Downloaded from hlayiso.com
SENIORSERTIFIKAAT-EKSAMEN
AFRIKAANS HUISTAAL V2
2015
PUNTE: 80
TYD: 2½ uur
Hierdie vraestel bestaan uit 23 bladsye.
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Skip to contentAll 2015 papers 





View all





Afrikaans HL Grade 12 Paper 2 NSC June 2015 Question Paper
Grade 12 Afrikaans HL Paper 2 question paper from the NSC June Exam 2015, 23 pages. Read online or get the free PDF download, memo linked when available.
Afrikaans Hl · Grade 12 · NSC June Exam · 2015 · Afrikaans. Question paper, 23 pages. Read online or download the PDF.
- Subject
- Afrikaans HL
- Grade
- Grade 12
- Language
- Afrikaans
- Document type
- Question paper
- Year
- 2015
- Exam period
- NSC June Exam
- Paper
- 2
- Curriculum
- CAPS
- Pages
- 23
- File size
- 513.1 KB
Free to read online, no sign-up needed
Loading document…
Loading document…
1 of 23
This exam
NSC June Exam 2015
- Paper 1Question paperMemo
- Paper 2Question paperMemo
- Paper 3Question paperMemo
Questions in this paper
- Question 2Letterkunde (Literature / Set Works)20 marks
- Question 3Letterkunde (Literature / Set Works)20 marks
- Question 4Letterkunde (Literature / Set Works)10 marks
- Question 5Letterkunde (Literature / Set Works)10 marks
- Question 7Letterkunde (Literature / Set Works)50 marks
- Question 9Letterkunde (Literature / Set Works)25 marks
Document textSearch extracted text and jump to a page.
Downloaded from hlayiso.com
Afrikaans Huistaal/V2 2 DBE/2015
SSE
INSTRUKSIES EN INLIGTING
1. Lees die volgende instruksies noukeurig deur voordat jy die vraestel
beantwoord.
2. Moenie probeer om die hele vraestel deur te lees nie. Raadpleeg die
inhoudsopgawe op bladsy 4 en merk die vraagnommers van die
letterkundetekste wat jy bestudeer het. Lees daarna die vrae oor die tekste
wat jy gedoen het en kies die tipe vraag wat jy wil beantwoord. Neem die
voorskrifte by elke vraag in ag.
3. Die vraestel bestaan uit DRIE afdelings:
AFDELING A: Gedigte (30)
AFDELING B: Roman (25)
AFDELING C: Drama (25)
4. Beantwoord VYF vrae in totaal: DRIE uit AFDELING A, EEN uit AFDELING B
en EEN uit AFDELING C.
AFDELING A: GEDIGTE
Gesiene gedigte – Beantwoord TWEE vrae.
Ongesiene gedig – VERPLIGTE vraag
AFDELING B: ROMAN
Beantwoord EEN vraag.
AFDELING C: DRAMA
Beantwoord EEN vraag.
5. KEUSE VAN VRAE BY AFDELING B (ROMAN) EN AFDELING C (DRAMA)
• Beantwoord SLEGS die vrae oor die roman en drama wat jy bestudeer
het.
• Beantwoord EEN OPSTELVRAAG en EEN KONTEKSTUELE VRAAG.
As jy die opstelvraag in AFDELING B beantwoord, moet jy die
kontekstuele vraag in AFDELING C beantwoord. As jy die kontekstuele
vraag in AFDELING B beantwoord, moet jy die opstelvraag in
AFDELING C beantwoord. Gebruik die kontrolelys om jou te help.
6. LENGTE VAN ANTWOORDE
• Die lengte van die opstelvraag vir die gedig is 250–300 woorde.
• Die lengte van die opstelvraag vir die roman en drama is elk
400–450 woorde.
• Die lengte van die antwoorde van die kontekstuele vrae word bepaal deur
die puntetoekenning van elke vraag. Beantwoord jou vrae bondig en
relevant.
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
Afrikaans Huistaal/V2 3 DBE/2015
SSE
7. Volg die opdragte aan die begin van elke afdeling noukeurig.
8. Nommer die antwoorde korrek volgens die nommeringstelsel wat in hierdie
vraestel gebruik is.
9. Beantwoord ELKE afdeling op ’n NUWE bladsy.
10. Voorgestelde tydsindeling:
AFDELING A: ongeveer 40 minute
AFDELING B: ongeveer 55 minute
AFDELING C: ongeveer 55 minute
11. Skryf netjies en leesbaar.
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
Afrikaans Huistaal/V2 4 DBE/2015
SSE
INHOUDSOPGAWE
Hierdie bladsy sal jou help met die keuse van vrae sonder dat dit nodig is om die hele
vraestel deur te lees.
AFDELING A: GEDIGTE
Voorgeskrewe gedigte: Beantwoord ENIGE TWEE vrae.
VRAAGNOMMER VRAAG PUNTE BLADSY
1. “last grave at dimbaza” Opstelvraag 10 6
2. Kwatryne Kontekstuele vraag 10 7
3. Die huis luister Kontekstuele vraag 10 8
4. Vroegherfs Kontekstuele vraag 10 9
EN
Ongesiene gedig: Verpligtend
5. Highpriest van die Socialism Kontekstuele vraag 10 10
AFDELING B: ROMAN
Beantwoord EEN vraag.*
6. Die kwart-voor-sewe-lelie Opstelvraag 25 11
7. Die kwart-voor-sewe-lelie Kontekstuele vraag 25 11
8. Manaka Plek van die Horings Opstelvraag 25 13
9. Manaka Plek van die Horings Kontekstuele vraag 25 14
10. Vatmaar Opstelvraag 25 16
11. Vatmaar Kontekstuele vraag 25 16
AFDELING C: DRAMA
Beantwoord EEN vraag.*
12. Krismis van Map Jacobs Opstelvraag 25 19
13. Krismis van Map Jacobs Kontekstuele vraag 25 19
14. Mis Opstelvraag 25 21
15. Mis Kontekstuele vraag 25 21
*LET WEL: Beantwoord EEN OPSTELVRAAG en EEN KONTEKSTUELE VRAAG
uit AFDELING B en AFDELING C onderskeidelik.
