseerd]
5.1 Noem EEN tegniek wat in versreël 1 en 2 gebruik word om te benadruk dat
die stad "stadig" wakker word. (1)
5.2 Watter woord in die gedig dui die tyd van die jaar waarin die gebeure
plaasvind, aan? (1)
5.3 Versreël 1 en 2 vorm 'n kontras met versreël 3 en 4.
Stem jy saam? Motiveer jou antwoord. (1)
5.4 Verduidelik die letterlike EN die figuurlike betekenis van versreël 9. (2)
5.5 Verwys na versreël 12 en 13.
Lewer kommentaar op die gebruik van "liters" binne teksverband. (1)
5.6 Benoem die beeldspraak in versreël 14 EN verduidelik waarom hierdie
beeldspraak geslaagd is. (2)
5.7 Hoe sluit die verwysing dat die kerkgebou "op die hoek van Smal- en
Breëweg" geleë is by die boodskap van die gedig aan? (1)
5.8 Wat bedoel die spreker met die slotreël van die gedig? (1)
[10]
TOTAAL AFDELING A: 30
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 12 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
AFDELING B: ROMAN
Beantwoord in hierdie afdeling SLEGS EEN vraag oor die roman wat jy bestudeer het.
ONDERWÊRELD – Fanie Viljoen
Beantwoord ÓF VRAAG 6 (opstelvraag) ÓF VRAAG 7 (kontekstuele vraag).
VRAAG 6: ONDERWÊRELD – OPSTELVRAAG
In Greg Owen se matriekjaar veroorsaak sy pa en Eckardt spanning by hom.
Bespreek hierdie stelling in 'n opstel van 400 tot 450 woorde. [25]
VRAAG 7: ONDERWÊRELD – KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die uittreksels hieronder aandagtig deur en beantwoord die vrae wat volg.
TEKS A
As dit nie was dat my pa my so gedruk het nie, het ek ook nie 'n duiwel omgegee vir
skoolwerk nie. Maar ek doen dit om hom van my rug af te hou. Nee, seker nie net
daaroor nie. Ek doen dit omdat – ag, los dit liewer.
Eckardt is anders. Hy lees omdat hy wil. Hóéveel boeke al hierdie paar maande dat
ek hom ken. Die boeke staan netjies gerangskik op sy boekrak. Dalk alfabeties ook, as 5
jy nader gaan kyk.
Skielik vang my oog een van die boeke: Depression.
Nou vir wat sal hy só iets wil lees? Het hy 'n probleem? Ek probeer terugdink aan
die baie kere dat ons saam was. Die onderwerp het nooit opgekom nie. Oukei, hy is
nie juis 'n party animal nie. Altyd stil, op sy plek, half eenkant. Maar genoeg deel van 10
die groep om nie soos 'n seer vinger uit te staan nie. Dis seker wat jy moet doen as jou
ouers jou in jou finale skooljaar in 'n nuwe skool kom smyt. Die laaste ding wat jy wil
doen, is uitstaan, anders wees. Dit kan nag word vir jou.
Skielik oorval 'n skuldgevoel my. Ek was amper die ou wat dinge swaar gemaak
het vir hom. Bloot omdat hy nuut was hier by Lawson. 15
Maar dit het verander. Ek het gesien hy is eintlik 'n cool ou. Of liewer, dit was
meer as dit. Ek het iets anders in hom gesien.
7.1 Waar bevind Greg hom EN wat probeer hy spesifiek dáár doen? (2)
7.2 "Ek doen dit omdat – ag, los dit liewer." (Reël 3)
7.2.1 Dink jy Greg se pa het op hierdie tydstip rede om Greg te druk om
harder te werk? Motiveer jou antwoord. (1)
7.2.2 Greg wil die werklike rede waarom hy sy skoolwerk doen, nie
hardop sê nie. Wat is hierdie rede? (1)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 13 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
7.3 Die optrede van Greg se ma en pa teenoor hom ten opsigte van sy akademie
verskil.
7.3.1 Hoe verskil hulle optredes? (1)
7.3.2 Watter verskillende verwagtinge het hulle onderskeidelik van
Greg? (2)
7.4 Hoe het dit gebeur dat Greg en Eckardt ontmoet het? (1)
7.5 Watter positiewe EN negatiewe rol het Eckardt se omvattende boekekennis
in Greg se lewe gespeel? (2)
7.6 Haal 'n frase uit TEKS A aan wat daarop dui dat Eckardt 'n buitestander is. (1)
7.7 Verwys na reël 14 en 15.
Wat was die rede waarom Greg die lewe vir Eckardt moeilik wou maak EN
hoe het hy dit probeer doen? Noem EEN rede waarom Greg nie met sy
planne voortgegaan het nie. (3)
EN
TEKS B
'n Sukses? Is dit nog enigsins moontlik? Kan ek weer in die mindset kom waarmee ek
die jaar begin het? Ek weet nie hoekom nie, maar selfs al voel ek en my pa soos
vreemdelinge vir mekaar, is daar iets in my wat nog smeek vir my pa se aanvaarding.
Iets wat hom nog tevrede wil stel. Maar dan is daar ook die ander deel van my wat
wonder of enigiets wat ek doen, goed genoeg gaan wees vir hom. Sal daar ná alles 5
nog meer verwagtinge wees waaraan ek nie sal kan voldoen nie?
Moet ek sy liefde en aanvaarding koop met my prestasies?
Sal ek John se skoene kan vol staan?
