Downloaded from hlayiso.com
NASIONALE
SENIOR SERTIFIKAAT
GRAAD 12
SEPTEMBER 2022
AFRIKAANS HUISTAAL V2
PUNTE: 80
TYD: 2½ uur
Hierdie vraestel bestaan uit 31 bladsye.
Skip to contentAll 2022 papers 





View all





Afrikaans HL Grade 12 P2 Eastern Cape Mock 2022 QP
Grade 12 Afrikaans HL Paper 2 question paper from the Eastern Cape Mock Exam 2022, 31 pages. Read online or download the free PDF.
Afrikaans Hl · Grade 12 · Eastern Cape Mock Exam · 2022 · Afrikaans. Question paper, 31 pages. Read online or download the PDF.
- Subject
- Afrikaans HL
- Grade
- Grade 12
- Language
- Afrikaans
- Document type
- Question paper
- Year
- 2022
- Exam period
- Eastern Cape Mock Exam
- Paper
- 2
- Curriculum
- CAPS
- Pages
- 31
- File size
- 433.4 KB
Free to read online, no sign-up needed
Loading document…
Loading document…
1 of 31
This exam
Eastern Cape Mock Exam 2022
- Paper 1Question paperMemo
- Paper 2Question paperMemo
- Paper 3Question paperMemo
Questions in this paper
- Question 2Letterkunde (Literature / Set Works)10 marks
- Question 3Letterkunde (Literature / Set Works)10 marks
- Question 4Letterkunde (Literature / Set Works)10 marks
- Question 5Letterkunde (Literature / Set Works)10 marks
- Question 7Letterkunde (Literature / Set Works)45 marks
- Question 9Letterkunde (Literature / Set Works)25 marks
Document textSearch extracted text and jump to a page.
Downloaded from hlayiso.com
2 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2022)
INSTRUKSIES EN INLIGTING
1. Lees die volgende instruksies noukeurig deur voordat jy die vraestel beantwoord.
2. Moenie probeer om die hele vraestel deur te lees nie. Raadpleeg die inhouds-
opgawe op bladsy 4 en merk die vraagnommers van die letterkundetekste wat
jy in die klas behandel het. Lees daarna die vrae oor die tekste wat jy gedoen
het en kies die soort vraag wat jy wil doen.
3. Die vraestel bestaan uit DRIE afdelings:
AFDELING A: Gedigte (30)
AFDELING B: Prosa (25)
AFDELING C: Drama (25)
4. Beantwoord VYF vrae in totaal: DRIE uit AFDELING A, EEN uit AFDELING B
en EEN uit AFDELING C.
AFDELING A: GEDIGTE
Gesiene gedigte – Beantwoord TWEE vrae.
Ongesiene gedig – Beantwoord die VERPLIGTE vraag.
AFDELING B: ROMAN
Beantwoord EEN vraag.
AFDELING C: DRAMA
Beantwoord EEN vraag.
5. KEUSE VAN VRAE BY AFDELING B (ROMAN) EN AFDELING C (DRAMA).
• Beantwoord SLEGS die vrae oor die roman en drama wat jy bestudeer het.
• Beantwoord EEN OPSTELVRAAG en EEN KONTEKSTUELE VRAAG. As jy
die opstelvraag in AFDELING B beantwoord, moet jy die kontekstuele vraag
in AFDELING C beantwoord. As jy die kontekstuele vraag in AFDELING B
beantwoord, moet jy die opstelvraag in AFDELING C beantwoord. Gebruik
die kontrolelys om jou te help.
6. LENGTE VAN ANTWOORDE
• Die lengte van die opstel vir die gedig is 250–300 woorde.
• Die lengte van die opstel vir die roman en drama is 400–450 woorde elk.
• Die lengte van die antwoorde van die kontekstuele vrae word deur die
puntetoekenning van elke vraag bepaal. Beantwoord die vrae bondig en
relevant.
7. Volg die opdragte aan die begin van elke afdeling noukeurig.
8. Nommer die antwoorde korrek volgens die nommeringstelsel wat in hierdie
vraestel gebruik is.
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
(EC/SEPTEMBER 2022) AFRIKAANS HUISTAAL V2 3
9. Beantwoord ELKE afdeling op ʼn NUWE bladsy.
10. Voorgestelde tydsindeling:
AFDELING A: ongeveer 40 minute
AFDELING B: ongeveer 55 minute
AFDELING C: ongeveer 55 minute
11. Skryf netjies en leesbaar.
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
4 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2022)
INHOUDSOPGAWE
AFDELING A: GEDIGTE
Voorgeskrewe gedigte: Beantwoord ENIGE TWEE vrae.
VRAAGNOMMER VRAAG PUNTE BLADSY
1. “Reaksie” Opstelvraag 10 6
2. “ʼn brief van hulle vakansie” Kontekstuele vraag 10 7
3. “Twee kleuters in die
Kontekstuele vraag 10 9
Vondelpark”
4. “Vincent van Gogh” Kontekstuele vraag 10 11
EN
Ongesiene gedig: Verpligtend
5. “ Man wat doof word” Kontekstuele vraag 10 12
AFDELING B: ROMAN
Beantwoord EEN vraag.*
6. Die kwart-voor-sewe-lelie Opstelvraag 25 13
7. Die kwart-voor-sewe-lelie Kontekstuele vraag 25 13
8. Manaka Plek van die Horings Opstelvraag 25 16
9. Manaka Plek van die Horings Kontekstuele vraag 25 16
10. Vatmaar Opstelvraag 25 18
11. Vatmaar Kontekstuele vraag 25 19
12. Onderwêreld Opstelvraag 25 22
13. Onderwêreld Kontekstuele vraag 25 22
AFDELING C: DRAMA
Beantwoord EEN vraag.*
14. Krismis van Map Jacobs Opstelvraag 25 25
15. Krismis van Map Jacobs Kontekstuele vraag 25 25
16. Mis Opstelvraag 25 28
17. Mis Kontekstuele vraag 25 28
*LET WEL: Beantwoord EEN OPSTELVRAAG en EEN KONTEKSTUELE VRAAG in
AFDELING B en AFDELING C onderskeidelik.
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
(EC/SEPTEMBER 2022) AFRIKAANS HUISTAAL V2 5
KONTROLELYS
Gebruik die kontrolelys hieronder om te kontroleer of jy die korrekte getal vrae beantwoord
het.
AFDELING VRAAG- GETAL VRAE MERK ✓
NOMMER BEANTWOORD
A: Gedigte
(Voorgeskrewe gedigte) 1–4 2
A: Gedigte
5 1
(Ongesiene gedig)
B: Roman
6–13 1
(Opstel of kontekstueel)
C: Drama
14–17 1
(Opstel of kontekstueel)
LET WEL: Beantwoord EEN OPSTELVRAAG en EEN KONTEKSTUELE VRAAG in
AFDELING B en AFDELING C onderskeidelik.
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
6 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2022)
AFDELING A: GEDIGTE
VOORGESKREWE GEDIGTE
Beantwoord ENIGE TWEE vrae.
VRAAG 1: OPSTELVRAAG
Lees die gedig hieronder en beantwoord dan die vraag wat volg.
Reaksie – Vernon February
1 Ou Ghwarrie en tjy sê daai ding
2 dat tjy nou gloe met hart en siel,
3 is tjy oek nou een van hul kring
4 en vyand vannie hotnotsriel?
5 oe tjy sil nou met newwies
6 en tjou beste sjute die dag deurbring,
7 dit kan ek nog verdra,
8 ma aai, wa’om
9 daai Sunday-go-to-meeting-face, ou Ghwarrie?