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
Afrikaans Huistaal/V2 5 DBE/2015
SSE
KONTROLELYS
Gebruik die kontrolelys hieronder om te kontroleer of jy al die vereiste vrae beantwoord
het.
AFDELING VRAAG- GETAL VRAE MERK
NOMMER BEANTWOORD ()
A: Gedigte 1–4 2
(Voorgeskrewe gedigte)
A: Gedigte 5 1
(Ongesiene gedig)
B: Roman 6–11 1
(Opstelvraag of kontekstuele vraag)
C: Drama 12–15 1
(Opstelvraag of kontekstuele vraag)
LET WEL: Beantwoord EEN OPSTELVRAAG en EEN KONTEKSTUELE VRAAG uit
AFDELING B en AFDELING C onderskeidelik.
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
Afrikaans Huistaal/V2 6 DBE/2015
SSE
AFDELING A: GEDIGTE
VOORGESKREWE GEDIGTE
Beantwoord ENIGE TWEE vrae.
VRAAG 1: OPSTELVRAAG
Lees die onderstaande gedig en beantwoord dan die vraag wat volg.
“last grave at dimbaza” – Fanie Olivier
1 beauty douglas was born
2 op ’n wintersnag so all forlorn
3 omring deur die sterre se liggies
4 en koerante kaal klip
5 en nuuskierige hande
6 en tien ander gesiggies
7 a ’n dogter oplaas ’n dogter
8 om beeste te kry om die wêreld
9 te wei a dis lekker
10 om ’n vader te is te is
11 die ma het ’n briefie geskryf
12 aan haar man op die myne
13 om te sê van die kind en te vra van die geld
14 want dit was sy kind die dogter
15 was syne om te sê: o my man
16 o my man ek het beeste gebaar
17 op ’n wintersnag so all forlorn
18 met die sterre se goud en die mielies klaar
19 beauty douglas your daughter was born
20 sy hart het oopgeskiet tussen lae klip
21 opgeskiet boontoe en oopgevou
22 in ’n laatnagbrief: my vrou
23 my vrou sê aan beauty douglas
24 haar pa het haar lief
25 hy’t sy brief gepos met sy viersentseël
26 ’n lugposbrief aan beauty douglas
27 om te sê hy’t haar lief
28 die adres was mnxesha
29 oor kingwilliamstown kaap
30 saans as hy sy moegheid streel
31 het hy gedroom van sy meisiekind
32 en op ’n sonskynmiddag twee maande later
33 het ’n brief uit mnxesha hom teruggevind:
34 “beauty douglas was born
35 she died”
[Uit: skimmellig, 1978]
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
Afrikaans Huistaal/V2 7 DBE/2015
SSE
Die briewe in hierdie gedig word in ’n spesifieke milieu geskryf.
Bespreek hierdie stelling in ’n opstel van 200–250 woorde. [10]
OF
VRAAG 2: KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die onderstaande gedig en beantwoord dan die vrae wat volg.
Kwatryne – Ina Rousseau
10
1 Agter die skerms, lank reeds gegrimeer
2 aanskou ek die verhoog se glans en kleur
3 en wag dat u my toelaat om oplaas
4 my rol te gaan vertolk, O Regisseur.
11
1 As daar applous was vir die laaste maal
2 en U die décor moeg na onder haal,
3 sal U vir ons wat ons kostuums uittrek
4 volgens ons moeite en geduld betaal?
12
1 In hierdie klug vergeet soms ’n akteur
2 heel onverwags sy reëls en loer versteur
3 na die coulisses links en regs
4 maar geen souffleur se stem dring tot hom deur.
13
1 Ofskoon die saal se ligte nie meer brand
2 vra menigeen aan die verhoog se kant
3 nog steeds: Is ek van hierdie klug die held
4 of teen die agterdoek ’n figurant?
[Uit: Die verlate tuin, 1954]
2.1 Watter soort eindrym kom in dié kwatryne voor? (1)
2.2 Wie is die spreker in kwatryn 10? Dink jy dat dit dieselfde spreker is as in
kwatryn 13? Motiveer jou antwoord. (2)
2.3 Kwatryn 10 kan na aanleiding van die inhoud in twee dele verdeel word.
Noem die dele waarin die kwatryn verdeel word. (2)
2.4 Verwys na kwatryn 11.
Benoem die beeldspraak in versreël 3, gee die verklaring van dié
beeldspraak in jou eie woorde weer en motiveer of dié beeld met die ander
kwatryne verband hou. (3)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
Afrikaans Huistaal/V2 8 DBE/2015
SSE
2.5 In kwatryn 11 en kwatryn 13 word elk ’n vraag gevra. Watter een van dié
vrae is vir jou die belangrikste? Motiveer jou antwoord. (1)
2.6 Wat is die oorkoepelende tema van die kwatryne? (1)
[10]
OF
VRAAG 3: KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die onderstaande gedig en beantwoord dan die vrae wat volg.
Die huis luister – Daniel Hugo
1 my kamers is hol soos ’n binne-oor
2 ek hoor hoe die bewoners roesemoes
3 liefde maak, verwyt, mekaar vertroos, skoor
4 soek met die goor hede, nooit tevrede
5 aanhou kibbel oor kon en sou en moes
6 luister, ek bewaar julle verlede
7 my fondamente kraak onder die las
8 my plafonne raak voos van die eggo’s
9 te veel vloeke laat my pleisterwerk bars
10 jare se trane laat my rame roes
11 so word ons saam verweer deur dit wat was
12 my dakplate en julle gebede
13 fluister en knal al hoe harder om hulp
14 ongehoord in elke nag se oorskulp
[Uit: Dooiemansdeur, 1991]
3.1 Wie is die spreker in hierdie gedig? (1)
3.2 Watter woord in versreël 3 dui aan dat daar onmin in die huis is en watter
stylfiguur word in strofe 1 gebruik om aan te toon dat die onmin aanhou? (2)
3.3 Watter ooreenkoms is daar tussen die inwoners en die huis? (1)
3.4 Wat is die boodskap van die gedig? Waarom is hierdie boodskap vandag
steeds relevant? (3)
3.5 Wat bereik die spreker met die deurlopende gebruik van beelde wat met
“oor” en “gehoor” te doen het? (1)
3.6 Wat suggereer die weglating van die punt in versreël 14 omtrent die gebede
(versreël 12)? (2)
[10]
OF
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
Afrikaans Huistaal/V2 9 DBE/2015
SSE
VRAAG 4: KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die onderstaande gedig en beantwoord dan die vrae wat volg.