Die besluit is 'n tawwe een, maar dit is een waarby ek gaan hou. Ek gaan weer
probeer. 'n Nuwe begin maak. Vir John. Vir my ma. En, ja, ook vir my pa. 10
Hierdie tyd van die oggend is al Clarens se galerye en ander winkels nog toe. Net
by die gastehuise is daar lewe. Motors staan in die strate. Sommige van die bome wat
in die somer so groen staan en skaduwees gooi, is nou kaal, maar Clarens het
'n sjarme wat min klein dorpies het. Dis 'n plek wat 'n mens tevrede laat voel met
jouself. En dis seker waarna almal van ons soek, uiteindelik. 15
Ek staan voor die Addy Hoyle Fine Art galery en kyk na binne deur die
blokkiesvensters.
Die stem kom onverwags: "Terwyl Zeus, die heerser van Olimpus, slapend gevou
lê in Hipnos se vlerke, strand sy seun, Herakles, se skip vandag weer op Kos."
7.8 Waarom bevind Greg hom in Clarens? (1)
7.9 Noem die soort verteller wat in reëls 1 tot 8 voorkom. Lewer kommentaar op
die effektiwiteit van hierdie tipe verteller in hierdie reëls, asook op die
retoriese middel wat die verteller in hierdie reëls gebruik. (3)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 14 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
7.10 Greg voel hy en sy pa is vreemdelinge vir mekaar. Waarom is dit ironies as jy
sy pa se beroep in ag neem? (1)
7.11 In watter opsig toon Greg se besluit in reël 9 en 10 groei in sy karakter? (1)
7.12 Dink jy Greg sal by sy "tawwe" besluit kan hou? Motiveer jou antwoord met
TWEE redes. (2)
7.13 Verwys na reëls 14 tot 17 van TEKS A en reël 18 en 19 van TEKS B.
7.13.1 Wanneer het Eckardt gewoonlik die woorde van TEKS B gebruik
EN waarom gebruik hy dit hier? (2)
7.13.2 In watter opsig verander die gevoel wat Greg in TEKS A teenoor
Eckardt openbaar ná hulle ontmoeting in TEKS B? (1)
[25]
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 15 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
MANAKA PLEK VAN DIE HORINGS – Pieter Pieterse
Beantwoord ÓF VRAAG 8 (opstelvraag) ÓF VRAAG 9 (kontekstuele vraag).
VRAAG 8: MANAKA PLEK VAN DIE HORINGS – OPSTELVRAAG
Kultuurverskille skep spanning by Baas en Griesel onderskeidelik.
Bespreek hierdie stelling in 'n opstel van 400 tot 450 woorde. [25]
VRAAG 9: MANAKA PLEK VAN DIE HORINGS – KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die uittreksels hieronder aandagtig deur en beantwoord die vrae wat volg.
TEKS C
Hulle is op pad van Ngweze af terug na Manaka toe. Griesel is nie by hulle nie. Hy het
siek geword, sê Nanna. Hy is in die hospitaal. Dit is malaria. Hy is baie moedeloos.
Sy het oom Scholtzie gebel om vir hom te sê. Hy sê hy kom so gou moontlik. Daar is
ook goed wat hy vir hulle moet bring.
Ouma Essie klim nie uit die Datsun om hulle te groet nie. Sy voel nie lekker nie. 5
"Dit is my kop," sê sy.
Grace sê nie vir hulle die dekgras en die hoop balke en al Nanna-hulle se besittings
het uitgebrand nie. Sy sê net die boot is weg.
Ouma Essie kyk na Baas. Haar oë huil. Sy gee vir hom 'n brief wat in Mubuyu se
possak was. Hy gaan eenkant toe om dit te lees. Dit is van Baas Dennis, sy neef in die 10
Houtboschberg. Die reisagente is mal oor die idee van 'n toerboot op die Zambezi,
skryf hy. Hulle beplan wêreldwye bemarking. Wanneer kom jy dan weer 'n skoot kuier?
sluit neef Baas die brief af.
Baas loop teen die rant uit en gaan sit op 'n klip.
"Ons moenie dat Nanna en my ouma alleen op Manaka aankom nie," sê Grace 15
langs hom.
Hy antwoord nie.
"Ek kan saam met hulle ry as jy en meneer Johnnie eers verder wil soek na die
boot. Ek moet by my ouma wees wanneer sy sien wat daar by die kerk gebeur het."
9.1 Waarom het Nanna en Griesel du Pisani na Manaka gekom? (1)
9.2 Verwys na reël 7 en 8.
9.2.1 Waarom, dink jy, sou hierdie nuus vir ouma Essie, meer as enige
ander karakter, ontstel? (1)
9.2.2 Baas se boot wat wegspoel, is vir hom 'n groot verlies.
Watter moontlike lewensles kan Baas as hoofkarakter uit hierdie
ontstellende gebeurtenis leer? (1)
9.2.3 Kan jy met Baas se verlies simpatiseer? Motiveer jou antwoord. (1)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 16 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
9.3 "Ouma Essie kyk na Baas. Haar oë huil." (Reël 9)
9.3.1 Behalwe vir ouma Essie, watter ander karakter huil ook oor Baas? (1)
9.3.2 Verduidelik waarom ouma Essie hartseer is wanneer sy die brief
aan Baas oorhandig. (1)
9.4 "Ek moet by my ouma wees wanneer sy sien wat daar by die kerk gebeur
het." (Reël 19)
9.4.1 Wie is verantwoordelik vir die brandstigting op Manaka? (1)
9.4.2 Uit watter gebeurtenis kan ons aflei dat hierdie karakter aan sy
einde gekom het? (1)
9.4.3 Ouma Essie en die brandstigter beeld onderskeidelik die stryd
tussen goed en kwaad uit.