10 wiet, tjy praat mos nes daai seurtjie
11 oppie draad
12 dis justice, love en tjêritie,
13 tjy sê my ek sil eendag brand
14 ma waa’s daai love en tjêritie?
15 Die teorie wêk olraait,
16 en wat kry tjy ou maat,
17 net hate en insults hier.
18 Dan soebat tjy nog ek moet gloe
19 Nei mattie, gee daai kan,
20 Hou tjy tjou Sunday-go-to-meeting-face
21 en ek my bottel jien.
[Bron: O snotverdriet, 1979]
Bespreek in ʼn opstel van 250–300 woorde die stemming en kontras wat in die
gedig voorkom, asook die geslaagdheid van die aanwending van streekstaal in
Reaksie. [10]
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
(EC/SEPTEMBER 2022) AFRIKAANS HUISTAAL V2 7
VRAAG 2: KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die gedig hieronder en beantwoord dan die vrae wat volg.
ʼn brief van hulle vakansie – Breyten Breytenbach
vir oubaas:
1 Noudat ek uitgeswel van lyf is kan ek treur
2 oor die eelte van my vader, die lugoë van my ma,
3 die skamel offerandes van hulle gebede as hulle my
4 op die knieë van hul Gij Here God lê;
5 noudat ek agter ʼn baard kou kan ek huil
6 as hulle snags my naam fluister met die ruite
7 donker knippende oë in die wind, oor die visolie
8 vir my griep, die ingelegde perskes (albertas) op die rak
9 In sy sestigste jaar swem my pa in Stilbaai se see
10 en stap myle ver oor die sand met sy reguit bene
11 in ʼn kortbroek en speel krieket op die duine
12 en eet alikruikels in die Sea View-losieshuis
13 want hys ʼn bokser dokter boer
14 ʼn kaptein en ʼn held ʼn indoena tussen grysaards –
15 En as die reën soos ʼn gesluierde bruid oor die see kom
16 word die lieflinghond (Trixie) lam;
17 drie dae veg die veearts en buig dan die knie
18 en hulle dra die lyk terug na Kafferskuilrivier
19 die plaas van hulle jong liefde en plant die saad
20 ʼn soenoffer in die diep grond se skoot
21 want nou is hulle minnaars
22 stil bome in die najaar met die wind
23 strelende drome in die takke
24 onder komete leeftye lang wêrelde
25 My ooms sterf soos kapok in die son
26 hartaanval beroerte kanker en tering
27 en my pa word stiller en meer verskriklik
28 van dop tot dop
29 Hier waar die harde winters en nat somers
30 my lyf ongenaakbaar skil, treur ek oor
31 die soet hart van my moeder
32 my pa se stil en bitter krag
[Bron: die ysterkoei moet sweet, 1964]
2.1 Die vetgedrukte woord in reël 1 dui op tydsverloop. Hoe word die
tydsverloop uitgehef? (1)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
8 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2022)
2.2 Herlees versreëls 9 tot 12.
2.2.1 Benoem die stylfiguur. (1)
2.2.2 Motiveer die funksionaliteit van hierdie stylfiguur. (1)
2.3 Wat word die vierreëlige strofes, soos in die gedig, genoem? (1)
2.4 Herlees versreëls 25.
2.4.1 Benoem die beeldspraak en motiveer die geslaagdheid daarvan. (2)
2.4.2 Hoe skakel die beeldspraak met die tema van die gedig? (1)
2.5 Verduidelik die betekenis van versreël 28. (1)
2.6 Wat is die funksie van die herhalings in versreëls 1 en 30? Lei die stemming
van die gedig hieruit af. (2)
[10]
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
(EC/SEPTEMBER 2022) AFRIKAANS HUISTAAL V2 9
VRAAG 3: KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die gedig hieronder en beantwoord dan die vrae wat volg.
Twee kleuters in die Vondelpark – Elisabeth Eybers
1 Twee kleuters in die Vondelpark bly staan
2 ʼn klein oneindigheid lank hand-in-hand.
3 Smetloos geteken dryf die dubbelswaan:
4 gesplete hart van hals en dubbelhals,
5 geskulpte vlerk met dubbelvlerk teenaan,
6 geslote snawel dynserig vervals
7 met eenkant lug en water anderkant.
8 Versadig van die roerlose gesig
9 pluk hy – die seuntjie – plotseling aan haar hand
10 vir verdergaan, sleep haar tot ewewig
11 as sy nog strompelend omkyk na die swaan.
12 Verby die bome druis die straatrumoer.
13 Van skopfiets tot trapfiets gepromoveer,
14 bromfiets tot motor, sal hy konstateer
15 – die wiel sy ordeteken – dat hy lid
16 is van die kollektiewe Lilliput.
17 Maar sý sien webbe onderwater roer.
18 Miskien is dit die laaste dag van staar
19 en grondlose verwondering. Wat sou
20 hý, weerloos wordend, wees oor dertig jaar?
21 ʼn Saaklike barbaar, ʼn fyn sadis,
22 ʼn doktrinêre Hollandse meneer?
23 En sý ʼn druk slagvaardige mevrou
24 met ʼn allure van dít-is-soos-dit-is?
25 Die swaan bly oor sy dubbelbeeld gekeer.
[Bron: Balans, Human & Rosseau]
3.1 Watter funksie verrig die herhaling van die titel in versreël 1? (1)
3.2 Benoem die halfrym in reëls 9 en 11 wat die hardhandige beweging van die
seuntjie beklemtoon en haal die woord aan wat volmaakte harmonie
suggereer. (2)
3.3 Hoe word die eerste oorgang in die gedig beklemtoon? (1)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
10 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2022)
3.4 Herlees versreëls 13 tot 16.
3.4.1 Waarvan is die wiel ʼn simbool en is die gebruik van ironie in
versreël 13 gepas? Motiveer jou antwoord. (2)
3.4.2 Dink jy die gebruik van die parentese in versreël 15 is geslaagd?
Staaf jou antwoord met EEN bewys. (1)
3.5 Haal die metafoor in strofe 5 aan en verduidelik waarom dit gepas is. (2)
3.6 Wat is die tema van die gedig? (1)
[10]
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
(EC/SEPTEMBER 2022) AFRIKAANS HUISTAAL V2 11
VRAAG 4: KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die gedig hieronder en beantwoord dan die vrae wat volg.
Vincent van Gogh – D.J. Opperman
1 Jy het as ʼn miskende
2 heilige vergeefs geveg teen die ellende
3 en die onreg in die krotte van die myn,
4 in agterbuurtes en op landerye; slegs die pyn
5 en skriklike stryd van God
6 leer ken, wat mens en boom verknot
7 in Sy kramptrekke; maar eers toe jy die koringgerwe
8 in aanbidding van die son kon verwe,
9 boere, wasvrouens en gepynigde gesigte,
10 die kantelende landskap in die snelle ligte
11 geel en groen en blou – alles met koorsige gevlek
12 tot branding van die skone kon verwerk,
13 toe is Sy hartstog eers in jou volbring
14 soos groen sipresse tot ʼn vlam verwring.
[Bron: Heilige beeste, 1945]
4.1 Herlees versreëls 1 en 2.
Benoem die eindrym waarmee die digter die konkrete met die abstrakte
verbind? (1)
4.2 Herlees versreëls 1–4.
Haal EEN woord aan om die mense se haglike omstandighede uit te lig. (1)
4.3 Benoem die stylfiguur in versreël 11 en spreek jou uit oor die
geslaagdheid daarvan. (2)
4.4 Tempo.
4.4.1 Hoe verskil die tempo in die twee dele van die gedig? (1)
4.4.2 Is die tempoverandering effektief? Motiveer jou antwoord. (1)
4.5 Benoem die beeldspraak in versreël 14 en verduidelik dit in jou eie woorde. (2)
4.6 Deurlopende gedagte en die hoogtepunt.
4.6.1 Wat dink jy is die deurlopende gedagte van hierdie gedig? (1)
4.6.2 Hoekom kan ons beweer dat die hoogtepunt in die slotkoeplet is? (1)
[10]
EN
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
12 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2022)
ONGESIENE GEDIG (VERPLIGTEND)
VRAAG 5: KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die gedig hieronder en beantwoord dan die vrae wat volg.