Vroegherfs – NP van Wyk Louw
1 Die jaar word ryp in goue akkerblare,
2 in wingerd wat verbruin, en witter lug
3 wat daglank van die nuwe wind en klare
4 son deurspoel word; elke blom word vrug,
5 tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
6 so stilweg in die rook-vaal bos en laan,
7 dat die takke van die lang populiere al
8 teen elke ligte môre witter staan.
9 O Heer, laat hierdie dae heilig word:
10 laat alles val wat pronk en sieraad was
11 of enkel jeug, en vér was van die pyn;
12 laat ryp word, Heer, laat U wind waai, laat stort
13 my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
14 en nakend uit my teerder jeug verskyn.
[Uit: Die halwe kring, 1937]
4.1 Die titel dui op ’n veranderde seisoen. Haal ’n frase uit versreël 3 aan wat
hierby aansluit. (1)
4.2 In versreël 2–4 en 5–6 maak die spreker van enjambement gebruik.
Hoe sluit dié enjambemente by herfs aan? Haal ’n frase uit versreël 5–6 aan
om jou antwoord te motiveer. (3)
4.3 Benoem die beeldspraak in versreël 9. Verduidelik wat die spreker vir ons
deur die gebruik van dié beeld wil sê. (2)
4.4 Watter stemming heers in versreël 9–14? Bewys jou antwoord met ’n frase uit
dié versreëls. (2)
4.5 Sal “nakend” (versreël 14) dieselfde as “kaal/sonder klere” beteken? Motiveer
jou antwoord deur na die inhoud van die oktaaf te verwys. (1)
4.6 Kan die veranderinge in die natuur soos wat dit in “Vroegherfs” weergegee
word, ook op die mens van toepassing gemaak word? Motiveer jou antwoord. (1)
[10]
EN
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
Afrikaans Huistaal/V2 10 DBE/2015
SSE
ONGESIENE GEDIG (VERPLIGTEND)
Beantwoord VRAAG 5.
VRAAG 5: KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die onderstaande gedig en beantwoord dan die vrae wat volg.
Highpriest van die Socialism – Adam Small
1 ’n Profit* van die liberation djy*?
2 ’n socialist?
3 djy met djou* hys-palys
4 met djou lang slap mouterkar
5 djy met daai kamma sed bek van djou oorie plight van die
6 oppressed
7 met djou tears
8 en djou woera warra* oppie stage
9 met djou skorrelsvol yt daai plush hotels ennie first class
10 vannie jets
11 djou spiritual hys oppie level vannie people? nou sal my
12 djou verbeel!
13 En hoe lyk dit met ordinary living vi’ daai five star style
14 Hoe lyk dit met djou blink suits vir overalls en soe
15 Hoe lyk dit met djou skorrelsvol vir take away fish ’n chips?
[Uit: http://versindaba.co.za/gedigte/adam-small/]
*Profit: profeet
*djy: jy
*djou: jou
*woera warra: baie praat
5.1 Waarna verwys “Profit”/profeet binne die konteks van die gedig? (1)
5.2 Op watter wyse hef die spreker sy/haar ongeloof in versreël 1–2 uit? Gee
bewyse uit die gedig wat die spreker as redes vir sy/haar ongeloof aanvoer. (3)
5.3 Haal DRIE woorde uit versreël 3–5 aan om te bewys dat die aangesprokene
nie bedoel wat hy/sy sê nie. (1)
5.4 Bewys uit die gedig dat die spreker van kontraste gebruik maak om die lewe
van die onderdrukte teenoor die lewe van die aangesprokene uit te hef. (2)
5.5 Watter siening huldig die spreker in dié gedig? Stem jy saam met dié
siening? Motiveer jou antwoord. (2)
5.6 Waarom kan hierdie gedig as ’n voorbeeld van ’n vrye vers beskou word? (1)
[10]
TOTAAL AFDELING A: 30
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
Afrikaans Huistaal/V2 11 DBE/2015
SSE
AFDELING B: ROMAN
Beantwoord EEN vraag.
VRAAG 6: OPSTELVRAAG
DIE KWART-VOOR-SEWE-LELIE – Eleanor Baker
Die intrige van Die kwart-voor-sewe-lelie bestaan uit twee verhaallyne.
Bespreek hierdie stelling in ’n opstel van 400–450 woorde. [25]
OF
VRAAG 7: KONTEKSTUELE VRAAG
DIE KWART-VOOR-SEWE-LELIE – Eleanor Baker
Lees die onderstaande uittreksels en beantwoord dan die vrae wat volg.
TEKS 1
1 “Tja,” het die tannie gesug. “’n Mens kan deesdae maar net bid dat daar
2 nog beskermengele oor is om na ons kinders te kyk.”
3 “Ek het een,” het ek gesê. As ons mekaar moes leer ken, wat die idee van
4 die naweek was, moes ons seker al die karakters aan mekaar voorstel.
5 “’n Wat?” het die oom gevra.
6 “’n Beskermengel. Ek het hom van my ouma geërf.”
7 “Hom?” het die tannie gevra. “Ek dag engele is vroue.”
8 “Nee, myne is ’n man.”
9 Die oom het my nadenkend aangekyk om te sien of ek die gek skeer. My
10 ernstige gesig moes hom oortuig het. “Weet Piet daarvan?” het hy gevra.
11 “Ja, oom. Hy gee nie om nie.” Peter het nie sterk gevoelens oor die Engel
12 gehad nie. Omdat hy hom nooit in aksie gesien het nie, het hy nie regtig
13 geglo dat hy bestaan nie, maar hy was bereid om toegewings te maak.
14 “Kan jy hom sien?” het die tannie verwonderd gevra.
15 “O ja.”
16 Sy het stadig deur die kombuis gekyk, verby die wit geverfde
17 kombuiskaste, die stel blou en wit gekraakte porseleinflesse met aanwysings
18 daarop soos “Thee” en “Rijs”, die outydse beskuittrommel waarvoor EIsa haar
19 agtertande sou gee, die plafon met sy vlieëgompapier en terug na my. “Is hy
20 nou hier?”