Verduidelik hierdie stelling met toepaslike bewyse. (2)
EN
TEKS D
Waar hy Briekwa begrawe het, gaan sit hy op die skuins stam van die kameeldoring.
Die klanke van Nanna se kitaar dryf na hom toe aan. Wie weet of jy nie met die oog op
'n tyd soos hierdie Manaka toe gestuur is nie? het ouma Essie gesê.
Is dit dalk ook hoe die familiekwaal werk waarvan Whitey gepraat het? En hoe 'n
kampvuur in die nag werk, bo, langs die Zambezi op die Angolagrens waar Manuel 5
met 'n bekertjie droë boontjies sit en wag vir Iemand om sy siek kind gesond te maak?
Baas was en gaan terug om vuur te maak.
Hulle eet toebroodjies en drink die wyn wat Nanna saamgebring het. Sy gaan
rondawel toe. Hy bly by die vuur. Later gaan lê hy op sy slaapsak by die vleisboom.
Die honde krul hulle op. Hy slaap nie. 10
Laatnag kom Nanna na hom toe. In die maanlig sien hy sy het 'n kartondoos onder
haar arm.
"Ek het vir jou 'n geskenk gebring." Sy hou die present met al twee hande na hom
toe uit.
Baas sit regop en maak dit oop. Dit is 'n vleismeul met 'n worsstopper daarby. 15
"Gee jy om dat ek by jou kom lê?" vra sy. "Net 'n rukkie."
"Dankie vir die geskenk," sê Baas. Hy laat haar teen sy bors huil. Haar hand is in sy
baard.
"Vroeër het dit vir my gevoel of jy my broer kon gewees het. Maar ek het na jou
verlang verlede nag daar in Ngweze. Dit was nie soos verlang na 'n broer nie." 20
9.5 Verwys na reël 1 en 2.
9.5.1 Wat het Briekwa se dood veroorsaak? (1)
9.5.2 Dink jy dat die honde ook as "karakters" in hierdie verhaal beskou
kan word? Motiveer jou antwoord. (1)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 17 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
9.6 In reël 2 en 3 herhaal Baas ouma Essie se woorde van vroeër.
Hoe sluit hierdie woorde by die tema van godsdienstigheid aan? (1)
9.7 "Nanna se kitaar dryf na hom toe aan." (Reël 2)
9.7.1 Watter stemming skep die verwysing na die kitaarklanke? (1)
9.7.2 Hoe sluit die keuses van liedjies by die twyfel wat Baas in sy
godsdiens ervaar, aan? (1)
9.7.3 Aanvanklik is dit slegs Nanna wat die liedjies sing. Watter ander
karakter sou later hierdie rol by Nanna oorneem? (1)
9.7.4 Watter herinneringe word telkens met die sing van liedjies deur die
verloop van die verhaal, opgeroep? (1)
9.8 Ouma Essie het geglo dat Baas na Manaka gestuur is om die mense te help.
Noem enige TWEE geleenthede waartydens Baas hulpvaardig optree. (2)
9.9 Verduidelik die verband tussen Baas se hulpvaardigheid en Whitey se woorde
in reël 4. (1)
9.10 "Gee jy om dat ek by jou kom lê?" (Reël 16)
9.10.1 Waarom kan Nanna se optrede hier as ironies beskou word? (1)
9.10.2 Dink jy mense kan Nanna daarvan beskuldig dat sy nie eg in haar
godsdiens is nie op grond van hierdie toenadering in reël 17?
Motiveer jou antwoord. (1)
9.11 Nanna en Griesel leef hulle "roeping" op Manaka verskillend uit. Noem TWEE
verskille. (2)
9.12 Lees weer reël 14 in TEKS C en reëls 1 tot 4 in TEKS D.
Baas se gemoed verskil in TEKS D van dié in TEKS C.
Stem jy saam met hierdie stelling? Verduidelik jou antwoord. (1)
[25]
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 18 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
VATMAAR – AHM Scholtz
Beantwoord ÓF VRAAG 10 (opstelvraag) ÓF VRAAG 11 (kontekstuele vraag).
VRAAG 10: VATMAAR – OPSTELVRAAG
Sowel Oom Chai as Tant Wonnie laat hulle nie deur spanningsvolle gebeurtenisse
onderkry nie.
Bespreek hierdie stelling in 'n opstel van 400 tot 450 woorde. [25]
VRAAG 11: VATMAAR – KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die uittreksels hieronder aandagtig deur en beantwoord die vrae wat volg.
TEKS E
Suzan kon nie glo wat sy sien nie. Dit het gelyk of sy haar suster aan iemand
anders afgegee het. Sy kon die twee se gejaagde asems hoor soos hulle na lug soek
om die vlam van hulle liefde te voed. So saam het die twee die atmosfeer in die
vervalle stoorkamer heeltemal verander.
Suzan het weggekyk toe die jong man vir Kaaitjie soen en gewonder wat haar ma 5
sal sê.
Uiteindelik het hy oor Kaaitjie se skouer gekyk en gesê: Dié is seker Suzan.
Hulle het hulle arms laat sak en hy het haar sy hand gegee. Vat jou Ouboet se
hand, Suzan. Ek is mos die oudste, nè, Kaaitjie?