Man wat doof word – Peter Blum
1 Hulle wil my nie kwes nie, maar ek kom agter
2 dat hulle harder praat terwille van my;
3 want sodra ek my rug draai, praat hul sagter;
4 en my aandeel in die gesprek vergly
5 in ʼn onbestemde ruising. Snags, by duister
6 wanneer klein geluide groei, laat ek my streel
7 deur water wat vérweg vloei, ʼn kraan wat fluister
8 – en weet ek nie of ek dit my verbeel.
9 Vertroude stemme is nog helder en skoon
10 – maar miskien net omdat ek die gehoorde
11 kan takseer volgens toonkleur, en met ál
12 my kennis ván, gevoel vír, die persoon;
13 Omdat vertroudes kan klaarkom met min woorde?
14 ook dáárom.
15 Later sal selfs dít wegval.
[Bron: nuwe stemme 3, 2005]
5.1 Herlees die titel.
Skryf die woord neer wat suggereer dat die man nog nie sy gehoor geheel
en al verloor het nie. (1)
5.2 Benoem die onderstreepte beeldspraak in versreël 7 en verduidelik dié
beeldspraak. (2)
5.3 Wat wil die digter met die aandagstreep in strofe 2 bereik? (1)
5.4 Herlees versreëls 9 tot 11.
5.4.1 Wat word ʼn driereëlige strofe genoem? (1)
5.4.2 Waarom is die gebruik van die strofebou effektief indien jy die inhoud
in gedagte hou? (1)
5.5 Herlees versreëls 12 tot 15.
5.5.1 Watter verstegniese middel word in die slotstrofe gebruik om die titel
te beklemtoon? (1)
5.5.2 Dink jy die gebruik van dié verstegniese middel is gepas? Motiveer
jou antwoord met TWEE redes. (2)
5.6 Gee die boodskap van die gedig. (1)
[10]
TOTAAL AFDELING A: 30
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
(EC/SEPTEMBER 2022) AFRIKAANS HUISTAAL V2 13
AFDELING B: ROMAN
Beantwoord in hierdie afdeling SLEGS EEN vraag oor die roman wat jy bestudeer
het.
DIE KWART-VOOR-SEWE-LELIE – Eleanor Baker
Beantwoord ÓF VRAAG 6 (opstelvraag) ÓF VRAAG 7 (kontekstuele vraag).
VRAAG 6: DIE KWART-VOOR-SEWE-LELIE – OPSTELVRAAG
Iris, Els en Johanna word allermins in Die kwart-voor-sewe-lelie as die tipiese
heldin, ma en huishulp uitgebeeld.
Skryf ʼn opstel van 400–450 woorde waarin jy dié stelling bespreek. [25]
VRAAG 7: DIE KWART-VOOR-SEWE-LELIE – KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die uittreksels hieronder aandagtig deur en beantwoord die vrae wat volg.
TEKS A
Pa was minder tegemoetkomend toe hy terugkom en die storie hoor.
Hy het beter slotte laat insit, sy bonusgeld bestee aan ʼn gesofistikeerde
alarmstelsel wat Ma so dikwels per abuis laat afgaan het dat die polisie
ons as ʼn gesin met ʼn hoë irritasiewaarde aangestip het.
Maar ek dwaal af. 5
Johanna het ook voor Claude geswik en Ma gevra om ʼn Franse kook–
boek te koop sodat sy vir die man beter kos kan maak. Sy het ook teenoor
my erken dat sy nie dink hy is familie nie.
“My mense is ronder van gesig,” het sy gesê. “En korter in die lyf.”
Elsa en Hannes was die enigste wat nie meegesleur was nie al het 10
Claude sjarmant deur die tuin gestap met klein Johan aan die hand.
“Dit kan nooit werk nie,” het Elsa verklaar. “Die kultuurverskil is te
groot.”
“Nie regtig nie,” het ek gesê. “Sy vak is kunsgeskiedenis en dis hulle
al twee se passie.” 15
“Dis nie wat ek bedoel nie,” het sy kortaf gesê.
“Hulle kan skaars met mekaar konverseer,” het Hannes gesê. (Hy het
gehou van woorde soos konverseer, al het dit die res van ons
hoendervleis gegee.) “Kara ken twee woorde Frans en hy drie woorde
Engels.” 20
“Die liefde ken geen taal nie,” het ek teatraal aangehaal.
“Bly stil, Iris,” het Elsa gesnou. “Jy is te jonk om saam te praat.”
“Hulle geniet mekaar,” was Ma se kalm siening. “Niemand het nog
van trou gepraat nie.”
Pa het onthuts opgekyk. “Trou!” 25
7.1 Teen watter agtergrond speel reëls 1 tot 4 af? (1)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
14 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2022)
7.2 Watter karaktertrek van Ma kom in reël 3 na vore? Noem EEN ander
voorbeeld in die roman waar Ma tot die owerhede se irritasievlakke bygedra
het. (2)
7.3 Watter soort verteller is in reël 5 aan die woord? Sê waarom hierdie soort
verteller juis hier funksioneel is. (2)
7.4 Herlees reëls 6 tot 8.
7.4.1 Hoekom was Johanna aanvanklik skepties oor Claude? (1)
7.4.2 Waarmee word hier ligtelik gespot? (1)
7.4.3 Noem enige TWEE voorbeelde, buiten Johanna se opmerking oor
Claude, uit die roman waar daar nog spottenderwys na hierdie
kwessie gekyk word. (2)
7.5 Watter karaktertrek van Elsa kom duidelik in reëls 12 tot 13 na vore? Dink jy
Elsa se lewensbeskouing het later in die roman verander? Motiveer jou
antwoord. (2)
7.6 Verklaar die ironie in Hannes se bydrae tot die gesprek in reël 17. (1)
7.7 Herlees reël 22.
7.7.1 Elsa se opmerking bevestig Iris as buitestander. Waarom sou haar
posisie in die gesin dit ook bevestig? (1)
7.7.2 Noem enige TWEE ander voorbeelde in die roman waar Iris in haar
huisgesin soos die buitestander voel. (2)
EN
TEKS B
As een van my karakters gepraat het, het mense geluister en gereageer.
Dis waarom ek hulle dialoog gepoleer en verfyn het. Hulle het nie “Ha!”
gesê en hulle neuse rooi gesnuif nie. Greta sou ook nie gedreig het om by
ʼn vlak waterval af te spring nie.
Maar my onmiddellike probleem was Peter en Eduard. Die twee was 5
besig om te oorvleuel, veral in die koue nagte onder die dik donskombers.
Eduard was ʼn adolessente skim, moes ek teësinnig toegee, Peter was
werklikheid en die Engel het êrens tussen die twee ingepas. My lewe was
bevolk met mense wat óf te veel óf te min ektoplasma gehad het. En
aangesien die Engel nooit saans voor my slaapkamerdeur uitgekamp het 10
en gewaarsku het teen onheilighede het ek Ouma se weergawe van
die gebeure bevraagteken. Sy kon die Engel meer mag toegeëien het as
wat hy in werklikheid gehad het of anders is hy, soos ons, deur die evo-
lusieproses van die twintigste eeu gestoot en het anderkant uitgekom met ʼn
verslapte sin vir verantwoordelikheid. 15
“Waarmee is jy nou besig?” het Peter gevra. “Frederik?”