21 Ek het ook om my gekyk, maar meer spesifiek na die venster. “Nee.”
22 Die oom het vinnig opgestaan. “Kwit,” het hy gesê. “Die kind sien
23 gesigte ...”
7.1 Iris sê dat sy die Engel van haar ouma geërf het.
Hoe het die Engel, volgens hom, in Iris se lewe gekom? (1)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
Afrikaans Huistaal/V2 12 DBE/2015
SSE
7.2 Iris maak die bestaan van die Engel aan Peter se ouers en Bettie bekend.
Waarom maak Iris dit aan hierdie karakters bekend en wat was Bettie se
reaksie op dié bekendmaking? (3)
7.3 Hoe het die Engel die tannie se siening van engele in reël 1–2 verkeerd
bewys? (1)
7.4 Watter gevaar het Iris se spesiale gawes, volgens die oom, vir sy duiwe
ingehou? Gee ’n voorbeeld uit die roman waar hy haar hulp inroep om haar
spesiale gawes in te span. (2)
7.5 Herlees reël 16–20.
Watter eienskap van Elsa maak dat sy “haar agtertande” sou gee om so ’n
beskuitblik te hê? (1)
7.6 Het die oom se toegewing ten opsigte van die Engel sy duiweboerdery
beïnvloed? Motiveer jou antwoord. (1)
EN
TEKS 2
1 “Ek is nie verantwoordelik vir jou en jou mense nie,” het hy kalm gesê.
2 “Ek gaan dit ook nie weer vir jou sê nie. Jy sien jouself as ’n kind wat leer
3 loop en my as die ma wat met haar arms beskermend weerskante van die
4 kleuter saamloop om te keer dat hy nie val nie. Ek is nie ’n loopring nie. Ek
5 maak nie reg waar jy verbrou het nie. Ek skakel nie stowe of sweisapparate
6 af nie. As jy môre op die dak loop en gly en afval, sal ek jou nie vang nie.
7 Om op die dak te loop, is jou keuse. Peter se werk is sy keuse.”
8 Ek het my op ons bed neergewerp en gehuil, nie net van skok nie, maar
9 ook omdat ek beskaamd was oor my uitbarsting.
10 “Gaan terug hospitaal toe en gaan sit by Peter. Hou sy hand vas in plaas
11 van om so liederlik jammer vir jouself te voel.”
12 “Ek is jammer vir hom,” het ek myself verdedig, maar opgestaan en my
13 hare gekam.
14 “En ry versigtig,” het hy gemaan voor ek loop. Hy het geglimlag.
15 “Vergewe my,” het ek gesê. “Ek was ontsteld. As ek net kon seker wees
16 sy oë sal weer aangroei. Of wat ook al nodig is.”
17 “Die lewende sel is ’n besondere organisme. Dit het die vermoë om
18 homself te regenereer.”
19 “Dink jy so?” het ek gevra, meteens weer vol moed.
20 “Ek weet dit.”
21 “Jy’s ’n engel,” het ek gesê en vir hom gewaai.
7.7 In Teks 2 tree die Engel ook as raadgewer op.
Noem nog voorbeelde in die roman waar hy vir Iris raad gee. (2)
7.8 Gee voorbeelde waar Johanna, Peter en Billy as engele in Iris se lewe
optree. (3)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
Afrikaans Huistaal/V2 13 DBE/2015
SSE
7.9 Die Engel se optrede in die roman stem ooreen met sy woorde in reël 6–7,
maar dit weerspreek ook dié woorde.
Motiveer hierdie stelling met voorbeelde uit die roman. (2)
7.10 Herlees reël 17–18.
Watter troos bied Johanna aan Iris en hoe realiseer die Engel se woorde in
Peter se lewe? (2)
7.11 Herlees reël 1–2 (Teks 1) en reël 1–7 (Teks 2).
Hoe verskil die tannie se siening oor die rol van ’n beskermengel in mense se
lewens van dié van Iris s’n oor haar Engel? Waar het die Engel vir Iris self as
beskermengel gefaal en wat gee die Engel as rede vir sy onbetrokkenheid? (4)
7.12 “Jy’s ’n engel,” sê Iris. (Reël 21)
Sou Iris as karakter ontwikkel het indien die Engel nie in die roman
voorgekom het nie? Motiveer jou antwoord. (3)
[25]
OF
VRAAG 8: OPSTELVRAAG
MANAKA PLEK VAN DIE HORINGS – Pieter Pieterse
Die karakter, Ouma Essie, speel in die verloop van die verhaal ’n belangrike rol as
bewaarder van die geloof op Manaka en in haar verhouding met die mense van
Barotseland.
[25]
Bespreek hierdie stelling in ’n opstel van 400–450 woorde.
OF
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
Afrikaans Huistaal/V2 14 DBE/2015
SSE
VRAAG 9: KONTEKSTUELE VRAAG
MANAKA PLEK VAN DIE HORINGS – Pieter Pieterse
Lees die onderstaande uittreksels en beantwoord dan die vrae wat volg.
TEKS 1
1 En die toue waarmee die dwarsbalke aan die stutpale vas is, sal hou.
2 Al waaroor Baas jammer is, is dat hulle van die worsboom se takke moes
3 afsaag om die boot se stuurkajuit verby te kry. Die houtbankies onder die
4 boom het ook in die slag gebly.
5 “Eendag sal ons dit vervang,” sê hy vir die ses honde. Lady is nie by nie.
6 Sy is weer op hitte. Hy het haar toegemaak in die draadhok wat hy vir die
7 doel gebou het. Vir nog ’n klomp hondjies is daar nie tyd nie. Hy moet huis
8 bou en die gereedskap en die materiaal vir die werkery aan die romp en die
9 kajuite bestel en aanry.
10 Hy klim teen die boot op om sy tuisgemaakte leer van mopaniepale te
11 toets. Die kiaathoutdwarslatte vat sy honderd kilogram met gemak. Hy gaan
12 haal die blik verf onder uit die ruim en verf die naam Zambezi Joy dood.