Ja, my liefling, het sy gesê en haar hand voor haar mond gesit asof sy die woorde 10
wou terugdruk.
Ek het vir ons 'n bottel gemmerbier en 'n vetkoek gebring. En 'n glas ook, want 'n
mens drink nie gemmerbier uit 'n beker nie.
Hy het die bottel oopgemaak en daarvan in die glas gegooi. Hy het dit vir Suzan
gegee en gesê: Gaste eerste, my skoonsuster. 15
Toe gaan hy tussen die twee meisies sit en sê: Woe, maar ek is moeg. Hoe voel
julle twee?
Hulle het altwee 'n kort laggie gegee.
Nou sê vir my wat laat jou hier uitslaan, Suzan?
Toe vertel Kaaitjie die storie oor wat haar suster haar vertel het, sonder om woorde 20
weg te vat of by te sit.
Ek kan dit nie glo nie, ek kan dit nie glo nie, het hy aanmekaar gesê.
11.1 Wat is die jong man in TEKS E se beroep? (1)
11.2 Verwys na reëls 1 tot 4.
Dink jy Suzan se reaksie oor die gebeure wat voor haar afgespeel het, is
geregverdig? Motiveer jou antwoord met TWEE redes. (2)
11.3 Is dit funksioneel dat daar in reël 5 slegs na "die jong man" verwys word?
Motiveer jou antwoord met EEN rede. (1)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 19 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
11.4 Wat kan ons aflei uit die feit dat die jong man Suzan se naam ken, al het hy
haar nog nie ontmoet nie? (1)
11.5 Suzan het uitstaande eienskappe gehad wat sy tot voordeel van haar eie
asook haar ma se lewensomstandighede kon gebruik.
Noem DRIE eienskappe van Suzan wat hierdie stelling motiveer. (3)
11.6 Sou 'n mens uit reël 10 en 11 kon aflei dat Kaaitjie haar skaam vir die jong
man wat by haar is EN watter ooreenstemmende karaktereienskap vind ons
by die drie jong mense? (2)
11.7 Verwys na reëls 12 tot 17.
11.7.1 Die jong man skink die gemmerbier in 'n glas. Wat word hiermee
geïmpliseer? (1)
11.7.2 Op watter manier is die jong man se handeling in reël 16 'n
vooruitwysing na die afloop van die roman? Motiveer jou antwoord. (1)
11.8 Wat is die storie wat Suzan aan Kaaitjie vertel het EN wat, dink jy, was vir
Suzan die ontstellendste deel van die storie? Waarom reageer die jong man
in reël 22 deur die woorde "Ek kan dit nie glo nie, ek kan dit nie glo nie," te
herhaal? (3)
EN
TEKS F
Ja, Mineer, my Ma-Ma sê ons moet dankbaar wees vir die bietjie want as die baie
eendag kom, sal ons weet om dit te waardeer.
Ek wil graag vir jou kom kuier. Ek belowe jou, Kaaitjie, ek sal my gedra.
Ek moet eers my miesies vra, het sy gesê. Maar by haarself het sy gedink dit sal
wel goed wees want sy het die miesies eenkeer hoor sê: Ek hoop sy kry gou 'n vryer 5
sodat hy (sy het haar man bedoel) sy oë van haar kan afhou. Sy wat Kaaitjie is het nie
daaroor gelag nie en met trane wat in haar oë gebrand het gewonder: Wat dink hulle
dan van my?
Ek sal myself ook gedra, Mineer, het sy geantwoord.
Dit was toe dat Mevrou Bosman by die kombuisdeur uitgekom en geskree het: 10
Bring die kinders en kom was hulle!
Vra haar sommer nou! het Kenneth gesê.
Dit was vir hom soos 'n ewigheid voor sy by die agterdeur uitgekom, haar hande in
die lug gegooi en geroep het: Ja! Toe is sy weer binnetoe.
Na nog 'n ewigheid het sy weer uitgekom. Hy het vir homself gesê tot haar manier 15
van loop en die swaai van haar lyf is so natuurlik soos dié van 'n jong leeuwyfie.
Hulle het staan en praat, sy met haar een hand op sy bicycle se stuur terwyl sy lag
en hom reguit in die oë kyk. Sy het hom nog altyd Mineer genoem en na sy skoene en
klere gekyk en gepraat van Mineer se bicycle.
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 20 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
11.9 Wat is die "bietjie" waarna Kaaitjie in reël 1 verwys EN dink jy sy sal ooit die
kans hê om meer te kry? Motiveer jou antwoord met TWEE redes. (3)
11.10 Kenneth en Kaaitjie het uiteenlopende ervarings ten opsigte van hul
grootwordjare en beroepe.
Gee TWEE verskille in hul ervaring van hul grootwordjare en TWEE verskille
in ervaring van hul beroepe onderskeidelik. (4)
11.11 Verwys na reël 12 en 13 van TEKS E en reël 3 van TEKS F.
Watter DRIE morele waardes word deur Kenneth in hierdie reëls van die twee
tekste oorgedra? (3)
[25]
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 21 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
DIE KWART-VOOR-SEWE-LELIE – Eleanor Baker
Beantwoord ÓF VRAAG 12 (opstelvraag) ÓF VRAAG 13 (kontekstuele vraag).
VRAAG 12: DIE KWART-VOOR-SEWE-LELIE – OPSTELVRAAG
Iris het onrealistiese verwagtings van die Engel.