“Ek dink sommer.”
“Dink aan my.”
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
(EC/SEPTEMBER 2022) AFRIKAANS HUISTAAL V2 15
“Sekerlik,” het ek gesê en my neus tussen sy borshare ingewoel.
Ek weet nie hoe laat dit was toe ek wakker geword het nie. Peter het vas 20
geslaap, sy arm swaar oor my bors en eers wou ek net omdraai en weer
slaap behalwe dat daar ʼn hand op my ander skouer was, en ʼn koue hand
daarby. Ek kon niks sien nie, daarvoor was dit te donker.
7.8 In watter ruimte bevind Iris haar in hierdie gedeelte? (1)
7.9 Herlees reël 5.
7.9.1 Watter bydrae lewer die fiktiewe en die werklike Peter tot Iris se
lewe? (1)
7.9.2 Watter uiteindelike gevolg het die werklike Peter op Iris se
lewenskoers? (2)
7.10 Die intrige van die roman speel op twee vlakke af. Motiveer waar jy die Engel
sou plaas. (1)
7.11 Herlees reëls 9 tot 12.
7.11.1 Hoe ondersteun die onderstreepte gedeelte in reëls 9 tot 12 die
motto van die roman? (1)
7.11.2 Noem enige EEN ander rol wat Die Engel in Iris se lewe speel. (1)
7.11.3 Motiveer waarom dit korrek is om te sê dat Iris, vanweë die rol van
die Engel, in TEKS B ʼn ander lewensbenadering as in reël 21 van
TEKS A het. (1)
7.12 Wie se koue hand het Iris in reël 22 gevoel en wat was die rede dat dié hand
op Iris se skouer rus? (2)
[25]
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
16 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2022)
MANAKA PLEK VAN DIE HORINGS – Pieter Pieterse
Beantwoord ÓF VRAAG 8 (opstelvraag) ÓF VRAAG 9 (kontekstuele vraag).
VRAAG 8: MANAKA PLEK VAN DIE HORINGS – OPSTELVRAAG
In die roman, Manaka Plek van die Horings, is Ouma Essie ʼn invloedryke karakter
wat die Christelike geloof op Manaka verseker.
Skryf ʼn opstel van 400–450 woorde waarin jy dié stelling bespreek. [25]
VRAAG 9: MANAKA PLEK VAN DIE HORINGS – KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die uittreksels hieronder aandagtig deur en beantwoord die vrae wat volg.
TEKS C
Oom Scholtzie en Nanna draai ongemaklik terug na hulle voertuie.
“Jammer dat ek so afgegaan het teenoor jou,” sê Baas vir Grace, “maar
nou is alles reg en ek wil jou baie mooi vra om huis toe te gaan.”
“Dit is iets wat ek graag sal wil doen. Maar die Here wil nie hê ek moet
verskonings gebruik om weg te kom van iemand af wat my nodig het nie. Hy 5
wil ook nie hê ek moet weghardloop van my kans af om ʼn werk te kry net
omdat iemand my wegjaag nie.”
“Daar is niks wat ek kan doen om jou aan ʼn werk te help nie.”
“Om my te help om ʼn werk te kry, en om die pad vir die sendelinge oop te
maak, is miskien party van die werke waarvoor die Here jou na Manaka toe 10
gestuur het. Miskien is dit ook hoe Hy die eerste sendeling gestuur het om
Manaka te begin, lank voor my oupagrootjie se tyd. Dit is hoe dit is.”
Baas laat haar toe om hom tussen die stukke hout uit te help
“Ek het vir jou ʼn belt gemaak.” Sy het die biesies klaar gevleg. “Gebruik
dit in die plek van die haakspeld. Nou kan jy weer die ou man teen jou muur 15
gaan ophang. Dit sal nog ʼn lang ruk wees voor jou klere weer pas.”
Baas sak teen die hardekoolknoets op die houthoop neer. “Wat weet jy
van die sendeling wat Manaka begin het?”
9.1 Gee TWEE redes vir Oom Scholtzie en Nanna se ongemak in reël 1. (2)
9.2 Hoekom is Baas se optrede in reël 2 tot 3 tiperend van sy karakter? (1)
9.3 Is die TWEE redes wat Grace in reël 4 tot 7 aanbied, geloofwaardig?
Motiveer jou antwoord deur na albei redes te verwys. (2)
9.4 Herlees reëls 9 tot 13.
9.4.1 Hoe voel Baas oor elkeen van die twee aspekte waarna Grace
verwys? (2)
9.4.2 Hoekom reageer Baas so bedaard op haar woorde? (1)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
(EC/SEPTEMBER 2022) AFRIKAANS HUISTAAL V2 17
9.5 Dink jy dat die betekenis van Grace se naam in TEKS C deur haar dade
ondersteun word? Motiveer jou antwoord. (1)
9.6 Watter ander belt/lyfband/gordel speel ʼn rol in Baas se geestelike groei? (1)
9.7 Herlees reël 15 en 18.
9.7.1 Wat is die verband tussen Baas en die onderstreepte woorde in
reël 15 en reël 18? (1)
9.7.2 In watter TWEE opsigte dra die onderstreepte woorde tot Baas se
innerlike konflik op Manaka by? (2)
EN
TEKS D
Toe Baas by sy slaaphut ingaan, stuit sy oupagrootjie se oë hom. Iemand
het die toutjie ingeryg en die portret weer teen die muur gehang. Hy gaan
behoedsaam nader en soek tussen die hoekige lyne van die gesig en in die
helder oë na iets wat hy dalk deur al die jare misgekyk het. Daar is niks nuuts nie.
Hy wig die vyfrandmunt wat Riekert vir ouma Essie gestuur het voor sy 5
oupagrootjie se bors tussen die glas en die raam in. “Jy wen, Baas Dennis,”
sê hy.
Onder die Land Rover word Baas weer naar. Sy balans is nog aangetas
In die hoofpad ratel ʼn groot voertuig tussen die klipkoppe tot stilstand.
Iemand kom van die kerk se kant af in die Manaka-pad langs gestap. Hy 10
struikel oor ʼn klip. Dit is die lang man met die blou oorpak. Hy hurk by die
Land Rover, sy hand op die agterwiel.
“Howzit?” Whitey loer onder die bakkie in.
“Aan die gang,” sê Baas. Hy lê op sy sy.
“Ek het gedink ek sal maar daar bo stilhou, hier is dalk nie draaiplek by 15
jou kamp nie. Die mense in Ngweze het ʼn boodskap gestuur. Hulle sê hulle
kry nie die onderdele vir jou boot nie.”
“Ek het dit nie meer nodig nie. Maar dankie.”
Baas rol onder die voertuig uit en gaan sit met opgetrekte bene langs die
voorwiel. 20
Grace bring koffie. Oor haar skouer hang die geel oliebaadjie waarin die
patrone en die hondekos toegedraai was …
9.8 Wie is die ‘iemand’ wat die portret weer teen die muur gehang het? (1)
9.9 Watter tipe konflik ervaar Baas in TEKS D en waaroor handel hierdie konflik? (2)
9.10 Hoekom is die gebruik van die alomteenwoordige verteller in reël 6 tot 12
effektief? Gee TWEE redes vir jou antwoord. (2)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
18 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2022)
9.11 Baas se boot.
9.11.1 Wie veroorsaak dat Baas se boot verdwyn? (1)
9.11.2 Wat doen Whitey om Baas te help om sy boot te vind? (1)
9.11.3 Is Whitey se betrokkenheid by Baas teen die einde van die roman
oortuigend? Gee ʼn rede vir jou antwoord. (1)
9.12 Volgens die onderstreepte woorde in TEKS D gaan Baas weg.
9.12.1 Noem TWEE optredes van Baas wat bewys dat hy, net soos die
ou man teen die muur (TEKS C), op Manaka gaan bly? (2)
9.12.2 Wie het, na jou mening, die grootste invloed op Baas se besluit om
te bly? (1)
9.12.3 Motiveer jou keuse by VRAAG 9.12.2. (1)
[25]
VATMAAR – AHM Scholtz
Beantwoord ÓF VRAAG 10 (opstelvraag) ÓF VRAAG 11 (kontekstuele vraag).