13 Dan klim hy tot op die stuurkajuit se dak en stut sy pontboot se nuwe
14 naam teen die bakboord maslig se paal om te kyk hoe dit Iyk. Dit is die naam
15 wat hy tydens sy omswerwinge tussen Livingstone en Mambova tydsaam in
16 groot sierletters op die plank geverf het. Maar hy skroef dit nie vas nie. Nog
17 nie. Dit sal hy doen wanneer die finale laag verf aangebring is.
18 Zambezi Grace is die naam op die vergulde kiaathoutplank.
19 Ná twee en negentig jaar het Manaka weer ’n Chipman vir ’n baas.
9.1 Noem hoe Teks 1 binne die konteks van die roman inpas. (1)
9.2 Herlees reël 2–4.
Wie het oorspronklik die bankies onder die worsboom gebou en watter
simboliek kan ons daaraan heg? Waarom is dit ironies dat juis Baas jammer
is oor die afsaag van die worsboom se takke en die in die slag bly van die
houtbankies? (3)
9.3 Herlees reël 5.
Wat is die volle implikasie van Baas se woorde? Waarom is dié implikasie in
hierdie stadium nie geloofwaardig nie? (2)
9.4 Hoe kom Brindle aan sy einde en waarop dui sy dood? (2)
9.5 Herlees reël 18.
Hoe weet ons die boot is nie na Grace Tibelelo vernoem nie? (1)
9.6 Watter boodskap kom in Teks 1 sterk na vore as jy die einde van die roman
in gedagte hou? (1)
EN
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
Afrikaans Huistaal/V2 15 DBE/2015
SSE
TEKS 2
1 “Hoe opwindend,” sê Nanna du Pisani vir haar man toe die sendelinge van
2 Fumi, indoena Daaimon se gehuggie, af wegry.
3 Oom Scholtzie ry met die Dyna, die tweetonpaklorrie met sy dubbele
4 agterwiele, voor hulle uit.
5 “Dink jy nie ook so nie, muluti Krieseltjie?” Haar glimlag wys ’n tergerige
6 kuiltjie in haar wang. “Dit was net jammer van die stank. Hoe kan enige mens
7 met die reuk van daardie bokke saamleef? Veral die ou grote met die baard,
8 en die verskriklike sak?”
9 “Moenie banaal wees nie!” Griesel se hande gaan oop en toe oor die
10 Datsun 1200-bakkie se stuurwiel. Deur elke knik stamp sy kop teen die dak.
11 Agter op die bakkie val hulle tasse en ander besittings onder die kappie rond.
12 “En nou vir die opwinding om in ons nuwe huis in te trek. Ek kan nie wag
13 nie! En jy, muluti?” Sy haal die skets van die geboue by Manaka Evangelical
14 Mission wat oom Scholtzie in Grootfontein vir hulle geteken het uit die
15 paneelkissie. “Hierdie drie vertrekke wat die kantoor, die woonkamer en die
16 slaapkamer was, is mos groot genoeg om in te woon tot ons aangebou het.
17 Dis net jammer van die sinkdak. Ons moet ’n grasdak gehad het! Dis mos
18 Afrika. Ek sal dit vir ons baie gesellig maak. Jy sal sien.”
19 Griesel swenk wild uit vir iemand wat armswaaiend uit die bosse gestorm
20 kom. Die bakkie tref ’n slaggat en skuur met ’n geknars teen ’n wal tot
21 stilstand.
22 Nanna val skuins oor die rathefboom.
9.7 Griesel se kleredrag en sy optrede tydens hierdie vergadering bewys dat
Griesel nie in Barotseland tuis voel nie.
Motiveer dié stelling. (2)
9.8 Wat is oom Scholtzie se rol by die vergadering? (1)
9.9 Herlees reël 9.
By watter ander geleentheid berispe Griesel vir Nanna? Is hierdie TWEE
berispinge aanvaarbaar? Gee redes vir jou antwoord. (3)
9.10 Herlees reël 12–13.
Watter karaktereienskap van Nanna kom in hierdie reëls na vore? Noem ’n
handeling van Nanna uit die roman wat vir die leser aandui dat sy tuis voel by
die plaaslike bevolking en haal die woorde uit Teks 2 aan wat hierby aansluit. (3)
9.11 Wie is die persoon wat uit die bos gestorm kom; wat het Nanna van sý vrou
ontvang en hoe reageer Griesel daarop? Sou jy die wyse waarop die verteller
Griesel uitbeeld as geslaagd beskou? Motiveer jou antwoord. (4)
9.12 Watter verband is daar tussen Teks 1 en Teks 2 ten opsigte van godsdiens? (2)
[25]
OF
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
Afrikaans Huistaal/V2 16 DBE/2015
SSE
VRAAG 10: OPSTELVRAAG
VATMAAR – AHM Scholtz
Slegte dinge wat met onskuldige karakters soos Tant Wonnie, Norman Boonzaaier en
Kenneth Kleinhans gebeur, kan wel soms ’n gelukkige en sinvolle einde inhou.
Bespreek hierdie stelling in ’n opstel van 400–450 woorde. [25]
OF
VRAAG 11: KONTEKSTUELE VRAAG
VATMAAR – AHM Scholtz
Lees die uittreksels hieronder en beantwoord dan die vrae wat volg.
TEKS 1
1 Toe hy terugkom, was die man weg met al sy aardse besittings. Hy het nie
2 van die plek gehou nie, maar teruggeloop dorp toe, gebroke oor die verlies
3 van sy goed. Hy het by die nuwe hotel, wat net daardie week oopgemaak
4 het, werk as kelner of chef-boy gaan vra.
5 Die bestuurder het gesê: Jy is heeltemal anders as hierdie mense. Daar is
6 jou kamer – en hy het na die nuwe bediendekamers gewys. Ek sal soveel
7 betaal as wat jy vir my werd lyk, verstaan jy?
8 Ja, Miester Peterson, het hy gesê.
9 Hy het ’n splinternuwe, eie kamer gehad, die eerste in sy lewe.
10 Die chef, Mister Pierre du Pont, het baie gedrink en Harry Look het gou
11 geleer om net soos hy te kook, die skottelgoed te was en nog kelner ook te
12 wees. Op ’n dag het Mister du Pont siek geword. Die bestuurder was
13 bekommerd en het gesê hy weet nie waar om ’n kok te kry om uit te help tot
14 Pierre weer beter is nie. Hy het nooit opgelet dat Harry al klaar meeste van
15 die tyd gekook het nie.