Bespreek in ʹn opstel van 400 tot 450 woorde hoe dié onrealistiese verwagtings tot
spanning in Iris se lewe lei. [25]
VRAAG 13: DIE KWART-VOOR-SEWE-LELIE – KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die uittreksels hieronder aandagtig deur en beantwoord die vrae wat volg.
TEKS G
"Ug," het Kara gesê. "Ek beter solank begin uitkyk vir 'n surrogaatma. Niemand
gaan dit ooit aan my doen nie!"
Ma het haar hand gelig. "Dit klink erger as wat dit is, darling. Ek is drie keer daar
deur en het dit oorleef."
"Ma was seker nie so gesteld op persoonlike waardigheid soos ek nie," het Kara 5
gesê. Die hoek van haar mond het stywe, afkeurende plooitjies gemaak.
"Laat ek verder vertel," het Elsa hulle vermaan. Sy het regop gesit teen
hooggestapelde kussings en haar rooi hare was blinker as ooit vantevore. Ek het
gewonder of dit met hormone te doen het en of sy bloot oordryf het toe sy die geboorte
self beskryf het. In bioskoopprente het die vrou altyd rondgekrul op die bed en haar 10
hare was 'n gemors; natgeswete stringe teen haar kopvel. Tensy 'n middernagtelike
haarkapper Elsa se kop gewas en gekam het, lieg iemand. Maar ek het nietemin 'n
aantekening gemaak van die glansende prag van haar hare sodat ek dit op Greta kon
toepas wanneer die regte oomblik aanbreek.
"Dis grusaam," het Kara gesê toe die vertelling eindelik verby was. "Ek verbaas my 15
dat jy jouself sover kon bring om daaroor te praat."
"Dit was die moeite werd," het Elsa gesê en afgekyk na die bondeltjie wat langs haar
in 'n bedjie op wiele gelê het. Hy was aan die slaap, maar vir my het hy kwaad gelyk,
asof hy sy tante Kara se opmerking onderskryf.
"Besef jy ons is nou tantes?" het ek vir Kara gevra. 20
13.1 Kara het opgesien teen haar swangerskap.
13.1.1 Watter loopbaan, wat aansluit by haar standpunt in reël 1 en 2, het
Kara aanvanklik in gedagte? (1)
13.1.2 Het Kara hierdie standpunt deur die loop van die roman
gehandhaaf? Verduidelik jou antwoord. (1)
13.2 In watter opsig word die Kara-karakter in die roman benut om die ironie in die
heersende politieke situasie van die roman uit te lig? (1)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 22 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
13.3 "Laat ek verder vertel," het Elsa hulle vermaan. (Reël 7)
13.3.1 Watter karaktertrek van Elsa kom hier na vore? (1)
13.3.2 Watter effek het hierdie karaktertrek op Iris? Watter feit oor Iris se
eie geboorte het dieselfde uitwerking op Iris? (2)
13.4 Verwys na reëls 10 tot 14.
13.4.1 Watter tipe verteller tree hier op EN watter voordeel hou dié tipe
verteller in hierdie reëls in? (2)
13.4.2 In die roman word stereotipes afgebreek. Verduidelik hoe reëls 10
tot 12 hierdie stelling ondersteun. Gee EEN ander voorbeeld waar
Elsa teen alle verwagting in optree. (2)
13.5 Waar pas Greta by die intrige in? Dink jy dat Greta se verhaal 'n invloed op
Iris se lewe gehad het? Motiveer jou antwoord. (2)
EN
TEKS H
Omdat Pa weg is met die gereedskap moes ons nuwes aanskaf en aan die begin het
dit baie gebeur dat ons 'n loodgieter of elektrisiën moes laat kom om ons hopelose
brousels te kom beredder. Maar mettertyd het ons geleer. Het ek geleer. Ma het nooit
verder gevorder as 'n belangstellende en onderskragende bystander nie. Sy het vir my
skroewe vasgehou, drade uit Polder se bek getrek en kommentaar gelewer oor die 5
mooi kleure wat die koperdraad bedek. Sy het veral gehou van die groen en geel
gestreepte een.
"Het Ma die Engel self gesien?" het ek aangedring.
"Nee, maar ek het geweet hy is by ons."
"Dan was julle seker baie gelukkig gewees? Hy moet 'n vreedsame aura versprei 10
het."
"Wat het van Peter geword?" het sy skielik gevra en die buis silikoongom na my
uitgehou sodat ek die lekkende rubberpyp kan smeer.
Ek wou nie oor Peter praat nie. "Vertel my meer van die Engel."
Maar sy het 'n ander rigting ingeslaan. "Dis deesdae net Frederik voor en Frederik 15
agter. Ek het van Peter gehou."
"Hy's nog in Amerika."
"Is hy nie al afgestudeer nie?"
"Ek weet nie." Ek het nog van tyd tot tyd poskaarte van Peter gekry, maar die soort
goed wat hy daarop geskryf het, was nie vertelbaar nie, om die waarheid te sê, ek het 20
my verwonder dat die poswese die kaarte deurgelaat het. Miskien was hy te kripties en
het net ek verstaan wat hy eintlik wou sê. In die laaste twee het hy weer begin
aandring dat ek moet kom kuier.
"Waarom gaan kuier jy nie vir hom nie?"