VRAAG 10: VATMAAR – OPSTELVRAAG
Oom Flip vat die tema van die roman saam as hy sê: “Die liefde ken nie grense nie.”
Skryf ʼn opstel van 400–450 woorde waarin jy dié stelling bespreek. [25]
OF
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
(EC/SEPTEMBER 2022) AFRIKAANS HUISTAAL V2 19
VRAAG 11: VATMAAR – KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die uittreksels hieronder aandagtig deur en beantwoord die vrae wat volg.
TEKS E
Die Sondag na die pensioendag was ons weer by Ta Vuurmaak se cabin
en hy het ons meer van sy waarheid oor Vatmaar vertel:
Terwyl ek in die Pan, soos Du Toitspan genoem is, was om twak,
vuurhoutjies en ander dinge te koop, het Ta Vuurmaak gesê, loop ek een
van ons boys wat aan die Queen behoort het, raak. Hy het my vertel dat 5
Chai ʼn witman se werk gekry het. Ek het toe by die dorpsraadkantoor gaan
wag tot dit tyd vir Chai was om te tjaila.
Toe hy my sien, gee hy my twee pond om te koop wat ek nodig het en
terug te gaan en ons aardse besittings verder op te pas.
Daai Saterdagmiddag het Chai my by my kaija kom sien. Hy het ʼn bottel 10
sjerrie saamgebring en hy het my vertel hoe hy aan die plan vir Vatmaar
gekom het. Vatmaar was die naam wat ek aan sy en Corporal Lewis se
gesteelde goed gegee het. Nou het hy sommer die plek ook so genoem.
Chai het glo een nag terwyl hy wakker gelê het, die plan gekry vir wat die Engelse
ʼn settlement noem. In sy gedagtes het hy die plek naby die vlei 15
gesien.
Ek het met George daaroor gepraat, het Chai gesê, en hy het gesê hy sal graag
op sy eie saam met Ruth wou bly, opsy van sy en haar mense. Want sy gaan ʼn
bybie kry. George het weer met sy army-captain gaan praat.
11.1 Verteller.
11.1.1 Watter soort verteller kom in TEKS E voor? (1)
11.1.2 Waarom is dié soort verteller nie effektief nie? (1)
11.1.3 Haal TWEE opeenvolgende woorde uit reël 1 tot 2 aan wat hierby
aansluit. (1)
11.2 Waarom kan Ta Vuurmaak as die ‘vader’ van Vatmaar beskou word? (1)
11.3 Ta Vuurmaak sê dat een karakter skelm-slim is.
11.3.1 Na watter karakter verwys Ta Vuurmaak? (1)
11.3.2 Waarom noem hy hierdie karakter ‘skelm-slim’? (1)
11.3.3 Hoe tree Ta Vuurmaak, as een van die Cape Boys, ‘skelm-slim’
op? (1)
11.4 Oom Chai trou later in die roman.
11.4.1 Watter tipe konflik ervaar Oom Chai in sy huwelik? (1)
11.4.2 Wat is die oorsaak van hierdie konflik? (1)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
20 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2022)
11.4.3 Dink jy dit was vir Oom Chai nodig om met Bettie te trou? Gee
TWEE redes vir jou antwoord. (2)
EN
TEKS F
Toe vertel Oom Chai breedvoerig wat in Mister Walker se kantoor gebeur het, en
hoe hulle die brief gekry het. Hy het die brief hoog in die lug gehou en gesê: Nou
sal ons eerbare George Lewis die brief vir ons voorlees.
Almal was stil, iets ongewoons vir die mense van Vatmaar wat daarvan
gehou het om te wys hulle lewe nog. 5
Oupa Lewies het klaar gelees en almal was vir ʼn rukkie stil. Toe sê
oom Flip: Mag ek iets vra?
Ja! sê Oom Chai.
Ek het nie verstaan wat onse wit broer gelees het nie. Kan jy wat Chai is
dit nie asseblief in onse taal verduidelik nie? 10
Oom Chai het die brief toe oorgesit in die taal van Vatmaar, Afrikaans.
Nou verstaan ons, het almal soos een man gesê.
Daar was ʼn lang stilte. Toe sê ʼn mooi ligtekopvrou: Dis beter so. Ons kan nie
verwag om die kerksaal en sy staanplek verniet te kry nie. Ons is nie daaraan
gewoond om dinge vir niks te kry nie. Ons het nog altyd gewerk vir wat ons wil hê. 15
Wonnie, sê Oom Chai, nou het jy gepraat. En aan die ander: Laat ons
luister na hierdie moeder van Vatmaar. Kom staan hier by ons.
Tant Wonnie het haar van haar twee dogtertjies losgemaak en by die
twee mans gaan staan. Toe sê sy met ʼn glimlag vir die mense: Ons gaan
ons eie hoekerf koop. Sy het na die heel voorste erf gewys en gesê: Daar 20
oorkant, daai erf met die klippe op wat niemand wil hê nie.
11.5 Wanneer het Oom Chai en George Lewis ontmoet? (1)
11.6 Oom Chai en George Lewis ontvang ʼn brief van die Du Toitspan-dorpsraad.
11.6.1 Waarom is die briefinhoud vir die Vatmaar-gemeenskap ʼn
teleurstelling? (1)
11.6.2 Watter rede gee die dorpsraad in dié brief aan die Vatmaar-
gemeenskap vir hulle besluit? (1)
11.6.3 Stem die gemeenskap se reaksie in TEKS F ooreen met Vatmaar
se siening van die Agtste Gebod (Jy mag nie steel nie)? Motiveer
jou antwoord. (1)
11.7 Een van die aktuele probleme wat in Vatmaar voorkom, is ongeletterdheid.
Hoe dra Elsa en Oom Chai onderskeidelik by om dié aktuele probleem op te
los? (2)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
(EC/SEPTEMBER 2022) AFRIKAANS HUISTAAL V2 21
11.8 Herlees reëls 13 tot 15.
11.8.1 Watter karaktereienskap van Tant Wonnie kan jy na aanleiding
van haar woorde in reël 13 tot 15 aflei? (1)
11.8.2 Gee TWEE voorbeelde uit die roman waar Tant Wonnie dieselfde
eienskap openbaar. (2)
11.9 Dink jy dat Tant Wonnie as die ‘moeder van Vatmaar’ beskou kan word?
Motiveer jou antwoord. (1)
11.10 Herlees reël 21.
11.10.1 Hoe sluit dié reël by die inwoners van die Vatmaar-nedersetting
aan? (1)
11.10.2 Noem EEN ander vroulike karakter in Vatmaar op wie dié woorde
van toepassing is. (1)
11.10.3 Gee ook die rede waarom die woorde op hierdie karakter van
toepassing is. (1)
11.10.4 Waarom kan dié reël op Corporal Lewis en Ruth van toepassing
gemaak word? (1)
[25]
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
22 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2022)
ONDERWÊRELD – Fanie Viljoen
Beantwoord ÓF VRAAG 12 (opstelvraag) ÓF VRAAG 13 (kontekstuele vraag).