16 Wag, kyk vanaand, Miester Peterson, het Harry gesê.
17 Mister Peterson het gedink: Goed dan wag ek tot vanaand.
18 Daardie aand was dit net soos altyd. Party mense het glad gevra: Harry, sê
19 vir my, het Pierre so gou beter geword?
11.1 Hoe sluit reël 1 by die naam, Vatmaar, aan? (4)
11.2 Herlees reël 5.
Dink jy dat die oordeel wat Mister Peterson hier fel, regverdig is? Motiveer
jou antwoord en noem ’n spesifieke voorbeeld as bewys vir jou antwoord. (2)
11.3 Op watter wyse tree MacNamara rassities teenoor Harry Look op en wat is
Harry Look se reaksie op dié optrede? (3)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
Afrikaans Huistaal/V2 17 DBE/2015
SSE
11.4 Harry Look het met die fa-fee-game-of-chance in Du Toitspan begin.
11.4.1 Vergelyk die houding van Chan Look met dié van Lisa ten opsigte
van die fa-fee-game-of-chance. (2)
11.4.2 Watter karaktereienskap kan jy van Lisa uit haar houding teenoor
die fa-fee-game-of-chance aflei? (1)
11.5 Dink jy dat die fa-fee-game-of-chance tot voordeel van die mense op
Vatmaar is? Motiveer jou antwoord. (1)
EN
TEKS 2
1 Na hy haar ’n kyk en ’n skelm glimlag gegee het, het Mineer de Bruin
2 weggery.
3 Hulle het na die charge-office geloop, met die poeliesman op die perd agter
4 hulle aan. Party mense het hulle koppe geskud en ander het gelag. Een
5 ouerige vrou het gesê: Ek wil nie graag in haar skoene staan nie. ’n Ander
6 bemoeisieke het gevra: Wat het sy gedoen, Konstabel?
7 Sy’s ’n dief, het hy gesê.
8 Hulle moes buite wag dat die poeliesman afklim en die toom aan die
9 ysterpaal met die ysterpenne vasmaak. Toe het hy Tant Wonnie die kantoor
10 ingestoot met die woorde: Loop, jou skelm!
11 ’n Sersant het agter die toonbank gestaan. What have you here, Constable
12 Prins? het hy gevra.
13 Sy’t haar madam se goue ring in Vatmaar gesteel, Sarge.
14 And did you tell her madam to be in court tomorrow?
15 Ja, ek het, Sarge.
16 Die sersant het die pen in die inkpot gedoop en geskryf: Theft of a golden
17 wedding ring. Name of her madam?
18 Die konstabel het sy sakboekie uitgehaal. Martha September, het hy gesê.
19 You from the Cape, Constable?
20 Ja, van Stellenbosch af.
21 Have you noticed that all these mixed-blood people who are descended
22 from slaves are either Afrika or one of the calender months, from January to
23 December?
24 Ja, Sarge, ek het.
25 Hy het sy pen in die inkpot gesteek en gevra: And the name of the culprit?
26 Yvonne Miller, adres ook Vatmaar, Sarge.
27 You are doing a fine job, Constable Prins, ridding this place Vatmaar of
28 thieves. I’ll put your name on the promotion list.
11.6 Waarom is ‘Mineer de Bruin’ se reaksie teenoor Tant Wonnie nie regverdig
nie? (1)
11.7 Hoe sluit die gebeure in Teks 2 aan by die feit dat die waarheid sal seëvier
en geregtigheid sal geskied? (3)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
Afrikaans Huistaal/V2 18 DBE/2015
SSE
11.8 Gee redes waarom jy dink dat Settie September vir Tant Wonnie van diefstal
beskuldig het. (2)
11.9 Wie kom Tant Wonnie in die tronk teë wat met Harry Look
(Teks 1) se seun in verband gebring kan word en wat is dié persoon se
verband met Harry Look se seun? (2)
11.10 Herlees reël 27.
Hoe verskil die sersant se siening van die mense in Vatmaar se sienings ten
opsigte van diefstal? Hoekom het die mense van Vatmaar so maklik geglo
dat Tant Wonnie ’n dief is? (3)
11.11 Vroeër in die roman noem Ta Vuurmaak vir Oom Chai skelm-slim.
Dink jy hy sal dieselfde van Tant Wonnie sê? Motiveer jou antwoord. (1)
[25]
TOTAAL AFDELING B: 25
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
Afrikaans Huistaal/V2 19 DBE/2015
SSE
AFDELING C: DRAMA
Beantwoord EEN vraag.
VRAAG 12: OPSTELVRAAG
KRISMIS VAN MAP JACOBS – Adam Small
Die ruimte waarin Krismis van Map Jacobs afspeel, dwing die Cavernelis-gesin en vir
Map Jacobs om uit hulle situasie te probeer ontsnap.
Bespreek hierdie stelling in ’n opstel van 400–450 woorde. [25]
OF
VRAAG 13: KONTEKSTUELE VRAAG
KRISMIS VAN MAP JACOBS – Adam Small
Lees die uittreksels hieronder en beantwoord dan die vrae wat volg.
TEKS 1
1 MAP: Skullag en vuil en vieslik! Here, kan jy die merke sien, al
2 die merke wat ek my laat merk het ... ’Cause ek wil
3 somewhere ge-belong het? Kan jy sien die merke? (Hy
4 praat nou met God.) Kan jy sien die tattoos, al die
5 merke? (Sy stem raak ’n oomblik weg. Huil hy?) ‘it was
6 ’n terrible gesoek seker, vir ’n identity, Here Jesus! ’n
7 Verskriklike Map. Van al die merke, al die tattoos, call
8 hulle toe vir my Map Jacobs ... En Apostel George, wat
9 jy gestuur het, Here, hy’s reg, ek wiet, ‘is verskriklike
10 merke dié, maar dis nog altyd deel van my kaart, ‘it wys
11 waar ek gewies het, elke merk, ek wiet ... Hoe sal jy wiet
12 waarnatoe om te gaan, sê Apostel George ...