13.6 Waar is Iris se pa heen? (Reël 1) (1)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 23 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
13.7 Iris is hier besig om 'n wasmasjien vir haar ma te herstel.
By watter betekenis van haar naam sluit hierdie handeling aan? (1)
13.8 Verwys na reëls 8 tot 11.
13.8.1 Watter invloed het die ouma se vertelling oor die Engel aanvanklik
op Iris? (1)
13.8.2 As die Engel se betrokkenheid in Iris se lewe in gedagte gehou
word, is dit gepas as Iris hier sê dat die Engel " 'n vreedsame aura
versprei het"? Motiveer jou antwoord. (1)
13.9 In reël 15 kom Frederik ter sprake.
13.9.1 Waarom kan die ma se opmerking oor Frederik hier as ironies
beskou word? (1)
13.9.2 Frederik speel 'n rol in Iris se uiteindelike besluit om Amerika toe te
gaan. Stem jy saam? Motiveer jou antwoord. (1)
13.10 Noem TWEE gebeurtenisse in Amerika wat Iris laat dink dat sy haar blomtyd
kan beleef. Sou jy sê dat Iris se besoek aan Amerika 'n antiklimaks was?
Motiveer jou standpunt. (3)
13.11 Iris het haar ma se vraag in reël 24 later as "een van haar heldersiende
oomblikke" beskryf.
By watter organisasie, wat skakel met hierdie opmerking, het Iris se ma later
aangesluit? Wat was Peter se reaksie hierop? (2)
13.12 Herlees reëls 12 tot 14 van TEKS G en reëls 1 tot 3 van TEKS H.
Noem TWEE teenstrydige karaktereienskappe van Iris, soos onderskeidelik
blyk uit hierdie twee gedeeltes. (2)
[25]
TOTAAL AFDELING B: 25
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 24 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
AFDELING C: DRAMA
Beantwoord in hierdie afdeling SLEGS EEN vraag oor die drama wat jy bestudeer het.
KRISMIS VAN MAP JACOBS – Adam Small
Beantwoord ÓF VRAAG 14 (opstelvraag) ÓF VRAAG 15 (kontekstuele vraag).
VRAAG 14: KRISMIS VAN MAP JACOBS – OPSTELVRAAG
Bespreek in 'n opstel van 400 tot 450 woorde hoe die tema van bevryding op Map van
toepassing is. [25]
VRAAG 15: KRISMIS VAN MAP JACOBS – KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die uittreksels hieronder aandagtig deur en beantwoord die vrae wat volg.
TEKS I
MAP: Hy gee vir jou sy genade!
Stilte.
MAP: Maar dis wáár, Ma! Ma!
Sy knik.
MAP: Ek en die Apostel, ons bid saam hierso binnekant, hý het die Here vir my 5
gebring … Het Ma al vir Blanchie gesê van my, lat ek vir Ma gesê het ek het
die Here gekry, hierso … Ma moet tog vir haar sê. En sê oek vir haar dis
nou amper tyd lat ek ytkom, dis definitely die sewende van annermaand. En
vra vir haar, kan sy nie weer kom visit nie, sê vir haar sy moenie bang wies
nie, ek is 'n anner man, ôldou ek is of course oek nog Map Jacobs … sê vir 10
haar, Ma …
Stilte
Sal Ma vir haar sê?
Sy knik "ja", maar is die ene ontsteltenis.
MAP: Promise … 15
Sy knik.
MAP: Ek het nooit gewiet dit kan só wies nie. Die Here Jesus, Hy maak vir jou
werklik vry! Apostel George, hy't vir my gewys, die lig! Ma moet vir my glo,
lat ek 'n kind van die Here Jesus geword het hierso … Ek wiet hulle sê ons
ammal praat maar so ná so 'n lang tyd hierso binnekant, maar 'is nie waar 20
nie, Ma, 'is nie waar nie!
Geluide.
MAP: 'Is in die kombuis, die skottelgoed. Dis net om die hoek, in die gang af …
Stilte.
MAP: Ek sweer alles sal nou regkom, Ma … Hulle moet my net 'n kans gee daar 25
buitekant …
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 25 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
15.1 Vir wie vra Map net voor dié toneel om verskoning? (1)
15.2 Verwys na reël 5.
Vir watter TWEE uitkomste bid Map vir sy toekoms? (2)
15.3 Verwys na reël 8 en 9.
15.3.1 Na watter maand verwys "annermaand"? (1)
15.3.2 Hoe skakel jou antwoord op VRAAG 15.3.1 met die titel van die
drama? Noem TWEE verbande. (2)
15.4 Dink jy dit is geregverdig dat Map nie die volle duur van sy vonnis uitgedien
het nie? Motiveer jou antwoord met TWEE redes. (2)
15.5 Waarom is die neweteks in reël 14 effektief? Gee TWEE redes. (2)
15.6 Verwys na reël 25 en 26.
Hoekom is hierdie woorde van Map ironies? Noem DRIE werklikhede wat die
ironie bewys. (4)
EN
TEKS J
MIRIAM: Good Afternoon … ('n "Sing-song"-manier van praat.)
Afternoon, mister Paulsen … afternoon, mister Delcarme …
afternoon, mister Louw … afternoon, mister Arries …
afternoon, mister La Vita … afternoon, mister Oliphant …
afternoon … O, is 'it ammal? (Sy lag plesierig.) Ek kom om julle 5
measurements te niem, vir julle choir suits, vir Krismis …
ALMAL: (groet): Haai, Miriam! … Miriam …
BÊREND: Ons is 'n bánd, hoor, Miriam, nie 'n choir nie! 'Cause ons almal
sing vals! (Lag.)