VRAAG 12: ONDERWÊRELD – OPSTELVRAAG
In die roman Onderwêreld is die hoofkarakter ʼn slagoffer van sy omstandighede en
daarom begaan hy verskeie oortredings wat amper tot sy ondergang gelei het.
Bespreek dié stelling in ʼn opstel van 400–450 woorde. [25]
VRAAG 13: ONDERWêRELD – KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die uittreksels hieronder aandagtig deur en beantwoord die vrae wat volg.
TEKS G
<10>Log File: Toets vir idiote</h10> 1
Dis die dag ná ek gesien het hoe Eckardt die reisagent se
systems hack. En die eerste oggend dat Eckardt my kom wakker maak.
“Terwyl Zeus, die heerser van Olimpus, slapend gevou lê in Hipnos se vlerke,
strand sy seun, Herakles, se skip vandag weer op Kos,” sê hy toe hy aan 5
die deur klop.
“Wat de hel?” vra ek deur die slaap.
“Never mind. Roer jou gat en staan op,” antwoord hy.
Ek maak een oog oop, lig myself op my elmboë. Eckardt is in sy oefenklere.
Sweet glim op sy lyf. “Is jy simpel? Het jy al gaan draf?” vra ek. 10
“Altyd. Enigste tyd om helder te dink, so vroeg in die môre. Toe, roer jou,
dis byna tyd vir brekfis.”
Die dag sleep om. Pouse moet ek, in opdrag van Dok, die VRL aanvat oor “hul
betreurenswaardige dissipline”. Meneer Andersen daag halfpad deur die
vergadering op. Spioeneer op ons, asof ons dit nie weet nie. 15
“Wil Meneer nog iets byvoeg?” vra ek toe ek klaar my preek afgesteek het.
Hy skud sy kop en loop.
“Good show,” sê Kwanele toe hy ook loop, sy houding uitdagend. Ek gluur
hom agterna.
Ek kry vir Eckardt op pad na die Engelsklas. “Jy onthou nog van jou 20
belofte van gisteraand, nè!” herinner ek hom.
“Ek het nie vergeet nie,” sê hy. Die terreinbestuurder loop verby ons. Hy kyk in
ons rigting. Eckardt knik sy kop uit hoflikheid, maar praat nie verder
totdat hy buite hoorafstand is nie. “Dink solank aan ʼn lekker
catchy nick.” 25
13.1 Herlees reël 1.
13.1.1 Verduidelik die hoofstuktitel. (1)
13.1.2 Hoe gebruik die skrywer die hoofstuktitel om die spanning te
verhoog? (1)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
(EC/SEPTEMBER 2022) AFRIKAANS HUISTAAL V2 23
13.2 Herlees reël 4 en 5.
13.2.1 Van wie is Zeus en Herakles in die onderwêreld simbolies? (2)
13.2.2 Dink jy dié karakters pas in die roman? Motiveer jou antwoord. (1)
13.3 Herlees reël 13 en 14.
Motiveer waarom die prekery van Greg aan die VRL ironies is. (1)
13.4 Herlees reëls 15 tot 19.
13.4.1 Verskil Greg se houding van Kwanele s’n? Motiveer jou antwoord. (1)
13.4.2 Wat veroorsaak die konflik tussen Greg en Kwanele? (1)
13.5 Herlees reël 24 en 25.
13.5.1 Waarna verwys Eckardt? (1)
13.5.2 Hoe is die skuinsgedrukte woorde op Eckardt van toepassing? (1)
13.5.3 By watter tema van die roman sluit hierdie reëls aan? (1)
13.5.4 Gee nog EEN voorbeeld uit die roman waar dié tema voorkom. (1)
EN
TEKS H
Ek weet hy het met ʼn “Colin” gepraat. Maar wie dit is, weet ek nie. 1
“Die ou is van die CCU. Die Computer Crimes Unit. Hy het laat vanmiddag
deurgekom van Gauteng af. En toe het hy daardie laptop van jou begin
deursoek. Gekyk wat jy met hom aanvang.”
Hy sou nie veel kon sien nie, weet ek. Waar ek kon, het ek altyd deur 5
ander rekenaars in Amerika of China ge-hack. Dit maak dit moeiliker om jou te
trace, het Eckardt my geleer. Iemand wat dit wou probeer, sou eers ʼn
administrator van die Internet Service Provider in die ander land
moes oorreed om ondersoek in te stel. Hulle sou ook die telefoonmaat –
skappy sover moes kry om die oproep te trace. Dis nie so maklik met al 10
die privacy wette nie. Jy sal ʼn goeie rede moet hê om die lasbriewe in die
hande te kry.
Buiten hiervoor het ek in elk geval my internet history ge-delete. En
Sure Delete, ʼn program wat ek gebruik het, het gesorg dat niemand die
deleted files weer kan opdiep uit die computer se hardeskyf nie. “Nie 15
heeltemal foolproof nie,” het Eckardt gesê, “maar iemand wat dit pro-
beer kry, sal die regte equipment moet hê, ook baie tyd en geld.”
“Ja?” vra ek vir sersant Botha. “En wat het hy gekry wat ek nie al-
reeds vir julle vertel het nie, sersant?”
Sersant Botha bly eers ʼn ruk stil. Toe sê hy: “ʼn Keylogger.” 20
Wat? wil ek skree.
“Jy weet wat dit is, nè, Greg?”
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
24 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2022)
13.6 Teen watter agtergrond speel hierdie uittreksel af? (1)
13.7 Verteller.
13.7.1 Watter tipe verteller vind ons in hierdie uittreksel? (1)
13.7.2 Gee EEN voordeel en EEN nadeel van die sodanige verteller in
hierdie uittreksel. (2)
13.8 Noem EEN karaktereienskap van Greg wat in die onderstreepte woorde
in reël 18 en 19 na vore kom. (1)
13.9 Kies uit die onderstaande antwoorde (A–D) die regte definisie van ʼn
‘keylogger’. Skryf slegs die korrekte letter neer.
A ʼn Rekenaarprogram wat jou persoonlike inligting uitwis.
B Die basiese kode waarmee programme geskryf en in stand gehou
word.
C ʼn Rekenaarprogram wat jou stelsel teen virusse beskerm.
D ʼn Rekenaarprogram wat registreer watter sleutels op ʼn
rekenaartoetsbord gedruk word. (1)
13.10 Vroeër in die roman het Greg self ook op dok. Pienaar se rekenaar ʼn
‘keylogger’ geïnstalleer.
13.10.1 Watter tegniek het hy gebruik om die ‘keylogger’ te installeer? (1)
13.10.2 Sou hierdie optrede as geregverdig gesien kon word, in die lig
van Greg se posisie in die skool? (1)
13.11 Dramatiese wending.
13.11.1 In watter reëls is daar ʼn dramatiese wending in TEKS H? (1)
13.11.2 Tot watter insig kom Greg aan die einde van TEKS H? (1)
13.12 Greg.
13.12.1 Dink jy daar is ʼn verskil in Greg se selfvertroue in TEKS G en
die aan die einde van TEKS H? Motiveer jou antwoord. (1)
13.12.2 Wat gebeur ná hierdie uittreksel in die roman en wat dink jy is
die boodskap in hierdie uittreksels? (2)
[25]
TOTAAL AFDELING B: 25
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
(EC/SEPTEMBER 2022) AFRIKAANS HUISTAAL V2 25
AFDELING C: DRAMA
Beantwoord in hiedie afdeling SLEGS EEN vraag oor die drama wat jy bestudeer
het.
KRISMIS VAN MAP JACOBS – Adam Small
Beantwoord ÓF VRAAG 14 (opstelvraag) ÓF vraag 15 (kontekstuele vraag).
VRAAG 14: KRISMIS VAN MAP JACOBS – OPSTELVRAAG
Die inwoners van die Kaapse Vlakte se lot is lewenslange gevangenisstraf.