13 APOSTEL GEORGE: So sê die Here, Map ...
14 MAP: ... as jy nie acknowledge waar kom jy vandaan nie? So
15 hierso acknowledge ek nou, my Here ... In die
16 teenwoordigheid van my ma en van Apostel George ...
17 Lyster jy, my Here ...
18 APOSTEL GEORGE: Praise the Lord!
19 Map is tierend en ootmoedig nou.
20 MAP: Jy moet die guts hê, en alles sê voor God! Never mind
21 die judge of die koort van hierdie wêreld, maar voor die
22 Here moet jy erken ... jy moet die guts hê, sê Apostel
23 George ... Never mind even Blanchie ...
24 APOSTEL GEORGE: Sê die Here, Map ...
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
Afrikaans Huistaal/V2 20 DBE/2015
SSE
13.1 Hoekom is die naam Map betekenisvol? Noem waarom ons kan sê dat
Map se vel sy tronk is en noem ook wat gesuggereer word deur die gedeelte,
“... maar dis nog altyd deel van my kaart ...” (reël 10). (3)
13.2 In Teks 1 is dit duidelik dat Map berou oor sy vorige lewe het. Noem gebeure
uit die drama waaroor hy berou kan hê. (3)
13.3 Die vraag wat Map gaan doen as hy vrygelaat word, is die oorsaak van die
gebeure in die drama.
13.3.1 Motiveer hierdie stelling. (1)
13.3.2 Dink jy dat Map op parool vrygelaat moet word? Motiveer jou
antwoord. (3)
13.4 Op watter wyse skakel die dialoog in Teks 1 met die tema van die drama? (1)
13.5 Teen die einde van die drama kan Map ’n kruis en ’n saksofoon vir hom laat
tatoeëer.
Motiveer hierdie stelling. (2)
EN
TEKS 2
1 MAP: Ma! Tommy Sobotker vertel vir my van Blanchie ... van daai wit
2 varke wat haar verlei ... vir Blanchie, Ma ... wat het moet ons
3 gebeur, Ma, moet my en moet haar? (Bewoë.) Ons was same op
4 skool, in die Elsiesrivier ... alles het mooi gelyk, ek het gehou van
5 haar, sy’t gehou van my, en toe ... kom al die dinge wat gebeur het
6 ... Wat het moet ons gebéúr, Ma? (Huil amper; dan driftig.) Lyster,
7 julle ammal! (Hy spreek die straat aan.) Ek mind nie wat Blanchie
8 gedoen het meanwhile nie, ek mind van niks, even as ‘it waar is sy
9 het ’n abortion gehad van ’n wit vark of van enige iemand ... Here
10 Jesus, wie is ekke om te mind! Apostel George, ja, jy sê vir my, wie
11 is ekke om te mind, ek is soes niks, soes niets ... soes niks ... Niets
12 ... (Die straat raas.) ‘Is net ... Hoekô avoid jy vir my, Blanchie? ...
13 Hoekô avoid sy vir my? ... (Dan sagter.) Here! Ma! Apostel George!
14 Hoekô avoid sy vir my? ... Ek wil so graag net moet haar práát, net
15 vir haar sê, ek is sorry ... Blanchie ... Ek het ... aangevang ...
16 Apostel George het my gewys, en ek was al lankal ge-convince, ek
17 het shit aangevang ... en ek is sorry, Blanchie ... ek was nie meer
18 die ou wat jy op skool geken het nie, ek het ’n regte vark geword,
19 maar nou, ek het weer ge-change, ek het weer ’n mens geword, ...
13.6 Wat is die toon van Map se dialoog in sowel Teks 1 as Teks 2? (1)
13.7 Herlees reël 1–2 en reël 18–19.
Waarom verwys Map na die mans as “daai wit varke” (reël 1–2) wat Blanchie
verlei? Watter rol speel hulle in Blanchie en haar pa se droom op ’n beter
lewe? Wat is die verskil tussen die “wit varke” en Map wat homself “’n regte
vark” (reël 18) noem? (4)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
Afrikaans Huistaal/V2 21 DBE/2015
SSE
13.8 Map sê later in die drama aan sy ma: “... ek is ’n anner man, ôldou, ek is of
course oek nog Map Jacobs ...”
Wat bedoel Map met hierdie woorde? Watter bewys is daar in die drama dat
Map wel ’n “ge-changde man” is? (2)
13.9 ’n Tronk wat ’n ruimte van gevangenskap is, raak ’n ruimte van bevryding
terwyl die Kaapse Vlakte Map se tronk bly.
Wat is die ironie in hierdie stelling na aanleiding van Map se situasie? (2)
13.10 Map se dialoog in Teks 2 stel dit dat Antie Grootmeisie aanwesig is, maar
haar stem word nooit gehoor nie.
Noem EEN funksie van haar stilte in die drama. (1)
13.11 Watter voordeel hou Map se belydenis vir sy en Blanchie se verhouding in?
Hoe sluit dít by die saksofoonmusiek aan die einde van die drama aan? (2)
[25]
OF
VRAAG 14: OPSTELVRAAG
MIS – Reza de Wet
Die mismotief is ’n duidelike motief in die drama.
Bespreek hierdie stelling in ’n opstel van 400–450 woorde. [25]
OF
VRAAG 15: KONTEKSTUELE VRAAG
MIS – Reza de Wet
Lees die onderstaande uittreksels en beantwoord dan die vrae wat volg.
TEKS 1
1 KONSTABEL: My ma en pa hou elk ’n skerf gerookte glas vas. My ma
2 kyk na my. Haar hare waai oor haar gesig. Net een oog steek
3 uit. “Gaan kombuis toe en kry vir jou ook glas,” sê sy met
4 haar mond vol hare. Ek gaan kombuis toe. Ek dink miskien
5 help die glas vir die wind. In die kombuis kook tant Hannie
6 moerbeikonfyt. Haar vingers is rooi van die moerbeie. Sy
7 suig haar voorvinger en vee die ander aan ’n witdoek af. Sy
8 gee vir my ’n lang, skerp stuk gerookte glas. “Hou dit tussen
9 jou duim en jou voorvinger vas,” sê sy. Sy vra nog waar my
10 broer is, toe staan hy in die deur. Sy gee vir hom ook glas.