MIRIAM: O… 10
FREDDY: Miriam, my meisie, ek hoor jy sê O-li-fant … (Knik Bêrend se
kant toe.) Maar dis g'n plain O-li-fant nie, jong, dis Oliphant, op
Ingils like …
BÊREND: Lyster jy nie na hom nie, Miriam!
Miriam lag skaam. 15
FREDDY: Speel maar, Bêrend … Gie weer die noot!
MIRIAM: Oompie Paulsen, Boeta Issie het gesê ek moet die band se
measurements kom vat, vir julle suits …
OOMPIE PAULSEN: 'Is so … Jy kan maar aangaan, Miriam … 'is al weer dié
tyd vannie jaar, ja, en hulle ken nog nie eers al die march'e nie! 20
Laat staan nog al die note!
DANNY: Die march'e! Hel, Oompie Paulsen, ons is mos nie in die army
nie!
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 26 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
BOYTJIE: Oompie klink kompleet of ons freedom fighters is, ek mien
terrorists! Die march'e! (Lag.) 25
OOMPIE PAULSEN: Nei, maar, Miriampie, is reg, vir die measurements ...
MIRIAM: Somaar hierso bytekant?
OOMPIE PAULSEN: 'Is so ... Lyster ammal, Miriam het gekom, Miriam van Boeta
Issie, om onse measurements te niem, vir onse klere ...
MIRIAM: Ek sil nie te lank wees nie ... 30
15.7 Wat is die naam van die Krismisorkes? (1)
15.8 Herlees reëls 5 tot 10.
Lewer kommentaar oor die gebruik van die verskeie beletseltekens. (2)
15.9 Verwys na reël 5 en reël 19.
Van watter belang is Oompie Paulsen se antwoord op Miriam se vraag vir die
verloop van die drama? (1)
15.10 Herlees reëls 17 tot 21.
Watter rol vertolk Oompie Paulsen in die Krismisorkes EN watter TWEE
karaktereienskappe kan uit sy optrede afgelei word? (3)
15.11 Watter sosiaal-politieke agtergrond word deur "freedom fighters" (reël 24)
opgeroep? Watter karakter probeer die townshipmense oortuig om polities
betrokke te raak? (2)
15.12 Verwys na reël 7 en 8 van TEKS I en reël 17 en 18 van TEKS J.
Noem die TWEE verskillende stemmings in die onderskeie tekste. (2)
[25]
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 27 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
MIS – Reza de Wet
Beantwoord ÓF VRAAG 16 (opstelvraag) ÓF VRAAG 17 (kontekstuele vraag).
VRAAG 16: MIS – OPSTELVRAAG
Bespreek in 'n opstel van 400 tot 450 woorde hoe die tema van bevryding op Miem en
Gertie onderskeidelik van toepassing is ná die koms van Konstabel. [25]
VRAAG 17: MIS – KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die uittreksels hieronder aandagtig deur en beantwoord die vrae wat volg.
TEKS K
Die KONSTABEL glimlag en haal sy skouers op.
GERTIE: Dan vry u maar so in die bondel?
KONSTABEL: Ja, Juffrou. 'n Mens sou seker so kan sê.
Stilte.
GERTIE: Dit lyk my u is maar versigtig. En dis goed so. 5
KONSTABEL: U weet mos wat hulle sê van trou?
GERTIE: (koketterige laggie) U bedoel van trou en perdekoop?
KONSTABEL: Juis.
MIEM: (in die gang) So ja, dit voel sommer beter.
GERTIE giggel. 10
MIEM: (in die deur) Gertie, en wat is so snaaks?
GERTIE: (skaam) Aag, dis sommer niks.
MEISIE gaan na die venster en loer uit.
KONSTABEL: Ons het gepraat oor hartsake. (Galant) Ek en die juffrou het gevind
ons is albei ewe versigtig ... en kieskeurig. 15
MIEM: Werklik? U bedoel ... u is ook nie getroud nie?
KONSTABEL: Nee, ek is nie.
MIEM: (nadenkend) Werklik? (Sien vir MEISIE by die venster) Kom weg daar
by die venster! (Vriendelik) Het u al iets te ete gehad, Konstabel?
KONSTABEL: Ja, dankie, Mevrou. Ek het. 20
MIEM: Dit is werklik jammer. Meisie kook die heerlikste kos, weet u? Sy
maak die beste bredie in die distrik en bak die ligste koeke. Om nie
eers te praat van lamsboud en terte nie. As u later honger word, sal
sy tog te gretig wees om vir u iets te maak. Niks is vir haar te veel
moeite nie, dit is mos so, nè, Meisie? 25
MEISIE: (onwillig) Ja, Ma.
KONSTABEL: Voel u darem beter, Mevrou?
MIEM: Ja, dankie. My borstrok was net 'n bietjie styf. Ek moet mooi kyk na
my sirkulasie. Dis nie aldag alte goed nie. Dis dié dat Meisie so baie
moet doen. 30
17.1 Waarom is Gertie en die Konstabel alleen in die kombuis? (1)
17.2 Verduidelik hoe die neweteks (reël 1) aansluit by Konstabel se manipulerende
aard. (1)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 28 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
17.3 Verwys na reël 7.
Wat, dink jy, wil Gertie bereik deur te verwys na trou en perdekoop? Het
Gertie se koketterige laggie uiteindelik in haar guns getel of nie? Motiveer jou
antwoord. (2)