Bespreek hierdie stelling deur te verwys na die redes vir die inwoners van die
Vlakte, Die Cavernelis-gesin en Map Jacobs se gevangennisstraf en dui aan of
ontsnapping vir hulle moontlik is in ʼn opstel van 400–450 woorde. [25]
VRAAG 15: KRISMIS VAN MAP JACOBS – KONTEKSTUELE VRAAG
Lees die uittreksels hieronder aandagtig deur en beantwoord die vrae wat volg.
TEKS I
RICHIE: Hel, wiet jy hoe bly was ek, ek was nie daai aand saam
nie!
Hulle speel.
CYRIL: Jy beter watch jou kinnertjies daarso!
Maud Cavernelis verskyn by haar venster, bo. 5
CYRIL: (bewus van haar; aan Richie): Ky’ da’ da’ ... Al weer
afgelyster, of course. Spy op ʼn mens! Loer deur die
gidyne! Ba! Betere mense kamma as ons!
RICHIE: Los die vrou af, man!
CYRIL: Wat voor lyster sy ons af? 10
MAUD: Nee, nie afgelyster nie, julle! Nie ge-spy nie. Net maar
gehóór. Julle monde ... is so groot en julle skree so hard,
en sulke ...
CYRIL: Sê maar stront, missies Cavernelis, sê maar stront ...
Moenie mooie woorde soek nie! Ons verstaan! 15
MAUD: Onbeskof!
CYRIL: Praat maar Ingils oek, missies Cavernelis. Missies
Cavernelis prefer mos Ingils! ‘Is mos ʼn superior language
like!
RICHIE: Los die vrou af, man 20
CYRIL: Okay, ons sil vi’ ons behave, antie ... O sorry, missies
Cavernelis is mos nie my antie nie! Maar ons sil vi’ ons
behave!
MAUD: Julle beter! ‘Cause julle groot monde briek die hele
Sondag af, het julle nie eers respect vir die Sondag nie? 25
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
26 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2022)
CYRIL: Monde? Sê maar bekke, missies Cavernelis! En Sondag?
Missies Cavernelis praat van die Sondag? En wat van
missies Cavernelis se step-daughtertjie Blanchie miskien?
Het sy oek respect vir die Sondag? Nei, because her daddy
stuur vir haar yt op die lonely hearts biesigheit, even op die 30
Sondag!
15.1 Herlees reëls 1 tot 2.
15.1.1 Na watter aand verwys Richie en wat kan die gehoor uit sy woorde
aflei? (2)
15.1.2 Hoe pas die gebeure van daardie aand in by die politieke en
maatskaplike milieu waarteen hierdie drama afspeel? (2)
15.2 Herlees reël 3 en 4.
15.2.1 Wat speel Cyril en Richie? (1)
15.2.2 Dink jy die gebruik van personifikasie in hierdie reëls is gepas?
Motiveer jou antwoord. (1)
15.2.3 Waarvan is hierdie spel ʼn simbool in die drama? (1)
15.3 Herlees reël 5.
15.3.1 Wat word hierdie skuinsgedrukte woorde genoem? (1)
15.3.2 Gee EEN funksie van dié kursiefgedrukte woorde. (1)
15.4 Maud.
15.4.1 Hoe kry die dramaturg dit reg om die gehoor daarvan bewus te
maak dat Maud nie in die township pas nie? (2)
15.4.2 Verklaar Maud se afsydige houding in die township. (1)
15.5 Blanchie is Cavernelis se dogter.
15.5.1 Wat beteken Blanchie se naam? (1)
15.5.2 Gee TWEE redes hoekom dit ironies is, veral as jy dink aan die
latere gebeure in die drama. (2)
15.6 Watter karaktereienskap van Cyril kan uit die dialoog tussen Cyril en Maud
afgelei word? (1)
EN
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
(EC/SEPTEMBER 2022) AFRIKAANS HUISTAAL V2 27
TEKS J
MAUD: Het jy regtig gedink jy belong dáár ...(Bekyk die 1
briefie.) God, the audacity, still to write “Dear”! “Dear
Miss Cavernelis” ...”!! (Dan aan Blanchie.) You and
your friends across the colour line ... You and the
Sunday newspapers ... You and your daddy ... Yes, 5
you and your daddy! All for the money, all for the
money, the money ... We’ve got
to get the hell out of this township ... Right? ... Right?
... So sê jou daddy ... vir jare al ... As if we can! As if
we cán! Fóóls! Bloody stupid fools! Jus’ look at us 10
now, kyk nou ... hoe humiliate julle vir
ons!!!
BLANCHIE: (huil nou weer, skreeu nou): Aw, shut up you! Shut
up! Shut up! Shut up! Shut up, you! (Sy kry Maud
beet, pluk haar rond.) Shut up! Jy wil nét so hierso yt, 15
soes Daddy!
CAVERNELIS: So what do you talk?!
hulpeloos eenkant, lees weer die brief.
MAUD: (bitsig): You little ... little bitch ... You ... (Hulle pluk
aan mekaar, albei ewe hulpeloos en stukkend.) ... 20
Dink because jy’s jou daddy se kind by sy ... eerste
vrou ... en ek is ... I’m just your step-ma ... I’m just ...
Auntie Maud ... to you ... you can. you can ... pull me
around!! ... You little ... jintoe!!
Dan klap Blanchie vir Maud. 25
BLANCHIE: You ... You ...
MAUD: Little ... teef! ... (Lê haar naels in Blanchie.)
BLANCHIE: (skreeu): “Bitch”? ... “Jintoe”? “Teef”! ... Oh, my God
... Antie Maud ... Antie Maud ... How can you
... 30
CAVERNELIS: Blanchie ... Maudie ...
BLANCHIE: (skielik, bitter, huilend, skreeuend): ‘Is alles Daddy se
skuld!
Die woorde bly hang, klokhelder in die lug. En
Cavernelis versteen, totaal geskok. 35
15.7 Waar in die struktuur van die drama pas TEKS J in? Motiveer jou antwoord. (2)
15.8 Watter konflik kom in TEKS J voor en hoe verskil dit van die konflik in
TEKS I? (2)
15.9 Herlees reëls 17 tot 21.
Het die dramaturg die dramatiese doelstelling in hierdie gedeelte bereik?
Motiveer jou antwoord. (1)
15.10 Herlees reël 32 en 33.
Motiveer of hierdie stelling van Blanchie waar of onwaar is. (1)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
28 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2022)
15.11 Waarom is die gebruik van die ellips in Teks J so funksioneel? (1)
15.12 Krismis van Map Jacobs
15.12.1 Dink jy die taalgebruik in Krismis van Map Jacobs is gepas?
Motiveer jou antwoord. (1)
15.12.2 Met watter tipe teater het ons in die drama te doen? (1)
[25]
OF
VRAAG 16: MIS – OPSTELVRAAG
Die verskillende ruimtes in Mis dra by tot Meisie se gevangeneskap en ten einde
ook tot haar bevryding.
Skryf ʼn opstel van 400–450 woorde waarin jy dié stelling bespreek. [25]
VRAAG 17: MIS – KONTEKSTUELE VRAAG
TEKS K
Kort stilte terwyl MEISIE nog die bord uitskraap. Die 1
valdeur klap toe.
GERTIE: Aag, as vannag net eers verby is. Vir weke slaap ek al
onrustig.
Kry sulke aaklige drome. 5
MIEM: Werklik?
GERTIE: Ja!
MIEM: Soms is drome nie net drome nie ... soms ... is hulle ...
voorspooksels!