11 Sy hurk en maak haar arms oop. Ons staan nader. “Weet
12 julle dan nie?” fluister sy en lag. “Die sonsverduistering. Dis
13 amper hier. Die gerookte glas is om deur te kyk. Anders is
14 die son te skerp. As julle mooi kyk, sal julle sien ...” sy skuif
15 haar een hand met blink ringe oor haar ander hand “... hoe
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
Afrikaans Huistaal/V2 22 DBE/2015
SSE
16 die maan se skaduwee oor die son gly.” Ons wou so naby
17 aan die son kom as wat ons kon. Ons klim die perskeboom
18 en gaan sit op die dak. Op die nok van die dak. Die wind
19 druis in ons ore. In die agtertuin skel die hoenders en waai
20 teen die draad vas en die kwepers val soos hael. In die
21 voortuin vlieg die blomme weg.
15.1 Watter stemming word deur die verwysings na die wind in reël 5 en 18–19
geskep? Hoekom pas dié stemming ook by die res van die drama? (2)
15.2 Haal ’n frase uit reël 5–7 aan wat op ’n vaardigheid waaroor tant Hannie
beskik, dui en noem die ander karakter in die drama wat oor 'n soortgelyke
vaardigheid beskik. (2)
15.3 Herlees reël 9–10.
Aan watter ander verskyning herinner die verskyning in bogenoemde reëls?
Is hierdie ander verskyning noodsaaklik vir die verloop van die drama?
Motiveer jou antwoord. (2)
15.4 Waarom verwys die sonverduistering na die blindheid van die vrouens? (1)
15.5 Hoe word spanning in Teks 1 geskep? (1)
15.6 Waarin transformeer Konstabel? Waarom kan hy nie Konstabel bly nie en
waarom is dié transformasie noodsaaklik? By watter ruimte sluit die
transformasie aan? (4)
EN
TEKS 2
1 GERTIE: En hoe maak u nou weer die keuse? Ek bedoel tussen u
2 Moeder en tant Hannie, as ek haar so mag noem?
3 KONSTABEL: Sekerlik, Juffrou. Dit is die stem. Dit hang alles van die stem
4 af.
5 GERTIE: Werklik? Hoe interessant. (Kort stilte) Sal u my asseblief tog
6 so ’n ietsie van hierdie tant Hannie vertel?
7 KONSTABEL: Sy is nooit getroud nie. Sy was beeldskoon, maar veels te
8 kieskeurig.
9 GERTIE: My aarde. Ons klink nogal baie eenders. (Skaam laggie) Ek
10 is ook glad nie te onaardig nie. (Kort stilte) Kan u vir my nog
11 so ’n ietsie vertel?
12 KONSTABEL: Sy was veral bekend vir haar hare. Lang, goue, golwende
13 hare.
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
Afrikaans Huistaal/V2 23 DBE/2015
SSE
14 GERTIE: (raak aan haar yl haartjies) Merkwaardig! Dit is presies hoe
15 my hare Iyk.
16 KONSTABEL: (bly) Werklik?
17 GERTIE: Ja. Net so! (Kort stilte) Vertel nog. Asseblief.
18 KONSTABEL: Sy was lank en slank ... en soepel.
19 GERTIE: (byna skril van opgewondenheid) Net soos ek! Dis al die
20 oefening. Dit hou my fiks!
21 KONSTABEL: Ek het baie gekyk hoe die grootmense dans. En sy kon dans.
22 Niemand kon soos sy dans nie.
23 GERTIE: (baie opgewonde) Net so! (Spring op) Ek is die voorste
24 danser in ons kontrei.
25 Terwyl die KONSTABEL verder praat, voer GERTlE dromerig
26 die bewegings uit wat hy beskryf.
27 KONSTABEL: Met die hartseerwals het sy haar Iyf so agteroor gebuig met
28 haar kop terug. Haar nek was lank en melkwit en haar oë
29 halftoe.
15.7 Watter karaktereienskap van Gertie kom duidelik in haar dialoog in reël 1–2
na vore en hoe kan dit tot haar voordeel strek? (2)
15.8 Herlees reël 9–10.
Hoe probeer Gertie Konstabel in hierdie reëls beïnvloed? Is haar optrede
funksioneel? Motiveer jou antwoord. (3)
15.9 Wat suggereer Konstabel met sy woord in reël 16? (1)
15.10 Wat noem ons die kursiefgedrukte gedeelte in reël 17? Wat is na jou mening
die funksies daarvan in dié reël? (3)
15.11 Herlees reël 23–24.
Hierdie is die derde leuen wat Gertie in Teks 2 vertel. Noem nog EEN ander
leuen wat sy later in die drama vertel. (1)
15.12 Watter karaktereienskap van tant Hannie kom in die twee tekste voor?
Haal ’n frase uit Teks 1 en ook uit Teks 2 aan wat op die ooreenkoms dui. (3)
[25]
TOTAAL AFDELING C: 25
GROOTTOTAAL: 80
Kopiereg voorbehou
Study this subject
Recommended for this subject

Question paper
Afrikaans HL Grade 12 Paper 1 NSC June 2015 Question Paper

Question paper
Afrikaans HL Grade 12 P2 NSC November 2015 Question Paper

Question paper
Afrikaans HL Grade 12 Paper 2 NSC June 2024 Question Paper

Question paper
Afrikaans HL Grade 12 Paper 2 NSC June 2022 Question Paper

Question paper
Afrikaans HL Grade 12 Paper 2 NSC June 2021 Question Paper

Question paper
Afrikaans HL Grade 12 Paper 2 NSC June 2018 Question Paper
More from Grade 12 Afrikaans HL

Memorandum
Afrikaans HL Grade 12 Paper 1 Eastern Cape Mock 2025 Memo

Memorandum
Afrikaans HL Grade 12 Paper 1 Eastern Cape Prelim 2024 Memo

Memorandum
Afrikaans HL Grade 12 Paper 3 Eastern Cape Prelim 2024 Memo

Question paper
Afrikaans HL Grade 12 P3 Eastern Cape Prelim 2024 QP

Question paper
Afrikaans HL Grade 12 P1 November 2024 NSC Question Paper

Question paper