17.4 Miem se nuuskierigheid blyk uit reël 11.
Noem nog DRIE ander geleenthede in die drama waartydens hierdie
karaktertrek van Miem na vore kom. (3)
17.5 Watter handeling in die teks ondersteun Meisie se ontevredenheid met haar
milieu? (1)
17.6 Wat wil Miem bereik deur Meisie in reëls 21 tot 25 op te hemel EN watter
persoonlike voordeel hoop sy om hieruit te trek? Haal 'n reël vroeër uit die
gesprek aan waar hierdie plan van Miem begin vorm aanneem. (3)
17.7 Hoe sluit Miem se woorde in reël 24 tot 25 by haar karakter aan EN dink jy
Miem het die reg om Meisie so te behandel? Motiveer jou antwoord. (2)
17.8 By watter tema van die drama sluit Meisie se onwilligheid in reël 26 aan? (1)
EN
TEKS L
KONSTABEL: Dit is juffrou Gertie.
MIEM: (snork) Dit is seker weer die vars lug en die oefening. Dit is regtig
onverstandig van haar. Op so 'n aand. Ek is darem seker Wagter sal
'n ogie oor haar hou. Ek het net die kombers gebring. As u so
'n bietjie wil skuins lê op die bank. Nou ja, goeienag, Konstabel. 5
En weer eens dankie.
KONSTABEL: Goeienag, Mevrou.
MIEM huil skielik en sak op 'n stoel by die tafel neer.
KONSTABEL: Wat makeer, Mevrou?
MIEM: Dit is so lank laas ... lank laas ... dat 'n man vir my goeienag gesê 10
het. (Huil) As ek hom net kon sien! Net een keer. Voor die dood ons
skei. (Kyk boontoe, sug sidderend) Sewe jaar! Ek kan dit skaars glo.
So gaan die tyd verby. (Vee haar oë af) Sien, dit is sy trots. Die
familieplaas vir soveel geslagte. En toe kom die Depressie en hy
verloor sy grond en elke vark, skaap en bees. Alles. Ons het net 15
genoeg gehad om hierdie lappie grond te koop. Hierdie pondokkie.
'n Paar dae na ons ingetrek het, was hy skielik skoonveld. Ons het
hoog en laag gesoek, maar eers dié aand wis ons (kyk op, huilstem)
dat hy daar bó is. Hy het die solderdeur agter hom toegesluit en al
het ons gesoebat en gesmeek ... hy het nog nooit weer sy 20
verskyning gemaak nie. (Sug diep en laat haar gesig in haar hande
sak. Na 'n stilte lig sy haar kop en kyk na die KONSTABEL)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Afrikaans Huistaal/V2 29 DBE/Mei/Junie 2024
SS/NSS Vertroulik
17.9 Waarom is dit gepas dat Miem na vars lug en oefening in reël 2 verwys
wanneer sy van Gertie praat EN op watter ingesteldheid teenoor Gertie dui
die neweteks? (2)
17.10 Verwys na reël 2 en 3.
17.10.1 "Dit is seker weer die vars lug en die oefening."
Waarom is hierdie woorde van Miem 'n voorbeeld van dramatiese
ironie? (1)
17.10.2 Gertie vlug na buite nét voor Miem by die kombuis instap.
Waarom beskou Miem hierdie optrede as "onverstandig"? (1)
17.11 Verwys na reëls 10 tot 22.
17.11.1 Dink jy 'n mens kan Miem bewonder vir haar lojaliteit teenoor
Gabriël? Motiveer jou antwoord. (1)
17.11.2 Watter rol vervul Konstabel hier? (1)
17.12 Verwys na reëls 13 tot 18.
17.12.1 Hoe word die leser se aanvanklike siening oor Miem in hierdie
gedeelte enersyds versterk EN andersyds verander? (2)
17.12.2 Verduidelik hoe Gabriël vanuit die solder beheer uitoefen. (1)
17.13 Verwys na reëls 1 tot 7 in TEKS K en reëls 10 tot 12 in TEKS L. Op watter
manier sluit die twee vroue se woorde onderskeidelik by die titel van die
drama aan? Motiveer jou antwoord. (2)
[25]
TOTAAL AFDELING C: 25
GROOTTOTAAL: 80
Kopiereg voorbehou
Recommended for this subject
Published documents with matching subject and grade metadata.

Question paper
AFRIKAANS HL P1 SEPT 2025 Vraestel Finaal

Question paper
AFRIKAANS HL P2 QP GR12 SEPT 2025
_watermark--eec489ed-a1ac-4f53-9aa0-65544d9ee23e/v1-6626f2dffb06bf128248/card.webp)
Question paper
AFRIKAANS HL P3 GR12 QP SEPT2025 (2)

Question paper
Afrikaans HL P1 Nov 2025

Question paper
AFRIKAANS HL P1 GR12 SEPT 2024 hlayiso.com

Question paper
AFRIKAANS HL P2 QP GR12 SEPT 2024 hlayiso.com
Related documents
Matched using subject, grade, language, document type and exam metadata.

Question paper
Afrikaans HL P2 Nov 2024 MG

Question paper
Afrikaans HL P2 May June 2022 hlayiso.com

Question paper
Afrikaans HL P2 May June 2022 MG hlayiso.com

Question paper
Afrikaans HL P2 May June 2021 hlayiso.com

Question paper
Afrikaans HL P2 May June 2018 hlayiso.com

Memorandum
Afrikaans HL P2 May June 2019 Memo hlayiso.com
More from Grade 12 Afrikaans Hl
Explore more published documents in this catalogue.