GERTIE: Jy moet dit tog nie sê nie, Miem! 10
MIEM: Dit kan wees. O ja. Ek het ʼn gevoel ... hoe sou ek nou sê
...(klop met haar vuis teen haar bors) ʼn gevoel hier diep,
diep binne-in my. (Onheilspellend) Vannag sak die
donker magte oor ons dorpie neer!
GERTIE: Wat ʼn aakligheid! As daar iets gebeur, moet die kerkklok 15
lui.
MIEM: Is dit waar?
GERTIE: Ja. Die wyksusters het vanmiddag vir almal laat weet. En
dan moet ons ons kerk toe haas om daar bymekaar te
kom. 20
MIEM: Daar is ʼn harde klop aan die deur.
(fluister waarskuwend) Bly doodstil.
MEISIE kom nader en staan bang agter haar ma se stoel.
Daar is weer ʼn klop.
MIEM: Wie is dit? 25
KONSTABEL: Konstabel Van De Riet. Mevrou.
MIEM: Konstabel Van der Riet. Ek ken nie so ʼn konstabel nie.
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
(EC/SEPTEMBER 2022) AFRIKAANS HUISTAAL V2 29
KONSTABEL: Ek weet, Mevrou. Ek kom van elders. Deel van die
ontplooide waakeenheid. En ek is hierheen gestuur. Julle
bly so afgesonderd. Dit kan gevaarlik wees. 30
MIEM, MEISIE, en GERTIE kyk na mekaar.
MIEM: Verskoon my tog, Konstabel, maar vannag moet ʼn mens
versigtig wees. (Loer deur die sleutelgat.) ‘
GERTIE loer ook deur die sleutelgat.
GERTIE: (bewonderend) Selfs in die donker kan ek sien hy het ʼn 35
goeie houding. Regop rug. Skouers terug. So ʼn man kan
ʼn mens vertrou.
17.1 Herlees reëls 1 tot 2.
17.1.1 Wat word die skuinsgedrukte teks genoem? (1)
17.1.2 Na wie/wat verwys die vetgedrukte woord en hoekom is dit
belangrike inligting vir die gehoor? (2)
17.2 Wat is die funksie van die beletselteken in reëls 8 en 9? (1)
17.3 Herlees reëls 11 en 12.
17.3.1 By watter tema sluit Miem se woorde aan en hoe verstaan Miem
haar rol in hierdie tema? (2)
17.3.2 Dink jy Miem vervul haar rol effektief? Noem EEN bewys uit die
drama om jou antwoord te staaf. (1)
17.4 Gedurende watter jaar speel die drama af en waarna verwys Gertie se
onderstreepte woorde in die uittreksel? (2)
17.5 Herlees reël 23 en 24.
Watter moontlike konflik beleef Meisie hier? Word hierdie
konflik aan die einde van drama opgehef? Motiveer jou antwoord. (2)
17.6 Watter karaktereienskap kan ons in reël 34 van Gertie aflei? (1)
17.7 Dink jy die stemming verander in TEKS K? Motiveer jou antwoord. (1)
17.8 Waar in die struktuur van die drama pas TEKS K in? Motiveer jou antwoord. (2)
EN
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
30 AFRIKAANS HUISTAAL V2 (EC/SEPTEMBER 2022)
TEKS L
Die Konstabel antwoord nie. Hy staan stil en staar voor
hom uit.
MIEM: (oorvriendelik, na stilte) Vertel ons, Konstabel, het u
ondervinding van sulke sake? Verdwynings bedoel ek?
KONSTABEL: O ja, dit is waarvoor ek eintlik gebruik word. Vermiste 5
persone.
MIEM: Werklik?
MEISIE steek haar vinger raak. Sy trek haar asem in en
suig haar vinger.
MIEM: (aan die KONSTABEL) So u sê u werk met vermiste 10
persone, Konstabel?
KONSTABEL: Ek kan miskien nie sien. Maar daarom word ek gebruik.
As daar niks is om te sien nie. As iemand uit die oog
verloor is.
GERTIE: Hoe wonderlik! 15
KONSTABEL: Want al kan jy iemand nie met die blote oog sien nie ... is
daar ... ander sintuie ... wat die werk kan doen.
MIEM: Werklik interessant.
GERTIE: Vertel ons, Konstabel, hoe gaan u te werk?
KONSTABEL: Nou ja ... sien is glo. Dit is eintlik moeilik om te 20
verduidelik.
Kort stilte.
GERTIE: (oorvriendelik) Kom sit tog, asseblief, Konstabel.
KONSTABEL: Nou goed.
MIEM: Dan skink ek vir jou nog ʼn koppie koffie. (Staan op en 25
beweeg na die stoof)
KONSTABEL: Ek wonder of iemand my kan help ... Sien, sonder my
stok is ek verlore ...
GERTIE: Maar alte seker, Konstabel. (Tel die stok op en gee dit vir
hom. Neem sy arm en lei hom na die stoel) 30
KONSTABEL: (ruk sy arm weg) Dankie, Juffrou, ek sal self regkom.
(Beweeg stadig na sy stoel terwyl hy met sy stok rondtas)
GERTIE kyk na MIEM. Hulle skud hul koppe simpatiek.
17.9 Wat het net voor hierdie uittreksel gebeur, wat Konstabel so kwaad gemaak
het en watter woord/aksie dui daarop dat Miem nou witvoetjie soek. (2)
17.10 In hierdie uittreksel prik Meisie haar vinger vir die derde keer.
17.10.1 Met watter sprokieskarakter kan Meisie vergelyk word? (1)
17.10.2 Gee EEN rede om jou antwoord by VRAAG 17.10.1 te staaf. (1)
17.10.3 Waarom is dit betekenisvol dat Meisie haar vir ʼn derde keer met
die naald raaksteek? (1)
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Downloaded from hlayiso.com
(EC/SEPTEMBER 2022) AFRIKAANS HUISTAAL V2 31
17.11 Herlees reël 20.
17.11.1 Na watter terugkerende motief verwys Konstabel se woorde? (1)
17.11.2 Verduidelik die ironie van sy woorde indien jy die slot van die
drama in gedagte hou. (1)
17.12 Kan Mis as ʼn goeie voorbeeld van ʼn eenbedryf geklassifiseer word? Gee
TWEE redes om jou antwoord te staaf. (2)
17.13 Motiveer of die buiteruimtes tot Meisie se bevryding aan die einde van die
drama bydra. (1)
[25]
TOTAAL AFDELING C: 25
GROOTTOTAAL: 80
Kopiereg voorbehou Blaai om asseblief
Study this subject
Recommended for this subject

Question paper
Afrikaans HL Grade 12 P3 Eastern Cape Mock 2022 QP

Question paper
Afrikaans HL Grade 12 Paper 2 NSC June 2022 Question Paper

Question paper
Afrikaans HL Grade 12 P2 NSC November 2022 Question Paper

Memorandum
Afrikaans HL Grade 12 Paper 1 Eastern Cape Mock 2022 Memo

Memorandum
Afrikaans HL Grade 12 Paper 3 Eastern Cape Mock 2022 Memo

Question paper
Afrikaans HL Grade 12 Paper 3 NSC June 2022 Question Paper
More from Grade 12 Afrikaans HL

Memorandum
Afrikaans HL Grade 12 Paper 1 Eastern Cape Mock 2025 Memo

Memorandum
Afrikaans HL Grade 12 Paper 1 Eastern Cape Prelim 2024 Memo

Memorandum
Afrikaans HL Grade 12 Paper 3 Eastern Cape Prelim 2024 Memo

Question paper
Afrikaans HL Grade 12 P3 Eastern Cape Prelim 2024 QP

Question paper
Afrikaans HL Grade 12 P1 November 2024 NSC Question Paper

Question paper